Ons dien kwartaalliks inligting in vir moontlike plasing in die Universiteit Stellenbosch (US) se Bestuursverslag aan die Senaat en Raad. Ons vertel graag ook hier waarmee die Taalsentrum in die laaste kwartaal, van die begin van Mei tot die einde van Julie, besig was.
1. ’n Florerende Universiteit Stellenbosch
Die bevordering van institusionele meertaligheid by die US
Die SU het hom daartoe verbind om die Wes-Kaapse streektale, Afrikaans en Xhosa, as akademiese tale te ontwikkel en te onderhou, en om die Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) te ondersteun. Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid onder studente en personeel maak deel uit van die inisiatief om die institusionele kultuur aan die US te vermenslik. Ons doen hier onder verslag oor die Taalsentrum se bedrywighede in die tweede kwartaal van 2026.
-
Tolking in drie tale tydens die nuwe Kanselier se inhuldiging

SASL-, Xhosa- en Afrikaanstolke by die inhuldiging van die US se nuwe Kansellier
Die Taalsentrum het tydens die inhuldiging van die US se nuwe Kanselier op 20 Junie tolking in Xhosa, Afrikaans en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) voorsien. Lesetja Kganyago, Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, is amptelik ingehuldig as die instansie se 16de Kansellier, nadat hy reeds sedert Januarie 2025 in daardie amp dien. Die inhuldigingseremonie het in die Endlersaal plaasgevind.
Tolking by sulke hoëprofielgeleenthede is ʼn belangrike aspek van die verwelkoming van ʼn meertalige gehoor en van die erkenning van die waarde van die tale wat gebruik word.
-
Say My Name-werksessie
Die Taalsentrum het op 29 Mei 2025 die Say My Name-werksessie, wat deur personeel van verskeie departemente en fakulteite bygewoon is, met groot sukses aangebied. Die doel daarvan was om bewustheid van die korrekte uitspraak van name te verskerp as ʼn stap in die rigting van wedersydse respek in meertalige ruimtes. Die deelnemers het laat weet dat dié ervaring genotvol en betekenisvol was en dat daar deurgaans lewendige deelname was. Ons hoop dat meer personeel in die toekoms by soortgelyke sessies sal baat.

-
Splinternuwe Afrikaanse Stylgids vir almal by US beskikbaar
Die US se splinternuwe Afrikaanse Stylgids, gemik op US-personeel en studente, is op 1 Julie vrygestel en is hier beskikbaar. Dit is heel gepas dat die Stylgids die lig sien in die jaar waartydens ons die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as ʼn amptelike Suid-Afrikaanse taal vier.
Die Stylgids vir Afrikaans is bedoel om ʼn toeganklike hulpbron te wees oor die gebruik van Afrikaans vir die hele US-gemeenskap en enige iemand anders wat dit wil gebruik. Ons hoop dat hierdie gids sal verseker dat die taal wat ons gebruik om namens die Universiteit inligting oor te dra en te kommunikeer, by die US se beeld pas en ooreenstem met ons visie en identiteit as ʼn universiteit. Derhalwe bevat die Stylgids riglyne en interne reëls eerder as ʼn volledige stel universele grammatikareëls, en die voorkeure wat in die Stylgids weerspieël word, is dié van die instansie.
Net soos sy Engelse eweknie, die SU Style Guide, is die Stylgids vir Afrikaans deur die Universiteit se Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking aangevra en ná ʼn konsultasieproses waarby die hele US betrek is, deur die Taalsentrum saamgestel. Die Stylgids moet saam met die Handelsmerkgereedskapstel gebruik word, wat meer leiding verskaf oor die eenvormige US-handelsmerk se toepassing in die manier waarop ons die Universiteit visueel aanbied en hoe ons daarvan praat.

