Category: Kursusse

Taleweek 2025 by die US, met iets vir alle studente en personeel

Dis weer tyd vir die EUTOPIA-US Taleweek – vanjaar vanaf 3 tot 7 Maart. Taleweek by Stellenbosch Universiteit (US) word georganiseer deur die US Taalsentrum, en beloof om ’n besondere week te wees. Kom vier taal, kultuur en diversiteit saam met ander mense wêreldwyd! 

Taleweek by die US is gemik op studente en personeel, en bied drie geleenthede wat in lewende lywe bygewoon kan word en vier aanlyn geleenthede, alles gratis. Die van aangesig tot aangesig-geleenthede sluit in ’n interaktiewe Taalkafee-aand, ’n meertalige Karaoke-middagete-sessie en ’n Afrikaanse Poësie-aand aangebied deur die studentevereniging VER[r]AS. Die aanlyn geleenthede bied drie taalaanleer-ervarings gedurende etenstyd om jou ’n voorsmakie te gee van ’n taal wat jy dalk wil verken: ’n Xhosa-voorsmaakkursus, ’n Suid-Afrikaanse Gebaretaal-voorsmaakkursus en ’n Afrikaans-voorsmaakkursus. Daarbenewens is daar ’n interakiewe aanlyn sessie wat die onderlinge verband tussen die US se konsep van ’n meertalige ingesteldheid en interkulturele vaardighede ondersoek, getiteld Ondersoek en Ontwikkel ʼn Meertalige Ingesteldheid (Exploring and Developing a Multilingual Mindset). Besprekings vir US-geleenthede word deur Eventbrite hanteer – hier vind jy meer inligting oor al die geleenthede, asook skakels om te registreer. 

Meer geleenthede is aanlyn beskikbaar deur die EUTOPIA-alliansie – kyk hier na wat aangebied word. Instellings regoor die wêreld neem deel aan EUTOPIA Taleweek, wat gedurende daardie week aan personeel en studente van alle EUTOPIA-vennote die geleentheid bied om aanlyn geleenthede regoor die wêreld by te woon en sodoende met mekaar wisselwerking te hê. Die US is een van ses globale vennootuniversiteite waarmee EUTOPIA buite sy kern-alliansie van tien Europese universiteite saamwerk om ’n internasionale toegangspunt vir die uitruil van kennis en kultuur te skep. 

Registreer gou om jou plek te verseker. Inligting oor venues en skakels vir aanlyn deelname sal ná registrasie gestuur word. Laat asseblief die organiseerders weet indien jy van plan verander nadat jy geregistreer het, sodat hulle jou plek vir iemand anders kan beskikbaar kan maak en nie onnodig vir jou voorberei nie. 

Stuur ’n e-pos aan languagesweek@sun.ac.za vir navrae of kansellasies. 

Tags: , , , , , , ,

Xhosa-kursusse vir US-personeel nou gratis

Goeie nuus vir personeel wat vanjaar Xhosa wil begin leer of wil voortbou op wat hulle reeds geleer het! Xhosa-kursusse vir personeel sal gedurende 2024 gesubsidieer word, wat beteken dat personeel die Masabelane A1- en A2-kursusse wat die Taalsentrum gedurende die middaguur aanbied, gratis kan bywoon. Registrasies sluit op 1 Februarie vir die eerste aanbieding wat op 7 Februarie begin.

Stembele Johnson, Xhosa-dosent by die Taalsentrum, is baie entoesiasties daaroor om kollegas meer oor die Xhosa-taal en -kultuur te leer. “Wanneer jy Xhosa aanleer, maak dit dit ook vir jou moontlik om maklik met sprekers van ander Nguni-tale soos Zoeloe, SiSwati en Ndebele te kommunikeer,” verduidelik Stembele.

“Om Xhosa te leer kan dus vir jou deure na die praat van vier Suid-Afrikaanse tale oopmaak.” Sy geniet dit om haar studente te help om deel te word van ’n breër Xhosa-kultuur in ’n aanmoedigende leer- en onderrigomgewing.

