Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482
Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495
Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508
Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521
Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469 Nuutste nuus – Page 8 – Stellenbosch University Language Centre
Die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) pronk met ʼn splinternuwe baadjie vir sy eeufees. Die elfde, omvattend herbewerkte uitgawe is vroeg in Augustus vanjaar amptelik vrygestel. Die heel eerste uitgawe is ʼn volle eeu gelede as die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls in 1917 gepubliseer om te “sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom; dat dit die draer word van ons kultuur”. Sedertdien het die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulle beywer om Afrikaans as skryftaal te help vestig en die leiding geneem deur reëls vir eenvormige spelling en skryfwyse in Afrikaans deur die AWS aan gebruikers beskikbaar te stel. Die nege lede van die huidige Taalkommissie, akademici sowel as taalpraktisyns, het sedert 2009 (die publikasiedatum van die tiende uitgawe) meer as 700 uur slegs aan gesamentlike vergaderings bestee om die AWS by te werk – sonder enige vergoeding.
Verder is dit belangrik om die taal se groeiende woordeskat en segswyses asook die behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap in die AWS te weerspieël, en dit is hier waar die Woordelys (nou 30 000 woorde sterk) ’n staatmaker is. Heelwat nuwe woorde uit gebruiksvariëteite soos Kaapse Afrikaans en Oranjerivierafrikaans is opgeneem, byvoorbeeld ‘antie’, ‘dhaltjie’, ‘gangster’ en ‘poenankies’ (wat ‘oulik’ beteken). Woorde soos ‘googleloer’, ‘hommeltuig’, ‘meem’, ‘warsender’, ‘antispioenware’, ‘selfie’, ‘skermgreep’, ‘hidrobreking’, ‘venue’ en selfs ‘flop’ het ook die Woordelys gehaal.
“Afrikaans is ’n dinamiese taal wat deurlopend ontwikkel, en die jongste AWS is ’n opwindende, lewende bewys hiervan,” sê prof Gerhard van Huyssteen, voorsitter van die Taalkommissie. Die konteks waarvoor hierdie uitgawe voorberei is, is die leefwêreld wat Afrikaanssprekendes tans moet verwoord, waar rekenaartegnologie snel ontwikkel, elektroniese korpusse van geskrewe Afrikaans beskikbaar is, die algemene publiek toegang tot die internet en sosiale media het, en internasionalisering en globalisering ʼn gegewe is.
Die formulering van die grondbeginsels van spelling in Afrikaans soos in die negende uitgawe (2002-publikasie) staan steeds vas, en twee nuwe hoofstukke is bygevoeg om leiding oor leestekens en trappe van vergelyking te gee. Lyste met plekname in die Ooste, landname met geldeenhede en ISO-kodes, en elemente in die periodieke tabel is bygevoeg sodat ʼn mens ook nie verder dáároor hoef te wonder – of te stry – nie.
Die AWS is ’n publikasie van NB-Uitgewers wat onder die Pharos-druknaam verskyn, en is ook aanlyn beskikbaar.
Só lyk die AWS se nuwe baadjie, met die vorige uitgawes se voorblaaie as agtergrond.
In die vorige uitgawe van Dialogos het ons berig oor hoe ʼn boereworsrolverkoping meertaligheid kon help bevorder. Ons volg nou daardie projek se spoor verder.
Dit was met groot opgewondenheid dat die Vriende van Afrikaans, die Taalsentrum en die koshuis Academia op 20 April twee boektrommels by Akkerdoppies en Speelkring, twee kleuterskole in Stellenbosch, kon aflewer.
Die boektrommels, saam R15 000 werd, is gefinansier deur skenkings en die “Kom koop ʼn boereworsrol en maak ʼn boektrommel vol”-projek wat op 10 Maart vanjaar geloods is. Met hierdie projek het die Vriende van Afrikaans, die Taalsentrum, Academia en Matie Gemeenskapsdiens saamgespan om geld in te samel om boektrommels vir skole te koop. Die projek is ook deel van die Taalsentrum se 2017-meertaligheidsveldtog.
