Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482

Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495

Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508

Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521

Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469
Nuutste nuus – Page 7 – Stellenbosch University Language Centre

Category: Nuutste nuus

Kommunikasielab help ontgin potensiaal om voor mense te praat

Openbare redevoering is definitief ʼn vaardigheid wat ʼn mens kan bemeester! Op 8 Augustus het die Taalsentrum se Kommunikasielab en die Stellenbosch Toastmasters-klub hul kragte saamgesnoer om ʼn Toastmasters-demonstrasievergadering en -inligtingsessie in die Taalsentrum se seminaarlokaal te hou. Só kon enigeen eerstehands ervaar hoe die Toastmasters dinge doen: Voorbereide toesprake, evaluerings en onvoorbereide toesprake is in die gestruktureerede formaat van ʼn Toastmasters-byeenkoms aangebied.

Toastmasters Internasionaal is ʼn opvoedkundige organisasie sonder winsbejag wat mense vaardighede vir openbare redevoering en leierskap deur ʼn wêreldwye netwerk van klubs leer. Toastmasters gaan oor selfontwikkeling in ‘n veilige en positiewe omgewing teen jou eie pas. Die Klub se president, Zimbili Sibiya, verduidelik: “Ons ʼn warm en verwelkomende klomp en besoekers is welkom om net waar te neem – ons gaan jou nie skielik iets laat doen nie!” Daar was meer as 30 nuwe gesigte by die vergadering. E-pos die Stellenbosch Toastmasters-klub gerus vir meer inligting as jy die volgende Toastmasters-byeenkoms dalk wil bywoon.

Die Taalsentrum se Kommunikasielab is altyd op die uitkyk vir vennote – soos Toastmasters – om die keurige korporatiewekommunikasie-aanbod wat beskikbaar is, verder aan te vul. Kommunikasielab-kursusse is prakties en interaktief, en kan aangepas word om in spesifieke behoeftes te voorsien. Aanlynsessies vul voldagkontaksessies aan, wat ʼn ideale voorsprong en gerieflike opsie aan besige sakelui en kantooradministrateurs bied. ʼn Sertifikaat van Bevoegdheid word uitgereik wanneer ʼn kursus suksesvol voltooi is.

Die Kommunikasielab streef ook daarna om langtermynverhoudings met deelnemers te bou. “Uit die hoeveelheid deelnemers wat terugkom vir nog van ons kursusse, kan ons sien dat hierdie benadering werk. Ons het, om ʼn paar te noem, al mense van Mediclinic, ICLEI, NKC, die Rupert-stigting, Alphawave, die USB en Graham Beck Wyne gehad wat kursusse hierdie jaar bywoon,” vertel Michelle Pieters, die koördineerder van die Kommunikasielab.

“Dit is altyd ʼn inspirasie om te sien hoe iemand ontwikkel en die volgende stap neem om hul volle potensiaal te bereik. Een van ons onlangse sterre is Sello Sekele, ʼn jong en entoesiastiese ekonoom-in-opleiding van die Buro vir Ekonomiese Navorsing in Stellenbosch.” Sello het in Augustus die Kommunikasielab se kursus Skep aanbiedings met selfvertroue bygewoon, wat Eduard de Kock, ʼn radiopersoonlikheid, ervare seremoniemeester en tolk, aangebied het. “Hierdie praktiese en interaktiewe kursus het Sello gehelp om soveel selfvertroue en vaardighede om voor ʼn gehoor te praat op te doen dat hy sy kollegas se voete onder hulle uitgeslaan het ná die kursus – een van hulle het my geskakel om my daarvan te vertel!” sê Michelle. Welgedaan, Sello!

As jy jou professionele kommunikasievaardighede wil opskerp, e-pos vir Michelle om uit te vind hoe ons jou kan help.