As jy ’n volkome beginner is, beveel Stembele aan om met die Masabelane (Beginner) A1-kortkursus te begin. Deur hierdie kursus te doen sal jy aktief werk aan ’n meertalige ingesteldheid in die kantoor en in die klas, en na afloop van die kursus sal jy basiese gesprekke in Xhosa kan begin. Jy gaan verseker ook ’n nuwe liedjie of twee leer!

Beginner A1-kursusdatums (registreer hier):

  • 7 Februarie – 8 Maart (NB: registreer voor 1 Februarie)
  • 7 April – 26 Junie
  • 15 Julie – 4 September
  • 16 September – 6 November

Masabelane A2 (Elementêr) is ’n kortkursus gemik op personeel met ’n beginnerkennis van Xhosa. Dit is die ideale opvolgkursus as jy die oorspronklike Masabelane A1-kursus reeds voltooi het en jou kennis van die taal wil uitbrei. As jy Masabelane A1 nie bygewoon het nie, maar reeds bietjie isiXhosa ken, is jy ook welkom hier. Dit is ’n genotvolle kursus wat jou ’n taalkundige en kulturele voorsmaak van Xhosa as ’n taal in ’n breër kulturele konteks bied. Teen die einde van die kursus behoort jy sosiale Xhosa selfversekerd te kan praat en die kern van sosiale gesprekke te kan verstaan. Jy sal ook ’n basiese kennis hê van Xhosa-grammatika, -woordeskat en idiomatiese uitdrukkings.

Elementêr A2-kursusdatums (registreer hier):

  • 7 April – 24 Julie (Registreer voor 22 Maart)
  • 20 Augustus – 6 November

Jy kan ook ’n e-pos stuur aan Stembele by ssjohnson@sun.ac.za as jy meer wil uitvind oor die kursusse.

Tags: ,

Meryl se TEFL-avontuur

Meryl Davidson het haar TEFL-kursus by die Engels-portefeulje aan die US se Taalsentrum voltooi en toe vir twee jaar in Suid-Korea gaan Engels gee. Haar TEFL-kwalifikasie stel haar in staat om Engels plaaslik sowel as internasionaal as ʼn vreemde taal te onderrig. Ons het aan Meryl ʼn paar vrae gevra oor die verrykende ervaring om oorsee te reis en te werk.

Wat het jou laat besluit om TEFL te kies?
Ek het dit besluit toe ek op ʼn plek in my lewe was waar ek nie ʼn permanente werk in Suid-Afrika kon kry nie, besig was om ouer te word, en vir myself moes kon sorg. Omdat ek boonop bitter graag wou reis, het ek sommer geweet dis die perfekte opsie vir my.

Watter deure het jou TEFL-kwalifikasie vir jou geopen?
Ek het twee jaar lank in Suid-Korea Engels gegee, en in daardie tydperk het ek kruis en dwars deur Suidoos-Asië gereis – iets waarop min mense hulle kan roem.

Ek het ʼn nuwe perspektief op die wêreld gekry en dit was inderdaad ʼn lewensveranderende ervaring. Sonder my TEFL-kwalifikasie sou ek dit beslis nie kon doen nie.”

Reis lê my baie na aan die hart en ek omring myself graag met verskillende kulture en tradisies. Ek het standhoudende vriendskappe gesluit en bande gesmee, en ek is steeds in aanraking met die meeste mense wat ek gedurende my tyd oorsee ontmoet het. Ek het dit ook geweldig geniet om my in die Asiese kultuur te verdiep en om dinge op dieselfde manier as die Asiërs te doen. Toe ek eers terug was in Suid-Afrika, was dit byvoorbeeld vir my baie moeilik om nié my skoene uit te trek voordat ek in my eie huis of ander mense se huise ingaan nie!

Op watter maniere het die TEFL-kursus jou vir die werk self voorberei?
Die TEFL-kursus wat ek by die US se Taalsentrum bygewoon het, was ʼn baie intensiewe program wat vier weke geduur het. In die loop van daardie vier weke is ons voorberei op elke enkele scenario wat moontlik kan afspeel in ʼn klaskamer waar Engels as ʼn vreemde taal onderrig word. Ofskoon niks ʼn mens werklik op die lewe in ʼn ander land kan voorberei totdat jy dit self ervaar nie, het die TEFL-kursus my beslis op baie maniere voorberei op wat my in die klaskamer te wagte kon wees.