Die kinders by die twee kleuterskole se gesiggies het behoorlik gestraal toe ʼn boektrommel met 90 splinternuwe boekies voor hulle oopgemaak word. Chareldine van der Merwe van die Vriende van Afrikaans het met die kleuters gesels oor hoe ʼn mens ʼn boek reg hanteer, waarna sy vir hulle ʼn storie voorgelees het. By albei skole het die kinders na die tyd het sommer spontaan twee liedjies gesing om dankie te sê. Academia gaan verder vanjaar voorleesinisiatiewe by die twee skole loods en ook aan die einde van die jaar verrassingspakkies aflewer om kinders by die skole in die regte stemming vir Kersfees te kry.
“Dit laat ʼn mens se hart voorwaar warm klop om die geskenk van boeke met kinders te deel. Ons hoop die towerkrag van boeke sal elke kind aanhou bekoor,” sê Vernita Beukes van die Taalsentrum, wat die projek koördineer. “Immergroen Dr Suess sê tereg: ‘You can find magic wherever you look. Sit back and relax, all you need is a book!’”
Die bevordering van meertaligheid is vir die US baie belangrik.
Die Vriende van Afrikaans, Taalsentrum en die koshuis Academia het daarom saamgespan om die “Kom koop ʼn boereworsrol en maak ʼn boektrommel vol”-projek te loods, waarvoor hulle sedert vroeg Februarie kaartjies vir boereworsrolle verkoop het. Die projek het dit ten doel gehad om geld in te samel sodat daar boektrommels ter waarde van R7 500 elk aan laerskole geskenk kan word. Die boektrommels bevat leesboekies in Afrikaans, Engels en Xhosa, en kan as mobiele biblioteke dien vir skole wat nie oor ʼn biblioteek beskik nie.
Op Vrydag 10 Maart – die dag van die boereworsrolle – het die manne van Academia die vure sommer vroeg aangesteek. Daar is wors gebraai en geswoeg en gesweet om die baie broodrolletjies te sny en te smeer. ʼn Taalsentrumkollega se uiesmoor was ook beslis ʼn treffer. Die boereworsrolle kon tussen 13:00 en 14:00 by Bosmanstraat 7 afgehaal word: kaartjiehouers is op ʼn deurloopbedienbasis met hul bestellings verenig.
Almal betrokke het die projek vreeslik geniet. Dit was moeë maar tevrede studente en personeellede wat die Vrydagmiddag kon huis toe gaan met die wete dat hulle kon help dat ʼn boektrommel – vol lieflike boekies vir jong lesertjies – sy pad na ʼn skool vind.
Wat die projek tot dusver opgelewer het, is twee boektrommels: een geskenk deur Academia se studente en bestuur, en een geskenk deur die Vriende van Afrikaans, omdat dié organisasie onderneem het om vir elke boektrommel wat gekoop word, een te skenk. Saam met die borge van Dagbreek-koshuis en MGD (Matie Gemeenskapsdiens) is ʼn addisionele R4 434 ingesamel, wat later aangevul sal word met nog ʼn boereworsrol-verkoping sodat meer skole boektrommels kan kry. Maar hier gaan dit ook nie stop nie – die span beplan nog projekte waarby skole kan baat, waarvan die eerste boekvoorlesings by skole sal wees.
Vier Taalsentrumpersoneellede het die European Society for Translation Studies (EST) se agste kongres wat vanjaar in Aarhus, Denemarke, gehou is, van 15 tot 17 September bygewoon. EST is ʼn genootskap wat navorsing oor vertaling, tolking en lokalisering bevorder en geleentheid skep vir wisselwerking tussen navorsers, onder andere deur elke drie jaar ʼn kongres van ʼn hoë akademiese standaard aan te bied.