ʼn Skermskoot van ʼn bladsy in die Stylgids vir Afrikaans
-
Verkenning van geborgenheid deur taal: Personeelwerksessie bevorder verbintenis en insluiting by US
Op 17 Junie het die Taalsentrum die eerste Zive usekhaya: Language and Belonging at Stellenbosch University-werksessie, wat deur 15 personeellede bygewoon is, suksesvol aangebied. Hierdie sessie wat ruimte bied vir nadenke maak deel uit van die Taalsentrum se meertalige ingesteldheid-reeks. Die inisiatief het aan deelnemers ʼn ruimte gebied om hulle tuishoortgevoel te versterk en taal en identiteit te verken deur stories te vertel, en deur besprekings en kralewerk. Die werksessie het verbintenis, interkulturele bewustheid en betekenisvolle dialoogvoering oor insluiting by ons meertalige kampuskultuur bevorder. Soortgelyke werksessies vir studente word vir later vanjaar beplan om hulle ervarings daarvan om by die US tuis te hoort, te versterk.



2. ʼn Transformerende studente-ervaring
-
Die US Taalsentrum se Skryflabaktiwiteite in die eerste semester
Die Taalsentrum se Skryflab het dit ten doel om ʼn veilige, vriendelike omgeeruimte te skep wat persoonlike ondersteuning bied aan studente van verskillende fakulteite en kampusse. Tussen Januarie en Mei het net meer as 1 391 skryfkonsultasies plaasgevind. Die Skryflab konsulteer in eksamentye en gedurende vakansies, wanneer konsultasies hoofsaaklik met nagraadse skrywers is. Konsultasies vind van aangesig tot aangesig in die Skryflab plaas, of aanlyn in MS Teams met afstandstudente en enige ander studente op die plek van hul keuse.
Gedurende die verslagtydperk het die Skryflab deurlopend deur skryfkonsultasies met die volgende groepe saamgewerk:
- Landbou-ekonomie 478 en 781
- Ekonomie 214
- Kurrikulumstudies (Afrikaans Huistaal eerstejaar- en vierdejaarstudente) (Opvoedkunde)
- Entrepreneurskap en Innoveringsbestuur
- Politieke Wetenskap 114
- Tegniese Kommunikasievaardighede (Ingenieurswese)
- Wetenskaplike Kommunikasievaardighede (Natuurwetenskappe, in samewerking met die Taalsentrum)
- MBA
- Volhoubare Ontwikkeling
- Navorsingsopdrag 743 (Sakebestuur)
Dan het die Skryflab ook gewerk met dosente en studenteskrywers wat onafhanklik navraag gedoen het.
Die Skryflab lei konsultante deurlopend op. In Mei het die Skryflab met die Sentrum vir Leertegnologieë saamgewerk om die konsep van kunsmatige intelligensie (KI) te ondersoek ten einde konsultante te help om voorbereid te wees wanneer hulle konsultasies het met studente wat KI in hulle skryfwerk gebruik. Konsultante bestudeer ook skryfsentrumpedagogiek en die verskille en ooreenkomste tussen verskillende skryfsentrums se metodologieë wat betref skryfkonsultasies. Dit maak konsultante sensitief vir die verskillende behoeftes van meertalige studente uit verskillende opvoedkundige agtergronde.
Gehalte is vanjaar verbeter deur die gebruik van elektroniese waarnemings- en evalueringsvorms vir maklike en effektiewe datavaslegging. Waarnemings maak deel uit van konsultante se opleiding en behels dat konsultante mekaar waarneem en terugvoer oor mekaar se konsultasies gee. Studente se terugvoer oor hul konsultasie-ervarings word gebruik om te verseker dat daar in studente en dosente se spesifieke behoeftes voorsien word, en dat dit vir alle studenteskrywers en dosente aan die US ʼn positiewe ervaring is om met die Skryflab te werk.
-
Kampuskursusse
Die Taalsentrum het die jaar afgeskop met meer as 50 studente wat ingeskryf het vir die interaktiewe taalkursusse, Kampus-Xhosa en Kampusafrikaans. Hierdie kursusse word gratis aangebied vir alle studente wat hulle taalvaardighede graag wil verbeter, en word in ʼn ontspanne en stimulerende omgewing aangebied waar studente enersdenkende eweknieë kan ontmoet en by ʼn dinamiese netwerk van taalleerders op die kampus kan aansluit. Twee van ons onlangse deelnemers het dit só gestel: “Dit was ʼn ongelooflike ervaring om in staat te wees om selfs net ʼn kort gesprekkie met Xhosa-sprekers te voer”, en “Die energie in die klas en die positiewe, ondersteunende atmosfeer tussen nuwe vriende wat almal Afrikaans wil leer, het vir ʼn werklik genotvolle ervaring gesorg.”