Kan jy drie redes met ons deel waarom jy dink iemand dit gerus kan oorweeg om die TEFL-kursus by te woon en in die buiteland te gaan werk?

  1. Daar is nie nog so ʼn bevrydende gevoel as die gevoel wat ʼn mens ervaar wanneer jy op iets méér of iets anders besluit nie, as dit is wat jy werklik wil doen.
  2. Dit verander jou op ʼn manier wat jy jou glad nie sou kon indink nie. Jou manier van dink, jou perspektief en jou wêreldbeskouing verander. Alles wat jy gedink het jy weet, verdwyn.
  3. Jou onafhanklikheid is jou grootste bate. Daar is geen beter manier om onafhanklik te word as om die onbekende op jou eie aan te durf nie. Hou op om iemand te wees wat altyd net hoor van die wye wêreld daarbuite. Gaan kyk self!

Wil jy dalk ʼn TEFL-kursus bywoon?

Ons volgende voltydse kursus begin op 26 Junie en ons volgende deeltydse TEFL-kursus begin op 24 Julie, en daar is nog plek vir jou! Jy sal egter teen 16 Junie moet aansoek doen vir die voltydse kursus, en teen 14 Julie vir die deeltydse kursus.

 

[us_cta title=”” btn_label=”Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fproduct%2Fteaching-english-as-a-foreign-language-tefl%2F|target:_blank|” btn_style=”2″]Ons gaan later vanjaar ook weer kursusse aanbied. [/us_cta]
Tags: , , ,

ʼn Kykie na Afrikaanse taal en kultuur, pasgemaak vir Nederlandssprekende uitruilstudente

[us_image image=”18771″ size=”us_600_600_crop”]

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum is al vir meer as 20 jaar betrokke by die Global Education Programme van die US se Internasionale Kantoor met die aanbied van ʼn Beginnerafrikaanskursus vir besoekende studente. In 2015 is daar besluit om die aanbod uit te brei na ʼn pasgemaakte kursus, naamlik ʼn Afrikaanse taal- en kultuurkursus spesifiek gerig op studente uit Nederland en België met Nederlands as moedertaal. Aangesien Afrikaans ʼn sustertaal van Nederlands is, kan daar op soveel méér as bloot taalkunde en die verwerwing van Afrikaans gefokus word. En alhoewel Nederlandse studente die behoefte het om ʼn beetje Afrikaans te praat, wil meeste ook iets oor die kultuur van die taal en die land ervaar.

Die taalkomponent van die kursus fokus hoofsaaklik op die verskille tussen Afrikaans en Nederlands ten opsigte van uitspraak, spelling en sekere taalstrukture. Studente leer ook van die leenwoorde in Afrikaans ontleen uit ander tale as Nederlands, soos ‘baie’, ‘gogga’, ‘babelaas’ en ‘mielie’, om maar ʼn paar te noem. ʼn Ander onderwerp wat lei tot ʼn lekker gelag en soms groot verwarring is die groot aantal valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Dink maar aan woorde soos ‘amper’, ‘vaak’, ‘vies’ en dan, natuurlik, die Nederlands vir ‘kat’.

Ten opsigte van kultuur volg ons ʼn eklektiese benadering. Ons probeer vir studente ʼn oorkoepelende ervaring bied van Afrikaanse kultuur, in al sy kompleksiteit en kleurrykheid. Onderwerpe wat ondersoek en bespreek word, sluit in identiteit, herkoms, geskiedenis en die ekonomies-politiese rol van die Afrikaanssprekende groep. Studente kry blootstelling aan verskillende soorte tekste soos Afrikaanse kortverhale, gedigte en akademiese artikels, asook musiek en films. Aan die hand hiervan moet hulle dan hul eie ervaring en verstaan van die taal en kultuur illustreer. Verder kry studente die geleentheid om die taal en kultuur buite die lesinglokaal te ervaar met uitstappies na die Stellenbosch Village Museum, die Afrikaanse Taalmonument asook ʼn wynproe in Afrikaans by een van die omliggende wynplase. ʼn Hoogtepunt in die kursus is wel die gassprekers wat die studente kom besoek om oor hul ervaring van taal, herkoms en identiteit te gesels. Die eerste jaar wat die kursus aangebied is, het die sanger Koos Kombuis en die landskapskunstenaar Strydom van der Merwe die studente kom verras. Ons het ook al die bekende digter Diana Ferrus op besoek gehad en meer onlangs die AfriKaapse kletsrymer Jitsvinger, wat ʼn besondere indruk op die studente gemaak het. ʼn Gereelde en gewilde besoeker is die kletsrymer Frazer Barry, ook die voorsanger van die groep Tribal Echo, wat graag sy liefde vir musiek en Afrikaans, asook sy eie herkoms met die studente kom deel.

