Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482

Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495

Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508

Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521

Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469
Nuutste nuus – Page 6 – Stellenbosch University Language Centre

Category: Nuutste nuus

Vang hulle uit met taal

Dis dringend! Dis van ’n welbekende instelling! Doen dit nou!

Dis heel waarskynlik ’n slenter…

As jy vir ’n groot maatskappy werk, het jy tien teen een e-posse van die IT-departement ontvang wat jou teen uitvissing‑aanvalle waarsku. Die rede vir sulke waarskuwings kan wees omdat iemand ’n skakel in ’n e-pos oopgemaak het wat probeer om gebruikersname, wagwoorde of bankbesonderhede te steel en die boosdoener het heel waarskynlik hierdie persoon se rekening gebruik om selfs meer uitvissing‑e-posse te versprei.

Verizon, ’n telekommunikasiemaatskappy in die VSA, het bevind dit neem meer as ’n halfuur (gemiddeld) vir ’n werknemer om ’n suspisieuse e-pos aan te meld. Om dié rede kon minstens een persoon binne ’n skrale dertig minute statisties reeds aan die aas gebyt het. En as jy eers aan die hoek is, sal jy inkatrol word en die gevolge daarvan dra.

Die goeie nuus is dat die sleutel om ’n kuberstrikroof-aanval te vermy dalk in taal lê.

Tydens die 12de Internasionale Konferensie oor Semantiese Rekenaarverwerking wat in 2018 deur die Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE) aangebied is, het navorsers verduidelik hoe hulle deur die ontleding van die taalgebruik in uitvissing‑e-posse uitvissingpogings akkurater as kubersekuriteitsmaatskappy Netcraft se toonaangewende teenuitvissingsprogram kon identifiseer. Een van die vernaamste leidrade wat die navorsers geïdentifiseer het, was dat uitvissing‑e-posse amper altyd dringend geklink het, en opmerkings soos “Verander onmiddellik” of “Stuur binne die volgende 24 uur” bevat het. Nog ’n rooi vlag is die manier waarop die ontvanger aangespreek word – die generiese of onpersoonlike “Dear Client” of “Geagte/Beste kliënt” moet die gevaarklokkies laat lui! Iets anders wat jy jouself moet afvra, is: Is daar enige spelfoute? Spel‑ en tipografiese foute verklap dikwels dat die oorsprong van die e‑­pos verdag is.

As linguistiek nie jou forte is nie, doen die volgende:

  • Bevestig dat die e-pos‑ en webwerfadres in die e-pos bo verdenking is.
  • Moenie op enige skakel in ’n e‑pos klik nie – tensy jy weet dat die afsender en skakel betroubaar is.
  • Moenie op versoeke vir persoonlike of sensitiewe inligting reageer nie. Die eeue oue beginsel geld steeds – as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.
  • Hou jou wagwoorde ten alle tye geheim, selfs al dink jy jy kan die bron wat jou wagwoorde vra, vertrou.

Ongelukkig is dit ’n kuberoerwoud daar buite. Wees ten alle tye waaksaam!

 

Catch them out with language

Tweede tuiste vir Nederlandse prof

Hy was nog altyd gefassineer deur Suid-Afrika, sê prof Carel Jansen, Taalsentrum-navorsingsgenoot, wat in Maart weer op besoek hier uit Nederland was. Daarom dat hy die geleentheid aangegryp het om Suid-Afrika te besoek toe die Nederlandse Taalunie wisselwerking tussen Nederlandse en Suid-Afrikaanse universiteite wou begin bevorder in die middel 90’s. Hy het Stellenbosch, Pretoria en Johannesburg in 1996 vir die eerste keer besoek en sedertdien al amper 40 keer teruggekom. Die mense, die tale, die diere, die landskap en die kontraste – dit bly vir hom elke keer ʼn wonderlike ervaring. ʼn Gunsteling woord in Afrikaans? “Klopdisselboom”, sê hy.

In Nederland is Carel tans emeritusprofessor aan die Universiteit van Groningen in Kommunikasie en Inligtingstudies ná ʼn lang en suksesvolle loopbaan in die akademie. Hy het hom aanvanklik as taalkundige bekwaam en hom later toegespits op dokumentontwerp, leesbaarheid en gesondheidskommunikasie – onderwerpe wat hom steeds baie na aan die hart lê.

