Wie sou nou kon dink dat ons almal so vaardig met tegnologie sou kon raak? Die Covid-19-pandemie en die maatreëls wat in plek gestel is om ons veilig te hou, het baie gevolge tot dusver gehad. Een van die goeies is dat gewone mense skielik werklik merkwaardige dinge met tegnologie regkry, solank daar ʼn stabiele internetverbinding en geskikte virtuele platform is. Virtuele vergaderings, aanlyn klasse en ander geleenthede op MS Teams, Zoom of soortgelyke platforms het ons lewens (en huise) heel onseremonieel binnegekom en dit lyk of dit hier is om te bly. Die Taalsentrum bied ook verskeie aanlyn geleenthede aan – of dit nou kursusse, seminare of vergaderings is. Om te verseker dat jy weet wat van jou verwag word en wat óm te verwag wanneer jy deelneem aan ʼn aanlyn geleentheid, het ons vir jou ʼn lysie saamgestel. Wanneer jy aanteken vir die sessie
- Meld tien minute voor die begin van die sessie aan
- Gaan jou klankverstellings na: jou luidspreker moenie stilgestel wees nie
- Wanneer jy die vergadering binnegaan, maak jou mikrofoon stil en sit jou video af met die knoppies aan die onderkant van jou skerm
- Jy is dalk lus om om hallo te sê deur jou kamera vir ʼn oomblik aan te sit en ʼn vinnige wuif te gee, maar sit dit gerus weer af totdat jy ʼn bydrae lewer
Gedurende die sessie Laat jouself toe om ten volle teenwoordig te wees. Vermy afleidings soos sosiale media of e-pos-aankondigings. Skep ʼn fisieke ruimte wat daartoe bydra dat jy kan fokus en deelneem – oorweeg dit om voor die sessie ʼn kennisgewing wat sê ‘moenie vir die volgende uur steur nie’ teen jou deur of op jou lessenaar te plaas. Neem deel Jy het die opsie om ‘onsigbaar’ te bly, maar sessies is juis bedoel vir deelname, en vrae is altyd welkom. Dit is die beste om die aanbieder nie verbaal in die rede te val nie, maar jy kan jou hand opsteek (daar’s ʼn knoppie daarvoor!) of jy kan eers jou vraag in die teksgebaseerde geselsforum tik en dit dan herhaal wanneer daar geleentheid is om interaksie te hê. As jou vraag nie in die sessie beantwoord is nie, kan jy ʼn persoonlike e-pos ná die tyd aan die aanbieder stuur. Gewoonlik is daar vrae wat eenvoudig nie beantwoord word nie omdat daar so baie daarvan is, nie omdat dit doelbewus oorgeslaan word nie. Volg netiket
- Wees hoflik en beleefd, en hou die gesprekstoon hoflik en lig
- Deel jou eie (toepaslike) ervarings
- Bou voort op besprekings
- Antwoord as jy sinvolle inligting kan deel
- Tik volsinne en gebruik duidelike taal
- Gebruik die @-funksie om ʼn kommentaar aan iemand spesifiek in die geselsforum te stuur. Tik eers ‘@’ en dan die naam of e-posadres (bv. ‘Ek het ʼn soortgelyke vraag aan @PietPompies@sun.ac.za oor …’).
- Wees inklusief
Maak notas, maar… Neem (geskrewe of getikte) notas van die belangrikste konsepte en moontlike opvolgvrae. Probeer om nie die sessie te transkribeer nie, want dit sal heel waarskynlik opgeneem word en die opname sal waarskynlik daarna beskikbaar gestel word. Tegniese notas Oor die formaat van aanbieding en die aanlyn platforms wat ons gebruik Aanlyn kursusse sal op SUNOnline of Microsoft Teams aangebied word. Jy sal ʼn uitnodiging via e-pos vir elke sessie ontvang, waarskynlik op die dag waarop die sessie aangebied word. Klik eenvoudig op Join Microsoft Teams Meeting of iets soortgelyks vir ander platforms om na ʼn bladsy te gaan waar jy op die web by die sessie kan aansluit (of laai die app af). As jy reeds die app het, sal die vergadering outomaties oopmaak. As jy nie die app het nie, kan jy die instruksies hier onder volg om MS Teams of Zoom te installeer. Ons stel voor dat jy die betrokke app installeer voordat jy ons regstreekse sessies bywoon. Oor die toerusting wat jy nodig het ʼn Slimtoestel (rekenaar, tablet of slimfoon met internettoegang) en verkieslik oorfone met ʼn mikrofoon is wat jy nodig het. Die gewone oorfoontjies wat waarskynlik saam met jou slimfoon gekom het, sal piekfyn wees. Oor jou internetverbinding Jy sal ʼn stabiele internetverbinding en genoeg data moet hê. Omdat die sessies regstreeks geskied, sal jou verbinding se spoed beïnvloed hoe goed jy ʼn aanbieder en sien en hoor, en of jy vertragings of vriesoomblikke sal ervaar. Om die kanse hiervoor te verklein kan jy sorg dat jy nie meerdere webbladsye (vensters) oop het nie en ook nie enige lêers aflaai terwyl die geleentheid aan die gang is nie. Hoe om Microsoft Teams of Zoom te installeer MS Teams: Gaan na https://teams.microsoft.com/downloads en klik op Download Teams. Volg die instruksies om die app te installeer. Zoom: Gaan na https://zoom.us/download#client_4meeting en laai die eerste opsie af, naamlik Zoom Client for Meetings. Volg die instruksies om die app te installeer. Nie seker dat jy alles oor netiket weet nie? Klik op die infografiek vir meer inligting:
Met dank aan die US Sentrum vir Leertegnologieë vir die aanvanklike beskikbaar maak van hierdie inligting.