Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482

Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495

Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508

Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521

Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469
Engelse kursusse – Stellenbosch University Language Centre

Category: Engelse kursusse

Boekgeselsie met Fatima F

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Fatima Halday. Fatima is die Hoof van Kommunikasie by die Taalsentrum, en bestuur die Engels-portefeulje en Kommunikasielab-portefeulje.

“Ek is passievol oor onderrig en leer, en ek geniet dit om met mense te werk. Ek is self ʼn lewenslange leerder en ek brei gedurig my kennis en vaardighede uit met die oog op my persoonlike en professionele ontwikkeling.” Wanneer sy tyd het om bloot vir plesier te lees, verkies sy boeke oor sielkunde, menslike gedrag (goed en sleg), verhoudings, en “die onderlinge verbondenheid van individue en gemeenskappe, omdat dit unieke perspektiewe bied op hoe ons kan sin maak van onsself, van ander mense en van die lewe”.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of  ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?

The Forty Rules of Love deur Elif Shafak.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?

Hierdie verhaal word vertel deur die parallelle stories van Rumi, die legendariese digter uit die dertiende eeu, en Ella Rubenstein, ʼn vrou in haar veertigerjare, wat verlore en onvervuld voel. Sy begin as leser vir ʼn literêre agentskap werk, waar sy afkom op ʼn manuskrip wat haar lewe verander. Dié manuskrip handel oor die beroemde Sufi-digter Rumi en sy verhouding met sy mentor, Shams Tabrizi.

Deur Rumi se verhaal kom ons te wete van die veertig reëls van die liefde. Elke hoofstuk is om een van dié reëls uit Rumi se digkuns opgebou. Die veertig reëls funksioneer as die boek se morele kompas en dui vir die karakters – en vir ons – aan waardeur ʼn mens jou in jou lewe moet laat lei. Die karakters is duidelik gedefinieer en het unieke perspektiewe en diep emosies.

Hierdie reëls is pragtig met die verhaal verweef en bevat groot wyshede oor liefde, die lewe en geestelikheid. Een van die fassinerendste karakters in die boek is Shams Tabrizi, wat Rumi van ʼn teruggetrokke geleerde in ʼn passievolle digter verander. Shams is ʼn kontroversiële figuur wat die tradisionele norme van godsdiens, die samelewing en sedelikheid die stryd aansê. Hy leer Rumi die ware betekenis van liefde, wat veel wyer strek as fisiese aangetrokkenheid of emosionele verbondenheid.

In Ella se storie sien ons ʼn eietydse vrou wat ʼn gemaklike lewe het met ʼn man en kinders, maar wat voel dat iets ontbreek. Haar reis begin met die lees van die manuskrip en word voortgesit deur haar interaksie met Aziz Zahara, ʼn Sufi-derwisj wat haar help om die reëls van die liefde te verstaan. In die loop van haar reis leer Ella om haar vrese in die gesig te staar, haar ware self te aanvaar en beheer oor haar lewe te neem.

The Forty Rules of Love is filosofies van aard en ondersoek die aard van liefde, geloof en die menslike bestaan. In elke hoofstuk deel Rumi aangrypende lesse oor onder meer liefde, vriendskap en geestelikheid. Hierdie reëls is nie net op die karakters in die boek van toepassing nie, maar ook op die leser se eie lewe. In elke les word die verhaal dieper, en help dit lesers om hulle persoonlike lewensfilosofie te omarm en te ontleed. Dit trek ons vooropgestelde idees in twyfel en moedig ons aan om ons eie waarhede te soek. Dit is ʼn boek wat telkens weer gelees kan word, en elke keer sal die leser nog ʼn nuwe laag betekenis ontdek.

Wie is jou gunstlingouteur(s)? Hoe só?

Ek het vroeër baie fiksie gelees, en omdat ek rillers geniet, is my gunstelingouteurs John Grisham, Dan Brown en Karin Slaughter. Ek lees egter reeds vir die afgelope paar jaar hoofsaaklik niefiksie. Die boeke wat ek onlangs gelees het, maak almal deel uit van die School of Life-reeks. Baie van die niefiksie wat ek lees, handel oor sielkunde, filosofie, kultuur, mense en die lewe, wat almal onderwerpe is waarin ek belangstel. Ek hou daarvan om van nuwe konsepte en perspektiewe te leer.

