Ons het met groot skok en hartseer die nuus ontvang dat Pumlani Sibula op Sondag 6 Desember oorlede is. Hy was tuis aan die aansterk ná Covid-19.
Pumlani was jare lank ’n gewaardeerde kollega by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Hy het hom in 2003 by die Taalsentrum aangesluit as hoof van die Eenheid vir isiXhosa. Hier was hy gemoeid met die ontwikkeling van isiXhosa-terminologielyste vir verskillende departemente van die Universiteit, en het hy ook klasse in isiXhosa-taal en -kultuur vir personeellede en internasionale studente aangebied.
Pumlani was bekend vir sy passie vir die isiXhosa-taal en -kultuur, en vir sy inspirerende onderrig. Van sy grootste onderrigprestasies sluit in die aanbieding van lesings in isiXhosa-taal en -kultuur vir Global Leadership Adventures (GLA) (’n winterskoolprogram vir hoërskoolstudente wêreldwyd) vanaf 2007, sowel as by Northwestern-universiteit in Chicago, Verenigde State, in 2009. Hy het in 2009 en 2011 die Rektorstoekenning ontvang. Pumlani het die US vir ’n kort rukkie verlaat, maar hom weer in Oktober 2019 by die isiXhosa-portefeulje aangesluit.
Sy nalatenskap leef ook voort in die vakspesifieke isiXhosa-terminologielyste wat hy vir Sosiologie, Maatskaplike Werk, Sielkunde, Regsgeleerdheid, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Teologie en Ingenieurswese ontwikkel het. Boonop was hy verantwoordelik vir die terminologielyste vir sokker, krieket en rugby.
Namens alle personeel van die Taalsentrum betuig ek my opregte meegevoel met sy kollegas, familie en vriende, en vra dat ons saam ons herinneringe aan Pumlani se humorsin, sy nederigheid, sy liefde vir goeie kos en sy passie vir taal sal koester.
Ons het soveel boodskappe en huldeblyke van sy kollegas ontvang dat ons besluit het om ’n gedenkmuur op ons webtuiste te plaas as ’n huldeblyk aan hom. Lees gerus die bydraes hieronder ter gedagtenis aan Pumlani.
Op Vrydag 11 Desember word ‘n aanlyn gedenkdiens, georganiseer deur vriende van Pumlani, van 15:00 tot 18:00 gehou. E-pos asseblief vir Grant Ngidi (gngidi@sun.ac.za) vir meer besonderhede. Die Taalsentrum sal ook ‘n aanlyn gedenkgeleentheid vir Pumlani in Januarie reël, waarna US-kollegas en eksterne medewerkers genooi sal word. Skakel gerus met Cheryl by taalsentrum@sun.ac.za as jy dit wil bywoon.
Laat dit ons troos wees dat hy nou in vrede rus. Hamba kakuhle, Pumlani.
– Dr Kim Wallmach, Direkteur: Taalsentrum
Pryssang vir Pumlani
A creator, a guardian and custodian of words
Phrases, sayings, stories, wisdoms now heard
Passion and pride, honest and true,
stylish and gentle, kind, precious you
Hummings and rhythms, harmonies and rhymes
your songs, your voice, your presence for a time
Our journeys, our crossed paths, an unsighted bend
dearest colleague, comrade, family, friend
– Erica George, Taalsentrumkollega
’n Paar woorde oor Pumlani
Ek sal Pumlani as ’n geliefde kollega onthou, om ’n paar baie spesifieke redes.
Almal van ons wat ons isiXhosa-vaardighede wou verbeter deur die kursus vir personeellede te volg, sal Pumlani se geesdrif voor die witbord onthou. Sodra iemand iets gevra het, het hy verwoed op die bord begin skryf, kleur na kleur, totdat die hele bord vol was. Sy lesings was ’n pure vreugde vir taalleerders, want die meeste van ons het nog maar altyd by niemoedertaalsprekers klas gehad.
Wanneer ek ook al wou seker maak of my isiXhosa-groet of -gebed reg was, kon ek gou vinnig vir Pumlani ’n boodskap stuur. Hy het ons betreklik middelmatige pogings in sy taal vreeslik geniet! Hy was ook altyd so positief en bemoedigend as ons ’n paar woorde probeer sê het. Sy verduidelikings van die Xhosa-kultuur was outentiek en propvol wysheid.
Ons sal Bra Pumlani baie mis.
Hamba kakuhle, Pumlani.
– Ydalene Coetsee, Taalsentrumkollega
Vriend en ondersteuner
Ek het met skok en groot hartseer van Pumlani se afsterwe verneem.
Al die jare wat ons hom geken het, was Pumlani ’n vriend en ondersteuner, veral vir die Skryflab. Hy het werklik ’n lewe van ubuntu geleef en vir sy medemens omgegee – ’n eerlike, betroubare, nederige en vriendelike mens met ’n pragtige hart.
