Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482

Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495

Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508

Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521

Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469
Nuutste nuus – Page 5 – Stellenbosch University Language Centre

Category: Nuutste nuus

Podsendingvertaling om meertalige aanlyn leer te ondersteun – voorbeelde

Die US Taalsentrum se Tolkdiens bied ʼn podsendingvertaaldiens aan dosente wat ʼn professionele en vinnige manier nodig het om aanlyn lesinginhoud in meer as een taal beskikbaar te stel.

Wat is podsendingvertaling?

Podsendingvertaling in die US se opvoedkundige konteks verwys na die vertaling en heropname van opgeneemde lesingoudio vir aanlyn leer.

Die podsendingvertalings word deur ʼn span US-tolke in hul ‘tuisateljees’ gedoen. As opvoedkundige tolke aan die US dra ons jare se ervaring van die tolking van intydse lesings tot die proses by. Die podsendingvertaaldiens is beskikbaar vir oudio- en video-opnames.

Hier is ’n voorbeeld van hoe ’n podsendingvertaling lyk:

Dosent se oorspronklike podsending

Vertaalde podsending

Wat behels die podsendingvertaalproses?

Voorbereiding

Voordat ons die opgeneemde lesing kan begin vertaal, moet ons die toepaslike hulpbronne raadpleeg om te verseker dat ons podsending die US se onderriguitnemendheid weerspieël. Die podsending word toegeken aan ’n tolk wat vertroud is met die vakgebied. Ons luister eers na die podsending en berei vertaalde terminologie voor, gebaseer op bestaande terminologielyste en vertaalde skyfies wat dosente aan ons beskikbaar maak. Waar daar geen terminologielyste of vertaalde skyfies beskikbaar is nie, of waar die vertaling vaag kan wees, kontak ons die dosent om te bevestig dat ons die voorkeurterminologie gebruik om die konsep te verduidelik soos die dosent dit bedoel het.

Vertaling

Verskillende tolke benader die vertaalproses op verskillende maniere. Party tolke verkies om eers die podsending te transkribeer, dit te vertaal en dit dan op te neem – dit beteken dat meer tyd aan voorbereiding bestee word. Ander tolke verkies om die podsending te tolk soos ʼn intydse lesing getolk sou word – hoewel daar ook voorbereiding gedoen word, beteken dit gewoonlik dat meer tyd aan post-produksie bestee word.

Post-produksie

Of ons nou die podsending transkribeer en vertaal, en of ons dit tolk soos ons ’n intydse lesing sou tolk, post-produksie is uiters belangrik om te verseker dat ons ʼn gehalteproduk lewer wat die bedoelde boodskap akkuraat, samehangend en volledig oordra.

Ons redigeer die klankopname om ʼn koherente boodskap wat ook natuurlik klink te lewer, en, waar nodig, sinkroniseer ons die klankopname met die video om die tydsberekening van skyfies en animasie daarvan en gebare met laserwysers te belyn met dit wat gesê word.

Gehaltebeheer

Voordat ons die vertaalde podsending aan die dosent lewer, gaan ons projekkoördineerder, Christine Joubert, elke vertaalde podsending na om te verseker dat dit volledig is en dat die klankgehalte goed is.

Die Tolkdiens se Gehalteversekeringsportefeulje assesseer podsendings meer omvattend op ʼn kwartaallikse grondslag – hierdie assesserings is baie strawwer. Punte word toegeken volgens assesseringskriteria soos die akkuraatheid van die vertaling, die mate waartoe die vertaling al die inligting in die oorspronklike podsending oordra, hoe duidelik die tolk praat, of die woordeskat toepaslik is vir die vakgebied, en korrektheid van die terminologie. Die Gehalteversekeringsportefeulje is gretig om saam met dosente aan die assessering van podsendingvertalings te werk – as jy graag betrokke wil raak by die gehalteversekeringsproses, of as jy meer wil weet oor wat die proses behels, kontak gerus vir Sanet de Jager of Risha Lötter.

Hier is hoe jy jou vertaalde lesing kan laat vertaal

Tags:

’n Gedenkmuur vir Pumlani

Ons het met groot skok en hartseer die nuus ontvang dat Pumlani Sibula op Sondag 6 Desember oorlede is. Hy was tuis aan die aansterk ná Covid-19.

Pumlani was jare lank ’n gewaardeerde kollega by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Hy het hom in 2003 by die Taalsentrum aangesluit as hoof van die Eenheid vir isiXhosa. Hier was hy gemoeid met die ontwikkeling van isiXhosa-terminologielyste vir verskillende departemente van die Universiteit, en het hy ook klasse in isiXhosa-taal en -kultuur vir personeellede en internasionale studente aangebied.

Pumlani was bekend vir sy passie vir die isiXhosa-taal en -kultuur, en vir sy inspirerende onderrig. Van sy grootste onderrigprestasies sluit in die aanbieding van lesings in isiXhosa-taal en -kultuur vir Global Leadership Adventures (GLA) (’n winterskoolprogram vir hoërskoolstudente wêreldwyd) vanaf 2007, sowel as by Northwestern-universiteit in Chicago, Verenigde State, in 2009. Hy het in 2009 en 2011 die Rektorstoekenning ontvang. Pumlani het die US vir ’n kort rukkie verlaat, maar hom weer in Oktober 2019 by die isiXhosa-portefeulje aangesluit.

