Deprecated: Return type of WP_Hook::current() should either be compatible with Iterator::current(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 482

Deprecated: Return type of WP_Hook::next() should either be compatible with Iterator::next(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 495

Deprecated: Return type of WP_Hook::key() should either be compatible with Iterator::key(): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 508

Deprecated: Return type of WP_Hook::valid() should either be compatible with Iterator::valid(): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 521

Deprecated: Return type of WP_Hook::rewind() should either be compatible with Iterator::rewind(): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 532

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetExists($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetExists(mixed $offset): bool, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 424

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetGet($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetGet(mixed $offset): mixed, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 438

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetSet($offset, $value) should either be compatible with ArrayAccess::offsetSet(mixed $offset, mixed $value): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 452

Deprecated: Return type of WP_Hook::offsetUnset($offset) should either be compatible with ArrayAccess::offsetUnset(mixed $offset): void, or the #[\ReturnTypeWillChange] attribute should be used to temporarily suppress the notice in /home/taalsentrum/public_html/english/wp-includes/class-wp-hook.php on line 469
Skryfwenke – Stellenbosch University Language Centre

Category: Skryfwenke

Moedertaaldag 2022: Kom ons kyk verder as ons eie taal

International Mother Language Day poster

Ons vier elke jaar op 21 Februarie Moedertaaldag. Dis gepas om op hierdie dag ʼn tydjie af te staan om daardie eerste taal te vier; dié een wat dit vir elkeen van ons moontlik gemaak het om ons belewenis van die wêreld te begin uitdruk. Baie mense is so gewoond daaraan om elke dag in hulle moedertaal sake te doen dat dit hulle nie eers opval nie. Vir ander is dié luukse nie beskore nie.

ʼn Alternatiewe manier om ons eie moedertaal te vier, is om uit te reik en die moedertale van die mense om ons doelbewus te leer en te gebruik. Van vanjaar af het ons die voorreg om alle amptelike kommunikasie aan die hele US in die drie amptelike tale van ons provinsie, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te ontvang (en te skep).

Dit beteken dat daar baie meer Xhosa-vertalings as ooit tevore by die Universiteit gedoen word. En baie van ons wil graag inklusief wees en meertaligheid orals in die Universiteit aangryp, selfs al is dit nie as deel van amptelike kommunikasie nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat bitter min US-personeellede eiehandig tekste in Afrikaans, Engels én Xhosa die lig kan laat sien. Ons het almal ʼn mate van taalsteun nodig. En steun is daar, in baie verskillende gedaantes. Die bronne wat ʼn mens inspan, hang onder meer af van die doel waarvoor die betrokke materiaal gebruik gaan word. Hoe groter die beoogde gehoor en hoe meer permanent die materiaal, hoe versigtiger moet ʼn mens wees om te verseker dat die vertaling van ʼn goeie gehalte is. Dit is ook van toepassing op inligting wat wetlik bindend of lewensveranderend is – of wat lewensbedreigend kan wees as dit verkeerd verstaan word.

Google Translate kan nuttig wees om in die verbygaan die strekking van ʼn woord, ʼn frase of ʼn geskrewe stuk te verkry. Ons moet egter onthou dat, hoe merkwaardig dit ook al is dat ʼn masjien kan ‘vertaal’, masjienvertalings beperkings het. As ons, as die gebruikers van die tegnologie, nie daardie beperkings begryp en rekening hou met die gepaardgaande risiko’s nie, maak ons maklik gekke van onsself. Masjienvertalings kan nie aflei wat die konteks van woorde is nie, en konteks bepaal gewoonlik alles.