Die uiteindelike doel met die kursus is om hierdie studente se horisonne gedurende hul kort tydjie in Stellenbosch en Suid-Afrika te verbreed sodat hulle met ʼn ryker ervaring as net kennis van die Afrikaanse stereotipes wat wentel om braaivleis, melktert en rugby terugkeer na Europa. Studenteterugvoer soos hierdie bevestig dat die kursus die spyker op die kop slaan: “Ek het elke Afrikaanse les geniet en gedink dit is regtig ‘n toevoeging tot my semester hier in Stellenbosch. Dankie vir hierdie kursus en die fasiliteerder se eindelose verbintenis, wat seker waardeer word!”

– deur Helga Sykstus

Tags: ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,

Kry daardie klapklanke onder die knie vir Menseregtedag

Op 23 Februarie het die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthwethwa, nuwe name vir sommige dorpe en stede in die Oos-Kaap aangekondig. Van die name is Port Elizabeth, nou Gqeberha; Maclear, nou Nqanqarhu; en King William’s Town, wat voortaan as iQoonce sal bekend staan. Die meeste mense – of hulle nou Afrikaans, Engels of selfs Xhosa praat – voel heel onseker oor die klapklanke in hierdie nuwe name en is maar bra versigtig om hulle te probeer uitspreek. Die herbenamings lyk nie of dit baie goed ontvang is nie, en daar is mense wat besig is met petisies om die naamsveranderinge te probeer omkeer.

Maar kan ons iets positief hieruit put?

Zandile Kondowe, Xhosa-dosent by die Taalsentrum, vertel van ʼn ervaring wat inderdaad die hart verwarm. Toe sy oor die nuwe name met van haar eertydse en huidige studente gesels, het hulle heerlik saam gesels – selfs op sosiale media. Hulle het sommer ook ingespring en mense begin leer hoe om die nuwe name uit te spreek en waardering vir hulle aan te kweek. “Op hierdie manier het hierdie studente nie net waardering en eerbied vir my as hulle Xhosa-dosent uitgedruk nie, maar hulle het ook gewys dat hulle alle Xhosa-sprekers respekteer en dat hulle boonop vir Xhosa as taal en die Xhosakultuur eerbied en waardering het. Om hulle toewyding só te sien het my herinner aan Neville Alexander, wat ʼn groot voorstander daarvan was om Afrikatale op kragdadige maniere en in verskillende sosiale domeine te gebruik.”

Vir Zandile is haar studente se toewyding ook ʼn wonderlike voorbeeld van respek vir menseregte. “In plaas daarvan om die manier waarop die nuwe dorpe se name uitgespreek moet word te kritiseer, het hulle dit op hulself geneem om te leer hoe om hulle uit te spreek en daarna ook uitgereik om ander te help wat sukkel met die uitspraak.”

Zandile wil graag enigeen by die Universiteit wat onseker is oor die uitspraak van hierdie name uitnooi om haar te e-pos by kondowe@sun.ac.za. Ons wil baie, baie graag help en jou leer hoe om die name uit te spreek. Boonop het ons heerlike, interaktiewe Xhosa-kortkursusse waarvoor mense kan inskryf!”

Kyk gerus na twee kort video’s van Zandile se studente om jou vere reg te skud vir daardie klapklanke!