Sy nalatenskap leef ook voort in die vakspesifieke isiXhosa-terminologielyste wat hy vir Sosiologie, Maatskaplike Werk, Sielkunde, Regsgeleerdheid, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Teologie en Ingenieurswese ontwikkel het. Boonop was hy verantwoordelik vir die terminologielyste vir sokker, krieket en rugby.

Namens alle personeel van die Taalsentrum betuig ek my opregte meegevoel met sy kollegas, familie en vriende, en vra dat ons saam ons herinneringe aan Pumlani se humorsin, sy nederigheid, sy liefde vir goeie kos en sy passie vir taal sal koester.

Ons het soveel boodskappe en huldeblyke van sy kollegas ontvang dat ons besluit het om ’n gedenkmuur op ons webtuiste te plaas as ’n huldeblyk aan hom. Lees gerus die bydraes hieronder ter gedagtenis aan Pumlani.

Op Vrydag 11 Desember word ‘n aanlyn gedenkdiens, georganiseer deur vriende van Pumlani, van 15:00 tot 18:00 gehou. E-pos asseblief vir Grant Ngidi (gngidi@sun.ac.za) vir meer besonderhede. Die Taalsentrum sal ook ‘n aanlyn gedenkgeleentheid vir Pumlani in Januarie reël, waarna US-kollegas en eksterne medewerkers genooi sal word.  Skakel gerus met  Cheryl by taalsentrum@sun.ac.za as jy dit wil bywoon.

Laat dit ons troos wees dat hy nou in vrede rus. Hamba kakuhle, Pumlani.

– Dr Kim Wallmach, Direkteur: Taalsentrum

 

Pryssang vir Pumlani 

A creator, a guardian and custodian of words
Phrases, sayings, stories, wisdoms now heard
Passion and pride, honest and true,
stylish and gentle, kind, precious you
Hummings and rhythms, harmonies and rhymes
your songs, your voice, your presence for a time
Our journeys, our crossed paths, an unsighted bend
dearest colleague, comrade, family, friend

– Erica George, Taalsentrumkollega

 

’n Paar woorde oor Pumlani

Ek sal Pumlani as ’n geliefde kollega onthou, om ’n paar baie spesifieke redes.

Almal van ons wat ons isiXhosa-vaardighede wou verbeter deur die kursus vir personeellede te volg, sal Pumlani se geesdrif voor die witbord onthou. Sodra iemand iets gevra het, het hy verwoed op die bord begin skryf, kleur na kleur, totdat die hele bord vol was. Sy lesings was ’n pure vreugde vir taalleerders, want die meeste van ons het nog maar altyd by niemoedertaalsprekers klas gehad.

Wanneer ek ook al wou seker maak of my isiXhosa-groet of -gebed reg was, kon ek gou vinnig vir Pumlani ’n boodskap stuur. Hy het ons betreklik middelmatige pogings in sy taal vreeslik geniet! Hy was ook altyd so positief en bemoedigend as ons ’n paar woorde probeer sê het. Sy verduidelikings van die Xhosa-kultuur was outentiek en propvol wysheid.

Ons sal Bra Pumlani baie mis.

Hamba kakuhle, Pumlani.

– Ydalene Coetsee, Taalsentrumkollega

Vriend en ondersteuner

Ek het met skok en groot hartseer van Pumlani se afsterwe verneem.

Al die jare wat ons hom geken het, was Pumlani ’n vriend en ondersteuner, veral vir die Skryflab. Hy het werklik ’n lewe van ubuntu geleef en vir sy medemens omgegee – ’n eerlike, betroubare, nederige en vriendelike mens met ’n pragtige hart.

Ag, Pumlani, jy was nog so jonk, en daar was nog so baie wat jy moes doen om ons almal te wys en te leer hoe die ubuntu-gees werk en hoe om vir mekaar om te gee. Mag jou voorbeeld in ons harte voortleef en jou siel in vrede rus.

– Anne-Mari Lackay, Taalsentrumkollega

Hy sou geweet het wat om te sê

Pumlani was vir meer as 17 jaar ’n vriend en ’n broer. Hy was een van die gaafste en ordentlikste mense wat ek nog ooit ontmoet het. Hy het vir my opgestaan toe niemand anders wou nie. Hy het my getroos as ek bang was. Hy het selfs aangebied om my te help toe ek finansieel in die knyp was. Ons het baie gemeen gehad, waaronder ’n ingewikkelde familiegeskiedenis en gevoelens van afsondering. Ons was ook albei “gekorrigeerde linkshandiges”. Ons is kleintyd gedwing om regshandig te word. Hy het my nooit geoordeel nie.

Ons het ook baie verskil. Hy was mal oor Tina Turner en Shirley Bassey, terwyl ek Billy Idol en suidelike Gotiese musiek verkies. Hy was versot op Suid-Afrikaanse sepies; ek verkies HBO. Maar ons het albei Merlin (die reeks) en Game of Thrones geniet. En ’n lekker stukkie vleis.

Toe ons kantore nog langs mekaar was, het ons jare lank elke maand ná betaaldag ’n vaste middageteafspraak gehad. Sodra ons salarisse inbetaal is, is ons Blue Room toe (destyds ’n eetsaal vir personeel) waar ons die heel grootste vleisskottel bestel het wat ons kon kry. Drie soorte vleis, en daar het nie ’n krieseltjie oorgebly nie.