Ag, Pumlani, jy was nog so jonk, en daar was nog so baie wat jy moes doen om ons almal te wys en te leer hoe die ubuntu-gees werk en hoe om vir mekaar om te gee. Mag jou voorbeeld in ons harte voortleef en jou siel in vrede rus.
– Anne-Mari Lackay, Taalsentrumkollega
Hy sou geweet het wat om te sê
Pumlani was vir meer as 17 jaar ’n vriend en ’n broer. Hy was een van die gaafste en ordentlikste mense wat ek nog ooit ontmoet het. Hy het vir my opgestaan toe niemand anders wou nie. Hy het my getroos as ek bang was. Hy het selfs aangebied om my te help toe ek finansieel in die knyp was. Ons het baie gemeen gehad, waaronder ’n ingewikkelde familiegeskiedenis en gevoelens van afsondering. Ons was ook albei “gekorrigeerde linkshandiges”. Ons is kleintyd gedwing om regshandig te word. Hy het my nooit geoordeel nie.
Ons het ook baie verskil. Hy was mal oor Tina Turner en Shirley Bassey, terwyl ek Billy Idol en suidelike Gotiese musiek verkies. Hy was versot op Suid-Afrikaanse sepies; ek verkies HBO. Maar ons het albei Merlin (die reeks) en Game of Thrones geniet. En ’n lekker stukkie vleis.
Toe ons kantore nog langs mekaar was, het ons jare lank elke maand ná betaaldag ’n vaste middageteafspraak gehad. Sodra ons salarisse inbetaal is, is ons Blue Room toe (destyds ’n eetsaal vir personeel) waar ons die heel grootste vleisskottel bestel het wat ons kon kry. Drie soorte vleis, en daar het nie ’n krieseltjie oorgebly nie.
Nadat ons van kantore verskuif en die Blue Room toegemaak het, het ons by Mugg & Bean vir koffie/tee of middagete ontmoet. Ons het een keer in Canal Walk ontmoet, waar hy daarop aangedring het om my met ’n enorme grondboontjiebottermelkskommel te bederf, en ’n ander keer by Tygervallei, waar ek vir hom middagete probeer koop het, maar hy net ’n klein slaai wou hê.
Hy het my voorgestel aan die wonder van pepermenttee vir jou spysvertering. Dit werk regtig. Ek gebruik dit tot vandag toe. Ons het ook oor oefenroetines gesels en hoe moeilik dit is om daarby te hou. Eenmaal het ons ’n klomp kollegas op ’n straathoek naby Oude Werf in die verleentheid gestel deur sy nuwe vibrasieplaatoefenmasjien na te boots.
Ons was mekaar se klankbord vir taalvrae oor idiomatiese gebruik, vertaling, woordeskat en definisies. Pumlani was mal oor taal. Hy het eenkeer gesê dis sy bloed. Hy het taal gevóél. Dit was sy passie, en daarom kon hy ook my passie vir navorsing verstaan. Hy het altyd die regte woorde gehad. As dít my sterfberig was, sou hy geweet het wat om te sê. Al wat ek hom kan gee, is hierdie woorde om byna twee dekades van onvervangbare vriendskap saam te vat.
– Dr Rose Richards, Taalsentrumkollega
“Ek hou net van die kleur”
Die nuus oor Pumlani se afsterwe het my platgeslaan.
My beste herinnering aan Pumlani is die dag toe ek aangeklop het by die kantoor wat hy op die grondverdieping van Bosmanstraat 7 met Zandile gedeel het. Hy was besig om Bybel te lees, en het opgekyk en my met ’n hartlike “Molo, Sisi!” gegroet.
Ek was in my noppies om te sien dat hy ’n Blou Bul-trui dra, want ek het vir die grootste deel van my lewe in en om Pretoria grootgeword en gewoon. Toe ek opmerk hoe verras en bly ek is dat hy die Blou Bulle ondersteun, het hy my vraend aangekyk en gesê: “O nee, ek’s nie ’n ondersteuner nie, ek hou net van die kleur!”
Mag sy siel in vrede rus.
– Shannon Bishop, Taalsentrumkollega
’n Slag vir Afrikataledepartemente
Toe ek laas met Pumlani gesels het, was hy opgewonde oor sy toekenning en het ek hom gelukgewens met sy merkwaardige prestasie. Hy was so opgewonde. Weinig het ons geweet dat dit ons laaste geselsie sou wees. Ek is platgeslaan en sukkel om helder te dink. Wat ’n vriendelike, pligsgetroue, warm kollega. ’n Goeie navorser, ’n opvoeder soos min.
Kufandini kambe ulutshaba! Luphi na ulwamvila lwakho.
Jou heengaan laat jou eenheid by die Taalsentrum armer.
Jou vertrek laat alle Afrikataledepartemente armer, mnr Pumlani “PM” Sibula – my liewe vriend en bababoetie.
Mag jou pragtige siel in vrede rus, Mgebe, en in glorie herrys.
Ek sal jou vir altyd in my hart saamdra.
Baie dankie vir jou harde werk om Afrikatale te ontwikkel.