Vanjaar se kongrestema was Translation Studies: Moving Boundaries en drie kollegas het daar aanbiedings gedoen. Alta van Rensburg, tans besig met haar PhD-studie in vertaalkunde, het in haar aanbieding, “Translation revision – a useful or redundant practice?”, besin oor die impak wat revisie het op die gehalte van ʼn vertaalproduk. Lenelle Foster het die opvoedkundige tolkdiens wat die Taalsentrum bied in die kollig geplaas met haar aanbieding getiteld “A matter of calibre: Developing a useful assessment gauge in an educational interpreting environment”. Susan Lotz het ʼn gevallestudie getiteld “It may be copyrighted, but it still needs help: Intralingual translation and medical research questionnaires” aangebied en so die belang van en die behoefte aan navorsingsvraelyste in verstaanbare taal geïllustreer.
Die vierde kollega, Carmen Brewis, is ook besig met ʼn PhD-studie in vertaalkunde, en het sowel die EST-kongres as die voorkongreswerksessie gemik op doktorale studente bygewoon. Haar studie behels ʼn etnografiese ondersoek na opvoedkundige tolking met die Universiteit Stellenbosch as gevallestudie. Terwyl sy in Europa was, het sy ook in Antwerpen, België, aan die Somerskool van CETRA, die Katholieke Universiteit Leuven se vertaalkundesentrum, deelgeneem.
Benewens die kongres was ander hoogtepunte in Denemarke die geleentheid om die Grauballe-man, ʼn goed gepreserveerde liggaam wat uit die Ystertyd dateer en in 1952 in ʼn veenmoeras in Denemarke ontdek is, in die Moesgaard-museum in Aarhus te sien; om Ron Mueck se enorme 4,5 meter hoë Boy-beeld in die ARoS Aarhus Kunstmuseum gade te slaan waar hy in ʼn hoek hurk; ʼn besoek aan die Wikingskipmuseum in Roskilde met oorblyfsels van Wikingskepe van meer as ʼn duisend jaar gelede; die pragtige kerke en ander historiese geboue; Legoland se wonderwêreld; en om op Deense pleine met Deense biere te sit, diep te dink en Dene dop te hou.
In 2019 speel die Universiteit Stellenbosch, by name die Departement Afrikaans en Nederlands, gasheer vir die negende EST-kongres. Die kongrestema is Living Translation.
Van links na regs: Carmen Brewis, Susan Lotz, Alta van Rensburg en Lenelle Foster by die Universiteit van Aarhus in Denemarke vir die 8ste EST-kongres.
Welkom by die eerste artikel in ons #Dwaaljagters reeks
By die meeste van ons is skryfreëls van jongs af op skool ingedril. ‘Moet nooit ʼn sin met en of maar begin nie’ is waarskynlik een van hulle. Die formele reël lui: ʼn Mens begin nie ʼn sin met ʼn voegwoord nie.
Maar dit is nie altyd waar nie. Kinders leer hierdie reël waarskynlik om te keer dat hulle skryf: Ek het ʼn boetie. En ʼn sussie. En ʼn hond.
Dit is inderdaad beter om sinne wat met voegwoorde soos en of maar begin, liewer net in spesiale gevalle te gebruik, maar jy kán ʼn voegwoord op hierdie manier gebruik vir dramatiese effek. Die nuwe sin wat met die en of maar begin kan die leser se aandag dan op ʼn belangrike punt wat jy wil oordra, vestig.
Kom ons dink aan voorbeelde waar en en maar aan die begin van ʼn sin meer klem op die gedagte wat in die tweede sin uitgedruk word, gee. In hierdie gevalle sou ʼn komma veel minder uitdrukking teweeggebring het:
Dit lyk of hierdie benadering sal werk. Maar ons moet die probleem ook uit ʼn ander hoek beskou.
Met hierdie aanbieding kry jy ʼn dekodeerder en ʼn satellietskottel. En dis nie al nie. Jy kry ook ʼn maand se gratis intekening.
Of, vir dramatiese effek:
Sommige mense sê hierdie was die slegste vertoning nog. En wie is ons om te stry?
Die transformasie op hierdie vlak is heel indrukwekkend. Maar is dit genoeg?