Nadat ons van kantore verskuif en die Blue Room toegemaak het, het ons by Mugg & Bean vir koffie/tee of middagete ontmoet. Ons het een keer in Canal Walk ontmoet, waar hy daarop aangedring het om my met ’n enorme grondboontjiebottermelkskommel te bederf, en ’n ander keer by Tygervallei, waar ek vir hom middagete probeer koop het, maar hy net ’n klein slaai wou hê.

Hy het my voorgestel aan die wonder van pepermenttee vir jou spysvertering. Dit werk regtig. Ek gebruik dit tot vandag toe. Ons het ook oor oefenroetines gesels en hoe moeilik dit is om daarby te hou. Eenmaal het ons ’n klomp kollegas op ’n straathoek naby Oude Werf in die verleentheid gestel deur sy nuwe vibrasieplaatoefenmasjien na te boots.

Ons was mekaar se klankbord vir taalvrae oor idiomatiese gebruik, vertaling, woordeskat en definisies. Pumlani was mal oor taal. Hy het eenkeer gesê dis sy bloed. Hy het taal gevóél. Dit was sy passie, en daarom kon hy ook my passie vir navorsing verstaan. Hy het altyd die regte woorde gehad. As dít my sterfberig was, sou hy geweet het wat om te sê. Al wat ek hom kan gee, is hierdie woorde om byna twee dekades van onvervangbare vriendskap saam te vat.

– Dr Rose Richards, Taalsentrumkollega

“Ek hou net van die kleur”

Die nuus oor Pumlani se afsterwe het my platgeslaan.

My beste herinnering aan Pumlani is die dag toe ek aangeklop het by die kantoor wat hy op die grondverdieping van Bosmanstraat 7 met Zandile gedeel het. Hy was besig om Bybel te lees, en het opgekyk en my met ’n hartlike “Molo, Sisi!” gegroet.

Ek was in my noppies om te sien dat hy ’n Blou Bul-trui dra, want ek het vir die grootste deel van my lewe in en om Pretoria grootgeword en gewoon. Toe ek opmerk hoe verras en bly ek is dat hy die Blou Bulle ondersteun, het hy my vraend aangekyk en gesê: “O nee, ek’s nie ’n ondersteuner nie, ek hou net van die kleur!”

Mag sy siel in vrede rus.

– Shannon Bishop, Taalsentrumkollega

’n Slag vir Afrikataledepartemente

Toe ek laas met Pumlani gesels het, was hy opgewonde oor sy toekenning en het ek hom gelukgewens met sy merkwaardige prestasie. Hy was so opgewonde. Weinig het ons geweet dat dit ons laaste geselsie sou wees. Ek is platgeslaan en sukkel om helder te dink. Wat ’n vriendelike, pligsgetroue, warm kollega. ’n Goeie navorser, ’n opvoeder soos min.

Kufandini kambe ulutshaba! Luphi na ulwamvila lwakho.

Jou heengaan laat jou eenheid by die Taalsentrum armer.

Jou vertrek laat alle Afrikataledepartemente armer, mnr Pumlani “PM” Sibula – my liewe vriend en bababoetie.

Mag jou pragtige siel in vrede rus, Mgebe, en in glorie herrys.

Ek sal jou vir altyd in my hart saamdra.

Baie dankie vir jou harde werk om Afrikatale te ontwikkel.

– Prof Nomsa Satyo, hoof van die Departement Afrikatale, Universiteit van Fort Hare

“Ek’s beroemd, en ek weet nie hoe dit gebeur het nie”

 Ek moes ver terugblaai deur die lêers op my rekenaar om te sien presies wanneer Pumlani hom by die Taalsentrum aangesluit het, en ek dink dit was aan die begin van 2004 of dalk selfs in 2003. Ek het eintlik nogal nou met hom saamgewerk in daardie eerste paar jaar, want ek was sy Afrikaanse medewerker vir die ontwikkeling van die eerste Engels-isiXhosa-Afrikaans-terminologielyste. Ons het ’n groot bekendstellingspartytjie aangebied toe die eerste terminologielyste in November 2004 voltooi is. Ek onthou nog Pumlani was ’n bietjie oorweldig deur al die aandag en sê toe: “Ek’s beroemd, en ek weet nie hoe dit gebeur het nie.”

Sedert hy hom meer onlangs by Bosmanstraat 7 aangesluit het, het hy werklik deel geword van ons span, en dikwels aan ons tafelrondegesprekke deelgeneem. Dit was altyd vir my verrykend om te luister na sy sienings as ’n mede-Suid-Afrikaner van ’n ander kultuur as myne. Ons sal hom mis.

– Erina Basson, Taalsentrumkollega

’n Vreemd magiese, vormende invloed

Na so ’n abnormale, ontmenslikende jaar het my hart regtig vandag gebreek toe ek moes hoor van Bra Pum se dood – dit was so onverwags en ’n totale skok. Ek wil daarom my diepste meegevoel oordra aan julle almal by die Taalsentrum. Maar natuurlik gaan my hart ook uit na Pumlani se familie en vriende.

