Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482
Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495
Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508
Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521
Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452
Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469 Nuutste nuus – Page 4 – Stellenbosch University Language Centre
Leer ken ons deur die boeke wat ons lees! Elke maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Hierdie maand gesels ons met Ydalene Coetsee, ʼn dosent in akademiese geletterdhede by die Taalsentrum. Ydalene is ‘n ywerige leser vir wie die versoeking groot is om selfs te probeer lees wanneer sy in die berge stap. Sy moet egter erken, sê sy, dat sy darem die uitsig ook baie geniet.
Wat is die titel van die boek waarvan jy ons wil vertel?
The Overstory deur Richard Powers, wat in 2019 die Pulitzerprys vir fiksie gewen het.
Hoekom is dié boek onvergeetlik?
Alhoewel ek al vir die afgelope 50 jaar minstens twee boeke ʼn week lees, is daar nie baie boeke wat die manier waarop ek lewe drasties sal verander nie. The Overstory is egter só ʼn boek. Dis ʼn roman oor bome, en het my geïnspireer om sedert ek die boek gelees het, my liefde vir die natuur meer proaktief uit te uitleef.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Dis Philip Yancey. Hy pas ingewikkelde beginsels op só ʼn manier op die daaglikse lewe toe dat sy lesers ʼn meer vervulde lewe kan leef.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek is altyd besig om minstens drie boeke te lees. Omdat Covid-19 my vanjaar daarvan weerhou het om tydens die wintervakansie te reis, geniet ek warmer weer deur Frances Mayes se A year in the World te lees; ek is ook besig om ʼn boekklubpraatjie voor te berei oor Confessions deur Jaume Cabre, ʼn Katalaanse skrywer; en ek lees Vonke uit die koeroeklip deur Gert Sarrisam, wat handel oor iemand wat ek as kind geken het.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Hierdie pandemie verplig my om veels te veel ure voor ʼn skerm deur te bring. Nou verkies ek weer papierboeke. Hulle ruik en voel beter, en soms het hulle selfs pragtige omslae!
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek het baie van die klassieke werke meer as een keer gelees omdat ek die meeste van hulle vir die eerste keer gelees het toe ek omtrent 20 was, en hulle toe nog nie ten volle sou kon verstaan nie. Boonop is ek geneig om só vinnig te lees dat ek soms belangrike inligting of dinge om oor na te dink nie raaksien nie.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Huppelkind, omdat hy my herinner aan ʼn baie gelukkige en ongekompliseerde tyd gedurende my kinderdae. Ook het hierdie boek ʼn liriese kwaliteit wat ʼn mens aanmoedig om in die son te huppel en te dans.
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Myns insiens is die grootste wyshede te vinde in antieke godsdienstige tekste: Prediker, Rumi, Kahlil Gibran.
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
Daar is geen perke aan die groei wat ʼn mens in jouself en die wêreld teweeg kan bring as jy boeke lees nie. As jy die wêreld wil verander, begin deur te lees oor mense wat dit reeds gedoen het. (Die mees onlangse biografie wat ek gelees het, was Empress Dowager Cixi (deur Jung Chang) oor die Chinese vorstin wat China vir Westerse invloede oopgestel het.) Lees wat jy geniet, dink oor wat jy lees, en pas dit wat jy gelees het, toe om ons wêreld te verbeter.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum is al vir meer as 20 jaar betrokke by die Global Education Programme van die US se Internasionale Kantoor met die aanbied van ʼn Beginnerafrikaanskursus vir besoekende studente. In 2015 is daar besluit om die aanbod uit te brei na ʼn pasgemaakte kursus, naamlik ʼn Afrikaanse taal- en kultuurkursus spesifiek gerig op studente uit Nederland en België met Nederlands as moedertaal. Aangesien Afrikaans ʼn sustertaal van Nederlands is, kan daar op soveel méér as bloot taalkunde en die verwerwing van Afrikaans gefokus word. En alhoewel Nederlandse studente die behoefte het om ʼn beetje Afrikaans te praat, wil meeste ook iets oor die kultuur van die taal en die land ervaar.
Die taalkomponent van die kursus fokus hoofsaaklik op die verskille tussen Afrikaans en Nederlands ten opsigte van uitspraak, spelling en sekere taalstrukture. Studente leer ook van die leenwoorde in Afrikaans ontleen uit ander tale as Nederlands, soos ‘baie’, ‘gogga’, ‘babelaas’ en ‘mielie’, om maar ʼn paar te noem. ʼn Ander onderwerp wat lei tot ʼn lekker gelag en soms groot verwarring is die groot aantal valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Dink maar aan woorde soos ‘amper’, ‘vaak’, ‘vies’ en dan, natuurlik, die Nederlands vir ‘kat’.