ʼn Onlangse klassieke voorbeeld was ʼn geval van aanwysings op die kampus in Xhosa, wat veronderstel was om urinale in ʼn gebou op die kampus aan te dui. Google Translate is geraadpleeg, en die resultaat, wat tot by die uitlegstadium by die drukker gegaan het, sou ons almal in die verleentheid gebring het as die ekwivalent van daardie masjienvertaalde aanwysings in ons onderskeie moedertale op die kampus aangebring sou wees vir almal om te sien. Gelukkig is die ramp net betyds afgeweer, ʼn taalpraktisyn is geraadpleeg, en vandag kan ʼn mens daardie urinale op die kampus vind danksy aanwysings in duidelike, aanvaarbare Xhosa, Afrikaans en Engels.

[us_hwrapper]

ʼn Beter manier om vertalings te bekom, is natuurlik om uit die staanspoor ʼn professionele taalpraktisyn te raadpleeg. Die Universiteit het ʼn hele Taaldiens tot sy beskikking by die Taalsentrum, met opgeleide personeel wat reg staan om te vertaal, te redigeer of raad te gee oor taalsake.”

[/us_hwrapper]

Om die beste eindresultaat spesifiek vir vertaling in Xhosa te verseker, sal dit help om van die volgende bewus te wees wanneer ʼn vertaling beplan word:

  • Xhosa is ʼn agglutinerende of saamklewende taal: Dit kombineer veel meer elemente in een woord as waarvan ʼn oningeligte Afrikaans- of Engelssprekende persoon sou kon droom. Dink byvoorbeeld aan singathanda, wat beteken ‘ons wil graag …’. Hierdie eienskap kan ellelange Xhosa-woorde tot gevolg hê, en moontlik selfs sinne wat uit een enkele woord bestaan.
  • Xhosa is ook ʼn taal waarin daar baie geparafraseer of omskryf word, soos wat in Frans die geval is. Samestellings word selde gebruik – ‘lessenaarlaai’ sal byvoorbeeld in Frans omskryf word as ‘die laai van ʼn lessenaar’. Op dieselfde manier sal ʼn mens in Xhosa eerder sê ‘sentrum vir taal’ (iziko leelwimi) as ‘taalsentrum’. Hierdie eienskap kan die taal pragtig verryk as dit op ʼn behendige manier toegepas word, en kan vereis dat ʼn mens sommige Engelse begrippe verduidelik sodat die Xhosa-vertaler dit in Xhosa kan parafraseer.
  • Geskrewe Xhosa benodig minstens 20% meer plek as die Afrikaanse en Engelse ekwivalente. Jou vertaling sal altyd langer wees as die bronteks. Die twee punte wat hierbo genoem word, het jou dalk ʼn aanduiding gegee van hoekom dit die geval sal wees.
  • Leenwoorde is nie altyd die beste oplossings in vertalings nie. Hulle versteur dikwels die gladde gang van die taal, soos wat anglisismes in Afrikaans doen. Sommige Xhosa-vertalers kry dit reg om uitstekende beskrywende oplossings te skep wat die taal verryk en die betekenis foutloos vasvang, sonder om die leesbaarheid van die teks in te boet. Kry so ʼn vertaler in jou span!
  • Nuwe terminologie word tans ontwikkel vir die nuwe omgewings waar ons Xhosa by die Universiteit begin gebruik. Kies jou vertaler goed; een wat deel uitmaak van ʼn netwerk van vertalers – ʼn praktykgemeenskap – wat mekaar en bestaande betroubare bronne raadpleeg oor vertaalekwivalente en terminologie.
  • Raadpleging neem tyd – ʼn Xhosa-vertaling kan langer neem as ʼn Afrikaanse of Engelse vertaling van dieselfde teks. Begin dus vroegtydig!

By die US kan ons almal deel wees van hierdie geleentheid om Xhosa verder te ontwikkel, al is dit nie ons moedertaal nie. Ons sal dit nie op ons eie – elkeen in ons eie klein hoekie – kan doen nie, maar as ons saam daaraan werk om ʼn meertalige ingesteldheid by die US te kweek, en namate ons vorder, dit met mekaar deel wat ons reeds geleer het, is daar wonderbaarlike potensiaal.