My verhouding met Bra Pum was werklik spesiaal, veral omdat ons ewe sterk gevoel het oor die belang van meertaligheid in ons samelewing en die verswakte stand van die Afrikatale, wat soveel meer van ons aandag vereis het as wat ons kon gee. Pumlani was ’n hartsmens en het ’n vreemd magiese, vormende invloed op my gehad. Ek sal nooit ons soms heel driftige gesprekke gedurende ons weeklikse vergaderings vergeet nie, druk aan die beplan om die stand van isiXhosa te verbeter, nie net op kampus nie, maar ook in die groter samelewing waarin ons moes funksioneer. Ek was bevoorreg om in sy byna kinderlike opwinding te deel oor elke mylpaal wat ons bereik het (kortkursusse, terminologielyste, en soveel meer). Maar hy was op sy gelukkigste as hy ander sy geliefde taal isiXhosa kon leer …

Pumlani was een van die stiller lede van ons bestuur, maar wanneer hy gepraat het, moes jy baie, baie fyn luister om al die verskuilde boodskappe te hoor wat hy wou oordra.

Bra Pum was ’n veelkantige figuur in ons sentrum en het allerlei verborge, dikwels onbekende talente en rolle gehad waarvan nie alle personeel altyd geweet het nie: digter, formeel erkende pryssanger, sanger met ’n pragtige stem, en les bes iemand met ’n stil soort humorsin wat my dikwels gekielie het daar onder by my kleintoontjie. En hy was mal oor kos. Ek sal altyd onthou hoe hy, toe ons een van ons Taalsentrumgeleenthede beplan het, benadruk het dat daar tog genoeg moes wees om te eet, en “genoeg vléis, asseblief”. En ek hoor nog sy “Oh, Gaaawwwd” (sy uitspraak van dié een was nogal iets besonders!) as iets skeefgeloop het.

Ek sluit twee foto’s in van gelukkige tye wat ek met hierdie waarlik spesiale persoon kon deel – die eerste een by die personeelbyeenkoms van 2006, en die tweede toe personeellede my met my verjaardag in 2007 tuis verras het.

Ek sal nooit vergeet nie …

– Prof Leon de Stadler, voormalige Direkteur: Taalsentrum

Kort boodskappe van medelye

My diepste medelye met Pumlani se afsterwe. Mag die wete dat hy in vrede rus julle troos. Dink aan julle en al my kollegas by die Taalsentrum.
– Audrey Poole, voormalige Taalsentrumkollega
***

Ons almal by die Sentrum vir Gesondheidsberoepsonderwys (SGBO) wil ons opregte medelye met julle by die Taalsentrum betuig. Ons is hartseer oor die afsterwe van julle kollega en vriend Pumlani. Hy het ook sy aan sy met die taalfasiliteerders by ons Fakulteit gewerk en ons sal hom werklik mis.

Alle sterke vir julle almal in hierdie moeilike tyd.
– Dr Elize Archer namens die SGBO, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
***

Ons is diep bedroef oor die afsterwe van Pumlani Sibula. As die Globale Onderwyssentrum, wil ons graag ons meegevoel betuig en ’n boodskap van onderskraging oordra. Pumlani het ’n baie belangrike rol vervul om ons internasionale studente te verwelkom en te onderrig. Ons sal hom baie mis en altyd onthou vir die besondere werk wat hy gedoen het.

Laat weet asseblief hoe ons julle in hierdie moeilike tyd kan ondersteun.
– Sarah Jane van der Westhuizen, Globale Onderwyssentrum
***

My opregte medelye met die afsterwe van Pumlani. Die nuus was ’n totale skok. Laat ons altyd onthou met hoeveel geesdrif hy sy studente onderrig het.
– Me Kristin Rutgers, Menslike Hulpbronne
***

Dit is voorwaar hartseer en skokkende nuus. Ek sal sy vriendelike glimlag en positiewe lewensuitkyk mis. Met hom in die omgewing was daar hope pret. Ek sal altyd ons “afterparty” onthou toe ek hom eenkeer ná ’n jaareindgeleentheid genooi het om by my plek te oornag. Ons het tot laatnag gesels en die volgende oggend vroeg saam ontbyt geëet voor werk. Ek het twee van sy isiXhosa-kursusse bygewoon. Hy het dit professioneel, maar tog ook prettig en vermaaklik aangebied.

Rus in vrede, Pumlani, ons sal jou mis!
– Lize Kruger, Taalsentrumkollega

’n Onlangse herinnering

Ek het gedurende die inperking met Pumlani in aanraking gebly, want ek het besef hoe sleg dit moes wees om soveel tyd alleen deur te bring. Hy was so opgewek en altyd positief. Dít was ’n onlangse boodskap wat ek aan hom gestuur het, met hierdie foto daarby aangeheg.

Molo, mhlobo wam! Onthou jy die tyd toe ons mekaar nog kon drukkies gee sonder om bang te wees vir infeksie? Hoe gaan dit met jou?”

– Dr Anita Jonker, kollega van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

Kort video: Pumlani in die klas

Huldigingswoord vir ’n dierbare vriend en kollega: Pumlani “Sihlobo sam” Sibula

’n Institusionele taalkenner, ’n toegewyde kollega en getroue vriend met wie ek besonder bevoorreg was om die afgelope agt jaar nou saam te werk, op interdepartementele vlak én meer onlangs in ons gedeelde Taalsentrumkantoor.