Ten opsigte van kultuur volg ons ʼn eklektiese benadering. Ons probeer vir studente ʼn oorkoepelende ervaring bied van Afrikaanse kultuur, in al sy kompleksiteit en kleurrykheid. Onderwerpe wat ondersoek en bespreek word, sluit in identiteit, herkoms, geskiedenis en die ekonomies-politiese rol van die Afrikaanssprekende groep. Studente kry blootstelling aan verskillende soorte tekste soos Afrikaanse kortverhale, gedigte en akademiese artikels, asook musiek en films. Aan die hand hiervan moet hulle dan hul eie ervaring en verstaan van die taal en kultuur illustreer. Verder kry studente die geleentheid om die taal en kultuur buite die lesinglokaal te ervaar met uitstappies na die Stellenbosch Village Museum, die Afrikaanse Taalmonument asook ʼn wynproe in Afrikaans by een van die omliggende wynplase. ʼn Hoogtepunt in die kursus is wel die gassprekers wat die studente kom besoek om oor hul ervaring van taal, herkoms en identiteit te gesels. Die eerste jaar wat die kursus aangebied is, het die sanger Koos Kombuis en die landskapskunstenaar Strydom van der Merwe die studente kom verras. Ons het ook al die bekende digter Diana Ferrus op besoek gehad en meer onlangs die AfriKaapse kletsrymer Jitsvinger, wat ʼn besondere indruk op die studente gemaak het. ʼn Gereelde en gewilde besoeker is die kletsrymer Frazer Barry, ook die voorsanger van die groep Tribal Echo, wat graag sy liefde vir musiek en Afrikaans, asook sy eie herkoms met die studente kom deel.
Die uiteindelike doel met die kursus is om hierdie studente se horisonne gedurende hul kort tydjie in Stellenbosch en Suid-Afrika te verbreed sodat hulle met ʼn ryker ervaring as net kennis van die Afrikaanse stereotipes wat wentel om braaivleis, melktert en rugby terugkeer na Europa. Studenteterugvoer soos hierdie bevestig dat die kursus die spyker op die kop slaan: “Ek het elke Afrikaanse les geniet en gedink dit is regtig ‘n toevoeging tot my semester hier in Stellenbosch. Dankie vir hierdie kursus en die fasiliteerder se eindelose verbintenis, wat seker waardeer word!”
Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Alta is baie lief vir lees en vir reis, en as dié twee elemente gekombineer kan word, nog beter.
Wat is die titel van die gunstelingboek(e) waarvan jy wil vertel? Iets wat ek onlangs geniet het, is Lucinda Riley se Seven Sisters-reeks, wat tans uit sewe boeke bestaan. Dit is gebaseer op die sterswerm (star cluster) Pleiades wat in verskeie kulture beskryf word. Die reeks begin met die heengaan van sewe aangenome susters se pa, en die briewe wat hy aan elke dogter geskryf het met leidrade oor waar elkeen vandaan kom as hulle sou kies om hulle bloedfamilie op te spoor. Teen die einde van die sewende boek raak dit duidelik dat daar ’n agtste boek oor die pa sal moet wees. Met die outeur se afsterwe is lesers nog steeds nie seker of daardie laaste boek geskryf is en gepubliseer gaan word nie. Die onsekerte laat my so effens dink aan Game of Thrones...
Hoekom is dit ʼn gunsteling?
Vier hoofredes: Eerstens, die leser reis saam met elke suster na verskeie dele van die wêreld (soos Brasilië, Skotland, Kenia en Ierland) waar twee storielyne jou boei, een in die hede en een in die verlede, waarna hierdie twee storielyne saamgesnoer word. Tweedens, dis sterk vrouekarakters wie se lewens skielik omver gewerp word, en die leser ervaar elke suster se innerlike reis in haar soeke na haar identiteit en bestaansrede. Derdens, die oudste suster is soos ek ʼn vertaler. En vierdens, ek het voorgraads musiek studeer, en die tweede suster het familiebande met die Noorweegse komponis Edvard Grieg. So ná daardie eerste boeke kon ek nie die res van die reeks weerstaan nie.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Ek is lief vir fantasie, veral Terry Pratchett en Neil Gaiman. En Nataniël se rubrieke laat my telkens skater van die lag.
Wat lees jy op die oomblik? The Artist’s Way deur Julia Cameron, waarin ek reeds ʼn hele paar idees gekry het oor hoe om my kreatiwiteit weer te ontdek en te ontwikkel.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Daar is geen opsie nie – ek wil definitief die gedrukte boek se papier in my hande voel.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom? Elders deur Erns Grundling, waarin hy sy pelgrimstog op die Camino (die Franse roete) beskryf. Dit het my aangespoor en ek het in Oktober 2019 die Portugese Kusroete saam met ʼn groep van die tydskrif Weg gaan stap. Ek is uiters dankbaar dat ek daardie reis nié uitgestel het tot later nié. Buen Camino!
