Category: Uncategorized @afr

ʼn Kykie na Afrikaanse taal en kultuur, pasgemaak vir Nederlandssprekende uitruilstudente

[us_image image=”18771″ size=”us_600_600_crop”]

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum is al vir meer as 20 jaar betrokke by die Global Education Programme van die US se Internasionale Kantoor met die aanbied van ʼn Beginnerafrikaanskursus vir besoekende studente. In 2015 is daar besluit om die aanbod uit te brei na ʼn pasgemaakte kursus, naamlik ʼn Afrikaanse taal- en kultuurkursus spesifiek gerig op studente uit Nederland en België met Nederlands as moedertaal. Aangesien Afrikaans ʼn sustertaal van Nederlands is, kan daar op soveel méér as bloot taalkunde en die verwerwing van Afrikaans gefokus word. En alhoewel Nederlandse studente die behoefte het om ʼn beetje Afrikaans te praat, wil meeste ook iets oor die kultuur van die taal en die land ervaar.

Die taalkomponent van die kursus fokus hoofsaaklik op die verskille tussen Afrikaans en Nederlands ten opsigte van uitspraak, spelling en sekere taalstrukture. Studente leer ook van die leenwoorde in Afrikaans ontleen uit ander tale as Nederlands, soos ‘baie’, ‘gogga’, ‘babelaas’ en ‘mielie’, om maar ʼn paar te noem. ʼn Ander onderwerp wat lei tot ʼn lekker gelag en soms groot verwarring is die groot aantal valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Dink maar aan woorde soos ‘amper’, ‘vaak’, ‘vies’ en dan, natuurlik, die Nederlands vir ‘kat’.

Ten opsigte van kultuur volg ons ʼn eklektiese benadering. Ons probeer vir studente ʼn oorkoepelende ervaring bied van Afrikaanse kultuur, in al sy kompleksiteit en kleurrykheid. Onderwerpe wat ondersoek en bespreek word, sluit in identiteit, herkoms, geskiedenis en die ekonomies-politiese rol van die Afrikaanssprekende groep. Studente kry blootstelling aan verskillende soorte tekste soos Afrikaanse kortverhale, gedigte en akademiese artikels, asook musiek en films. Aan die hand hiervan moet hulle dan hul eie ervaring en verstaan van die taal en kultuur illustreer. Verder kry studente die geleentheid om die taal en kultuur buite die lesinglokaal te ervaar met uitstappies na die Stellenbosch Village Museum, die Afrikaanse Taalmonument asook ʼn wynproe in Afrikaans by een van die omliggende wynplase. ʼn Hoogtepunt in die kursus is wel die gassprekers wat die studente kom besoek om oor hul ervaring van taal, herkoms en identiteit te gesels. Die eerste jaar wat die kursus aangebied is, het die sanger Koos Kombuis en die landskapskunstenaar Strydom van der Merwe die studente kom verras. Ons het ook al die bekende digter Diana Ferrus op besoek gehad en meer onlangs die AfriKaapse kletsrymer Jitsvinger, wat ʼn besondere indruk op die studente gemaak het. ʼn Gereelde en gewilde besoeker is die kletsrymer Frazer Barry, ook die voorsanger van die groep Tribal Echo, wat graag sy liefde vir musiek en Afrikaans, asook sy eie herkoms met die studente kom deel.

Die uiteindelike doel met die kursus is om hierdie studente se horisonne gedurende hul kort tydjie in Stellenbosch en Suid-Afrika te verbreed sodat hulle met ʼn ryker ervaring as net kennis van die Afrikaanse stereotipes wat wentel om braaivleis, melktert en rugby terugkeer na Europa. Studenteterugvoer soos hierdie bevestig dat die kursus die spyker op die kop slaan: “Ek het elke Afrikaanse les geniet en gedink dit is regtig ‘n toevoeging tot my semester hier in Stellenbosch. Dankie vir hierdie kursus en die fasiliteerder se eindelose verbintenis, wat seker waardeer word!”

– deur Helga Sykstus

Tags: ,

Podsendingvertaling om meertalige aanlyn leer te ondersteun – e-pos aan dosente

Datum: 3 Februarie 2021
Onderwerpreël: Podsendingvertaling om meertalige aanlyn leer te ondersteun

Beste Kollega

Namens die Taalsentrum sê ons baie welkom terug en beste wense vir 2021!

Verder wil ons jou graag daaraan herinner dat die Taalsentrum se Tolkdiens gereed is om, deur opnames van jou lesings te vertaal, jou te help verseker dat jou studente maklike toegang het tot aanlyn lesings in meer as een taal.

In die era van uitgebreide noodafstandsonderrig en -leer is ons podsendingvertaaldiens uiters gerieflik en waardevol. Ons kan ʼn lesingopname van 25 minute binne ongeveer drie werksdae as ʼn vertaalde podsending lewer: in Engels of Afrikaans (en waar van toepassing in Xhosa), sodat jy dit op SUNLearn kan laai vir jou studente.

Op hierdie manier –

  • voldoen jy aan die vereistes van die US Taalbeleid;
  • bespaar jy tyd: jy hoef nie alles twee keer op te neem nie;
  • het studente toegang tot inhoud in Afrikaans en Engels (en Xhosa, waar van toepassing); en
  • werk jy saam met professionele, ervare opvoedkundige tolke aan die US.

Om opeenhoping te vermy, vra ons dat jy jou lesingopnames so gou as wat jy dit voltooi aan ons stuur. Moet asseblief nie wag tot op die laaste nie – ons het tyd nodig om voorbereiding, vertaling, post-produksie en gehaltebeheer vir elke podsending te doen. Gebruik www.wetransfer.com om die lêers na christinejoubert@sun.ac.za te stuur (hulle is te groot vir gewone e-pos). Ons sluit ʼn infografiek in wat die stappe verder uiteensit. Klik ook gerus hier om na kort voorbeelde van ons werk te luister en te kyk – dit is maar ʼn voorsmakie van die meer as 1 250 opnames wat ons sedert die begin van die inperking in 2020 gemaak het!

ʼn Tolk sal jou voor die begin van die eerste kwartaal kontak vir ʼn kort gesprek op MS Teams sodat ons kan seker maak dat ons in voeling met mekaar is.

Ons gesels binnekort. Sterkte met die voorbereiding vir die akademiese jaar.

Vriendelike groete

Taalsentrum se Tolkdiens