Pumlani was ’n deernisvolle, empatiese en nederige dienaar van mense en het omgegee oor wat saak maak in die lewe, die mense met wie hy saamgewerk en diegene wat hy onbaatsugtig gedien het. ’n Toegewyde, verstandige, hoflike en vriendelike man, wat almal Sihlobo sam (my vriend) genoem het.

Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: “Om netjies aan te trek is ’n vorm van goeie maniere.” Hierdie gentleman was inderdaad altyd netjies uitgevat, en het daagliks goeie maniere uitgestraal deur sy keurige uitrustings en sy innemende glimlag, in sy werkplek en oral anders waar hy hom bevind het.

Hy het voluit geleef. Sy lewe was een waar die middele net so belangrik was soos die doel. Sy voorbeeld het jou laat voel jy wil ’n beter kollega, ’n beter suster, ’n beter vriend en ’n beter werknemer wees.

In sy loopbaan het hy diep spore getrap by Hoërskool Makupula en by die Universiteit Stellenbosch deur studente met goeie taalvaardighede toe te rus. By die Taalsentrum het hy terminologie- en meertalige woordelyste ontwikkel om dosente en studente ’n beter begrip van vakinhoud te help gee. Hy het ook help sorg dat die Afrikaanse en Engelse name van menige gebou, departement en fakulteit van die Universiteit Stellenbosch in isiXhosa vertaal word.

As ontwikkelaar en baanbreker van isiXhosa-letterkunde het hy taalgrense in die Wes-Kaap oorgesteek. Sy taalontwikkelingsnetwerk het gestrek van verskillende fakulteite by ons universiteit, tot gemeenskapstaalklubs op Stellenbosch, tot internasionale universiteite, Pansat, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die Nasionale Taaldiens, die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (PRAESA), die Skrywersgilde … die lys is nimmereindigend. Binne ’n skrale jaar saam met Pumlani by die Taalsentrum het hy my persoonlik geleer hoe om studente uit nie-Engelse huise enige vakinhoud beter te laat verstaan deur woordelyste van die vernaamste kursusterminologie vir hulle op te stel. In ons spesiale isiXhosa-kursus het hy ook sy weergalose ervaring met niemoedertaalstudente van oor die hele Universiteit gedeel.

Ek onthou hoe almal wat na ons kantoor toe gekom het – studente, kollegas en lynbestuurders – hom geloof het vir sy charisma en matelose vriendelikheid. Hieronder is voorbeelde van die sentimente van diegene wat hom geken het:

Dr Vuyo Mntuyedwa: “Ndikule ndawo ndikuyo nje ngubhuti Pumlani. Ndifundisa eyunivesithi namhlanje, kwaye kungenxa yokuqeqeshwa nguye.”

Dr Xolani Mavela: “Umzi wesiXhosa ngokubanzi ulahlekelwe. UPumlani sisithwalandwe, isikhuthali, ithandazwe, ithandamntu novulindlela kuphuhliso lwesiXhosa jikelele.”

Me Nosisa Beyile (kurrikulumadviseur): “Andikholelwa ukuba uMhegebe usishiyile. Kazi sakuncedwa ngubani na ekuhleleni iinkqubo zoncwadi lwesiXhosa siyiWCED?

Leerders van Kayamandi: “Ukuba sasingalifumenanga ithuba lokufundiswa ngutitshala uSibula, ngesingekho kwezi ndawo sikuzo namhlanje.”

En is dít nie maar waaraan ’n man geken word nie: hoe hy leef, hoe hy teenoor ander optree, ongeag met watter teenspoed hy in die lewe te doen kry? Pumlani was ’n wonderlike man. Hy herinner my aan Anastasia Netri se definisie van ’n man: “’n Goeie man wil hê jy moet skitter. Hy wil hê jy moet jou fantastiese self wees.” En dís hoe ons almal Sihlobo sam sal onthou, want met sy geesdrif, sy glimlag en sy onfeilbare onderskraging wou hy almal na die sterre laat reik.

Mag jou siel in vrede rus, Sihlobo sam, en in glorie herrys. Hamba kakuhle ulale ngoxolo Mpondo, Mgebe, Mngxongo!

Jou vriendin en suster

– Dr Zandile Kondowe, Taalsentrumkollega

Tags:

Dosente, kontak ons vir redigering en vertaling

Daar is sekere k-woorde wat mens ongemaklik laat kriewel. Korona, kiem, komper, kontaminasie, krisis, kwarantyn. As teenvoeter vir hierdie woorde, bied die US Taalsentrum se Taaldiens graag ‘kans’, ‘kontak’ en ‘kreatief’. Deur dosente se klasmateriaal soos notas, skyfies en ander SUNLearn-inhoud te redigeer en te vertaal, gee ons jou die kans om met jou studente kontak te maak in die taal van hulle keuse en kreatief met jou vakmateriaal en die oplaai daarvan om te gaan.

In enige akademiese veld is die oordrag van kennis en die begrip van komplekse idees kardinale stappe in die leerproses. Die Taaldiens kan jou help seker maak dat jou idees klinkklaar oorkom deur die taal van jou klasnotas en -skyfies tydens die redigeerproses bietjie reg te klop. Deur die ‘hoe’ aan ons oor te laat, kan jy fokus op wat jy eintlik wil kwyt raak – met meer tyd en energie om op die skep en oplaai van jou inhoud en interaksie met jou studente te konsentreer.