Ek het onlangs ’n brief met slegte nuus ontvang: my werksaansoek was nie suksesvol nie. En terwyl ek hierdie slegte nuus gelees het, het ek besef dat dit nie soseer die inhoud van die brief was wat my so sleg laat voel het nie, maar eerder die manier waarop die nuus oorgedra is. Indien jy ooit die draer van slegte nuus moet wees, is hier ’n paar stappe wat jou sal help om die nuus op ’n ferm dog vriendelike wyse oor te dra, en die ontvanger daarvan hoop te gee vir die toekoms, eerder as om heeltemal verwerp te voel. Dit gaan alles oor die manier waarop jy die nuus verpak, soos ʼn Arabiese spreekwoord sê: “As jy die pyl van waarheid afskiet, doop eers sy punt in heuning.”
Stap 1: Die buffer
Moenie net die pleister afruk nie – begin die brief met ʼn buffer. Die buffer kan enige vorm aanneem, byvoorbeeld “Dankie dat jy vir die pos aansoek gedoen het” of “Dankie vir jou belangstelling in ons organisasie.” Dit skep ʼn positiewe toon en kan jou leser gewaardeer laat voel. Daardeur berei jy hom of haar sagkens voor vir die slegte nuus wat volg.
Stap 2: Gee die slegte nuus
Die toon en woordkeuse bepaal tot ʼn groot mate hoe die leser jou boodskap ontvang, hoe dit hulle laat voel wanneer hulle dit lees, en watter beeld dit skep van jou as skrywer, of die organisasie namens wie jy skryf.
Dit is nooit maklik om slegte nuus te ontvang nie, maar die boodskap kan versag word deur die manier waarop jy die slegte nuus oordra. Kyk ʼn bietjie na die verskil tussen die volgende twee sinne:
Jou aansoek is afgekeur
Ongelukkig was jou aansoek nie suksesvol nie
Beide weergawes is duidelik en finaal, maar die eerste is kort en onpersoonlik, terwyl die tweede die leser op ʼn sensitiewe wyse inlig. Dieselfde kan van die volgende voorbeeld gesê word:
Ongelukkig het jy die toets gedruip
Ongelukkig het jy nie die assesseringskriteria behaal nie.
Stap 3: Die goue randjie
Uiteindelik wil jy jou brief op ʼn positiewe wyse afsluit deur ʼn boodskap van hoop by jou leser agter te laat. Laat die leser weet van enige alternatiewe opsies wat hy of sy dalk sou kon ondersoek, wens hulle voorspoed toe, of verseker hulle van jou volgehoue ondersteuning. ʼn Goeie voorbeeld van so ʼn brief kan wees:
Beste aansoeker
Dankie dat jy aansoek gedoen het vir die [xxxx]-beurs.
Na heelwat beraadslaging is ons jammer om jou in te lig dat jou aansoek ongelukkig nie suksesvol was nie.
Ons wens jou sterkte toe met jou studies en sukses vir die toekoms.
Vriendelike groete
Wanneer jy skryf, veral in ʼn professionele omgewing, gaan dit nie bloot oor wat jy sê nie, maar oor hoe jy dit sê. Die manier waarop jy met kliënte en kollegas kommunikeer het ʼn groot invloed op die beeld wat jy van jouself en jou maatskappy oordra. Goeie styl en die juiste toon kan ʼn blywende impak op jou leser maak en ’n positiewe, professionele beeld van jou maatskappy uitstraal.
Wil jy meer van hierdie wenke en ander kommunikasievaardighede leer? Registreer vir ons werkswinkel in Mei en leer alles oor e-pos- en ander korrespondensie in jou professionele omgewing.
Op Maandag, 23 November 2015, het die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se isiXhosa-portefeulje sy Afrikaanse, Engelse en isiXhosa-terminologiewebwerf bekendgestel. Hierdie webwerf is nie net vir persone direk verbonde aan die Universiteit Stellenbosch toeganklik nie, maar vir enige persoon met toegang tot die internet.