Probeer vanjaar iemand anders se moedertaal huldig. In dié proses sal jy jou eie moedertaal heel waarskynlik nog meer begin waardeer …

– deur Susan Lotz, geïnspireer deur die Taalsentrum se Xhosa-werkgroep (vertaal deur Ingrid Swanepoel)

Tags: , , , , , , , , , , , ,

Die uitkringeffek van taal

Die meeste van ons dink nie juis gedurende ons daaglikse doen en late aan taal as ʼn abstrakte begrip nie. Nogtans bepaal die taal wat ons in ons studies, by die werk en in ons persoonlike verhoudings gebruik ander mense se persepsies van wie ons is, hoe ons met mekaar omgaan en wat vir ons die belangrikste is.

Die manier waarop ons kommunikeer beïnvloed en verander die wêreld om ons en veroorsaak rimpelings wat wyd in ons lewens uitkring.

Nie almal van ons weet egter hoe om goed te kommunikeer nie, en ons vergeet dikwels dat kommunikasie nie bloot gaan oor wát ons sê nie, maar ook oor hoe dit ontvang word, en deur wie. Dit is omdat ons almal op verskillende maniere dink en dinge verstaan, en ons almal uit verskillende agtergronde kom en al verskillende dinge in die lewe ervaar het.

As ʼn mens dus beter wil kommunikeer, help dit nie om bloot jou woordeskat uit te brei of te sorg dat jy altyd die regte leestekens gebruik nie. Ons moet ook leer om die mense met wie ons die wêreld deel, te verstaan, om betekenisvolle verhoudings op te bou, om gemeensaamheid te bevorder en ʼn lewe te skep wat die moeite werd is.

Hier is drie verrassend eenvoudige maniere waarop taal kan help om jou lewe te verander:

1. Voldoening aan “POPIA”? Sê jou sê in min woorde en in eenvoudige taal.

ʼn Effektiewe boodskap moet pragtig aanmekaargesit wees en in eenvoudige taal geskryf wees. Soos die beroemde kontrabasspeler en jazz-musikant, Charlie Mingus, gesê het, “Dis maklik om eenvoud ingewikkeld te maak, maar om iets wat ingewikkeld is, eenvoudig te maak, wonderbaarlik eenvoudig – dít verg kreatiwiteit.” Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) het op 1 Julie 2021 in Suid-Afrika in werking getree en het gelei tot ʼn vloedgolf haas onverstaanbare regstaal oor voldoening aan dié wet se vereistes, soos die volgende:

“Vanaf vandag,1 Julie 2021, tree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (“POPIA”) in werking […] Derhalwe word u by wyse hiervan in kennis gestel dat u daarop geregtig is om te weier om sodanige toestemming te verleen en dat u genoemde reg mag uitoefen deur hierdie groep te verlaat/ lidmaatskap op te sê deur op die skakel onder aan hierdie e-pos te klik.”

As jy regtig wil hê mense moet hóór wat jy sê, moet jy onverstaanbare jargon tot elke prys vermy en presies sê wat jy bedoel – niks minder en niks meer nie. Miskien wil jy hulle selfs vir hulle deelname bedank, soos in die voorbeeld hier onder:

“Soos jy dalk al weet, het die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) op 1 Julie in Suid-Afrika in werking getree […] As jy wil aanhou om ons nuusbriewe te ontvang, kan jy ontspan. Jy moet heeltemal niks doen nie, en jy sal steeds van ons hoor.

As jy nie meer sulke kommunikasie van ons wil ontvang nie, klik asseblief op die TEKEN UIT-knoppie hieronder.

Dankie dat jy deel uitmaak van die gemeenskap waaraan ons bou.”

2. Gebruik ‘ons’ en ons s’n’, nie ‘ek’ en ‘jy’ nie: Bewerkstellig ʼn nouer verbintenis tussen mense eerder as om die afstand te vergroot.