Aangesien ons in 15 tale werk (Afrikaans, Engels en Xhosa ingeslote), kan ons ook jou materiaal vertaal. Op hierdie manier gee ons saam vir studente ʼn lewensveranderende keuse: die geleentheid om te leer in die taal waarmee hulle die gemaklikste is.

Deur die vaardighede en kennis van ons eie taalpraktisyns en beproefde, gekwalifiseerde vryskutters te kombineer, maak ons korte mette van take en sperdatums. Kom, kontak ons!

E-pos Marguerite van der Waal vir ʼn kwotasie.

 

 

Lecturers, connect with us for editing and translation
Tags: , , , , , , , , ,

Klappende tonge en tolking by die Woordfees

As jy – soos menige Woordfeesaanhangers – al ʼn oog gegooi het oor vanjaar se Woordfeesgids, sou jy moontlik afgekom het op die Taalsentrum se advertensie en wenke oor hoe om die pad in Xhosa te vra. Die bladsy sluit af met dié leuse: Wonderlike dinge gebeur as jy saam met ons werk. Die Woordfees werk inderdaad weer saam met ons vanjaar: Om te sorg vir intydse tolking as die tonge klap by die diskoersreeks.

Die Woordfees skop vanjaar af op 5 Maart, en buiten die teater-, skrywers- en musiekfeeste is daar verskeie gespreksessies waar die sprekers die gehoor sal aanmoedig om saam te praat. Om daardie kommunikasiegeleenthede te verryk, sal daar Taalsentrum-tolke by verskeie van hierdie sessies wees om gratis te tolk na (hoofsaaklik) Engels of Afrikaans.

Eduard de Kock, een van die Taalsentrum se tolke, onthou toe hierdie inisiatief in 2018 begin is: “Dit was so ʼn fassinerende en opwindende versoek. Daar was ʼn reeks gesprekke wat elke dag in die tent voor Wilgenhof plaasgevind het. Ons moes ʼn piekniekbankie kry, tolk-toerusting uitdeel en dan die interessante en nogal emosionele getuienis tolk – én die drang weerstaan om nie self betrokke te raak nie! Woordfeestolking het ʼn geleentheid geword waarna ek regtig uitsien.”

Weens logistieke redes is daar nie tolking by alle diskoersreekse nie, maar die kans is goed dat jy ʼn tolk iewers sal teëkom. Wees op die uitkyk vir mense met ʼn gereedskapstas, gewoonlik naby die verhoog, en tipies met ʼn glimlag op hul gesigte. Kom groet en maak gerus gebruik van die gratis diens. Voorspoedige Woordfees!

 

Wagging tongues and interpreting at the Woordfees
Tags: , ,

Dis goud, maar ongemaklik

Vir baie mense gaan die feestyd en familiesamesyn hand aan hand. Terselfdertyd is dit ʼn ongeskrewe reël dat jy die een of ander tyd met die een of ander verlangse familielid stry gaan kry of – selfs erger – net nie meer iets gaan hê om te sê nie. ʼn Ongemaklike swye volg …

In 2010 het navorsers aan die Universiteit van Groningen ondersoek ingestel na die pouse in ʼn gesprek en bevind dat dit omtrent vier sekondes neem vir ʼn stilte om ondraaglik te word. Hoe nou gemaak?

Die Internet het baie raad oor hoe om ongemaklike stiltes te vermy, maar die voorstelle is meer ingestel op gesprekke met vreemdelinge of kollegas, en helaas nie met mens se eie familielede nie. Die ongemak kan net vererger as jy vir neef Wilhelm vra: “Waar kom jy vandaan?” of, die hemel behoed ons: “Waarom is jy hier?”

Daar is egter ʼn paar gawe idees in sommige van die artikels, soos die kommunikasiedeskundige Victor Sander se voorstel dat jy ‘jy-vrae’ gebruik. Die idee is basies dat jy vrae vra wat die woord ‘jy’ bevat, byvoorbeeld “Wat doen jy in jou vrye tyd?”. Sanders sê as mens dit doen, impliseer jy ʼn belang in die persoon met wie jy gesels, wat hulle meer betrokke by die gesprek laat voel.

Maar Melissa Dahl, skrywer van Cringeworthy: A Theory of Awkwardness, stel voor dat stilte nie iets is waarvoor mens bang moet wees nie. Dahl het bevind die hoofrede waarom ʼn stilte ongemaklik voel, is omdat daar ʼn hoë mate van onsekerheid heers. Mense is geneig om nie daarvan te hou as hulle nie weet wat om volgende te sê of te doen nie. As mens dít weet, is dit bloot ʼn kwessie van iets kry om oor seker te wees …

So, wees seker daarvan dat jou familie lief is vir jou, wees seker daarvan dat dit nié jou beurt is om die skottelgoed te was nie en weet dat tant Alma na nóg ʼn glas wyn oor haar worshond gaan begin gesels.