Sy verbintenis met die Taalsentrum dateer uit die laat 90’s en het gelei tot wedersydse gasdosentskappe vir hom en prof Leon de Stadler (Direkteur van die Taalsentrum op daardie tydstip) by hul onderskeie universiteite – in Carel se geval eers die Universiteit van Utrecht, toe die Universiteit van Nijmegen en nou Groningen. Hy was vroeër emeritusprofessor aan die US en is tans ʼn navorsingsgenoot aan die Taalsentrum, waar hy ʼn navorsingsprojek oor die ontwikkeling van ʼn nuwe leesbaarheidsformule vir Afrikaans lei. Hy en verskeie medewerkers – Taalsentrumpersoneellede en ander kundiges, ook van sy nagraadse Nederlandse studente – werk saam hieraan. Die projek nader nou die einde van die tweede data-insamelingsfase. Enigiemand in die Stellenbosch-area wat nog as respondent wil deelneem, word hartlik uitgenooi om met Susan Lotz te skakel.

Carel is ook een van die redakteurs van ʼn nuwe handboek oor professionele kommunikasie wat pas verskyn het, Communicate as a Professional, uitgegee deur Amsterdam University Press. Die boek is gebaseer op die Nederlandse handboek Leren Communiceren, waarvan hy ook ʼn mede-outeurs is, maar Communicate as a Professional is vir ʼn internasionale gehoor bygewerk. Lees gerus hier meer daaroor. Carel beplan om ʼn kortkursus oor professionele kommunikasie gebaseer op die boek saam met ons Kommunikasielab aan te bied wanneer hy Suid-Afrika weer in Oktober besoek. Verlede jaar het hy ʼn baie gewilde kortkursus oor vormontwerp hier aangebied, wat ook weer in Oktober sal plaasvind. E-pos gerus vir Michelle Pieters vir meer inligting oor die kursusse.

 

 

Second home for Dutch prof

’n Uitsonderlike gebaar

MI(SA), uitgevoer by die 2019 Woordfees, is ʼn ambisieuse teaterstuk. Dit is ʼn musikale triptiek bestaande uit drie misse: die Missa Luba (’n Latynse mis in die tradisionele liedvorms van die Demokratiese Republiek van die Congo), die Misa Criolla (een van die eerste nie-Latynse misse) en die MI(SA) self, ʼn nuwe Suid-Afrikaanse mis deur die digter Antjie Krog en getoonset deur Antoni Schonken. Die produksie betrek verskeie lede van die Kaapse Opera, ses dansers, twee koreograwe en een Amanda Strydom.

Maar dít is nie wat die produksie spesiaal of belangrik maak nie. Eweneens is die gebruik van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) en die insluiting van twee SASL-tolke op die verhoog in die wetenskaplike mis vir die universum belangrik, maar nie bepalend nie.

Wat hierdie produksie uniek maak, is dat dit die eerste keer is wat SASL en SASL-tolke betrokke was in die medeskepping van ʼn teaterstuk van die eerste repetisiedag af. (Om dit te kontekstualiseer: SASL as huistaal is vir die heel eerste keer in 2018 in die matriekeksamen ingesluit.) “Die funksionele gebruik van SASL en die manier waarop dit reg van die begin af in die produksie geïntegreer is, is beslis ʼn eerste vir die Kaap,” sê Marsanne Neethling.

Marsanne is ʼn tolk by die Taalsentrum wat op ʼn verskeidenheid gebiede uitgebreide ervaring in tolking vir die Dowe gemeenskap het – insluitende klaskamers en teaters. Volgens haar beteken ʼn gebrek aan blootstelling aan hierdie tipe kreatiewe geleenthede dat baie Dowe mense nie trots is op óf hul kultuur, óf SASL nie. Sy bevestig dat haar deelname aan MI(SA) ’n “bewusmakingskomponent” het.