Ons raak almal soms verstrik in ons eie woorde. Suksesvolle staatspresidente en HUB’s weet dat die beste manier om verskille tussen mense te oorbrug, is om ʼn eenvoudige storie te vertel oor mense met gedeelde waardes. Sprekers wat ‘ons’ en ons s’n’ gebruik eerder as ‘ek’ en ‘jy’ bring mense nader aan mekaar, soos president Nelson Mandela geweet het toe hy op 10 Mei 1994 sy intreerede aan die mense van Suid-Afrika en sy internasionale gaste gelewer het:

“Ons daaglikse handel en wandel as gewone Suid-Afrikaners moet ʼn ware Suid-Afrikaanse werklikheid skep wat die mensdom se geloof in geregtigheid versterk, hom weer laat glo dat alle mense inherent edel van inbors is, en ons almal se hoop op ʼn uitstekende lewe weer laat opvlam.

Dit is ons verskuldig aan onsself en aan die ander volke van die wêreld wat vandag so goed hier verteenwoordig is.

Aan my landgenote kan ek sê dat elkeen van ons sonder enige twyfel net so diep in die grond van ons wonderskone land gewortel is as Pretoria se bekende jakarandabome en die doringbome van die bosveld.”

Mandela was in staat om namens ‘ons’ te praat; mense wat heg verbind is aan die Suid-Afrikaanse bodem en gemeenskap van landsburgers, ondanks hulle uiteenlopendheid. Dit was ʼn meesterlike strategie en het die aandag gevestig op die natuurlike orde van dinge, versinnebeeld deur die grond – die vrugbare aarde – waarmee almal kon identifiseer.

3. Groet iemand in hulle taal, nie in joune nie. Kweek ʼn veeltalige ingesteldheid aan.

Wanneer ʼn mens iemand in hulle eie taal groet, wys dit dat hulle kultuur vir jou belangrik genoeg is dat jy iets daarvan te wete wil kom, en dit maak vir jou deure oop wat andersins dalk geslote sou gebly het.

Selfs ʼn eenvoudige groet weerspieël iets van iemand se kultuur en denkwyse. In sommige kulture word ʼn kopknik of ʼn glimlag byvoorbeeld as heeltemal voldoende beskou, maar die teendeel geld in Afrika-kulture. In Suid-Afrika word dit dikwels as onbeskof beskou om iemand wat jy in die straat raakloop, of terwyl jy toustaan, te groet bloot deur te glimlag of jou knop te knik. Selfs ʼn eenvoudige “Hallo” wat nie gevolg word deur “Hoe gaan dit?” nie, word as slegte maniere beskou. Dit slaan terug na die betekenisrykheid van tradisionele groetvorme wat ʼn vraag oor die welstand van die persoon en hulle familie, en selfs hulle voorvaders, insluit, soos hierdie groet in Zoeloe:

Sawubona. Ninjani? Dit beteken: Hallo (letterlik: Ons sien jou). Hoe gaan dit met jou?

Meertaligheid behels veel meer as ʼn gewilligheid om verskeie tale te leer en te gebruik. Dit is ook ʼn ingesteldheid. Dit rus ons toe om uit wyer en meer diverse ervarings te put, en om by ander mense betrokke te raak op ʼn manier wat tot hulle harte spreek; nie net tot hulle verstand nie.

Elkeen wat dit al gewaag het om ʼn nuwe taal aan te leer, kan daarvan getuig dat so ʼn leerervaring ʼn mens se hele lewe kan verander. Namate jou ervaring van ʼn taal in sy eie kulturele konteks uitbrei, sal jy vind dat die tale en kulture waarmee jy vertroud is nie in afsonderlike kompartemente van jou bewussyn bly nie, maar dat jy eerder ʼn kommunikerende, meervoudige taalvaardigheid opbou waartoe al jou kennis en ervaring van taal bydra, en waar die verskillende tale onderlinge verbintenisse vorm en met mekaar in wisselwerking tree.