Wat lees jy op die oomblik?

Ek lees tans The Daily Stoic deur Ryan Holiday.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of  ʼn ander elektroniese platform?

Ek verkies dit om gedrukte boeke te lees, maar ek het onlangs begin om met die Kindle-app boeke op my selfoon te lees. Ek het boeke by Amazon gekoop wat baie lank geneem het om aan te kom, dus verkies ek dit nou om eerder die Kindle-weergawe van boeke wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, aan te skaf. Forty Rules of Love was een van die eerste e-boeke wat ek op my foon gelees het. Dit was gerieflik omdat die hoofstukke nogal kort is en ek ʼn paar bladsye of hoofstukke kon lees wanneer ek ook al ʼn tydjie gehad het. Ek lees op die oomblik ook The Daily Stoic met my Kindle app.

Boeke op Fatima se bedkassie 

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?

The Alchemist deur Paulo Coelho. Dit is pragtig geskryf en boeiend, maar leer ons ook belangrike lewenslesse. Dit leer ons dat die heelal saamspan om mense te help om hulle drome te verwesenlik, maar dat hulle bereid moet wees om risiko’s te loop en opofferings te maak om hulle doelwitte te bereik. Dit beklemtoon ook die belangrikheid daarvan om ʼn mens se eie pad in die lewe te volg en om nie ontmoedig te word deur struikelblokke en terugslae nie. Een van die hooftemas van die boek is dat ʼn mens jou passie moet uitleef en jou ware roeping in die lewe moet ontdek, al is die reis hóé moeilik. Die boek bevat talle diepgaande boodskappe oor hoe om moed te skep en uitdagings baas te raak, ʼn mens se drome na te jaag en positief te dink. Dis goeie leesstof vir iemand wat kan doen met ʼn bietjie inspirasie en motivering.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?

Ek het twee. Heidi, en Jo March in Little Women.

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou vorige antwoorde genoem het nie?

Ek deel graag ‘n paar aanhalings waarby ek aanklank vind:

Oos, wes, noord of suid; dit maak nie saak nie. Maak net seker dat elke reis ook ‘n reis na binne is, ongeag wat jou bestemming is. As jy na binne reis, sal jy deur die hele wye wêreld en nog verder gaan.”

           – The Forty Rules of Love deur Elif Shafak

Kwel jou nie oor waarheen die pad lei nie. Konsentreer eerder op die eerste tree. Dit is die moeilikste deel en dit is waarvoor jy verantwoordelik is. Wanneer jy daardie tree neem, moet jy toelaat dat alles gebeur soos dit vanself gebeur, en die res sal daarop volg. Moenie saam met die stroom gaan nie. Wéés die stroom. ”

           – The Forty Rules of Love deur Elif Shafak

Ek is oorval deur herinneringe aan ʼn lewe wat nie meer myne was nie, maar waaruit ek die eenvoudigste en langdurigste vreugde geput het.”

           – The Stranger deur Albert Camus

Tags: , , , , , , , , , , , , , , ,

Meryl se TEFL-avontuur

Meryl Davidson het haar TEFL-kursus by die Engels-portefeulje aan die US se Taalsentrum voltooi en toe vir twee jaar in Suid-Korea gaan Engels gee. Haar TEFL-kwalifikasie stel haar in staat om Engels plaaslik sowel as internasionaal as ʼn vreemde taal te onderrig. Ons het aan Meryl ʼn paar vrae gevra oor die verrykende ervaring om oorsee te reis en te werk.

Wat het jou laat besluit om TEFL te kies?
Ek het dit besluit toe ek op ʼn plek in my lewe was waar ek nie ʼn permanente werk in Suid-Afrika kon kry nie, besig was om ouer te word, en vir myself moes kon sorg. Omdat ek boonop bitter graag wou reis, het ek sommer geweet dis die perfekte opsie vir my.

Watter deure het jou TEFL-kwalifikasie vir jou geopen?
Ek het twee jaar lank in Suid-Korea Engels gegee, en in daardie tydperk het ek kruis en dwars deur Suidoos-Asië gereis – iets waarop min mense hulle kan roem.

Ek het ʼn nuwe perspektief op die wêreld gekry en dit was inderdaad ʼn lewensveranderende ervaring. Sonder my TEFL-kwalifikasie sou ek dit beslis nie kon doen nie.”