Met dié dat die verhooggeselskap SASL geleer en gebruik het terwyl hulle gesing het, en omdat meer poëtiese gebare en meer poëtiese gebaarstyle gebruik is, is drie dinge aan die gebeur. Eerstens word hoofstroom- kulturele ruimtes vir die Dowe gemeenskap toeganklik gemaak. Tweedens word SASL verryk op presies dieselfde manier wat enige taal deur die digkuns verruim word. Derdens word hoofstroomgehore skielik aan SASL blootgestel in ʼn opset wat vir hoogkulturele doeleindes gemerk is, wat bewustheid van SASL en die Dowe gemeenskap verbeter.

Het jy MI(SA) by die Woordfees misgeloop? As jy in hierdie ervaring wil deel, is daar op 28 April tydens die in Kaapstad weer ʼn vertoning.

By die onlangse Woordfees was Taalsentrumtolke by 11 gesprekke oor aktuele sake aan diens. As jy wil verseker dat alle stemme in ʼn vergadering, gesprek of stel verrigtinge wat jy aan die reël is, gehoor word, kan jy Nanette van den Berg kontak om opgeleide, ervare professionele tolke tot jou diens te hê.

 

MI(SA), performed at the 2019 Woordfees, is an ambitious piece of theatre. It is a musical tryptic containing three masses: the Missa Luba (a Latin Mass set to traditional song

ʼn Storie vir horende én Dowe kinders

Dit gons oor een van die US se Departement Algemene Taalwetenskap se jongste projekte: ʼn storie wat jong sprekers van verskeie tale – ook gebruikers van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) – en hul ouers sáám kan geniet.

Die idee spruit uit die werk van twee Belgiese sibbe, Filip en Hilde Verhelst, wat self Doof is en ʼn kinderboek met die titel Gebarentaal Redt in 2013 vrygestel het. Die storieboek word gekombineer met ʼn tweetalige DVD wat in Nederlands en Nederlandse Gebaretaal vertel van Noah, ʼn Dowe leeutjie, wat saam met sy horende vriend Adam gaan duik, en hoe gebaretaal tot hul redding kom.

Die Departement Algemene Taalwetenskap het die vertaalregte vir die boek gekoop en gaan nou ʼn boek-en-DVD-stel in vyf Suid-Afrikaanse tale vrystel. Op die Suid-Afrikaanse weergawe van die DVD kan gesinne kies om Afrikaans, Engels, Xhosa of Zoeloe te luister terwyl hulle die SASL-storie kyk. Kykers kan ook die storie in die boek met dieselfde prente volg, met ʼn vereenvoudigde geskrewe weergawe van die storie wat op die DVD vertel word.

Prof Frenette Southwood, voorsitter van die Departement Algemene Taalwetenskap, sê hulle hoop om die eerste van drie sulke stories op Wêreldboekdag (23 April) vry te stel. Belangstellendes kan met die redakteur, Vanessa Reyneke, vir meer inligting skakel.

Die Taalsentrum het twee gebaretaaltolke wat vir Dowe studente in die Fakulteit Opvoedkunde en US-personeellede tolk. Skakel gerus met Vicki vir meer inligting oor SASL-tolking by die Universiteit.

 

A story accessible to Deaf children and children who can hear

Wanneer e‑ jou in die steek laat

Dit sal nie verregaande wees om te sê die hele Suid-Afrika het gehoop dit was Desember verlede jaar die laaste sien van beurtkrag nie. Ongelukkig het dit in ’n erger gedaante in Maart dié jaar teruggekeer, en ons het nou die toepassing van beurtkrag op hoër vlakke as ooit tevore ervaar, sommer vir 24 uur aaneenlopend. By die werk beteken dit ons moet óf ons eie data gebruik (as die mobiele netwerk beskikbaar is) om e-posse te stuur – en hoop ons skootrekenaars of fone laat ons nie in die steek nie – óf elektroniese stilte handhaaf wanneer die krag af is; gewoonlik vir twee ure of langer. Gelukkig gaan die wêreld steeds sy gang sonder elektroniese kommunikasie en dit, so kom ’n mens agter, het boonop sy eie voordele.

Stof ’n bietjie jou mensevaardighede af en gesels op die outydse manier van aangesig tot aangesig met die persoon in jou gebou vir wie jy die afgelope week die meeste e-posse gestuur het. ’n Paar jaar gelede het die Universiteit van Kalifornië (UCLA) bevind dat, hoe meer mense die skerm aanhang, hoe swakker raak hulle daarmee om emosionele leidrade waar te neem. Die UCLA het voorspel dat “diegene wat hierdie vaardigheid behou, beslis meer suksesvol in enige werkplek sal wees”. Terwyl hierdie studie op die prestasie van pre-tieners gefokus het, kan dit nie kwaad doen om seker te maak dat ons steeds met mekaar kan praat nie – van aangesig tot aangesig.