Een van die Kampus-Xhosa-groepe

Aanbieder Nika Ndlela met ʼn paar van die deelnemers aan die Xhosa-kursus
-
Die uitbreiding van toegang deur Suid-Afrikaanse Gebaretaal
In ’n betekenisvolle stap na akademiese insluiting het die Taalsentrum, in vennootskap met die Fakulteit Natuurwetenskappe, by die ISCB‑Africa ASBCB-konferensie oor Bioinformatika, wat van 14 tot 17 April 2025 in Kaapstad plaasgevind het, tolking in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) voorsien aan ’n Dowe honneursstudent. Hierdie geleentheid, wat navorsers en studente in rekenaarbiologie byeengebring het, het ’n seldsame geleentheid gebied vir SASL-tolke om betrokke te raak by gespesialiseerde wetenskaplike terminologie en diskoers. Die span tolke, wat as van die beste in Suid-Afrika beskou word, het die ervaring as professioneel verrykend beskryf en die belangrikheid van inklusiewe toegang tot akademiese inhoud op hoë vlak beklemtoon. Die Fakulteit Natuurwetenskappe word geloof vir sy proaktiewe toewyding tot toegang en vir die skep van ruimte vir volle akademiese deelname in ’n hoogs gespesialiseerde veld.


Die Taalsentrum het in die eerste semester die -kortkursus vir 13 deelnemers aangebied. Om deelnemers wat die beginnerskursus voltooi het in staat te stel om hul SASL-kennis verder uit te brei, is ’n opvolgkortkursus, SASL – Elementêre vlak A2, vanjaar ontwikkel en nege deelnemers het die eerste aanbieding voltooi.
Nog ʼn kortkursus, die SASL-Opleierskursus, is ontwikkel en sal later vanjaar aangebied word. Dié kursus is daarop gemik om eerstetaalgebruikers van SASL toe te rus met die kennis en vaardighede om ʼn beginnerskursus in SASL vir ’n breër gehoor te ontwerp, te ontwikkel en aan te bied. Dit stel kernkomponente van kursusontwikkeling bekend, met inbegrip van basiese struktuur en analise, onderrigmetodologie, assesseringsontwerp en grondbeginsels van sake-Engels.
3. Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke
Internasionalisering deur meertaligheid
Die US is een van ses wêreldwye vennootuniversiteite waarmee EUTOPIA – buiten sy kernalliansie van tien Europese universiteite – saamwerk om ’n internasionale ruimte vir die uitruil van taal- en kultuurkennis te skep. In Mei is die US aangewys as EUTOPIA se Universiteit van die Maand danksy die instansie se bevordering van meertaligheid deur verskeie aktiwiteite op kampus. In die hoofartikel het dr Kim Wallmach, Direkteur van die Taalsentrum, opgemerk:
Stellenbosch – as ʼn dorp en as ʼn kampus – is ʼn plek waar baie gesprekke tans plaasvind oor identiteit, ʼn tuishoortgevoel en regstelling; vervleg met taal, soos altyd. Een van die bydraes wat die US kan maak […], is om ʼn ruimte te voorsien waar studente van ander lande kan ervaar hoe ’n meertalige, dog verdeelde, gemeenskap oor verskille onderhandel en ooreenkomste vind.”
Deur die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid werk die Taalsentrum aan die uitbou van studentegemeenskappe, asook aan die ontwikkeling van kursusse en vennootskappe om die ervarings van internasionale studente wat die US besoek, te verbeter. Onlangse inisiatiewe sluit in:
-
Studente van die Universiteit van Georgia leer Afrikaans en Xhosa
In Mei het die Taalsentrum die voorreg gehad om ʼn groep van 16 studente van die Universiteit van Georgia in die VSA te ontvang vir ʼn kort taalverwerwingskursus in Afrikaans en Xhosa. Die studente het dit terdeë geniet om met dié twee tale om te gaan en ’n kort maar betekenisvolle kennismaking met die taalkundige en kulturele diversiteit van ons streek te beleef. Die Taalsentrum sien uit daarna om die Universiteit van Georgia weer in die toekoms te verwelkom en om die rykdom van Afrikaans en Xhosa – die tale en kulture – verder met internasionale besoekers te deel.