Die webwerf is volgens temas in verskillende drietalige terminologielyste opgedeel en het ’n soekfunksie wat maklik is om te gebruik. Al die lyste is deur Pumlani Sibula, wat aan die hoof van die Taalsentrum se isiXhosa-portefeulje staan, saamgestel. Insette vir hierdie lyste is van uiteenlopende bronne verkry, insluitende personeellede van akademiese fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch.
Die ontwikkeling van die webwerf getuig van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot die verryking en bevordering van isiXhosa – een van die Wes-Kaap se amptelike inheemse tale – as ’n akademiese taal. Deur die webwerf word daar ook geleenthede geskep om isiXhosa se algemene gebruik uit te brei.
Hierdie terminologiebron help studente, en veral isiXhosa-studente van die Universiteit Stellenbosch, om ’n baie beter begrip van vakterme in hulle studievelde te verkry. Die Taalsentrum hoop ook om hiermee saam vir studente die geleentheid te gee om meer oor hierdie terme te leer – en dit alles in hulle moedertaal.
“Die gebruik van isiXhosa sal help om die selfvertroue in die sprekers van die taal op te bou. Dit help om hulle houding ten opsigte van hulle taal te verander, dit skep ’n selfbewussyn, en bevorder eensgesindheid en inklusiwiteit”, sê Pumlani.
Die terminologiewebwerf is in samewerking met David Joffe en sy span van TshwaneDJe ontwikkel en ontwerp en die terminologiedatabasis tlTerm, wat gebruik is om die terminologiewebwerf te skep, is ook by TshwaneDJe gekoop.
Voor die bekendstelling van die webwerf is die terminologielyste wat nou op die webwerf beskikbaar is, ook aan fakulteite beskikbaar gestel as gedrukte publikasies.
Terminologielyste wat op die webwerf beskikbaar is
Tans is daar ongeveer 6 000 terme beskikbaar op die webwerf. Hierdie terme is opgedeel in terminologielyste wat ’n aantal studieareas, sowel as sportsoorte, dek:
Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Sosiologie
Maatskaplike Werk
Sielkunde
Fakulteit Regsgeleerdheid
Familiereg
Strafreg
Gewoontereg
Inleiding tot die Reg
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Rekeningkunde
Besigheidsbestuur
Ekonomie
Bedryfsielkunde
Inligtingstelsels
Mensebestuur
Openbare Bestuur en Ontwikkelingsbeplanning
Statistiese Metodes
Sportsoorte
Sokker
Rugby
Krieket
Terminologielyste wat in Januarie 2016 bekendgestel gaan word
In Januarie 2016 sal die volgende terminologielyste, vir die Fakulteit Teologie en die Fakulteit Ingenieurswese, op die webwerf beskikbaar gestel word:
Fakulteit Teologie
Missiologie
Praktiese Teologie
Sistematiese Teologie
Ekklesiologie
Fakulteit Ingenieurswese
Toegepaste Wiskunde
Rekenaarprogrammering
Ingenieurschemie
Ingenieursfisika
Terminologielyste wat in 2016 ontwikkel gaan word
Die ontwikkeling van terminologielyste vir die volgende fakulteite word vir 2016 beplan:
Fakulteit AgriWetenskappe,
Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Fakulteit Natuurwetenskappe
Vir meer inligting, skakel ons gerus by 021 808 2167.
Oxford University Press het met die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum en A Blind Spot Productions saamgespan om ’n reeks opvoedkundige (maar ook vermaaklike) video’s te maak om studente te help om werklik uit te blink in hulle studies.