Tags:

Phakama vir akademiese geletterdheid

Dosente van die Taalsentrum, Chemie en Rekenaarvaardigheid het vanjaar ’n splinternuwe en opwindende samewerkingsprojek van stapel gestuur. Hulle het saamgespan om die Taalsentrum se akademiese geletterdheidsmodule, Wetenskapkommunikasievaardigheid 146, en modules in chemie en rekenaarvaardigheid vir studente in verlengdegraadprogramme in Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe en Ingenieurswese, ekstra dimensie te gee.

Studente in dié modules moes werk met die opdrag dat hulle deur ’n fiktiewe regeringskommissie aangewys is om deel te vorm van ’n wetenskaplike adviesspan wat ondersoek moes instel na en verslag moes doen oor ’n reeks relevante onderwerpe met ‘n chemie-onderbou. Die studente moes in groepe navorsing doen en ’n geskrewe argument vir of teen die betrokke onderwerp indien. Daarna moes die groepe hul navorsing op ’n kreatiewe manier beskikbaar maak aan die publiek deur vyfminuutvideo’s te skep waarin hulle hul argumente oordra.

Die uitkomste waarna gestreef is, is die toepassing van lees- en skryfvaardighede in die konteks van wetenskap in die samelewing oor die algemeen en spesifiek in Suid-Afrika, die ontwikkeling van die vermoë om gepaste bronne te kies en te gebruik om logiese argumente vir of teen ’n kwessie op te stel en uiteindelik om nuwe maniere te ondersoek om kennis op ’n kreatiewe manier aan ’n groter gehoor oor te dra.

Wat hierdie projek verder uniek gemaak het, is dat studente deurlopend deel van die besluitnemingsproses was. Aan die heel begin het studente deur ’n stemproses die geleentheid gehad om vir die projek ’n naam te gee. Die woord ‘phakama’, wat in Xhosa ‘opstaan’ of ‘opstyg’ beteken, is as naam gekies. Daarna kon studente hul eie onderwerpe om na te vors identifiseer, en uiteindelik het die studente self gestem vir die top-video. Onderwerpe het gestrek van kernkrag, genetiese modifikasie tot die byvoeging van fluoried in drinkwater. Die wenspan het laasgenoemde kwessie onder die loep geneem en het bestaan uit Temika Moodley, Jade Opperman, Alliance Sambo en Lukhanye Swapi. Klik gerus hier om na hul video te kyk.

Studente het die projek as innoverend en toepaslik ervaar. “Die Phakama-projek het vir my gewys dat akademie ook opwindend en pret kan wees,” was een student se terugvoer.

Tags: , ,

Kommunikasielab kop in een mus met persoonlike assistente

Vroeg in November het lede van die Universiteit se persoonlike assistente-netwerk (SUPAN) die Uitnemende kommunikasie-kortkursus van die Kommunikasielab bygewoon. Die Kommunikasielab het die kursus spesiaal vir SUPAN aangepas. Hierdie is net die eerste van ‘n reeks Kommunikasielab-kursusse vir SUPAN – moenie die res misloop as jy deel is van die netwerk nie! Gesels met Tania Arrison (SUPAN-spanleier) of Michelle Pieters van die Kommunikasielab as jy wil inskakel. Daar is ook samewerkingsmoontlikhede met ander partye!

Comms Lab colab with personal assistants

Tags: ,

Boektsunami: Die grootste golf nóg

“Hierdie jaar het ons net ʼn halwe boks boeke opgepak ná die Boektsunami,” vertel dr Vernita Beukes, ʼn Taalsentrum-dosent en organiseerder van die Sentrum se jaarlikse Boektsunami, wat vanjaar op Vrydag 6 September plaasgevind het.

Die Boektsunami is ʼn knik in die rigting van Britse aktrise Emma Watson se Book fairy-projek, wat mense aanmoedig om boeke in openbare plekke te los sodat ander dit kan kry, lees en weer iewers vir ʼn volgende leser los. Vanjaar is die derde jaar dat Vernita en ander Taalsentrumkollegas die Neelsie-studentesentrum op horings neem met boeke. “Ons pak die boeke vroeg-vroeg oral uit om almal wat ʼn draai daar maak vir die eerste koffie van die dag, sommer met ʼn boek ook te verras.” Die Boektsunami word elke jaar so naby moontlik aan 8 September, Internasionale Geletterdheidsdag, gehou. Vanjaar se tema is geletterdheid en veeltaligheid.

“So gee ons iets terug aan die gemeenskap én vier ons ʼn belangrike internasionale dag,” verduidelik Vernita. Die Taalsentrum is verder betrokke by sy gemeenskap deur ʼn voorleesprojek vir kleuterskole in Stellenbosch en die omliggende Cloetesville, Idasvallei, Jamestown, Kylemore en Pniel. “Ons is nie altyd seker wie dit die meeste geniet nie, die voorlesers of die kinders!”

Leesvreugde is aansteeklik. Probeer dit gerus! Jy kan vir Vernita kontak om by die voorleesprojek aan te sluit, of dalk kan jy daarby baat om saam met ons Leeslab te werk. Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.

 

Book tsunami: The biggest wave yet
Tags: , , , , ,

Taalleerhub-vreugde: Sy hart klop warm vir Afrikaans

Dit gebeur min dat ons ʼn versoek van iemand kry wat vir drie maande Suid-Afrika toe wil kom om Afrikaans te leer.