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Die kat Maurice in Terry Pratchett se The Amazing Maurice and his Educated Rodents. Maurice is ʼn straatkat en swendelaar wat – met die hulp van ʼn paar slim rotte – geld maak uit mense se goedgelowigheid. Hierdie boek is pure pret!
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel?
Die onlangse heengaan van ʼn liewe kollega het my herinner aan ʼn boek uit my kinderdae: Michael Ende se sprokiesroman Momo wat uit Duits in Afrikaans vertaal is. Dit is ʼn tydlose verhaal oor die “grys menere” wat mense se tyd steel. Die dogtertjie Momo is die enigste een wat raaksien wat besig is om te gebeur. Sy is bang, maar ook dapper genoeg om die gesteelde tyd te gaan soek en aan die mense terug te gee. Ons kan ongelukkig nie verlore tyd inhaal nie, daarom probeer ek hard om hiérdie oomblik ten volle te beleef en om herinneringe saam met my geliefdes te skep.
Watter boeke kan jy aanbeveel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Tracy Chevalier: Sy kombineer historiese feite met verbeelding om in Girl with a Pearl Earring ʼn agtergrondstorie te weef oor die beroemde skildery deur die Nederlandse skilder Jan Vermeer. Lees gerus ook haar ander boeke. Enigiets deur Marita van der Vyver – ook haar kosboeke. En dan veral: énigiets wat jou hardop laat skater van die lag!
Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Ons gesels hierdie maand met Marisca Coetzee, akademiesegeletterdhede-dosent en koördineerder van die Leeslab. Marisca is mal oor lees en is ʼn aktiewe voorstander daarvan om vir kinders van kleins af al voor te lees en sáám met hulle te lees.
Wat is die titel van jou gunstelingboek? The Miracle Morning deur Hal Elrod het my diep beïndruk.
Hoekom is die boek onvergeetlik? Vir my was dit lewensveranderend om The Miracle Morning te lees omdat dit gewoonteveranderend was. Ek was nog altyd baie skepties oor selfhelp- en selfverbeteringsboeke en ek het daardie rakke in boekwinkels vermy totdat ek toevallig op TheMiracle Morning afgekom het. Hierdie boek het my geïnspireer om verantwoordbaar te wees en my lewe te verander. Deur Hal Elrond se “Life S.A.V.E.R.S” (stilte, bevestiging, visualisering, oefening, lees en skryf) toe te pas, het ek nou beheer oor die aspekte van my lewe wat wel beheerbaar is, en ek aanvaar dié wat ek nie kan verander nie. Ek is gelukkiger, gesonder, minder gespanne, en ek het genoeg energie om elke dag aan te pak. Dié boek was ʼn uitkoms in hierdie uitdagende jaar wat ons so onverhoeds betrap het.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Om ʼn gunstelingouteur te kies, is om soos vir ʼn ma te vra vir watter een van haar kinders sy die liefste is. Dis eenvoudig onmoontlik. Gunstelingouteurs verander soos die seisoene verander. Op die oomblik is herfs my gunstelingseisoen, en saam met herfs kom Camilla Läckberg en Deon Meyer.
Wat lees jy op die oomblik? Ek lees tans Prooi deur Deon Meyer en The Choice deur Edith Eger.
Verkies jy dit om “regte” gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur? Hoe kan jy dit nog vra? Ek is heeldag besig om vir my werk dokumente op elektroniese toestelle te lees; dus wil ek ʼn werklike boek in my hande hou wanneer ek vir my eie genot lees. Ek wil die blaaie tussen my vingers kan voel en die papier kan ruik.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom? The Unbearable Lightness of Being is ʼn boek wat gerus maar weer en weer gelees kan word. Ek het dit tydens ʼn oorsese reis in my vroeë 20’s vir die eerste keer gelees. Wanneer ʼn mens ʼn boek in latere stadiums van jou lewe herlees, verskaf dit telkens ʼn heeltemal ander soort vreugde. Jy word bewus van meer dimensies en jy beskou die karakters met ander, meer volwasse, oë. Jou houding teenoor hulle verskil van die gesindheid waarmee jy hulle die eerste keer ontmoet het. Alle boeke wat groter as lewensgroot is, behoort minstens twee maal gelees word.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik is dit Bennie Griessel. Elke keer wanneer ek hom in ʼn Deon Meyer-boek teëkom, beset ek opnuut hoe broos die lewe is. Hy laat my besef hoe kosbaar familie is en dat ʼn mens niks as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Hy het my geleer om mense nie te oordeel as ek nog nie ʼn pad saam met hulle gestap het nie, en dat ongeslypte diamante bitter kosbaar is.