Allerlei ruimtes vir akademiese skryfwerk by die Taalsentrum

In Junie vanjaar kon 15 personeellede van die Taalsentrum wat tans besig is om hul navorsing neer te pen, hul intrek neem by Mont Fleur, ʼn bergoord aan die buitewyke van Stellenbosch, om vir drie dae aaneen te skryf, eet, slaap en verder te skryf. Die Taalsentrum-skryfwegbreek het die ideale ruimte geskep om doelwitte te stel en te toets, na te dink, idees uit te ruil en gefokusde navorsingskryfwerk gedoen te kry. Die deelnemers is beskut teen alledaagse lastighede en onderbrekings, wat beteken het dat hul produktiwiteit veel hoër as gewoonlik was.

Skryfwegbrekers was besig om te werk aan hul konsepartikels, meesters- of PhD-navorsing of ander werkverwante navorsingskryfwerk. Geborge en vol inspirasie kon hulle met onverdeelde aandag werk en hul idees ontwikkel, en meer in drie dae skryf as wat hul gewoonlik in weke sou regkry.

Vir Remona Voges, tans besig met haar doktorsgraad in die Afrikaanse letterkunde, was dit “ʼn ongelooflike ervaring in ʼn skilderagtige omgewing waar ek kon werk, geborge in stilte en kollegiale interaksie”.

“Ek kon heeltemal afskakel van my werk en persoonlike verpligtinge en doelgerig op my navorsing fokus. Dit is gewoonlik net nie moontlik nie. Die skryfwegbreek was vir my ʼn toevlug van stilte, vreedsaamheid, kreatiwiteit en ondersteuning om dubbel soveel te kon skryf as wat ek normaalweg sou skryf,” sê Helga Sykstus van haar ervaring. Helga is besig met navorsing oor die outonome aanleer van taal.

Hoewel die skryfwegbreek net op Taalsentrumpersoneel gerig was, bied die Sentrum se Skryflab verskeie skryfverwante dienste en geleenthede aan voorgraadse en nagraadse studente asook Universiteitspersoneel. Daar is ʼn keuse van persoonlike skryfkonsultasies, skryfwerksessies, skryfmarathons, en die moontlikheid om by ʼn skryfgroep aan te sluit of om een te begin. E-pos Anne-Mari Lackay vir nadere besonderhede oor konsultasies, en as jy met iemand wil praat oor jou akademiese skryfwerk, maak ʼn afspraak vir ʼn gratis konsultasie deur Kenako op jou MySun-portaal. Kontak Selene Delport vir werksessies en Rose Richards vir skryfgroepe.

‘n Taalspeletjie vir wagwoorde

Ons ken almal daardie gevoel: die beklemming elke keer wanneer jy gevra word om ʼn nuwe wagwoord te skep. Dit kan wees omdat jy nóg ʼn nuwe digitale persona moes skep en dit aan een of ander wolk moes toevertrou. Maar dit is waarskynliker dat hierdie beklemming sy oorsprong het in die wete dat die wagwoord waaraan jy eerste dink nie lank genoeg is nie, nie die verwagte spesiale karakters of genoeg syfers bevat nie, nie met ʼn haikoe begin nie en nie met ʼn bendeteken eindig nie.

Hoe gaan jy te werk om ʼn wagwoord te skep wat verwikkeld genoeg is om aan al die vereistes te voldoen – insluitende die minimumlengte van 12 karakters – MAAR tog maklik genoeg is om te onthou? Antwoord: Maak dit ʼn taalspeletjie.

Dink aan iets wat deel is van jou daaglikse roetine en wat verbonde is aan ʼn spesifieke tyd, byvoorbeeld ‘as ek om 17:00 by my werk wegtrek, sal ek om 17:35 tuis wees’. Kort hierdie sin nou af: ‘Aeo17:00bmwwseo17:35tw’. Daar het jy dit! Dit is ʼn 22-karakterwagwoord wat maklik is om te onthou én twee spesiale karakters, een hoofletter en agt syfers bevat. As jy ʼn sin wat tyd insluit gebruik, is dit maklik om syfers en daardie ontwykende spesiale karakters in te sluit. ʼn Ander opsie is om dieselfde beginsel op ʼn persoonlike storie toe te pas: ‘MebaKwo23-Apr’98’ kan staan vir ‘My eerste besoek aan Kaapstad was op 23 April ’98’.