Die ander erg onderskatte nie-elektroniese manier van kommunikasie is die nederige kleefnota. Iets wat in 1968 begin het as ’n mislukte poging om ’n nuwe soort gom te maak, het in die 1970’s ’n bedryf van onmisbare heldergeel vierkantige papiertjies geraak. Verbruikersielkundige (en mededekaan van die Sam Houston State University) Randy Garner het bevind ’n versoek wat via ’n geskrewe kleefnota gestuur is, het amper twee keer die impak van ’n getikte versoek. Garner glo ’n boodskap wat op ’n kleefnota geskryf is, kom oor as ’n spesiale guns wat gevra word, wat die ontvanger belangrik laat voel en meer gewillig maak om aan die versoek te voldoen.

Hou moed. Net omdat daar dalk nie krag is nie, beteken dit nie jou hande is afgekap nie. Klop aan jou kollega se deur die volgende keer wanneer die ligte afgaan en jy oor werk wil praat. En belê in ’n paar kleefnotas!

 

 

When e- fails

Hoe lyk veeltaligheid by die Universiteit Stellenbosch?

“Veeltaligheid kan jong kinders se denkvaardighede, probleem-oplossingsvermoë en begrip van kompleksiteit en stelsels bevorder en ontwikkel. By bejaardes kan veeltaligheid selfs die aftakeling van verstandelike vermoëns teëwerk.” Met hierdie inspirerende feite het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor (Leer & Onderrig), vanjaar se Taaldag by die Universiteit geopen.

Op 28 September het 75 studente en personeellede by STIAS byeengekom om te besin oor vanjaar se Taaldagtema, ‘Veeltaligheid @US: Die skep van ʼn bemagtigende omgewing’. Die doel van die dag was om ruimte te skep vir voortdurende nadenke oor die verskeidenheid geleenthede wat bestaan by ’n universiteit wat sensitief vir ’n veeltalige benadering is. Prof Schoonwinkel het daarop gewys dat veeltaligheid in die konteks van ’n tersiêre omgewing ’n rol daarin speel om insidente van rassisme, xenofobie en kulturele onverdraagsaamheid te bestry, en dat dit die moeite werd is om maniere te ondersoek waarop veeltaligheid in die leer- en sosiale omgewing op kampus ingespan kan word.

Deur middel van kleingroepbesprekings is ’n platform geskep waar die diverse groep deelnemers kon saamdink oor die waarde van veeltaligheid en hoe ’n bemagtigende omgewing geskep kan word. Die twee hoofonderwerpe, ‘Veeltaligheid in ruimtes vir onderrig en leer’ en ‘Veeltaligheid in sosiale ruimtes’, het rigting aan die gesprekke gegee. Moeilike vrae is gevra, byvoorbeeld: hoekom doen ons enigsins moeite om tale wat verminoritiseer is, in onderrig te koester, en hoe manifesteer dit in ons klaskamers? Uit die terugvoer van die gehoor was dit duidelik dat veeltaligheid ten diepste deel is van ons as Suid-Afrikaners, dat dit ons definieer en as ’n nasie onderskei. Ander opmerkings was die volgende: “Veeltaligheid wys ’n sensitiwiteit teenoor inklusiwiteit en benut die mag wat taal in ’n kulturele sowel as professionele samelewing het.” “Ons moet besig bly met veeltaligheid tot by die punt waar ons daaraan toegewyd is om bemagtigende omgewings te skep om verheldering en begrip te help bewerkstellig. ’n Tasbare manier om dit te doen kan wees om meer drietalige (of selfs veeltalige) terminologielyste te voorsien in die vorm van selfoontoepassings, soos dit in die Mobilex-projek gedoen word.” Die algemene konsensus was dat, hoe ons ook al die uitdagings van veeltaligheid benader, ons altyd in gedagte moet hou dat ons dit doen om inklusief te wees, om andere te akkommodeer en om sensitief vir individuele behoeftes te wees. Op hierdie manier skep veeltaligheid geleenthede vir persoonlike groei en uitreik, eerder as vir passiewe waarneming. Carli van Wyk, Voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad van 2018/2019, het die gevoel in die vertrek soos volg opgesom: “Ons moet daarop fokus om ’n verwelkomende kultuur by die US te skep waar ons waardes die dryfveer is agter ons strategie om diversiteit te vier, en ons moet veeltalige ruimtes skep waarin ons van mekaar kan leer.”