Adnene Janse van Rensburg help ons om die klapklanke baas te raak:

En hier is nog hulp van Austin Pepar:

– deur Zandile Kondowe en Susan Lotz

Tags: , , , ,

Kom ons vier daardie eerste een

Dis waarskynlik die taal waarin jy iets minder mooi sal sê as jy groot skrik. Die kans is groot dat jy ook in hierdie taal droom. As jy gelukkig is, sal jy kleuterversies daarin ken, en dalk selfs ʼn paar argaïese uitdrukkings en opgemaakte woorde…

ʼn Mens se moedertaal is ʼn soort instinktiewe taal – diep ingebedde kennis wat vir jou as volwassene voel asof dit eenvoudig nog altyd daar was, en iets wat op die vreemdste tye na vore kan kom. Dit is gepas om ʼn internasionale dag te hê om erkenning te gee aan hierdie baie persoonlike en kosbare hulpbron wat ons help om sin van die wêreld te maak. ʼn Mens se moedertaal of eerste taal dien ook as wegspringplek om meer tale te leer – soms met soveel sukses dat dit vir party mense later moeilik is om te onderskei tussen hul eerste en tweede taal.

Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier. Vir ons by die Taalsentrum verskaf dit groot vreugde om erkenning aan hierdie dag te gee, en dit bevestig ook ons bestaansrede op ʼn baie diep vlak. Taal begin by die eerste taal wat jy aanleer, en die wonder van daardie eerste taal leef voort en verder deur al die ander tale waarvoor jy jouself oopstel. Wanneer jy leer skryf en praat in ʼn ander taal as jou moedertaal, stimuleer en verbreed dit interkulturele ervarings en dialoog tussen mense. Ons glo heelhartig dat kennis van en liefde vir verskillende tale kan bydra tot sterker verhoudings tussen mense, kulture en organisasies. Wanneer ons taalvaardigheid by die Taalsentrum aanmoedig en aankweek, moedig ons ons studente en kliënte aan om alles te gee wanneer hulle nuwe tale saam met ons aanleer – of dit nou Xhosa, Afrikaans of Engels is.

Internasionale Moedertaaldag nooi elkeen van ons uit om vir ʼn oomblik stil te staan en na te dink; om te onthou hoe dit vir elkeen van ons op ʼn talige manier begin het. Wat is jou verhouding met die taal waarmee jy jou wêreld die heel eerste keer kon benoem? Hierdie dag gee ons ʼn kans om daardie persoonlike en individuele beginpunt te waardeer en te erken. Die viering van hierdie dag help om ons onderskeie erfenisse te bewaar en moedig ons aan om deel te word van ʼn meertalige, kultuurryke samelewing wat ʼn tuiste is vir ʼn verskeidenheid tale. Maar dit begin alles met daardie baie belangrike eerste een: die moeder van alle tale.

deur Susan Lotz, Kim Wallmach en Zandile Kondowe

International Mother Language Day poster
Tags: , , ,

Só maak jy by aanlyn geleenthede

Wie sou nou kon dink dat ons almal so vaardig met tegnologie sou kon raak? Die Covid-19-pandemie en die maatreëls wat in plek gestel is om ons veilig te hou, het baie gevolge tot dusver gehad.  Een van die goeies is dat gewone mense skielik werklik merkwaardige dinge met tegnologie regkry, solank daar ʼn stabiele internetverbinding en geskikte virtuele platform is. Virtuele vergaderings, aanlyn klasse en ander geleenthede op MS Teams, Zoom of soortgelyke platforms het ons lewens (en huise) heel onseremonieel binnegekom en dit lyk of dit hier is om te bly. Die Taalsentrum bied ook verskeie aanlyn geleenthede aan – of dit nou kursusse, seminare of vergaderings is. Om te verseker dat jy weet wat van jou verwag word en wat óm te verwag wanneer jy deelneem aan ʼn aanlyn geleentheid, het ons vir jou ʼn lysie saamgestel. Wanneer jy aanteken vir die sessie

  • Meld tien minute voor die begin van die sessie aan
  • Gaan jou klankverstellings na: jou luidspreker moenie stilgestel wees nie
  • Wanneer jy die vergadering binnegaan, maak jou mikrofoon stil en sit jou video af met die knoppies aan die onderkant van jou skerm
  • Jy is dalk lus om om hallo te sê deur jou kamera vir ʼn oomblik aan te sit en ʼn vinnige wuif te gee, maar sit dit gerus weer af totdat jy ʼn bydrae lewer