Reis lê my baie na aan die hart en ek omring myself graag met verskillende kulture en tradisies. Ek het standhoudende vriendskappe gesluit en bande gesmee, en ek is steeds in aanraking met die meeste mense wat ek gedurende my tyd oorsee ontmoet het. Ek het dit ook geweldig geniet om my in die Asiese kultuur te verdiep en om dinge op dieselfde manier as die Asiërs te doen. Toe ek eers terug was in Suid-Afrika, was dit byvoorbeeld vir my baie moeilik om nié my skoene uit te trek voordat ek in my eie huis of ander mense se huise ingaan nie!

Op watter maniere het die TEFL-kursus jou vir die werk self voorberei?
Die TEFL-kursus wat ek by die US se Taalsentrum bygewoon het, was ʼn baie intensiewe program wat vier weke geduur het. In die loop van daardie vier weke is ons voorberei op elke enkele scenario wat moontlik kan afspeel in ʼn klaskamer waar Engels as ʼn vreemde taal onderrig word. Ofskoon niks ʼn mens werklik op die lewe in ʼn ander land kan voorberei totdat jy dit self ervaar nie, het die TEFL-kursus my beslis op baie maniere voorberei op wat my in die klaskamer te wagte kon wees.

Kan jy drie redes met ons deel waarom jy dink iemand dit gerus kan oorweeg om die TEFL-kursus by te woon en in die buiteland te gaan werk?

  1. Daar is nie nog so ʼn bevrydende gevoel as die gevoel wat ʼn mens ervaar wanneer jy op iets méér of iets anders besluit nie, as dit is wat jy werklik wil doen.
  2. Dit verander jou op ʼn manier wat jy jou glad nie sou kon indink nie. Jou manier van dink, jou perspektief en jou wêreldbeskouing verander. Alles wat jy gedink het jy weet, verdwyn.
  3. Jou onafhanklikheid is jou grootste bate. Daar is geen beter manier om onafhanklik te word as om die onbekende op jou eie aan te durf nie. Hou op om iemand te wees wat altyd net hoor van die wye wêreld daarbuite. Gaan kyk self!

Wil jy dalk ʼn TEFL-kursus bywoon?

Ons volgende voltydse kursus begin op 26 Junie en ons volgende deeltydse TEFL-kursus begin op 24 Julie, en daar is nog plek vir jou! Jy sal egter teen 16 Junie moet aansoek doen vir die voltydse kursus, en teen 14 Julie vir die deeltydse kursus.

 

[us_cta title=”” btn_label=”Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fproduct%2Fteaching-english-as-a-foreign-language-tefl%2F|target:_blank|” btn_style=”2″]Ons gaan later vanjaar ook weer kursusse aanbied. [/us_cta]
Tags: , , ,

Boekgeselsie met Ammie H

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Ammie Henson, een van die koördineerders vir die Intensiewe Engels-portefeulje en ʼn Engels-tweedetaal- (ESL-)instrukteur.

“Die pad wat ek geloop het om ʼn onderwyser te word, was baie interessant en soms moeilik, maar ek glo dat dit bygedra het daartoe om van my die onderwyser te maak wat ek vandag is. Ek het eers sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) geloop en toe as ʼn nagraadse joernalistiekstudent by Rhodes beland nadat ek ʼn jaar in die VSA deurgebring het. Ek was ook ʼn uitruilstudent in Finland toe ek met my meestersgraad in mediastudies besig was. Dit was die waardevolste ervaring van my lewe.”

“Ek was nog altyd lief vir kinders, en diep in my hart het ek geweet dat ek bestem is om ʼn onderwyser te word, maar destyds wou slim Sannie mos nie luister nie! Op die een of ander manier was ek nog altyd by kinders betrokke, of dit nou as au pair of as ʼn klaskamerassistent in ʼn laerskool was. Ek het op die ou einde besluit om by die US se Taalsentrum vir die TEFL-sertifikaat in te skryf, en aansoek gedoen om by die Taalsentrum te werk terwyl ek (uiteindelik!) besig is met my BEd (Grondslagfase) by Noordwes-Universiteit. Onderwys is my passie. ​

Ek is lief vir onderwys omdat ek ʼn gevoel van eiewaarde by my studente wil laat posvat – ek wil hê hulle moet trots wees op wie hulle is en op hulle prestasies. Min dinge is so bevredigend as wanneer studente besef wat hulle potensiaal is en dit verwesenlik. Ook hou ek baie daarvan om my studente te inspireer – en om dan weer deur hulle geïnspireer te word!