Hoewel die Universiteit op Afrikaans, Engels en Xhosa fokus, word daar ook toenemend klem gelê op Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASLI). Afgesien van tolking in Afrikaans en Engels, was Gebaretaaltolking ook beskikbaar en kon dowe studente aan die Taaldaggesprek deelneem. As jy graag die gesprek wil volg, kyk gerus hier na ’n opname van die hele dag se gebeure of kyk na die uitnodiging aan studente om die gevoel van ’n veeltalige kampus te ervaar.

Taaldag-uitnodiging

Want lees is ons léwe!

By die Taalsentrum is ons mal oor boeke, en die bevordering van geletterdheid lê ons baie na aan die hart. Ons vertel graag hoe ons hierdie jaar met boeke en lees in die breër gemeenskap gewoeker het.

Vanjaar het die Taalsentrum in samewerking met die Vriende van Afrikaans en die koshuis Academia in Julie weer twee boektrommels ter waarde van R15 000 aan twee skole in Stellenbosch oorhandig: hierdie keer was dit Laerskool Bruckner de Villiers en Laerskool AF Louw. Die boektrommels bevat leesboekies in Afrikaans, Engels en Xhosa, en kan as mobiele biblioteke dien vir skole wat nie oor ʼn biblioteek beskik nie. Met die oorhandiging het ons heerlik by die kinders gekuier, vir hulle voorgelees en ook basiese boekopvoeding met hulle gedoen. Ons harte het sommer warm geklop toe ons boonop ʼn handgemaakte dankie-sê-boekie met kaartjies van die kinders ontvang het.

Uit die boektrommelprojek het daar ook ʼn voorleesprojek ontstaan, wat die Taalsentrum in samewerking met Vriende van Afrikaans en Academia koördineer. Eenmaal per week gaan lees ons stories voor by 12 kleuterskole en die preprimêre klasse van die twee skole wat vanjaar boektrommels ontvang het om die kinders vir die boekbrigade oor te wen. Ons glo dat ons op hierdie manier ʼn belegging met onmeetbare dividende maak. Nog voorlesers is altyd welkom – e-pos gerus vir Vernita Beukes as jy ook op die rooster vir voorlees wil kom.

Op 7 September het die Taalsentrum weer almal op kampus met ʼn boektsunami in die Neelsie (die Langenhoven Studentesentrum) verras. Dié okkasie vind plaas om Internasionale Geletterdheidsdag te herdenk, wat vanjaar wêreldwyd op 8 September gevier is. Die boektsunami behels dat ons die boeke wat ons reg deur die jaar bymekaarmaak, op verskeie plekke in die Neelsie plaas om ʼn ‘boekegolf’ te veroorsaak. Enigiemand wat deur die Neelsie beweeg kon ‘induik’ en van die boeke vir hulle neem. Ons vra net dat hulle die boeke (natuurlik eers nadat hulle dit gelees het) aan iemand anders ook gee en só die geskenk van boeke en lees bevorder. Ons doen graag sommer goed aan ander omdat daar aan ons goed gedoen is. As jy enige boeke het om aan ons te skenk vir ons volgende boektsunami, kan jy vir Vernita Beukes e-pos.

Verder op die leesnoot: Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.

For the love of reading!

Is dit nou ‘is’ of ‘are’? 

Wat Engels betref, is dít die skeidslyn: aan die een kant het jy (blykbaar) goed opgevoede (vermoedelik) eerstetaalsprekers; aan die ander het jy, wel, die res van die wêreld. Eenvoudig gestel beteken onderwerp-werkwoord-kongruensie dat ʼn enkelvoudige onderwerp werkwoorde in die enkelvoudsvorm vat en meervoudige onderwerpe werkwoorde in die meervoudsvorm. Maar as concord so eenvoudig is, hoekom beskou mense dit as so ʼn duidelike aanduiding dat jy die taal bemeester het (of nie)?