Taal het, soos rimpelings in ʼn waterpoel, soms ʼn onverwagte en werklik wonderbaarlike effek wat wyd uitkring.

– deur Kim Wallmach

Dr Kim Wallmach is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Sy bedank haar kollegas in die departemente Afrikaans en Nederlands, Kurrikulumstudie en Moderne Tale en by die Taalsentrum vir hulle insette oor die waarde van meeltaligheid.

[us_image image=”17583″ size=”medium” style=”shadow-1″]

uit∙kring ww. [kring uit, het uitgekring]   (figuurlik)
soos in kringe al verder beweeg: Haar invloed is besig om wyd uit te kring; uitkringende kwaad. – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6)

ef∙fek 1 s.nw. [~te] die manier waarop iemand, iets, ʼn handeling of gebeurtenis iemand/iets verander: Die pille het ʼn slegte effek op my gehad. ○ Veelkleurige liggies sorg vir ‘n feestelike effek in die aand– HAT Afrikaanse skoolwoordeboek

Tags: , , , , , , , , , ,

Twintig jaar se ondersteuning sodat skrywers gehoor word waar dit saak maak

In Junie vanjaar vier die US Taalsentrum se Skryflab sy 20ste bestaansjaar. Ons by die Skryflab bied met trots ʼn verwelkomende, vriendelike en veilige ruimte aan waar studente en akademici die vrymoedigheid het om skryfkwessies te bespreek, wel wetend dat die toegewyde personeel en skryfkonsultante deurgaans reg staan om hulle met raad en daad te bedien.

Die Skryflab, wat vir prof Leon de Stadler (die Taalsentrum se voormalige direkteur) as ʼn droom begin het, het werklikheid geword toe die Lab in Junie 2001 sy deure oopgegooi het. Siende dat ons met soveel studente en jong, opkomende professionele mense werk, is dit gepas dat ons hierdie mylpaal in Jeugmaand uitlig.

By die Skryflab glo ons dat dit elkeen se goeie reg is om gesien en gehoor te word – maar as ʼn mens nie ‘universiteit’ kan praat nie, gaan jy nie ʼn stem op die kampus hê nie. Dit is waarom ons met skrywers saamwerk om hulle akademiese stemme te ontwikkel en hulle vermoë om hulle argumente te beredeneer, op te skerp. Ons portuurleerbenadering het ontwikkel uit progressief-pedagogiese Amerikaanse bewegings in die 1970’s en streef daarna om studente se toegang tot hoër onderwys te verbeter en hulle deelname aan akademiese aktiwiteite te verhoog.

Die Skryflab het ʼn ver pad gekom sedert sy nederige begin 20 jaar gelede in ʼn kantoor wat ons by die Universiteit se Departement Maatskaplike Werk geleen het. Sharifa Daniels en Rose Richards moes hierdie vertrek, en ook dieselfde e-posadres, deel! Dié kantoortjie was so klein dat een van die twee telkens moes uitgaan om plek te maak wanneer die ander een die rekenaar wou gebruik om ʼn e-pos te stuur. Die dekaan se kantoor was daar naby en dis ʼn ope vraag wat in sy kop aangegaan het toe hy elke nou en dan een van die twee in die gang sien rondstaan het. Twee verdiepings hoër, by die Departement Afrikaans en Nederlands, het Anne-Mari Lackay in ʼn gemeenskaplike kantoor ʼn lessenaar met ʼn paar ander mense gedeel. Nie een van ons het ʼn telefoon gehad nie en ons moes dus met die trappe op en af draf wanneer ons vir mekaar iets moes sê.

Destyds, in 2001, het ons met 20 studente gekonsulteer; deesdae het ons konsultasies met meer as 3 000 studente. Alhoewel Sharifa in 2018 afgetree het, werk Rose en Anne-Mari nog steeds by die Skryflab, waar Selene Delport, Vinelene Hartley en Celestia February intussen by hulle aangesluit het. Ongeveer 35 nagraadse studente wat opgeleide skryfkonsultante is, werk saam met ons. Talle van hierdie jong akademici word uiteindelik self studieleiers en mentors van jong skrywers.