-
Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente vier tien jaar
Die Taalsentrum se Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente het aan die einde van die eerste semester vanjaar tien jaar se taal- en kultuurleer gevier. Hierdie mylpaal word gevier met ʼn reeks sosialemedia- en blogplasings op die Taalsentrum se sosialemediaplatforms in samewerking met US Internasionaal.


ʼn Hoogtepunt was ʼn onderhoud met Sen Joostens, ʼn oudstudent uit België wat studente van die KU Leuven tans ondersteun om Afrikaans te leer. Deur die jare het reeds meer as 200 studente uit België en Nederland die kursus bygewoon.
-
Die Universiteit Stellenbosch brei sy vennootskap met die Ivoorkus uit
Tussen 4 Julie en 1 Augustus het ʼn groep van 28 meestersgraadstudente van die Institut National Polytechnique Félix Houphouët-Boigny (INP-HB) in die Ivoorkus die Taalsentrum besoek. Dit was die vierde groep sedert 2023 en die tweede groep in 2025. Die doel van hulle besoek was om hulle vaardigheid in algemene en sake-Engels te verbeter. Vorige studente het genoem dat een van die voordele van hulle verblyf by die US die geleentheid was om dikwels Engels te praat – hulle kon in hulle daaglikse handel en wandel in en om Stellenbosch Engels praat en sodoende leer om veel beter in Engels te kommunikeer.
As deel van ʼn nuwe samewerkingsooreenkoms met die Kamer van Koophandel van die Ivoorkus sal ʼn groep van nege lede van 4 tot 18 Julie ʼn Intensiewe Engels-program (IEP) van twee weke deurloop. Hierdie studente is professionele lede van die Kamer van Koophandel se taaldepartement, en hierdie ooreenkoms is deur die Eerste Sekretaris van die Departement Internasionale Betrekkinge en Kommunikasie (DIRCO) van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Abidjan in die Ivoorkus geïnisieer.
-
Intensiewe Engels-program (IEP) 2025

IEP-studente en hulle onderwyser (Ammie) in die klaskamer
Verder het 15 internasionale studente (uit Duitsland, Suid-Korea, Japan, Madagaskar, DRK, Benin, Saudi- Arabië, Rusland en Italië) in Julie ingeskryf vir IEP-blokke.
-
Drietalige kreatieweskryfwerksessies vir personeel van Hazendal-wynlandgoed
In die eerste semester het die Taalsentrum doelgemaakte werksessies vir kreatiewe skryf in Engels, Afrikaans en Xhosa op die Hazendal-wynlandgoed vir ʼn groep van 15 deelnemers aangebied.
Een van die hoofdoelstellings van die werksessies was om die Hazendal-personeel se vaardighede op verskeie vlakke op te skerp en hulle te bemagtig, en om hulle samehorigheidsgevoel as ʼn span te versterk.

Bongiwe Dlutu (Xhosa-Taalsentrumaanbieder) met vier van die Hazendal-personeellede wat die sessies bygewoon het
4. Genetwerkte en samewerkende onderrig
-
EQUiiP-somerskool bevorder groei en insluiting