Die eerste video, wat vandag vrygestel is, bied studente ’n nuwe en opwindende kitsles oor die beginsels van Bloom se Taksonomie, ’n leerparadigma wat die manier waarop studente leer aanpak heeltemal kan verander. “Om studente vir sukses toe te rus is en was nog altyd die kern van wat ons doen. Hierdie videoreeks neem alles wat ons reeds doen en vat dit nog verder. Dit is nuut, opwindend en is baie sterk gerig op die realiteit daarvan om ’n student in die informasie-era te wees. Om saam met die US se Taalsentrum en A Blind Spot Productions aan hierdie projek te kan werk is vir almal van ons die perfekte projek. Dit is regtig inspirerend om deel te wees van ’n spanpoging saam met kundiges wat die belangrikheid daarvan verstaan om opvoedkundige inhoud op ’n kreatiewe en innemende manier te kommunikeer,” sê Zelda Rowan, Bemarkingsbestuurder van die Hoër Onderwys Afdeling van Oxford University Press Suid-Afrika.
Drie verdere video’s sal verder uitbou op die stories van die karakters wat ons in die eerste video leer ken. Daar word beplan om die Assignment writing-video oor die skryf van werkstukke binne die volgende twee maande bekend te stel, met Referencing (verwysings) kort daarna en die Note-taking-video oor die neem van notas vroeg volgende jaar.
Klik gerus op hierdie skakel om die Bloom’s Taxonomy-video te kyk:
Met die Taalsentrum se tiende verjaarsdag dink mens natuurlik terug oor al die “bouwerk” wat gedoen is deur ’n span werklik entoesiastiese personeellede en kan ons met dankbaarheid sê dat ons as taalbeplanningsinstansie iets wesenlik tot stand gebring het. Na ’n klein begin in 2002 kan ons in 2012 spog met impaksyfers soos die volgende: meer as 2 200 studente in kredietdraende taalmodules in verskillende fakulteite, 3 800 studente wat per jaar konsultasies ontvang, meer as 1 200 nagraadse studente wat in 60 werkswinkels per jaar geholpe raak, honderde korporatiewe en openbare kliënte wat opleiding in werkswinkels en ander dienste ontvang, ’n groot verskeidenheid kliënte wat gebruik maak van ons taaldienste, drietalige terminologieë in ’n verskeidenheid vakgebiede, en nog vele meer.
Hierdie jaar gaan die fokus egter minder op die vieringe wees en meer op al ons nuwe inisiatiewe. Vroeër die jaar is ’n Afrikaanse leesprogram Dinklees met ‘n Plan van stapel gestuur; ons het reeds begin met ’n lesingreeks oor taalbeplanning en -ondersteuning met prof Vic Webb as ons eerste spreker; ons beplan ’n leeslaboratorium; ons hou ’n simposium oor die bevordering van Afrikatale; ons beplan ook ’n gemeenskapsprojek en ons het reeds ’n suksesvolle skryfmaraton agter die rug – en dit is maar net ’n paar van ons aktiwiteite vir die jaar.
Baie dankie aan al ons medewerkers en kliënte vir die ongelooflike samewerking wat ons geniet het. Sonder al hierdie insette en wonderlike verhoudings sou die Taalsentrum niks kon vermag nie.
Die Burger gesels met prof De Stadler, direkteur van die Taalsentrum, oor Taal, Bob Dylan & ’n Harley. Om die volle berig op Die Burger se webwerf te lees, klik hier.
We use information collected from cookies and other technologies to improve your user experience and the overall quality of our website. We use anonymous cookies to collect data about how you use our website, so that we can improve and optimise your website experience. For more details, click here.
By clicking 'Accept', you consent to the use of ALL the cookies.
This website uses cookies to improve your experience while you navigate through the website. Out of these, the cookies that are categorized as necessary are stored on your browser as they are essential for the working of basic functionalities of the website. We also use third-party cookies that help us analyze and understand how you use this website. These cookies will be stored in your browser only with your consent. You also have the option to opt-out of these cookies. But opting out of some of these cookies may affect your browsing experience.
Necessary cookies are absolutely essential for the website to function properly. This category only includes cookies that ensures basic functionalities and security features of the website. These cookies do not store any personal information.
Any cookies that may not be particularly necessary for the website to function and is used specifically to collect user personal data via analytics, ads, other embedded contents are termed as non-necessary cookies. It is mandatory to procure user consent prior to running these cookies on your website.