Voor 2020 – die moeilike Covid-19-pandemiejaar – was ons konsultasies grotendeels van aangesig tot aangesig. Toe die pandemie posgevat het en ons gesien het hoe geïsoleer studente was en hoe bekommerd hulle oor hulle akademiese werk was, het ons die uitdaging aanvaar om ons konsultasies aanlyn te begin doen, met MS Teams. En dit gaan goed! Net in April het ons meer as 500 studente aanlyn bereik. Die skryfwerkwinkels vir nagraadse studente, waarvan ons ongeveer 60 per jaar aanbied, word ook nou aanlyn gehou en is baie gewild.

Dis vir ons ʼn eer om met studente te werk en ons is baie dankbaar vir die geleentheid om dit te kan doen. Hierdie skrywers is die stem van die toekoms, en as hulle goed kan skryf, sal hulle gehoor kan word waar dit saak maak. As jy akademiese skryfwerk het om te doen, oorweeg dit om te bespreek vir ʼn skryfkonsultasie by ons. Of, as daar enigiets anders is waarmee ons jou kan ondersteun, e-pos ons gerus!

– deur Rose Richards en Anne-Mari Lackay

Opmerking: Ons volg die voorgeskrewe Covid-19-protokolle. Hierdie foto’s is voor die pandemie geneem.

Tags: , , , , ,

Oor S se halfpadmerk

In April vanjaar is die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se vyftiende deel bekend gestel: Die tweede deel van die letter S, van ‘skool’ tot by ‘Sri Lankaans’. Daarmee saam kom ʼn addendum met nuwe woorde van A tot S – ʼn broodnodige byvoeging, want Deel I van die WAT (met woorde van A tot C) het in 1951 al verskyn. Van ‘amabokoboko’, ‘beurtkrag’ of ‘google’ was daar toe nog nie sprake nie! Werk aan die Woordeboek het in 1926 amptelik begin, en in 1929 neem die Universiteit die verantwoordelikheid vir die woordeboek oor.

Die WAT-redaksie is van Januarie af al besig om aan die derde en laaste deel van die letter S te werk, en hoop om dié deel binne twee jaar te voltooi. Meer redaksielede is verlede jaar aangestel om te help om teen 2029 by Z uit te kom.

Die WAT bevat baie meer woorde en inligting as byvoorbeeld die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) en spits hom juis daarop toe om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang te dokumenteer. Die WAT is dus ʼn gesaghebbende naslaanbron vir enige weetgierige of navorser oor Afrikaanse woorde, en is ook elektronies beskikbaar – tot op ʼn selfoon! Die Taalsentrum wens die WAT graag geluk met die vrystelling van Deel XV – ons is natuurlik entoesiastiese WAT-gebruikers.

Nie almal weet watter taalhulpbronne beskikbaar is nie, of waar om hulle te kry nie. Die Taaldiens het ʼn hulpbronneblad vir sy taalpraktisyns geskep waarby enigiemand kan baat: die blad bevat skakels na ʼn groot verskeidenheid e-woordeboeke, woordelyste en termlyste. Die jongste weergawe van die Taaldiens se eie Afr/Eng Vertaalekwivalentlys is ook daar beskikbaar. Die Taaldiens lewer ʼn professionele redigeer- en vertaaldiens vir kliënte enige plek in die wêreld. E-pos gerus vir Marguerite met ʼn versoek – ons kan jou in minstens 15 tale help!