Estelle Meima van die Universiteit van Groningen en Vernita Beukes van die SU se Taalsentrum, aanbieders van die Interkulturele Groepsdinamika-module by die EQUiiP-somerskool in Groningen.
Dr Vernita Beukes, ʼn dosent by die Taalsentrum, was een van die vyf lede van ʼn internasionale paneel wat die EQUiiP-somerskool aan die Universiteit van Groningen van 16 tot 20 Junie vanjaar aangebied het. Die EQUiiP-program is ʼn samewerkende somerskool wat eweknieleer en die deel van onderrigpraktyke aanmoedig vir die professionele ontwikkeling van praktisyns. Deelnemers het van Iran, Kroasië, Letland, Suid-Afrika en Nederland gekom, wat aan sowel aanbieders as deelnemers die geleentheid gebied het om met opvoeders van regoor die wêreld te netwerk.
Die program het gefokus op die internasionalisering van die kurrikulum, die identifisering van effektiewe strategieë om inklusiewe klaskamers te skep, en die ontwikkeling van praktiese vaardighede om die beginsels van universele ontwerp vir leer te gebruik om in studente se uiteenlopende behoeftes te voorsien.
Die uiteenlopende agtergronde en ervarings van die deelnemers het die besprekings verryk en veelvoudige perspektiewe verskaf op die uitdagings en geleenthede in die internasionalisering van leerplanne en die skep van inklusiewe klaskamers. Samewerkende aktiwiteite en groepbesprekings het die uitruil van gedagtes en beste praktyke gefasiliteer, en ʼn gemeenskapsgevoel en wedersydse ondersteuning bevorder.
5. Navorsing vir impak
Die Taalsentrum doen deurlopend geteikende navorsing om beste praktyk toe te pas.
6. Voorkeurwerkgewer
-
Verbetering van interkulturele praktyke in taalonderrig
Kollegas wat betrokke is by die onderrig van Afrikaans en Xhosa by dieTaalsentrum het aan ’n tweedelige professionele ontwikkelingsreeks deelgeneem wat gefokus het op die boek, Developing the Intercultural Dimension in Language Teaching (Council of Europe, 2002). Die sessies, aangebied in Maart en Junie 2025, het ruimte geskep vir personeel om krities in gesprek te tree met grondliggende konsepte en praktiese strategieë om interkulturele bevoegdheid in meertalige klaskamers te bevorder. Aanbieders en deelnemers het nagedink oor hoe hierdie idees met die Suid-Afrikaanse konteks resoneer, en insigte gedeel wat in huidige onderrigpraktyke gegrond is.
-
Taalsentrum se Kommunikasielab-kortkursusse versterk professionele kommunikasie by die US
Die Taalsentrum se Kommunikasielab het in die verslagtydperk voortgegaan met sy werk om professionele kommunikasie aan die US meer vaartbelynd te maak. Een van die kortkursusse wat aangebied is, is:

Die Adjunkdirekteur van Interne Kommunikasie by die Departement van Beplanning, Monitering en Evaluering in die Presidensie, Tshwane, was een van die deelnemers aan hierdie kursus. Personeel van Studentewerwing, Maties Gimnasium en ander omgewings het dit ook bygewoon.
Hierdie gewilde kursus is op 20 en 21 Mei aangebied. ʼn Totaal van 13 deelnemers, ses bemarkingskundiges van die tafeldruifuitvoerder EXSA, en personeel van Koshuisdienste, die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking, die Buro vir Ekonomiese Navorsing en die Taalsentrum het dit bygewoon.
Terugvoer wat ontvang is: “Uitstekende kursus wat my verwagtinge oortref het met die goeie balans tussen teorie en praktiese toepassing. Die terugvoer was altyd konstruktief, en as fasiliteerder het Eduard ʼn veilige ruimte geskep waar ons kon leer met genoeg tyd om die inhoud te dek. Ek kon geen fout vind met hierdie kursus nie en beveel dit sterk aan.”
Vyf personeellede en twee eksterne professionele persone, ʼn mediese dokter met haar eie praktyk en ʼn senior superintendent van die Stad Kaapstad se munisipaliteit, het hierdie kursus in Mei en Junie bygewoon. Een van ons deelnemers het die volgende te sê gehad daaroor:
Uitstekende kursus. Die aanbieder het almal deel van die groep laat voel en dit vir ons maklik gemaak om te deel. Dit het my selfvertroue gegee, en die terugvoer oor werkopdragte was waardevol.”
Bydraers:
Vernita Beukes
Arne Binneman
Sanet de Jager
Bongiwe Dlutu
Fatima Halday
Christine Joubert
Anne-Mari Lackay
Susan Lotz
Andréa Müller
Helga Sykstus
Kim Wallmach
René Wheeler