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel? Sonder enige twyfel The Miracle Morning, The Unbearable Lightness of Being en Into the Wild.
Die meeste van ons dink nie juis gedurende ons daaglikse doen en late aan taal as ʼn abstrakte begrip nie. Nogtans bepaal die taal wat ons in ons studies, by die werk en in ons persoonlike verhoudings gebruik ander mense se persepsies van wie ons is, hoe ons met mekaar omgaan en wat vir ons die belangrikste is.
Die manier waarop ons kommunikeer beïnvloed en verander die wêreld om ons en veroorsaak rimpelings wat wyd in ons lewens uitkring.
Nie almal van ons weet egter hoe om goed te kommunikeer nie, en ons vergeet dikwels dat kommunikasie nie bloot gaan oor wát ons sê nie, maar ook oor hoe dit ontvang word, en deur wie. Dit is omdat ons almal op verskillende maniere dink en dinge verstaan, en ons almal uit verskillende agtergronde kom en al verskillende dinge in die lewe ervaar het.
As ʼn mens dus beter wil kommunikeer, help dit nie om bloot jou woordeskat uit te brei of te sorg dat jy altyd die regte leestekens gebruik nie. Ons moet ook leer om die mense met wie ons die wêreld deel, te verstaan, om betekenisvolle verhoudings op te bou, om gemeensaamheid te bevorder en ʼn lewe te skep wat die moeite werd is.
Hier is drie verrassend eenvoudige maniere waarop taal kan help om jou lewe te verander:
1. Voldoening aan “POPIA”? Sê jou sê in min woorde en in eenvoudige taal.
ʼn Effektiewe boodskap moet pragtig aanmekaargesit wees en in eenvoudige taal geskryf wees. Soos die beroemde kontrabasspeler en jazz-musikant, Charlie Mingus, gesê het, “Dis maklik om eenvoud ingewikkeld te maak, maar om iets wat ingewikkeld is, eenvoudig te maak, wonderbaarlik eenvoudig – dít verg kreatiwiteit.” Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) het op 1 Julie 2021 in Suid-Afrika in werking getree en het gelei tot ʼn vloedgolf haas onverstaanbare regstaal oor voldoening aan dié wet se vereistes, soos die volgende:
“Vanaf vandag,1 Julie 2021, tree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (“POPIA”) in werking […] Derhalwe word u by wyse hiervan in kennis gestel dat u daarop geregtig is om te weier om sodanige toestemming te verleen en dat u genoemde reg mag uitoefen deur hierdie groep te verlaat/ lidmaatskap op te sê deur op die skakel onder aan hierdie e-pos te klik.”
As jy regtig wil hê mense moet hóór wat jy sê, moet jy onverstaanbare jargon tot elke prys vermy en presies sê wat jy bedoel – niks minder en niks meer nie. Miskien wil jy hulle selfs vir hulle deelname bedank, soos in die voorbeeld hier onder:
“Soos jy dalk al weet, het die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) op 1 Julie in Suid-Afrika in werking getree […] As jy wil aanhou om ons nuusbriewe te ontvang, kan jy ontspan. Jy moet heeltemal niks doen nie, en jy sal steeds van ons hoor.
As jy nie meer sulke kommunikasie van ons wil ontvang nie, klik asseblief op die TEKEN UIT-knoppie hieronder.
Dankie dat jy deel uitmaak van die gemeenskap waaraan ons bou.”
2. Gebruik ‘ons’ en ons s’n’, nie ‘ek’ en ‘jy’ nie:Bewerkstellig ʼn nouer verbintenis tussen mense eerder as om die afstand te vergroot.
Ons raak almal soms verstrik in ons eie woorde. Suksesvolle staatspresidente en HUB’s weet dat die beste manier om verskille tussen mense te oorbrug, is om ʼn eenvoudige storie te vertel oor mense met gedeelde waardes. Sprekers wat ‘ons’ en ons s’n’ gebruik eerder as ‘ek’ en ‘jy’ bring mense nader aan mekaar, soos president Nelson Mandela geweet het toe hy op 10 Mei 1994 sy intreerede aan die mense van Suid-Afrika en sy internasionale gaste gelewer het:
“Ons daaglikse handel en wandel as gewone Suid-Afrikaners moet ʼn ware Suid-Afrikaanse werklikheid skep wat die mensdom se geloof in geregtigheid versterk, hom weer laat glo dat alle mense inherent edel van inbors is, en ons almal se hoop op ʼn uitstekende lewe weer laat opvlam.