Maar onlangs het dit wel gebeur: Wietse Hilverda, ʼn Nederlandse sakeman, wat die afgelope dekade in Aix, Frankryk, woon, het Stellenbosch in 2018 juis om hierdie rede kom besoek. Hy wou die moontlikheid van ʼn pasgemaakte kursus met twee kollegas van die Taalsentrum, Helga Sykstus en Arné Binneman, ondersoek. Die uiteinde was die skep van die kortkursus ‘Afrikaans language and culture for Dutch speakers’, wat Wietse sedert einde Maart vanjaar by die Taalsentrum se Taalleerhub volg. Helga het met Wietse gesels om uit te vind hoe hy oor sy sesde taal voel.

Hoekom juis Stellenbosch?

Myns insiens word Stellenbosch steeds beskou as die sentrum van Afrikaans en die beste plek om Afrikaans te leer. My besoek in 2018 was juis om finaal te besluit of dit die mees gepaste plek is.

Hoe vergelyk jou verwagtinge met jou uiteindelike ervaring?

My ervaring is veel beter as wat my verwagtinge ooit kon wees! Die redes hiervoor is die aanpasbaarheid van die program, die temas wat as stimulus vir gesprekke aangewend word en die ontmoetings met ander Suid-Afrikaners wat vir my ʼn gevarieerde en ryk beeld van die land en sy mense gee. En die goue draad natuurlik, die taal. Afrikaans.

Wat is jou indrukke van Afrikaanssprekendes?

Afrikaanssprekendes is minder Europees as wat ek gedink het. Eerder eg Suid-Afrikaans. Ek baseer dit op hul liefde vir die taal, die land en die mense. Hierdie tipe gebondenheid vind mens moeilik in Europa. Suid-Afrikaners is ook oor die algemeen sintuiglik baie meer ingestel, en hul ervaring van dit wat om hul aangaan, is vir my baie meer intens.

Is daar enigiets waaroor jy heeltemal verras was?

Ja, hoe lief mense vir Afrikaans is. Hoe graag mense met my wil praat. Hoe ontvanklik en openhartig mense is asook die waardering wat hulle daarvoor het dat ek so graag Afrikaans wil leer praat.

Het jy enige gunstelingwoorde in Afrikaans?

O ja! Lekker. Snaaks. Padkos. Goed gaan. Vinnig. Kosmandjie.

Ek is veral geïnteresseerd in valse vriende – woorde wat in beide Afrikaans en Nederlands voorkom, maar van betekenis verskil.

Die kursus wat Wietse volg, kom uit die Taalleerhub, ʼn nuwe inisiatief binne die Taalsentrum, wat vir kliënte ʼn ruimte wil bied om taal aan te leer en te verbeter. Die kursus fokus op die ryk geskiedenis wat Nederlands en Afrikaans deel, maar veral ook op die uiteenlopendhede in die kultuur van die Afrikaanse taal en gemeenskap.

Ander kortkursusse wat deur die Taalleerhub aangebied word, is gerig op lede van die publiek wat daarin belangstel om basiese Afrikaans of Xhosa aan te leer vir sosiale gebruik. E-pos Helga of Arné gerus vir meer inligting.

 

A toast to a sixth language at the Language Hub

Oor S se halfpadmerk

In April vanjaar is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se vyftiende deel bekend gestel: Die tweede deel van die letter S, van ‘skool’ tot by ‘Sri Lankaans’. Daarmee saam kom ʼn addendum met nuwe woorde van A tot S – ʼn broodnodige byvoeging, want Deel I van die WAT (met woorde van A tot C) het in 1951 al verskyn. Van ‘amabokoboko’, ‘beurtkrag’ of ‘google’ was daar toe nog nie sprake nie! Werk aan die Woordeboek het in 1926 amptelik begin, en in 1929 neem die Universiteit die verantwoordelikheid vir die woordeboek oor.

Die WAT-redaksie is van Januarie af al besig om aan die derde en laaste deel van die letter S te werk, en hoop om dié deel binne twee jaar te voltooi. Meer redaksielede is verlede jaar aangestel om te help om teen 2029 by Z uit te kom.

Die WAT bevat baie meer woorde en inligting as byvoorbeeld die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) en spits hom juis daarop toe om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang te dokumenteer. Die WAT is dus ʼn gesaghebbende naslaanbron vir enige weetgierige of navorser oor Afrikaanse woorde, en is ook elektronies beskikbaar – tot op ʼn selfoon! Die Taalsentrum wens die WAT graag geluk met die vrystelling van Deel XV – ons is natuurlik entoesiastiese WAT-gebruikers.

Nie almal weet watter taalhulpbronne beskikbaar is nie, of waar om hulle te kry nie. Die Taaldiens het ʼn hulpbronneblad vir sy taalpraktisyns geskep waarby enigiemand kan baat: die blad bevat skakels na ʼn groot verskeidenheid e-woordeboeke, woordelyste en termlyste. Die jongste weergawe van die Taaldiens se eie Afr/Eng Vertaalekwivalentlys is ook daar beskikbaar. Die Taaldiens lewer ʼn professionele redigeer- en vertaaldiens vir kliënte enige plek in die wêreld. E-pos gerus vir Marguerite met ʼn versoek – ons kan jou in minstens 15 tale help!