Afgesien daarvan dat ek ʼn onderwyser is, is ek ook ʼn Weegskaal wat hou van mooi dinge om my en wat graag partytjies en ander geleenthede reël. Ek is die ma van twee hondekinders wat ek gered het (een van hulle kom selfs van so ver as Grahamstad af). Ek bring graag tyd in die buitelug deur en oefen graag buite – ek is dol oor stap en swem. In my vrye tyd speel ek Dungeons & Dragons en kuier saam met my familie en vriende. Ek is nie juis ʼn boekwurm nie, maar ek hou van ʼn goeie storie.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Die Klein Prinsie deur Antoine de Saint-Exupéry

Hoekom het hierdie boek jou so beïndruk?
Ek en hierdie boek het ’n lang geskiedenis, en dit herinner my aan iemand vir wie ek baie lief was. Ek onthou dat ek dit vir die eerste keer in Afrikaans gelees het toe ek nog baie jonk was – waarskynlik in een van my eerste jare op laerskool. Ek dink nie ek was op daardie jeugdige ouderdom al emosioneel en kognitief gereed om die dieper betekenis daarvan te begryp nie. Ek het nie van die boek gehou nie en dit het my bang gemaak. Ek het dit nie eers klaar gelees nie. Toe ek ouer geword het, het ek bewus geword van die ophef oor die boek en die gewildheid daarvan. Die lokprent vir die fliek is in 2015 vrygestel. Ek het groot waardering vir uitstekende animasie, en ek was onmiddellik verlief. Ek het die fliek in Desember daardie jaar saam met my beste maat gaan sien, ʼn paar weke voor my vertrek na Finland, en ek het geweet ek móét die boek lees. Ek was oorstelp deur die storie, die karakters en die lewenslesse, en die animasie was boonop manjifiek. Ná die fliek het ek by die huis gekom en my stiefpa, Nic, alles daarvan vertel. Die volgende dag het ek gesit en inkleur toe hy die boek langs my op my lessenaar neersit. Binne in het hy geskryf: “As die son daar anderkant nie genoeg skyn nie, weet dat ons trots is op jou.” Hy het dit onderteken met die letters KTLO, wat staan vir “Kick the lights out!”, die woorde waarmee hy my en my suster altyd aangemoedig het. Hy was ons grootste ondersteuner.

Ek het die boek tydens my vlug na Helsinki begin lees en die laaste stukkie gelees terwyl ek tougestaan het vir die klanktoets van die 5 Seconds of Summer Sounds Live Feels Live-konsert. Verlede jaar het ek my gunsteling-gedeelte by sy begrafnis gelees.

[us_hwrapper]

So het die klein prinsie die jakkals mak gemaak. Maar toe kom die uur van afskeid.

“Ag!” sê die jakkals. “Ek gaan huil.”

“Dis jou eie skuld,” sê die klein prinsie. “Ek wou jou nie seermaak nie, maar dis jy wat wou hê ek moet jou mak maak …”

“Natuurlik,” sê die jakkals.

“Maar nou gaan jy huil!” sê die klein prinsie.

“Natuurlik,” sê die jakkals.

“Maar dan het jy niks daardeur gewen nie!”

“Wat ek daardeur gewen het,” sê die jakkals, “is die kleur van die koring.

[/us_hwrapper]

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek het nie regtig ʼn gunstelingouteur nie. Ek verkies wel sekere genres: fantasie, avontuur, raaisel- en liefdesverhale, drama, historiese fiksie en strokiesprente. Ook verkies ek sekere karakters: sterk, driedimensionele vrouekarakters met ʼn stem!

Boeke vind my gewoonlik, eerder as dat ek hulle vind, dus maak dit nie saak wie die outeur is nie, solank die verhaal wat vertel word, boeiend is.