Dit is ons verskuldig aan onsself en aan die ander volke van die wêreld wat vandag so goed hier verteenwoordig is.
Aan my landgenote kan ek sê dat elkeen van ons sonder enige twyfel net so diep in die grond van ons wonderskone land gewortel is as Pretoria se bekende jakarandabome en die doringbome van die bosveld.”
Mandela was in staat om namens ‘ons’ te praat; mense wat heg verbind is aan die Suid-Afrikaanse bodem en gemeenskap van landsburgers, ondanks hulle uiteenlopendheid. Dit was ʼn meesterlike strategie en het die aandag gevestig op die natuurlike orde van dinge, versinnebeeld deur die grond – die vrugbare aarde – waarmee almal kon identifiseer.
3. Groet iemand in hulle taal, nie in joune nie. Kweek ʼn veeltalige ingesteldheid aan.
Wanneer ʼn mens iemand in hulle eie taal groet, wys dit dat hulle kultuur vir jou belangrik genoeg is dat jy iets daarvan te wete wil kom, en dit maak vir jou deure oop wat andersins dalk geslote sou gebly het.
Selfs ʼn eenvoudige groet weerspieël iets van iemand se kultuur en denkwyse. In sommige kulture word ʼn kopknik of ʼn glimlag byvoorbeeld as heeltemal voldoende beskou, maar die teendeel geld in Afrika-kulture. In Suid-Afrika word dit dikwels as onbeskof beskou om iemand wat jy in die straat raakloop, of terwyl jy toustaan, te groet bloot deur te glimlag of jou knop te knik. Selfs ʼn eenvoudige “Hallo” wat nie gevolg word deur “Hoe gaan dit?” nie, word as slegte maniere beskou. Dit slaan terug na die betekenisrykheid van tradisionele groetvorme wat ʼn vraag oor die welstand van die persoon en hulle familie, en selfs hulle voorvaders, insluit, soos hierdie groet in Zoeloe:
Sawubona. Ninjani? Dit beteken: Hallo (letterlik: Ons sien jou). Hoe gaan dit met jou?
Meertaligheid behels veel meer as ʼn gewilligheid om verskeie tale te leer en te gebruik. Dit is ook ʼn ingesteldheid. Dit rus ons toe om uit wyer en meer diverse ervarings te put, en om by ander mense betrokke te raak op ʼn manier wat tot hulle harte spreek; nie net tot hulle verstand nie.
Elkeen wat dit al gewaag het om ʼn nuwe taal aan te leer, kan daarvan getuig dat so ʼn leerervaring ʼn mens se hele lewe kan verander. Namate jou ervaring van ʼn taal in sy eie kulturele konteks uitbrei, sal jy vind dat die tale en kulture waarmee jy vertroud is nie in afsonderlike kompartemente van jou bewussyn bly nie, maar dat jy eerder ʼn kommunikerende, meervoudige taalvaardigheid opbou waartoe al jou kennis en ervaring van taal bydra, en waar die verskillende tale onderlinge verbintenisse vorm en met mekaar in wisselwerking tree.
Taal het, soos rimpelings in ʼn waterpoel, soms ʼn onverwagte en werklik wonderbaarlike effek wat wyd uitkring.
– deur Kim Wallmach
Dr Kim Wallmach is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Sy bedank haar kollegas in die departemente Afrikaans en Nederlands, Kurrikulumstudie en Moderne Tale en by die Taalsentrum vir hulle insette oor die waarde van meeltaligheid.
uit∙kring ww. [kring uit, het uitgekring] (figuurlik) soos in kringe al verder beweeg: Haar invloed is besig om wyd uit te kring; uitkringende kwaad. – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6)
ef∙fek 1 s.nw. [~te] die manier waarop iemand, iets, ʼn handeling of gebeurtenis iemand/iets verander: Die pille het ʼn slegte effek op my gehad. ○ Veelkleurige liggies sorg vir ‘n feestelike effek in die aand. – HAT Afrikaanse skoolwoordeboek
Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.
Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)
Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?Outlander
Hoekom is dit jou gunstelingboek?
Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
Wat lees jy tans?
Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom?
Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?
Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
In Junie vanjaar vier die US Taalsentrum se Skryflab sy 20ste bestaansjaar. Ons by die Skryflab bied met trots ʼn verwelkomende, vriendelike en veilige ruimte aan waar studente en akademici die vrymoedigheid het om skryfkwessies te bespreek, wel wetend dat die toegewyde personeel en skryfkonsultante deurgaans reg staan om hulle met raad en daad te bedien.
