
Oor Taaldag
Taaldag word elke twee jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US) gevier. Die dag is ’n geleentheid waar US-personeel en -studente by mekaar leer en individuele taalervarings onderling bespreek om agter te kom hoe taal prakties in akademiese en sosiale omgewings gebruik word. Ondersoek word ingestel oor die manier hoe taal kampuskultuur vorm en studentesukses ondersteun, op universiteitsvlak en in die wêreld van werk.
Taal speel ’n deurslaggewende rol in die vorming van studente se universiteitservaring. Van die oomblik wat hulle registreer tot die dag wanneer hulle gradueer en die wêreld van werk betree, kom studente voor verskeie linguistiese uitdagings en -geleenthede te staan wat hul akademiese, persoonlike en professionele lewe beïnvloed. Deur perspektiewe wat taal op die voorgrond plaas, word dit moontlik om insiggewende gesprekke te hê oor betekenisgewing, studente se gevoel van menswees en behoort, die aard en outeurskap van kennis, asook wie bepaal wie behoort en wie se kennis saak maak (Antia & Dyers, 2019: 91). Hierdie beskouings lei tot belangrike vrae oor kampuskultuur en maniere waarop die instelling leer kan ondersteun.
As personeel en studente van die US besef ons dat ons in ’n meertalige samelewing en op ’n meertalige kontinent woon. ’n Meertalige ingesteldheid rus studente toe om toegang tot ’n breër en meer diverse kennisbasis te bekom, om die samelewing te betrek op ’n manier wat nie alleen die hart nie, maar ook die verstand aanspreek, om dinamiese professionele persone te word wat probleemoplossings-, luister- en interpersoonlike vaardighede gebruik; en om goed afgeronde individue te wees wat weldeurdagte besluite neem, gegrond op meer as hul eie denkprosesse. Meertalige bevoegdheid word ook benodig vir Afrika- en globale burgerskap en indiensneembaarheid, veral aan ’n instelling soos ’n Afrika-universiteit wat ’n toenemende pligsbesef teenoor die samelewing het.
Meertaligheid – ofskoon dit gevier word vir die kognitiewe, kulturele en sosiale voordele wat dit in ’n diverse en onderling verbonde wêreld bied – kom natuurlik voor nuwe uitdagings te staan namate globalisering die oorheersing van Engels versnel, veral in hoër opvoeding, akademiese kommunikasie, en die werkplek.
Vanjaar word die volgende tema beklemtoon: Watter rol vervul taal op ’n US-student se reis vanaf registrasie tot graduering?
Die soeklig val op die invloed van taal op ’n verskeidenheid temas wat ’n student se reis aan die US beïnvloed, van registrasie tot graduering en die wêreld van werk. Die idee is om oop gesprekke te voer oor werklike praktyke op kampus, in klasverband, en in sosiale en leefruimtes. Die konferensietema word ondersoek in die vorm van twee paneelbesprekings, gevolg deur groepbesprekings en ’n voltallige terugvoersessie.
Watter rol vervul taal op ’n US-student se reis vanaf registrasie tot graduering?”
Paneel 1: Insluiting, betrokkenheid, en behoort vir studentesukses
Die gevolge van ’n enkele storie is die volgende: Dit beroof mense van waardigheid. Dit bemoeilik ons erkenning van ons gelyke menswees. Dit beklemtoon hoe anders ons is, eerder as hoe eenders ons is. – Chimamanda Ngozi Adichie (aangehaal in die US Monitorsverslag, 2025)
Wegbreekbesprekings in groepe reageer op die paneelonderwerp, met die klem op een van die volgende:
Fokus 1: Akademiese ruimtes
Fokus 2: Sosiale en leefruimtes.
Paneel 2: Meertalige bevoegdheid en globale burgerskap vir die wêreld van werk
Meertaligheid word toenemend erken as ’n belangrike globale graduandi-eienskap wat individue toerus met die vermoë om in ’n diverse en onderling verbonde wêreld te funksioneer, en tot indiensneembaarheid en sukses in die werkplek bydra.
Wegbreekbesprekings in groepe reageer op die paneelonderwerp, met die klem op een van die volgende:
Fokus 1: Meertaligheid vir betrokke plaaslike en globale burgerskap
Fokus 2: Taal in of vir die beroepe – wat is die Universiteit se rol?
Paneelaanbiedings kan in Afrikaans, Engels, of isiXhosa gelewer word.
Program
Konferensieformaat
- Persoonlik, by STIAS
- Twee interaktiewe paneelbesprekings, elk gevolg deur ’n groepsessie en ’n voltallige terugvoersessie.
- Groepe aan die onderskeie tafels word klein gehou om gesprekvoering aan te moedig (nie meer as 10 deelnemers aan ’n tafel nie). Deelnemers sal aangemoedig word om hulle op spesifieke temas toe te spits om betrokke deelname eerder as breë en vae besprekings te verseker.
- Die groepbesprekings word op koers gehou deur ’n fasiliteerder met ’n skriba. Die uitsette van elke wegbreeksessie word afsonderlik gedeel. Paneellede voer dan verder gesprek na aanleiding van die groepsterugvoer.
Genooides
Uitnodigings word aan ongeveer 100 persone gestuur, waaronder formeel genooide persone, terwyl bepaalde US-personeel en -studente ook oop uitnodigings ontvang.
Bron
Antia, B.E., Dyers, C. 2019. De-alienating the Academy: Multilingual Teaching as Decolonial Pedagogy, Linguistics and Education, Volume 51(6), 91-100. https://doi.org/10.1016/j.linged.2019.04.007