Dis belangrik om jou sinne eenvoudig te hou. Raak maar ontslae van die byvoeglike naamwoorde omdat dit later moeilik kan raak om dit reg te onthou: was dit nou ‘wonderlike aand’ of ‘fantastiese aand’? Dit is veral belangrik as jy gedwing word om jou wagwoord gereeld te verander. As dit die geval is, kan jy altyd jou taalspeletjie kombineer met ʼn bietjie wiskunde.

Wanneer jy jou wagwoord verander, sal die meeste stelsels jou toelaat om effens te kul deur net gedeeltes van jou ou wagwoord te verander. As dit byvoorbeeld altyd 35 minute neem om huis toe te ry, hoekom vertrek jy nie liewers om 16:30 by jou werk nie? ‘Aeo16:30bmwwseo17:05tw’. Jy kan natuurlik altyd ʼn onskuldige nota op jou lessenaar los of in jou dagboek aanteken: ’Vertrek – 16:30’ om jou te herinner aan die nuwe tyd wat jy in jou nuwe wagwoord gebruik het…

NOTA: Hierdie artikel is gebaseer op ʼn verwerking van die Schneier-skema wat sekuriteitkenner Bruce Schneier in 2008 ontwikkel het.

 

A linguistic game for creating passwords

Nuwe ruimte vir groot deel van Taalsentrum

Die US Taalsentrum se Direkteurskantoor, Leeslab, Skryflab, Kommunikasielab, Taalleerhub en Taaldiens het 2018 in Stellenbosch afgeskop onder ʼn nuwe dak.

Die Universiteit se Regshulpkliniek wou om logistieke redes graag nader aan die Fakulteit Regsgeleerdheid in die Ou Hoofgebou wees, en het die Taalsentrum genader om geboue te ruil – die Kleine Bosch-gebou in Banhoekweg, wat as Regshulpkliniek gedien het, vir die Taalsentrum se kantore in Crozierstraat, oorkant die Ou Hoofgebou. Die omruiling het natuurlik vir sy eie logistieke uitdagings gesorg, maar almal is darem nou in hul nuwe ruimtes ingeburger: Die Taalsentrum in Banhoekweg 44, oorkant die Fakulteit Ingenieurswese en langs die Afrika-sentrum vir MIV/Vigsbestuur, en die Regshulpkliniek in Crozierstraat 18 tot 24.

Met dié dat meer dele van die Taalsentrum onder Kleine Bosch se lang dak is, is daar groter geleentheid vir idees uitruil. Die Leeslab baat by meer kantoorruimte vir die goeie werk wat hulle doen en die gesellig dog produktiewe dreuning uit die Skryflab se kommunale area waar skryfkonsultasies plaasvind, sal enige skryfwerk momentum gee. Die Skryflab en Kommunikasielab span al klaar Kleine Bosch se moderne seminaarkamer met groot vrug in vir kortkursusse en werksessies. Verder het die Taalleerhub nou ʼn eie ruimte waarvoor hulle groot dinge beplan – onder andere om studente te help om basiese Afrikaans en Xhosa op hul eie aan te leer. Die Taaldiens het hul gebou in Skuilhoek met dakkantoor, buitetrap, akkerboom en eekhoring verruil om bymekaar op een vlak in die westelike vleuel van die gebou te werk.

Die Kleine Bosch-gebou is aanvanklik as metodiste-eeufeesskool gebou, met ʼn hoeksteen wat in 1937 gelê is. In die 1980’s dien dit as die Kleine Bosch-kleuterskool, later as Regshulpkliniek, en nou as die Taalsentrum se nuutgevonde vesting.