Gedurende die sessie Laat jouself toe om ten volle teenwoordig te wees. Vermy afleidings soos sosiale media of e-pos-aankondigings. Skep ʼn fisieke ruimte wat daartoe bydra dat jy kan fokus en deelneem – oorweeg dit om voor die sessie ʼn kennisgewing wat sê ‘moenie vir die volgende uur steur nie’ teen jou deur of op jou lessenaar te plaas. Neem deel Jy het die opsie om ‘onsigbaar’ te bly, maar sessies is juis bedoel vir deelname, en vrae is altyd welkom. Dit is die beste om die aanbieder nie verbaal in die rede te val nie, maar jy kan jou hand opsteek (daar’s ʼn knoppie daarvoor!) of jy kan eers jou vraag in die teksgebaseerde geselsforum tik en dit dan herhaal wanneer daar geleentheid is om interaksie te hê. As jou vraag nie in die sessie beantwoord is nie, kan jy ʼn persoonlike e-pos ná die tyd aan die aanbieder stuur. Gewoonlik is daar vrae wat eenvoudig nie beantwoord word nie omdat daar so baie daarvan is, nie omdat dit doelbewus oorgeslaan word nie. Volg netiket

  • Wees hoflik en beleefd, en hou die gesprekstoon hoflik en lig
  • Deel jou eie (toepaslike) ervarings
  • Bou voort op besprekings
  • Antwoord as jy sinvolle inligting kan deel
  • Tik volsinne en gebruik duidelike taal
  • Gebruik die @-funksie om ʼn kommentaar aan iemand spesifiek in die geselsforum te stuur. Tik eers ‘@’ en dan die naam of e-posadres (bv. ‘Ek het ʼn soortgelyke vraag aan @PietPompies@sun.ac.za oor …’).
  • Wees inklusief

Maak notas, maar… Neem (geskrewe of getikte) notas van die belangrikste konsepte en moontlike opvolgvrae. Probeer om nie die sessie te transkribeer nie, want dit sal heel waarskynlik opgeneem word en die opname sal waarskynlik daarna beskikbaar gestel word. Tegniese notas Oor die formaat van aanbieding en die aanlyn platforms wat ons gebruik Aanlyn kursusse sal op SUNOnline of Microsoft Teams aangebied word. Jy sal ʼn uitnodiging via e-pos vir elke sessie ontvang, waarskynlik op die dag waarop die sessie aangebied word. Klik eenvoudig op Join Microsoft Teams Meeting of iets soortgelyks vir ander platforms om na ʼn bladsy te gaan waar jy op die web by die sessie kan aansluit (of laai die app af). As jy reeds die app het, sal die vergadering outomaties oopmaak. As jy nie die app het nie, kan jy die instruksies hier onder volg om MS Teams of Zoom te installeer. Ons stel voor dat jy die betrokke app installeer voordat jy ons regstreekse sessies bywoon. Oor die toerusting wat jy nodig het ʼn Slimtoestel (rekenaar, tablet of slimfoon met internettoegang) en verkieslik oorfone met ʼn mikrofoon is wat jy nodig het. Die gewone oorfoontjies wat waarskynlik saam met jou slimfoon gekom het, sal piekfyn wees. Oor jou internetverbinding Jy sal ʼn stabiele internetverbinding en genoeg data moet hê. Omdat die sessies regstreeks geskied, sal jou verbinding se spoed beïnvloed hoe goed jy ʼn aanbieder en sien en hoor, en of jy vertragings of vriesoomblikke sal ervaar. Om die kanse hiervoor te verklein kan jy sorg dat jy nie meerdere webbladsye (vensters) oop het nie en ook nie enige lêers aflaai terwyl die geleentheid aan die gang is nie. Hoe om Microsoft Teams of  Zoom te installeer MS Teams: Gaan na https://teams.microsoft.com/downloads en klik op Download Teams. Volg die instruksies om die app te installeer. Zoom: Gaan na https://zoom.us/download#client_4meeting  en laai die eerste opsie af, naamlik Zoom Client for Meetings. Volg die instruksies om die app te installeer. Nie seker dat jy alles oor netiket weet nie? Klik op die infografiek vir meer inligting:

Met dank aan die US Sentrum vir Leertegnologieë vir die aanvanklike beskikbaar maak van hierdie inligting.

Só maak jy by aanlyn geleenthede