Die Skryflab, wat vir prof Leon de Stadler (die Taalsentrum se voormalige direkteur) as ʼn droom begin het, het werklikheid geword toe die Lab in Junie 2001 sy deure oopgegooi het. Siende dat ons met soveel studente en jong, opkomende professionele mense werk, is dit gepas dat ons hierdie mylpaal in Jeugmaand uitlig.
By die Skryflab glo ons dat dit elkeen se goeie reg is om gesien en gehoor te word – maar as ʼn mens nie ‘universiteit’ kan praat nie, gaan jy nie ʼn stem op die kampus hê nie. Dit is waarom ons met skrywers saamwerk om hulle akademiese stemme te ontwikkel en hulle vermoë om hulle argumente te beredeneer, op te skerp. Ons portuurleerbenadering het ontwikkel uit progressief-pedagogiese Amerikaanse bewegings in die 1970’s en streef daarna om studente se toegang tot hoër onderwys te verbeter en hulle deelname aan akademiese aktiwiteite te verhoog.
Die Skryflab het ʼn ver pad gekom sedert sy nederige begin 20 jaar gelede in ʼn kantoor wat ons by die Universiteit se Departement Maatskaplike Werk geleen het. Sharifa Daniels en Rose Richards moes hierdie vertrek, en ook dieselfde e-posadres, deel! Dié kantoortjie was so klein dat een van die twee telkens moes uitgaan om plek te maak wanneer die ander een die rekenaar wou gebruik om ʼn e-pos te stuur. Die dekaan se kantoor was daar naby en dis ʼn ope vraag wat in sy kop aangegaan het toe hy elke nou en dan een van die twee in die gang sien rondstaan het. Twee verdiepings hoër, by die Departement Afrikaans en Nederlands, het Anne-Mari Lackay in ʼn gemeenskaplike kantoor ʼn lessenaar met ʼn paar ander mense gedeel. Nie een van ons het ʼn telefoon gehad nie en ons moes dus met die trappe op en af draf wanneer ons vir mekaar iets moes sê.
Destyds, in 2001, het ons met 20 studente gekonsulteer; deesdae het ons konsultasies met meer as 3 000 studente. Alhoewel Sharifa in 2018 afgetree het, werk Rose en Anne-Mari nog steeds by die Skryflab, waar Selene Delport, Vinelene Hartley en Celestia February intussen by hulle aangesluit het. Ongeveer 35 nagraadse studente wat opgeleide skryfkonsultante is, werk saam met ons. Talle van hierdie jong akademici word uiteindelik self studieleiers en mentors van jong skrywers.
Voor 2020 – die moeilike Covid-19-pandemiejaar – was ons konsultasies grotendeels van aangesig tot aangesig. Toe die pandemie posgevat het en ons gesien het hoe geïsoleer studente was en hoe bekommerd hulle oor hulle akademiese werk was, het ons die uitdaging aanvaar om ons konsultasies aanlyn te begin doen, met MS Teams. En dit gaan goed! Net in April het ons meer as 500 studente aanlyn bereik. Die skryfwerkwinkels vir nagraadse studente, waarvan ons ongeveer 60 per jaar aanbied, word ook nou aanlyn gehou en is baie gewild.
Dis vir ons ʼn eer om met studente te werk en ons is baie dankbaar vir die geleentheid om dit te kan doen. Hierdie skrywers is die stem van die toekoms, en as hulle goed kan skryf, sal hulle gehoor kan word waar dit saak maak. As jy akademiese skryfwerk het om te doen, oorweeg dit om te bespreek vir ʼn skryfkonsultasie by ons. Of, as daar enigiets anders is waarmee ons jou kan ondersteun, e-pos ons gerus!
– deur Rose Richards en Anne-Mari Lackay
Opmerking: Ons volg die voorgeskrewe Covid-19-protokolle. Hierdie foto’s is voor die pandemie geneem.
Om die vele fasette en wonder van Afrika te erken, word Meimaand aan Afrika opgedra. Afrikadag self word op 25 Mei gevier om die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (nou bekend as die Afrika-unie), op 25 Mei 1963 te herdenk. Op hierdie dag, 58 jaar gelede, onderteken leiers van 30 van die 32 onafhanklike Afrikastate ʼn stigtingsakte in Addis Abeba, Etiopië. Daar onderneem hulle om nasiebou deur eenheid en vryheid van onderdrukking aan te moedig.
Die Taalsentrum het besluit om vandeesmaand die belangrike rol wat tolke tot dusver op die vasteland van Afrika gespeel het om taalgrense oor te steek, uit te lig – van die professionele taalkundiges en pryssangers van stamgebonde Afrika-samelewings tot hedendaagse tolke wat nasiebou fasiliteer en toegang tot dienste bewerkstellig deur in nasionale parlemente, kongresse, howe en hospitale te tolk. En natuurlik dink ons ook aan die opvoedkundige tolke wat dit moontlik maak dat universiteitslesings in Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal aangebied kan word.