Die Taalsentrum se nuwe adres: Banhoekweg 44

Die Taalsentrum se nuwe adres: Banhoekweg 44

Black Panther skrik nie vir klapklanke nie

Daar’s goeie nuus en slegte nuus. Die slegte nuus is dat jy nie na Wakanda kan gaan vir ʼn vakansie nie. Die goeie nuus is dat jy wel met behulp van die Taalsentrum Wakanda se taal kan leer.

As jy nie ʼn aanhanger van superheldflieks is nie, is ʼn verduideliking dalk nodig. Wakanda is die fiktiewe tuiste van die Marvel-held Black Panther, die sentrale karakter in die film met dieselfde naam wat onlangs vrygestel is. Danksy geweldige afsettings van die fiktiewe metaal vibranium het Wakanda die gevorderste tegnologie op aarde.

En watter taal praat hulle in hierdie land van ruimtetuie en sweeffietse?

Xhosa.

Hoewel die Wakandaniete Engels praat wanneer hulle daarna voel (om die karakter Okoye te parafraseer), word die gebruik van Xhosa só in tonele verweef dat daar by die gehoor geen twyfel bestaan dat Xhosa die taal is wat die Wakandaniete gebruik nie – of hulle nou strategeer of met geliefdes praat.

Dis ongewoon vir wetenskapfiksie- en fantasie-kykstof om ʼn bestaande taal te gebruik; daar word dikwels eerder pasgemaakte tale ontwerp (dink aan Klingon in Star Trek, Na’vi in Avatar en Dothraki in die reeks Game of Thrones).

Die gebruik van Xhosa in die Marvel-heelal is weens die tussentrede van John Kani, wat koning T’Chaka in Captain America: Civil War en Black Panther speel, en so ʼn klein skeutjie geluk. Die welbekende Suid-Afrikaanse akteur het geredeneer – oortuigend, soos dit later sou blyk – dat sy karakter nie Engels sou praat met sy silwerdoekseun, T’Challa (gespeel deur Chadwick Boseman), nie. Kani het in Xhosa geïmproviseer en Boseman, wat vantevore in Suid-Afrika met ʼn Suid-Afrikaanse filmspan gewerk het, het in Xhosa gereageer. Die toneel was heeltemal oortuigend. En so kom dit toe dat ʼn taal wat deur meer as 8 miljoen Suid-Afrikaners gepraat word, die taal van Wakanda word.

Phambili ngesiXhosa, phambili!*

*’Phambili’ beteken ‘voorwaarts’

Black Panther clicks away
Marvel superhero, Black Panther

Tolke gee 110% by 100% Stellenbosch se Woordfeesproduksie

Sê nou net statistiek het gesigte gehad?

Dit was die kernvraag agter die 100%-projek wat ʼn dekade gelede in Duitsland in die lewe geroep is. Die projek plaas die kollig op honderd mense afkomstig van ʼn spesifieke gebied. Hierdie groep mense moet dan vrae beantwoord om deel te neem aan ʼn informele sensus – en alles gebeur op die verhoog. Om ʼn werkwinkelproses met ʼn honderd individue te bestuur is alreeds ʼn uitdaging, maar toe die 100% Stellenbosch-projek die dorp in Februarie tref as Woordfeesproduksie (in die Universiteit se Eeufeesjaar), het ʼn verdere uitdaging sy kop uitgesteek:  Die honderdtal mense, synde verteenwoordigers van die demografie van die gebied, het verskillende moedertale gehad. Dit was tyd om op die Taalsentrum se knoppie te druk.

100% Stellenbosch se rolverdeling het bestaan uit sprekers van Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse gebaretaal, en ʼn ieder en elk wou natuurlik gehoor en verstaan word. Die Taalsentrum se tolke het kommunikasie bemiddel deur alles wat gesê word in al drie die ander tale te tolk. Die tolke was dus ʼn integrale deel van die werkwinkels, en het seker gemaak dat almal die stories wat die akteurs vertel, verstaan. Tolking was ook vir die gehoor beskikbaar tydens die vertonings.