Wat lees jy op die oomblik?
Die Practical Magic-reeks deur Alice Hoffman.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ongetwyfeld werklike boeke met papierbladsye. Dit, op sigself, is ʼn liefdesverhaal.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek het party van die Harry Potter-boeke weer gelees omdat ek nog baie jonk was toe ek hulle die eerste keer gelees het. Maar daar is niks soos om ʼn boek vir die heel eerste keer te lees nie. Dis nooit weer dieselfde nadat daardie eerste betowering verby is nie.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Die jakkals in Die Klein Prinsie (veral wanneer hy met James Franco se stem praat).

Het jy miskien ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Om eerlik te wees, is die hele Die Klein Prinsie ʼn belangrike lewensles, maar hierdie woorde van die jakkals het die grootste indruk op my gemaak:

[us_hwrapper]

“My geheim is baie eenvoudig. Hier is dit: Dis net met die hart dat jy werklik kan sien. Wat regtig belangrik is, is onsigbaar vir die oog.”

[/us_hwrapper]

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Almal, van jonk tot oud, behoort Die Klein Prinsie te lees.

 

Tags: , , , , , ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,

Is dit nou ‘is’ of ‘are’? 

Wat Engels betref, is dít die skeidslyn: aan die een kant het jy (blykbaar) goed opgevoede (vermoedelik) eerstetaalsprekers; aan die ander het jy, wel, die res van die wêreld. Eenvoudig gestel beteken onderwerp-werkwoord-kongruensie dat ʼn enkelvoudige onderwerp werkwoorde in die enkelvoudsvorm vat en meervoudige onderwerpe werkwoorde in die meervoudsvorm. Maar as concord so eenvoudig is, hoekom beskou mense dit as so ʼn duidelike aanduiding dat jy die taal bemeester het (of nie)?

Dikwels lê die antwoord in die feit dat daar nie altyd eenstemmigheid is oor of die sinsonderwerp enkelvoudig of meervoudig is nie. Dit lyk met die eerste oogopslag onsinnig. Die meeste mense kan tog tussen een (enkelvoud) en meer as een (meervoud) onderskei.

Maar kyk na hierdie nuusopskrif: ‘Stellenbosch FC suffer first defeat of the season, but stay top of NFD log’. Die werkwoord ‘suffer’ is in die meervoudsvorm. Maar as mens dit herskryf, kan dit as volg lees: ‘They suffer their first defeat’ – meervoudsonderwerp, meervoudswerkwoord. Maar die sokkerklub se eerstespan is één span. Dis tog sekerlik ʼn onderwerp wat as enkelvoudig deurgaan?

Tradisioneel gesproke hanteer lidlande of voormalige lidlande van die Statebond die name van sportspanne (insluitende nasionale spanne) as plekhouers vir die meervoudsonderwerp ‘the players’. As jy nou die sin herskryf as ‘The players have suffered their first defeat’, dan het jy onderwerp-werkwoord-kongruensie.

ʼn Ander soort voorbeeld kan in maatskappye se slagspreuke gevind word. Elke nou en dan sal ʼn maatskappy ʼn oproep ontvang wat min of meer so lui: ‘Julle maatskappy se slagspreuk is verkeerd. Dit moet “When precision and accuracy matter meervoud lees, nie matters enkelvoud” nie.’ Het die mense wat sulke oproepe maak ʼn punt beet?

Wel, dit hang van twee verwante perspektiewe af. Eerstens, of die maatskappy ‘precision and accuracy’ as een konsep beskou (in welke geval dit ʼn werkwoord vir die enkelvoudsvorm nodig het) en, tweedens, wat die jargon vir die spesifieke bedryf is. As dit die norm in daardie bedryf is om ‘precision and accuracy’ as ʼn enkele konsep te beskou, dan moet dit ‘precision and accuracy matters’ wees. Nes met die sportspanne, dra die gebruikskonvensies in ʼn spesifieke area baie gewig – veel meer as die telstrategie (precision [een] plus accuracy [een] is gelyk aan twee, dus ʼn meervoudswerkwoord) waarop die meeste mense staatmaak om te bepaal of die werkwoord in sy enkelvouds- of meervoudsvorm gebruik moet word.

Hierdie veranderlikes onderstreep twee basiese punte. Eerstens is Engels, so te sê, ʼn taal met báie veranderlikes. En tweedens is taal veel meer as net ʼn kwessie van reg tel.