Dikwels lê die antwoord in die feit dat daar nie altyd eenstemmigheid is oor of die sinsonderwerp enkelvoudig of meervoudig is nie. Dit lyk met die eerste oogopslag onsinnig. Die meeste mense kan tog tussen een (enkelvoud) en meer as een (meervoud) onderskei.

Maar kyk na hierdie nuusopskrif: ‘Stellenbosch FC suffer first defeat of the season, but stay top of NFD log’. Die werkwoord ‘suffer’ is in die meervoudsvorm. Maar as mens dit herskryf, kan dit as volg lees: ‘They suffer their first defeat’ – meervoudsonderwerp, meervoudswerkwoord. Maar die sokkerklub se eerstespan is één span. Dis tog sekerlik ʼn onderwerp wat as enkelvoudig deurgaan?

Tradisioneel gesproke hanteer lidlande of voormalige lidlande van die Statebond die name van sportspanne (insluitende nasionale spanne) as plekhouers vir die meervoudsonderwerp ‘the players’. As jy nou die sin herskryf as ‘The players have suffered their first defeat’, dan het jy onderwerp-werkwoord-kongruensie.

ʼn Ander soort voorbeeld kan in maatskappye se slagspreuke gevind word. Elke nou en dan sal ʼn maatskappy ʼn oproep ontvang wat min of meer so lui: ‘Julle maatskappy se slagspreuk is verkeerd. Dit moet “When precision and accuracy matter meervoud lees, nie matters enkelvoud” nie.’ Het die mense wat sulke oproepe maak ʼn punt beet?

Wel, dit hang van twee verwante perspektiewe af. Eerstens, of die maatskappy ‘precision and accuracy’ as een konsep beskou (in welke geval dit ʼn werkwoord vir die enkelvoudsvorm nodig het) en, tweedens, wat die jargon vir die spesifieke bedryf is. As dit die norm in daardie bedryf is om ‘precision and accuracy’ as ʼn enkele konsep te beskou, dan moet dit ‘precision and accuracy matters’ wees. Nes met die sportspanne, dra die gebruikskonvensies in ʼn spesifieke area baie gewig – veel meer as die telstrategie (precision [een] plus accuracy [een] is gelyk aan twee, dus ʼn meervoudswerkwoord) waarop die meeste mense staatmaak om te bepaal of die werkwoord in sy enkelvouds- of meervoudsvorm gebruik moet word.

Hierdie veranderlikes onderstreep twee basiese punte. Eerstens is Engels, so te sê, ʼn taal met báie veranderlikes. En tweedens is taal veel meer as net ʼn kwessie van reg tel.

Kenners sit koppe bymekaar: AvOL 2018

In ’n wêreld wat gretig is om studente op nuwe maniere te bereik, is die Konferensie vir die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) ’n uitstekende geleentheid vir opvoeders om dié kwessie te ondersoek, hul navorsing bekend te stel en oor onderrigpraktyke na te dink. Die 11de jaarlikse AvOL-konferensie, wat aan die einde van Oktober aangebied is deur die Taalsentrum se susterafdeling (die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking), was ook vir die Taalsentrum ’n ideale geleentheid om wat ons ervaar oor onderrig en leer met andere te deel vanuit die perspektief van ons brood en botter, naamlik taal.

Dr Kabelo Sebolai, Adjunkdirekteur van die Taalsentrum, het sy bevindinge oor die sogenaamde “gaping ten opsigte van uitdrukkingsvermoë” met ons gedeel. In sy aanbieding, ‘Revisiting the Role of Language Ability in Academic Performance: The Case of Stellenbosch University’, het hy verduidelik dat hierdie gaping verband hou met die hoë uitvalsyfer en die lae suksessyfer wat by Suid-Afrikaanse universiteite voorkom. Kabelo het bevind daar is ’n sterk korrelasie tussen studente se prestasie in die vak Engels in die matriekeksamen en hul akademiese prestasie by die Universiteit Stellenbosch – selfs in dié dissiplines wat minder met taalprosessering geassosieer word!