Wanneer e‑ jou in die steek laat

Dit sal nie verregaande wees om te sê die hele Suid-Afrika het gehoop dit was Desember verlede jaar die laaste sien van beurtkrag nie. Ongelukkig het dit in ’n erger gedaante in Maart dié jaar teruggekeer, en ons het nou die toepassing van beurtkrag op hoër vlakke as ooit tevore ervaar, sommer vir 24 uur aaneenlopend. By die werk beteken dit ons moet óf ons eie data gebruik (as die mobiele netwerk beskikbaar is) om e-posse te stuur – en hoop ons skootrekenaars of fone laat ons nie in die steek nie – óf elektroniese stilte handhaaf wanneer die krag af is; gewoonlik vir twee ure of langer. Gelukkig gaan die wêreld steeds sy gang sonder elektroniese kommunikasie en dit, so kom ’n mens agter, het boonop sy eie voordele.

Stof ’n bietjie jou mensevaardighede af en gesels op die outydse manier van aangesig tot aangesig met die persoon in jou gebou vir wie jy die afgelope week die meeste e-posse gestuur het. ’n Paar jaar gelede het die Universiteit van Kalifornië (UCLA) bevind dat, hoe meer mense die skerm aanhang, hoe swakker raak hulle daarmee om emosionele leidrade waar te neem. Die UCLA het voorspel dat “diegene wat hierdie vaardigheid behou, beslis meer suksesvol in enige werkplek sal wees”. Terwyl hierdie studie op die prestasie van pre-tieners gefokus het, kan dit nie kwaad doen om seker te maak dat ons steeds met mekaar kan praat nie – van aangesig tot aangesig.

Die ander erg onderskatte nie-elektroniese manier van kommunikasie is die nederige kleefnota. Iets wat in 1968 begin het as ’n mislukte poging om ’n nuwe soort gom te maak, het in die 1970’s ’n bedryf van onmisbare heldergeel vierkantige papiertjies geraak. Verbruikersielkundige (en mededekaan van die Sam Houston State University) Randy Garner het bevind ’n versoek wat via ’n geskrewe kleefnota gestuur is, het amper twee keer die impak van ’n getikte versoek. Garner glo ’n boodskap wat op ’n kleefnota geskryf is, kom oor as ’n spesiale guns wat gevra word, wat die ontvanger belangrik laat voel en meer gewillig maak om aan die versoek te voldoen.

Hou moed. Net omdat daar dalk nie krag is nie, beteken dit nie jou hande is afgekap nie. Klop aan jou kollega se deur die volgende keer wanneer die ligte afgaan en jy oor werk wil praat. En belê in ’n paar kleefnotas!

 

 

When e- fails

Is dit nou ‘is’ of ‘are’? 

Wat Engels betref, is dít die skeidslyn: aan die een kant het jy (blykbaar) goed opgevoede (vermoedelik) eerstetaalsprekers; aan die ander het jy, wel, die res van die wêreld. Eenvoudig gestel beteken onderwerp-werkwoord-kongruensie dat ʼn enkelvoudige onderwerp werkwoorde in die enkelvoudsvorm vat en meervoudige onderwerpe werkwoorde in die meervoudsvorm. Maar as concord so eenvoudig is, hoekom beskou mense dit as so ʼn duidelike aanduiding dat jy die taal bemeester het (of nie)?

Dikwels lê die antwoord in die feit dat daar nie altyd eenstemmigheid is oor of die sinsonderwerp enkelvoudig of meervoudig is nie. Dit lyk met die eerste oogopslag onsinnig. Die meeste mense kan tog tussen een (enkelvoud) en meer as een (meervoud) onderskei.

Maar kyk na hierdie nuusopskrif: ‘Stellenbosch FC suffer first defeat of the season, but stay top of NFD log’. Die werkwoord ‘suffer’ is in die meervoudsvorm. Maar as mens dit herskryf, kan dit as volg lees: ‘They suffer their first defeat’ – meervoudsonderwerp, meervoudswerkwoord. Maar die sokkerklub se eerstespan is één span. Dis tog sekerlik ʼn onderwerp wat as enkelvoudig deurgaan?

