Dr Schalk van der Merwe, buitengewone senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch (US), is ’n gepubliseerde outeur en ’n ervare baskitaarspeler. Hy balanseer sy akademiese loopbaan met sy werk as professionele musikant, en put dikwels uit sy eie musiekervarings om sy navorsing te verryk. Van 2005 tot 2017 doseer hy geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, met die fokus op Afrika-geskiedenis. Sedert 2019 is hy betrokke by die US se Internasionale Kantoor waar hy in verskeie vakgebiede doseer, van Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis tot populêre kultuur en identiteit.
In sy doktorale navorsing wat hy in 2015 afgehandel het, het hy die politieke en kulturele dinamika van Afrikaanse musiek van die vroeë 20ste eeu tot in die post-apartheidsera ondersoek.
Hierdie studie het aanleiding gegee tot sy boek, On Record: Popular Afrikaans Music and Society, 1900–2017, wat temas dek soos Afrikanernasionalisme, sensuur tydens apartheid, klasseverskille, en rassepolitiek op die postapartheidspopmusiektoneel. Van der Merwe het tot dusvertot verskeie akademiese publikasies bygedra, met inbegrip van Fuck off! Fokofpolisiekar’s Afrikaans Punk in the Postcolony en Ghosts of the Popular: The Hidden Years Music Archive and the Interstices of South African Popular Music History (saam met Lizabé Lambrecht).
Hy is reeds vir ‘n aantal jaar ‘n gereelde gasbesoeker by die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente, waar hy op verhalende wyse sleutelgebeure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis met studente deel en bespreek. As deel van die kursus se tienjaarviering het ons hom ʼn paar vrae gevra.
Schalk, jy bied self twee kursusse aan by Stellenbosch Internasionaal as deel van die globleonderwysprogram (Global Education Programme). Vertel ons asseblief kortliks waaroor jou kursusse handel?
Die een is “Overview of South African History”, wat ’n verkenning is van die groot temas in ons geskiedenis, van die eerste mense tot die Regering van Nasionale Eenheid (RNA). Die ander kursus is “South African Popular Culture and Identity”, wat meer interdissiplinêr is en byvoorbeeld kyk hoe die raakpunte van taal, ras en klas uitdrukking kry in kultuurpraktyke. Ons luister nogal baie na musiek in die klas, van hiphop, kwaito en amapiano tot Afrikaanse popmusiek. Ons kyk ook na dinge soos “sites of memory”, met spesifieke verwysing na Sophiatown en Distrik Ses.
Jy is nou al vir omtrent drie jaar ‘n gereelde gas by die Afrikaanse taal- en kultuurkursus, waar jy ’n gaslesing aanbied wat fokus op ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Wat dink jy is die verband tussen geskiedenis en herkoms wanneer dit kom by die vorming van ’n spesifieke kultuur en identiteit? Hoekom, sou jy sê, kan ’n mens ‘n beter begrip van ‘n kultuur kry deur meer van daardie kultuur se geskiedenis te leer?
Dit voel of ek al langer betrokke is! O, ek dink die twee loop hand aan hand. Narratiewe soos ‘wie ek/ons is’ word gevorm onder, en in reaksie op, spesifieke historiese omstandighede. ʼn Mens moet hierdie omstandighede verstaan as jy kultuur en identiteit wil verstaan. ’n Goeie plaaslike voorbeeld – en Suid-Afrika is ryk aan sulke voorbeelde – is die ontwikkeling van ’n Afrikanervolksidentiteit en die gepaardgaande Afrikanerkultuur. Dit wat die meeste van ons waarskynlik onder hierdie terme verstaan, was nooit ’n gegewe uitkoms nie. Die idee van ’n ‘volk’ is iets wat doelbewus geskep is onder die vaandel van Afrikanernasionalisme namate dit vastrapplek gekry het in die politiek van die vroeë twintigste eeu. Daar was ook ander ideologieë in omloop, maar dié het mettertyd al hoe minder invloed gehad. Die feit dat daar so baie belê is in veral wit Afrikaanse skoolleerplanne wat sterk klem gelê het op volksidentiteit, het bygedra daartoe dat dit vandag nog redelik sterk voortbestaan.

Dr Van der Merwe met uitruilstudente uit België en Nederland in die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente in 2017.
Wat sou jy sê is die belangrikste aspekte van ons komplekse geskiedenis wat internasionale studente behoort te verstaan – veral wanneer dit kom by die geskiedenis en herkoms van Afrikaanssprekendes?
Wanneer ek werk met internasionale studente – wat meestal uit Europa afkomstig is – is dit belangrik om kolonialisme en die impak daarvan noukeurig uit te stip. Hulle kom nie van koloniale en postkoloniale wêrelde af nie. In hulle wêreld is die konstruksie van byvoorbeeld ras nie so ’n sentrale historiese faktor nie, terwyl dit baie sentraal staan in Suid-Afrika se geskiedenis. Wanneer dit kom by die geskiedenis en herkoms van Afrikaans, is dit noodsaaklik om die taal se diversiteit uit te beeld, asook hoe dit in diens gestaan het van prosesse van sosiale verandering. Ek belig gewoonlik die slawe se invloed om die ontwikkeling van die taal en die kulturele elemente daarvan wat ons nog vandag kan raaksien, duidelik te maak. Die feit dat Afrikaans onder unieke omstandighede ontstaan het, en dat dit een van net vier tale is wat tydens die twintigste eeu gestandaardiseer is, is ook belangrike gesprekpunte. Uiteindelik voel ek dat Afrikaans, vir ’n jong taal, al baie lewenservaring opgedoen het. Dit was byvoorbeeld ’n taal van konflik en ’n taal van onderdrukking, maar ook een van verset en hoop. Afrikaanse literatuur is ryk, en die Afrikaanse verbeeldingswêreld is diep en mooi.
Uiteindelik voel ek dat Afrikaans, vir ’n jong taal, al baie lewenservaring opgedoen het. Dit was byvoorbeeld ’n taal van konflik en ’n taal van onderdrukking, maar ook een van verset en hoop. Afrikaanse literatuur is ryk, en die Afrikaanse verbeeldingswêreld is diep en mooi.

Dr Van der Merwe (regs) met dosent Helga Sykstus (tweede van regs) en ‘n groep studente van België en Nederland by die ‘Eet Kreef Herleef!’-musiekkonsert by Woordfees, 2020.
– deur Helga Sykstus