Die navorsingsgroep van die Taalsentrum se Tolkdiens het hul eie benadering tot die ondersoek van die oordrag van betekenis in die klaskamer uiteengesit met hul aanbieding ‘To Kill a Canary: Interpreters and Educational Practices at Stellenbosch University’. Aangesien tolke by die US deurentyd die dieper betekenis van ’n dosent se woorde moet verstaan wanneer hulle na ’n ander taal tolk, raak hulle besonder sensitief vir hoe daardie betekenis verwoord is. Deur te kyk na hoe dosente hul boodskap oordra, het hierdie groep belangrike aspekte geïdentifiseer wat ’n boodskap kan maak of breek, byvoorbeeld die opbou van ’n argument en die samehang van die boodskap. Dit het vir dosente nuwe insigte gegee oor hoe hulle lesings kan aanpas om studente te help om die klas beter te volg.

Die Taalsentrum se Fiona Stanford het saam met dr Ilse Rootman-Le Grange van die Fakulteit Natuurwetenskappe vir ons inligting gegee oor ’n opwindende loodsprojek: hoe om die onderrig van geletterdheidsvaardighede direk in die wetenskap te inkorporeer. In hul aanbieding, ‘Autonomy Tours: Reflecting on the First Offering of Science in Context’, het Fiona en Ilse besin oor die nuwe verpligte module vir BSc-eerstejaars en die uitdagings – en belonings – daarvan om ’n model te ontwikkel met ’n geïntegreerde benadering tot die ontwikkeling van dissiplinêre akademiese vaardighede.

Dit is belangrik dat instellings soos die Taalsentrum betrokke is by hierdie soort geleenthede – nie net om skouers te skuur met van die leidende denkers in die akademie nie, maar ook om ’n bydrae te lewer tot die opwindende en immer ontwikkelende wêreld van onderrig en leer.

The meeting of the minds: SoTL 2018
Interpreting in action at SoTL

ʼn Ongelooflike Leesresies vir Hoërskool Kylemore

Die leerders van Hoërskool Kylemore het hierdie jaar ʼn Mandela-dag beleef wat hulle nog lank sal bybly. Saam met verskeie US-omgewings het die Taalsentrum op 25 Julie tyd by die skool deurgebring ter gedagtenis aan die nalatenskap van Nelson Mandela.

Op dié dag wou Faika Haroun en haar span Taalsentrum-kollegas die vreugde wat lees bring met die leerders deel. “Ons het ʼn leesresies bedink om die leerders uit te daag en te inspireer om met begrip te lees en opwindende pryse te wen.”

Die Taalsentrum se Ongelooflike Leesresies het vier aanmeldstasies gehad, en soos met enige resies, was die doel natuurlik om eerste klaar te maak. Leerders is in spanne van vyf opgedeel en het van een stasie na die volgende beweeg, waar hulle telkens tekste moes lees, bespreek en as ʼn span vrae daaroor moes beantwoord. Hulle kon net hul volgende opdrag kry as al hul antwoorde op die vorige opdrag korrek was.

Ná ‘n intense gelees, ‘n diep gedink en vinnige antwoorde, was Trishan se span die eerstes oor die wenstreep. Hayward se span was tweede, met Justine en haar span kort op hul hakke. Die pryse het gewissel van woordeboeke en boeke tot skryfbehoeftes en notaboekies. Vir ekstra pret was daar ook ʼn gelukkige trekking. Die resies het vir hierdie leerders die beginsel aktief beliggaam dat dié wat met die beste begrip lees, uiteindelik bo uitkom – akademies gesproke en in die lewe.

Die resies het ook die onderwysers beïndruk en geïnspireer, en sommige van hulle het gevra of hulle die konsep mag gebruik wanneer hulle klasgee. “Leerders het geleer om in spanne te werk en het besef dat dit belangrik is om in ál hulle vakke met begrip te lees.”

“Vir die leerders was die resies groot pret. Hulle het ook gesien dat lees erg opwindend kan wees. Hierdie inisiatief was so suksesvol dat ons gretig is om die resies ook na ander skole te neem,” sluit Faika af. E-pos haar as jy graag ʼn Ongelooflike Leesresies by jou skool wil hou.

Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.