Dít wyk heeltemal af van die daaglikse bedrywighede van die Taalsentrum se tolkspan. Hulle tolk gewoonlik lesings in ʼn akademiese omgewing, terwyl hulle vir die 100% Stellenbosch-produksie die vrae wat op ʼn verhoogskerm verskyn het, vir die akteurs moes tolk, en dan weer die gehoor se vrae vir die akteurs moes tolk. Gedagtig daaraan dat die vertonings feitlik twee ure lank was, is daar baie hard gewerk.

Ons tolke is dit egter eens dat hulle hulself gate uit geniet het. Pluimpies kom almal toe – insluitende die organiseerders en die deelnemers – saam-saam het hulle ʼn 100% onvergeetlike produksie geskep!

Interpreters give 110% at 100% Stellenbosch Woordfees production
Language Centre interpreters doing their part at the Woordfees

Festschrift aan afgetrede direkteur van Taalsentrum oorhandig

Op Donderdagaand, 8 Februarie 2018, het die Taalsentrum ʼn harde kopie van die Festschrift waarmee hy vir sy professionele bydrae tot sy vakgebied vereer word, aan prof Leon de Stadler oorhandig. Die voorblad van die Festschrift is ʼn jaar vantevore al met sy afskeidsfunksie oorhandig, maar die inhoud daarvan het tot dusver vir hom ʼn verrassing gebly. Die US se Botaniese Tuin het gasheer gespeel vir ʼn intieme funksie waar hy saam met sy gesin, die outeurs wat bydraes vir die Festschrift gelewer het en ʼn paar ander spesiale gaste kon bestek neem van nog ʼn dimensie van sy lewe en die waardering wat mense in die vakgebied daarvoor het.

Die Festschrift se inleiding neem ʼn mens ver terug: “In 1972 begin Leon de Stadler se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch toe hy as eerstejaarstudent op die kampus aanmeld. Dié verbintenis sou vir meer as vier dekades ononderbroke voortduur – tot en met sy uittrede in Januarie 2017. As student, maar nog meer as dosent en veral as Direkteur van die Taalsentrum het Leon ’n wesenlike bydrae gelewer en ’n onuitwisbare nalatenskap daargestel. Hy het hom onderskei as dosent, navorser, akademiese bestuurder en gewaardeerde kollega. ’n Huldiging deur middel van ’n tydskrif kan nie werklik reg laat geskied aan sy bydrae of aan die rol wat hy gespeel het nie – die studente wat hy opgelei het, die kollegas wat hy geïnspireer het, die navorsing wat hy gepubliseer het en die werk wat hy gedoen het en wat nog voortleef en floreer, is die eintlike huldiging.

Tog wil kollegas in Suid-Afrika en elders met hierdie Festschrift-uitgawe erkenning gee aan dit wat Leon gedoen het en aan die ingrypende invloed wat hy op sy vakgebied, op sy studente, op sy kollegas en medewerkers, op sy departement, op die Taalsentrum en op die Universiteit gehad het. Dié invloed kan min mense hom nadoen.”

Die Festschrift word as volume 53 (2017) van die geakkrediteerde akademiese tydskrif Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus) uitgegee.

Festschrift presented to retired director of Language Centre
Dr Antoinette van der Merwe presenting the Festschrift to Prof Leon de Stadler

Agter die skerms: Hoe het hierdie Festschrift gebeur?

Hulle het gedink hulle weet waarvoor hulle hulself inlaat met die besluit om ʼn Festschrift te publiseer. Gasredakteurs dr Antoinette van der Merwe, Alta van Rensburg, dr Rose Richards, Sharifa Daniels, prof Rufus Gouws en die ondersteuningspan wat hierdie volume saamgestel het, erken nou dat dit selfs harder werk was as waarop hulle aanvanklik voorbereid was. Dit voeg egter net nóg waarde toe tot die besondere eindproduk!