Tradisioneel gesproke hanteer lidlande of voormalige lidlande van die Statebond die name van sportspanne (insluitende nasionale spanne) as plekhouers vir die meervoudsonderwerp ‘the players’. As jy nou die sin herskryf as ‘The players have suffered their first defeat’, dan het jy onderwerp-werkwoord-kongruensie.

ʼn Ander soort voorbeeld kan in maatskappye se slagspreuke gevind word. Elke nou en dan sal ʼn maatskappy ʼn oproep ontvang wat min of meer so lui: ‘Julle maatskappy se slagspreuk is verkeerd. Dit moet “When precision and accuracy matter meervoud lees, nie matters enkelvoud” nie.’ Het die mense wat sulke oproepe maak ʼn punt beet?

Wel, dit hang van twee verwante perspektiewe af. Eerstens, of die maatskappy ‘precision and accuracy’ as een konsep beskou (in welke geval dit ʼn werkwoord vir die enkelvoudsvorm nodig het) en, tweedens, wat die jargon vir die spesifieke bedryf is. As dit die norm in daardie bedryf is om ‘precision and accuracy’ as ʼn enkele konsep te beskou, dan moet dit ‘precision and accuracy matters’ wees. Nes met die sportspanne, dra die gebruikskonvensies in ʼn spesifieke area baie gewig – veel meer as die telstrategie (precision [een] plus accuracy [een] is gelyk aan twee, dus ʼn meervoudswerkwoord) waarop die meeste mense staatmaak om te bepaal of die werkwoord in sy enkelvouds- of meervoudsvorm gebruik moet word.

Hierdie veranderlikes onderstreep twee basiese punte. Eerstens is Engels, so te sê, ʼn taal met báie veranderlikes. En tweedens is taal veel meer as net ʼn kwessie van reg tel.

Hoekom ʼn professionele vertaler inspan?

Jy het ʼn finale, afgeronde teks wat jy met jou lesers wil deel – en dit moet beskikbaar wees in meer as een taal. Jy sou jou tweetalige kollega kon vra om dit te vertaal (en jou asem ophou), of jy kan ʼn professionele vertaler vra om die werk te doen.

Hoekom moet jy liewer ʼn professionele vertaler inspan?

  • ʼn Professionele vertaler is iemand wat opgelei is in die kuns van betekenisoordag van een taal na ʼn ander. Dit beteken dat hy of sy weet hoe om aspekte soos styl, register, terminologie en moontlike dubbelsinnigheid in ʼn teks te hanteer. Sy of haar opleiding en ervaring sal tot ingeligte vertaalbesluite lei, wat sal verseker dat die vertaalde teks dieselfde boodskap as die oorspronklike teks oordra.
  • ʼn Professionele vertaler is ook ʼn taalkenner. Jy kan dus ʼn vertaling wat soos ʼn oorspronklike teks lees en sonder taalfoute is, verwag. ʼn Professionele vertaler sal ook daarop let om nie enigiets by te voeg of weg te laat tydens die vertaalproses nie.
  • Professionele vertalers is gewoonlik lede van professionele organisasies, soos SAVI (die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut). Aktiewe lidmaatskap bring lede in aanraking met ander professionele vertalers, wat hulle aan die beste praktyke in die bedryf blootstel en hulle toegang tot inligting gee oor terminologie, taalkonvensies en hulpbronne. Lidmaatskap beteken ook dat hulle hulself tot ʼn professionele gedragskode wat ʼn sekere werksetiek en gehaltestandaard daarstel, verbind.
  • ʼn Professionele vertaler help jou goed lyk. Benewens die bedoelde boodskap wat oorgedra word, wys ʼn goed vertaalde teks jou lesers dat jy hulle respekteer, en dat jy professioneel en geloofwaardig is.

Wat sal dit dus wees? ʼn Tweetalige kollega wat die vertaalpad kan byster raak en jou lesers só saam laat afdwaal, of ʼn opgeleide, professionele vertaler wat jou boodskap helder oordra?