Die gebruik om in Afrika van een taal na ʼn ander te tolk, het reeds duisende jare gelede ontstaan, soos dit ook elders die geval is. In baie Afrika-samelewings het die professionele taalkundiges of pryssangers tot ʼn lang linie begaafde meertalige oratore behoort wat pryssange op belangrike openbare geleenthede aangehef het om die oorwinnings en roem van die stamhoof en sy voorsate te besing. Die orale kuns van Wes-Afrikaanse griots (sanger-digters) en Suider-Afrikaanse iimbongi (pryssangers) word tot vandag toe nog voortgesit, met die pryssangers wat as hedendaagse politieke kommentators optree.
Die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie van 1996 tot 1998 was die eerste blootstelling wat menige Suid-Afrikaners aan die wonder van simultane tolking in Suid-Afrika se 11 amptelike tale gehad het. Tolke het tydens die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie versoening gefasiliteer. Sedertdien het hulle gehelp om Suid-Afrika op te bou by nasionale en provinsiale wetgewers, munisipale raadsvergaderings en kongresse. Ander belangrike werkgewers vir tolke in Afrika sluit in die Afrika-unie, Pan-Afrika-parlement, UNON (die Verenigde Nasies se Kantoor in Nairobi), SADC (die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en die Afrika-ontwikkelingsbank.
Gebaretaaltolke is wêreldwyd bekend vir die toegang tot onderwys wat hulle vir Dowe studente fasiliteer, maar wat minder bekend is, is dat gesproketaaltolke dieselfde kan doen vir horende studente. Verskeie Suid-Afrikaanse universiteite maak universiteitslesings op hierdie manier toeganklik vir studente wat nie noodwendig so gemaklik in die taal van onderrig is nie. Aan die US werk ons opvoedkundige tolke in Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal.
Ons gee graag erkenning aan die rol wat tolking oor die jare heen gespeel het om Afrika en sy mense met mekaar te help verbind en sodoende vooruitgang te help bewerkstellig. Ons by die Taalsentrum beskou onsself as bevoorreg om deel van hierdie verhaal te wees.
As jy ʼn tolk is wat in Afrika werk, deel asseblief jou ervaring met ons. E-pos ons by taalsentrum@sun.ac.za.
– deur Kim Wallmach; vertaal deur Susan Lotz
Bron:
Wallmach, K. 2015. Africa. In Pöchhacker, F. (ed.) Encyclopaedia of Interpreting Studies. Londen: Routledge.
Verbeel jou ʼn wêreld sonder taal. Kan ʼn mens jouself so-iets selfs voorstel? Is taal nie so vervleg met denke dat dit nie eintlik help ʼn mens dink as jy nie in taal dink nie? Hoe sou ʼn mens toegang tot jou eie gedagtes kry en hulle kommunikeer as ʼn mens dit nie in een of ander soort taal omsit nie?
In sy boek, The language instinct, is Steven Pinker besig met dieselfde gedagte wanneer hy skryf: “Taal is so nou met die menslike ervaring verweef dat dit skaars moontlik is om ‘n mens die lewe daarsonder voor te stel. Die kans is groot dat waar daar twee of meer mense saam op enige plek op aarde is, hulle vroeër of later woorde sal wissel” – of gebare sal uitruil. Dowe mense gebruik gebaretale net soos horende mense gesproke tale gebruik: om te lag, te huil en dinge te vier, en die resultaat kan net so emotief en skeppend wees.
Die blote gedagte dat ons dit nie werklik kan weerstaan om ons taalinstink met ander te deel nie, laat ʼn mens dink aan hoe vry taal en die vermoë om dit te gebruik, ons maak. Taal bevry die gedagtes in ons eie koppe deur vir ons ʼn manier te gee waarop ons daardie gedagtes kan uitdruk, en iemand anders in die proses heel moontlik heel bly te maak (of te belas). Taal bied die geleentheid om uitdrukking te gee, om gehoor te word, en sodoende kontak te maak. Verskillende tale mag deur verskillende reëls en konvensies gerig word, maar die wawye, oop vryheid wat in die vermoë lê om taal te gebruik en iets te skep wat nog niemand anders ooit op daardie presiese manier gesê het nie, is werklik iets om ‘n mens aan te verwonder. Dink aan gedigte, meningstukke, blogs, essays of boeke oor dieselfde temas deur verskillende outeurs: dieselfde goue draad kan deur hulle almal loop, maar daar is soveel verskillende maniere om ʼn ding te sê. Maak hierdie gedagte jou nie sommer lus om dadelik aan die skryf te gaan nie?