In September 2016 het Alta van Rensburg, Adjunkdirekteur van die Taalsentrum, die voorstel gemaak om prof De Stadler se bydrae tot sy vakgebied teen sy aftrede met ʼn publikasie te huldig. Die wiele het begin draai, en op 3 November 2016 is ʼn veeltalige uitnodiging om ʼn bydrae tot die Festschrift te lewer in Afrikaans, Engels, Xhosa en Nederlands uitgestuur. Kollegas en studente van dwarsoor die wêreld wat oor die jare met prof De Stadler saamgewerk het, is uitgenooi om by te dra tot die huldiging, wat as ʼn uitgawe van die geakkrediteerde aanlyn vaktydskrif Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus) gepubliseer sou word. ʼn Beperkte aantal harde kopieë sou ook gedruk word.

Sperdatums om aan te meld om ʼn bydrae te lewer en dan ʼn opsomming voor te lê het gevolg, waarna voornemende bydraers in kennis gestel is of hul opsommings aanvaar is. Volle artikels en navorsingsnotas moes ses maande later, op 1 Mei 2017, gelewer word. Die besturende redakteur van SPiL Plus, dr Kate Huddlestone van die US se Departement Algemene Taalwetenskap, het die ewekniebeoordeling van die artikels hanteer. Vir elke artikel moes twee keurders genader word, waarvan minstens een nie aan die US verbonde kon wees nie. Keurders het onder andere die volgende keuringskriteria gebruik: wie die waarskynlikste lesers sal wees en die lesers se belang by hierdie onderwerp; die waarskynlikheid dat die artikel gelees en aangehaal sou word deur ander; die (oorspronklike) bydrae wat die manuskrip tot bestaande kennis oor die onderwerp sou lewer; of die verwysingstelsel en verwysingslys volledig, voldoende en gepas is; of die artikel helder en duidelik geskryf is en op ʼn logiese manier aangebied is; en of die manuskrip geskik is om spesifiek in SPiL Plus te verskyn, eerder as in ʼn ander vaktydskrif. Hierna kon suksesvolle outeurs die keurdervoorstelle in hul teks inkorporeer, waar nodig, en die artikels weer voorlê, en teen Oktober 2017 was die manuskripte gereed om taalversorg te word.

Die Taalsentrum se Taaldiens het die taalversorging behartig, met minstens twee taalpraktisyns wat met elke teks in verskillende stadia omgegaan het. Nadat die taalpraktisyns, gasredakteurs en outeurs tevrede was – wat natuurlik ʼn mate van bloedsweet gekos het – is die uitleg ook deur die Taaldiens gedoen. Outeurs het hul galeiproewe laat in November ontvang om af te teken, en die Festschrift, ʼn hele 226 bladsye lank, is op 14 Desember 2017 as Volume 53 (2017) van SPiL Plus gepubliseer. Kom deel in die huldiging en lees dié besondere publikasie by hierdie adres: http://spilplus.journals.ac.za/pub/issue/view/90

The making of a Festschrift: Behind the scenes
Prof De Stadler with the guest editors of the Festschrift and the support team

Hoekom ʼn professionele vertaler inspan?

Jy het ʼn finale, afgeronde teks wat jy met jou lesers wil deel – en dit moet beskikbaar wees in meer as een taal. Jy sou jou tweetalige kollega kon vra om dit te vertaal (en jou asem ophou), of jy kan ʼn professionele vertaler vra om die werk te doen.

Hoekom moet jy liewer ʼn professionele vertaler inspan?

