Category: 10-jaar vieringe

Tien jaar van Afrikaanse taal en kultuur vir Nederlands-sprekende uitruilstudente: ’n Onderhoud met Sen Joostens

Sen Joostens het in 2020 die Afrikaanse taalen kultuurkursus vir Nederlanssprekende studente as  Belgiese uitruilstudent aan die US voltooi. Vandag fasiliteer hy die aanleer van Afrikaans aan studente en personeel aan KU Leuven. Hy is ook een van die samestellers van ’n handboek, Baie Afrikaans, wat onlangs in België verskyn het, en  waarvoor hy die Afrikaanse Taalraad se Junior Koker vir Afrikaans gewen het.  

Ons het met Sen gesels tydens sy onlangse besoek aan die US om hom te vra oor sy ervaring van ons Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente, wat vanjaar tien jaar se fasilitering van kulturele leer vier. “Afrikaans is ’n warm taal …  ’n taal wat moontlikhede skep, wat ’n mens baie geleenthede kan gee”, vertel Sen. “Ja, daar is baie redes hoekom ’n mens Afrikaans wil leer.” 

Kyk gerus die hele onderhoud op ons YouTube-kanaal.  

Tags: , , , , , ,

Wen met woorde!

Kan jy aan nuwe kreatiewe Afrikaanse woorde dink vir die Engelse wrap, hotspots en trolling? Kom wys dan jou staal en neem deel aan die Taalsentrum se Nuwe Woorde-kompetisie wat ter viering van ons tiende verjaarsdag vanaf 1-31 Oktober gehou sal word. Jy staan die kans om’n R 1000-boekbewys van Protea Boekwinkel of The English Dictionary for South Africa van Pharos Woordeboeke te wen.

Klik op http://yourls.sun.ac.za/kompetisiecompetition en stuur vandag nog jou Afrikaanse nuutskeppinge in.

Navrae: Karlien Cillié

 

Spesiale seminaar

Dr Tove Skutnabb-Kangas en Dr Robert Phillipson bied ‘n spesiale seminaar aan ter viering van die Taalsentrum se 10de bestaansjaar.

Onderwerp: Counteracting market-force monolingualism in a multilingual world, respecting linguistic human rights in education, and fighting poverty through language policy.

Datum: 5 Oktober, 2012

Tyd: 10:00 – 12:30

Plek: Ouditorium, JS Gericke Biblioteek

RSVP: Teen 1 Oktober by Beire Kramer

Dr Tove Skutnabb-Kangas is aktief betrokke by minderhede se stryd om taalregte. Haar navorsingsfokus is veral op linguistiese menseregte, linguistiese volksmoord, linguisisme (linguisties beredeneerde rassisme), tweetaligheid en veeltalige onderwys, linguistiese imperialisme en die subtraktiewe verspreiding van Engels, ondersteuning van bedreigde tale, en die verwantskap tussen linguistiese en kulturele diversiteit en biodiversiteit. Sy is die skrywer of redakteur van nagenoeg 50 boeke en monografieë, en van sowat 400 hoofstukke in boeke en artikels in vaktydskrifte – in 32 tale. Haar jongste publikasies sluit in The earth’s linguistic, cultural and biological diversity (tesame met Luisa Maffi en David Harmon, 2003), Imagining multilingual schools: Language in education and globalization (red. tesame met Ofelia García en María Torres-Guzmán, 2006) en Multilingual education for social justice: Globalising the local (red. tesame met Ajit Mohanty, Minati Panda en Robert Phillipson, 2009). Besoek haar webtuiste vir ʼn uitgebreide lys van haar publikasies: http://www.tove-skutnabb-kangas.org/en/all_publications.html.

Dr Robert Phillipson is emeritusprofessor in die Departement Internasionale Taalstudies en Rekenaarlinguistiek aan die Kopenhaagse Sakeskool, in Denemarke. Sy navorsingsveld sluit in die rol van Engels in die moderne wêreld, redes vir die verspreiding daarvan en implikasies vir ander tale; linguistiese imperialisme, taal en mag, en linguistiese oorheersing; postkoloniale, postimperiale en neo-imperiale tale; taalregte, linguistiese menseregte, linguistiese geregtigheid asook taalpedagogie, en die aanleer van Engels. In 2012 is hy met UNESCO se Linguapax-prys vereer. Enkele van sy publikasies sluit in Linguistic imperialism continued (2009), Social justice through multilingual education (red. tesame met Tove Skutnabb-Kangas, Ajit Mohanty en Minati Panda, 2009), Multilingual education for social justice: Globalising the local (red. tesame met Ajit Mohanty, Minati Panda en Tove Skutnabb-Kangas, 2009) en English-only Europe? Challenging language policy (2003).

 

Kampusresies

As deel van ons 10-jaar vieringe sal 52 studente Vrydagmiddag (28 September) aan ʼn kampusresies deelneem.

Altesame 13 groepe met vier lede elk sal na ses verskillende punte (geboue) oor kampus beweeg. Hulle sal by elke gebou ʼn leidraad in Afrikaans/Engels ontvang wat hulle na die volgende gebou sal stuur. Die groep wat eerste by die eindpunt opdaag, wen ʼn kontantprys van R500 elk. Studente sal dus hul taalkennis, maar ook hul kennis van plekke op kampus moet gebruik om die resies suksesvol te voltooi.

Hierdie aktiwiteit is een van twee wat vir studente gehou word om die Taalsentrum se 10-jarige bestaan te vier. Die ander studente-aktiwiteit is ʼn aanlynkompetisie waarop studente Afrikaanse en Engelse neologismes moet skep. Studente met die beste neologisme wen dan ook kontantpryse.

Die kampusresies begin by Bosmanstraat 7 en dit skop af om 13:00. Dit behoort nie langer as ʼn uur te duur nie (afhangende van hoe vinnig die deelnemers die roete kan voltooi).