Ons ervaar ʼn tyd waarin ons vryheid van beweging en vryheid van assosiasie deur die risiko om mekaar aan te steek, gekortwiek word. Terwyl sommige van ons fisieke vryhede tans ingeperk word om die verspreiding van die pandemie wat ons in die gesig staar, te beteuel, is ons intellektuele vryheid onbelemmerd.
Vir Vryheidsdag vanjaar kies ons by die Taalsentrum om die vryheid wat ons in taal het, te vier – die oneindige moontlikhede wat taal bring wanneer ons onsself uitdruk, met mekaar skakel en ons lewens leef, selfs al is ons fisieke radius – tydelik – kleiner.
– deur Susan Lotz en Kim Wallmach
Volle verwysing: Pinker, Steven. 1994. The language instinct: The new science of language and mind. Penguin Books: Londen. 3
Dis waarskynlik die taal waarin jy iets minder mooi sal sê as jy groot skrik. Die kans is groot dat jy ook in hierdie taal droom. As jy gelukkig is, sal jy kleuterversies daarin ken, en dalk selfs ʼn paar argaïese uitdrukkings en opgemaakte woorde…
ʼn Mens se moedertaal is ʼn soort instinktiewe taal – diep ingebedde kennis wat vir jou as volwassene voel asof dit eenvoudig nog altyd daar was, en iets wat op die vreemdste tye na vore kan kom. Dit is gepas om ʼn internasionale dag te hê om erkenning te gee aan hierdie baie persoonlike en kosbare hulpbron wat ons help om sin van die wêreld te maak. ʼn Mens se moedertaal of eerste taal dien ook as wegspringplek om meer tale te leer – soms met soveel sukses dat dit vir party mense later moeilik is om te onderskei tussen hul eerste en tweede taal.
Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier. Vir ons by die Taalsentrum verskaf dit groot vreugde om erkenning aan hierdie dag te gee, en dit bevestig ook ons bestaansrede op ʼn baie diep vlak. Taal begin by die eerste taal wat jy aanleer, en die wonder van daardie eerste taal leef voort en verder deur al die ander tale waarvoor jy jouself oopstel. Wanneer jy leer skryf en praat in ʼn ander taal as jou moedertaal, stimuleer en verbreed dit interkulturele ervarings en dialoog tussen mense. Ons glo heelhartig dat kennis van en liefde vir verskillende tale kan bydra tot sterker verhoudings tussen mense, kulture en organisasies. Wanneer ons taalvaardigheid by die Taalsentrum aanmoedig en aankweek, moedig ons ons studente en kliënte aan om alles te gee wanneer hulle nuwe tale saam met ons aanleer – of dit nou Xhosa, Afrikaans of Engels is.
Internasionale Moedertaaldag nooi elkeen van ons uit om vir ʼn oomblik stil te staan en na te dink; om te onthou hoe dit vir elkeen van ons op ʼn talige manier begin het. Wat is jou verhouding met die taal waarmee jy jou wêreld die heel eerste keer kon benoem? Hierdie dag gee ons ʼn kans om daardie persoonlike en individuele beginpunt te waardeer en te erken. Die viering van hierdie dag help om ons onderskeie erfenisse te bewaar en moedig ons aan om deel te word van ʼn meertalige, kultuurryke samelewing wat ʼn tuiste is vir ʼn verskeidenheid tale. Maar dit begin alles met daardie baie belangrike eerste een: die moeder van alle tale.
– deur Susan Lotz, Kim Wallmach en Zandile Kondowe
We use information collected from cookies and other technologies to improve your user experience and the overall quality of our website. We use anonymous cookies to collect data about how you use our website, so that we can improve and optimise your website experience. For more details, click here.
By clicking 'Accept', you consent to the use of ALL the cookies.
This website uses cookies to improve your experience while you navigate through the website. Out of these, the cookies that are categorized as necessary are stored on your browser as they are essential for the working of basic functionalities of the website. We also use third-party cookies that help us analyze and understand how you use this website. These cookies will be stored in your browser only with your consent. You also have the option to opt-out of these cookies. But opting out of some of these cookies may affect your browsing experience.
Necessary cookies are absolutely essential for the website to function properly. This category only includes cookies that ensures basic functionalities and security features of the website. These cookies do not store any personal information.
Any cookies that may not be particularly necessary for the website to function and is used specifically to collect user personal data via analytics, ads, other embedded contents are termed as non-necessary cookies. It is mandatory to procure user consent prior to running these cookies on your website.