  • ʼn Professionele vertaler is iemand wat opgelei is in die kuns van betekenisoordag van een taal na ʼn ander. Dit beteken dat hy of sy weet hoe om aspekte soos styl, register, terminologie en moontlike dubbelsinnigheid in ʼn teks te hanteer. Sy of haar opleiding en ervaring sal tot ingeligte vertaalbesluite lei, wat sal verseker dat die vertaalde teks dieselfde boodskap as die oorspronklike teks oordra.
  • ʼn Professionele vertaler is ook ʼn taalkenner. Jy kan dus ʼn vertaling wat soos ʼn oorspronklike teks lees en sonder taalfoute is, verwag. ʼn Professionele vertaler sal ook daarop let om nie enigiets by te voeg of weg te laat tydens die vertaalproses nie.
  • Professionele vertalers is gewoonlik lede van professionele organisasies, soos SAVI (die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut). Aktiewe lidmaatskap bring lede in aanraking met ander professionele vertalers, wat hulle aan die beste praktyke in die bedryf blootstel en hulle toegang tot inligting gee oor terminologie, taalkonvensies en hulpbronne. Lidmaatskap beteken ook dat hulle hulself tot ʼn professionele gedragskode wat ʼn sekere werksetiek en gehaltestandaard daarstel, verbind.
  • ʼn Professionele vertaler help jou goed lyk. Benewens die bedoelde boodskap wat oorgedra word, wys ʼn goed vertaalde teks jou lesers dat jy hulle respekteer, en dat jy professioneel en geloofwaardig is.

Wat sal dit dus wees? ʼn Tweetalige kollega wat die vertaalpad kan byster raak en jou lesers só saam laat afdwaal, of ʼn opgeleide, professionele vertaler wat jou boodskap helder oordra?

ʼn Kykie in die Taalsentrum se navorsingskaleidoskoop

Navorsing en die publikasie van bevindings is noodsaaklik vir ʼn akademiese instelling om sy reputasie en geloofwaardigheid uit te bou. Navorsing by die Taalsentrum laat ons ook toe om te peins oor wat ons doen, hoekom ons doen wat ons doen, en of ons werkswyse nog die beste manier is om dit te doen.

By die Taalsentrum hou tien personeellede hulself tans benewens hul dagtaak ook met navorsing in die vorm van nagraadse studie besig. Daar is sewe meestersgraadstudies aan die gang met onderwerpe wat strek van die ontwikkel van ʼn beheerskema vir werkseise vir opvoedkundige tolke; ʼn ondersoek na die gehalte van vertaalde Afrikaanse banktekste; metadiskoersmerkers in geskrewe tekste van veeltalige studente; leesspoedontwikkeling; tot taalgeïntegreerde leer; kurrikulumontwerp vir kliniese kommunikasie in Xhosa; en die gebruik van klikkertegnologie in ʼn Xhosa-kommunikasiekursus. Die drie doktorsgraadkandidate ondersoek onderskeidelik revisie as ʼn aspek van kwaliteitbestuur in ʼn akademiese vertaalkantoor; die produksienetwerk van ʼn getolkde universiteitslesing; en die ontwikkeling van tweedetaalskryfvaardighede in Afrikaans op universiteitsvlak.

Ook is drie personeellede in die afgelope jaar beloon vir voltooide navorsing. Madelé du Plessis het ʼn MPhil in Opvoedkunde behaal vir haar werk oor die evaluering van ʼn kliniese kommunikasiekursus in Xhosa aan ʼn gesondheidswetenskappe-fakulteit. Vernita Beukes het ʼn PhD behaal vir haar taakgebaseerde, rekenaargesteunde leer-en-onderrigprogram vir sosiale Afrikaans gemik op nie-Afrikaanssprekende internasionale studente. ʼn PhD is ook aan Kabelo Sebolai toegeken vir sy navorsingsbydrae oor die inkrementele geldigheid van drie akademiesegeletterdheidstoetse by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit vir tegnologie.

Navorsing verbreed horisonne sodat ons take op nuwe maniere kan aanpak en dit skep geleenthede om ons navorsingsinsigte met die buitewêreld te deel. Benewens die taalondersteuningswerk wat die Taalsentrum elke dag doen, word daar dus ook kennis op verskeie gebiede ontwikkel. E-pos gerus vir dr Rose Richards om in aanraking te kom met ʼn kenner op ʼn gebied waaroor ons hier berig het.