– Prof Nomsa Satyo, hoof van die Departement Afrikatale, Universiteit van Fort Hare
“Ek’s beroemd, en ek weet nie hoe dit gebeur het nie”
Ek moes ver terugblaai deur die lêers op my rekenaar om te sien presies wanneer Pumlani hom by die Taalsentrum aangesluit het, en ek dink dit was aan die begin van 2004 of dalk selfs in 2003. Ek het eintlik nogal nou met hom saamgewerk in daardie eerste paar jaar, want ek was sy Afrikaanse medewerker vir die ontwikkeling van die eerste Engels-isiXhosa-Afrikaans-terminologielyste. Ons het ’n groot bekendstellingspartytjie aangebied toe die eerste terminologielyste in November 2004 voltooi is. Ek onthou nog Pumlani was ’n bietjie oorweldig deur al die aandag en sê toe: “Ek’s beroemd, en ek weet nie hoe dit gebeur het nie.”
Sedert hy hom meer onlangs by Bosmanstraat 7 aangesluit het, het hy werklik deel geword van ons span, en dikwels aan ons tafelrondegesprekke deelgeneem. Dit was altyd vir my verrykend om te luister na sy sienings as ’n mede-Suid-Afrikaner van ’n ander kultuur as myne. Ons sal hom mis.
– Erina Basson, Taalsentrumkollega
’n Vreemd magiese, vormende invloed
Na so ’n abnormale, ontmenslikende jaar het my hart regtig vandag gebreek toe ek moes hoor van Bra Pum se dood – dit was so onverwags en ’n totale skok. Ek wil daarom my diepste meegevoel oordra aan julle almal by die Taalsentrum. Maar natuurlik gaan my hart ook uit na Pumlani se familie en vriende.
My verhouding met Bra Pum was werklik spesiaal, veral omdat ons ewe sterk gevoel het oor die belang van meertaligheid in ons samelewing en die verswakte stand van die Afrikatale, wat soveel meer van ons aandag vereis het as wat ons kon gee. Pumlani was ’n hartsmens en het ’n vreemd magiese, vormende invloed op my gehad. Ek sal nooit ons soms heel driftige gesprekke gedurende ons weeklikse vergaderings vergeet nie, druk aan die beplan om die stand van isiXhosa te verbeter, nie net op kampus nie, maar ook in die groter samelewing waarin ons moes funksioneer. Ek was bevoorreg om in sy byna kinderlike opwinding te deel oor elke mylpaal wat ons bereik het (kortkursusse, terminologielyste, en soveel meer). Maar hy was op sy gelukkigste as hy ander sy geliefde taal isiXhosa kon leer …
Pumlani was een van die stiller lede van ons bestuur, maar wanneer hy gepraat het, moes jy baie, baie fyn luister om al die verskuilde boodskappe te hoor wat hy wou oordra.
Bra Pum was ’n veelkantige figuur in ons sentrum en het allerlei verborge, dikwels onbekende talente en rolle gehad waarvan nie alle personeel altyd geweet het nie: digter, formeel erkende pryssanger, sanger met ’n pragtige stem, en les bes iemand met ’n stil soort humorsin wat my dikwels gekielie het daar onder by my kleintoontjie. En hy was mal oor kos. Ek sal altyd onthou hoe hy, toe ons een van ons Taalsentrumgeleenthede beplan het, benadruk het dat daar tog genoeg moes wees om te eet, en “genoeg vléis, asseblief”. En ek hoor nog sy “Oh, Gaaawwwd” (sy uitspraak van dié een was nogal iets besonders!) as iets skeefgeloop het.
Ek sluit twee foto’s in van gelukkige tye wat ek met hierdie waarlik spesiale persoon kon deel – die eerste een by die personeelbyeenkoms van 2006, en die tweede toe personeellede my met my verjaardag in 2007 tuis verras het.
Ek sal nooit vergeet nie …
– Prof Leon de Stadler, voormalige Direkteur: Taalsentrum
Kort boodskappe van medelye
My diepste medelye met Pumlani se afsterwe. Mag die wete dat hy in vrede rus julle troos. Dink aan julle en al my kollegas by die Taalsentrum.
– Audrey Poole, voormalige Taalsentrumkollega
***
Ons almal by die Sentrum vir Gesondheidsberoepsonderwys (SGBO) wil ons opregte medelye met julle by die Taalsentrum betuig. Ons is hartseer oor die afsterwe van julle kollega en vriend Pumlani. Hy het ook sy aan sy met die taalfasiliteerders by ons Fakulteit gewerk en ons sal hom werklik mis.
Alle sterke vir julle almal in hierdie moeilike tyd.
– Dr Elize Archer namens die SGBO, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
***
Ons is diep bedroef oor die afsterwe van Pumlani Sibula. As die Globale Onderwyssentrum, wil ons graag ons meegevoel betuig en ’n boodskap van onderskraging oordra. Pumlani het ’n baie belangrike rol vervul om ons internasionale studente te verwelkom en te onderrig. Ons sal hom baie mis en altyd onthou vir die besondere werk wat hy gedoen het.
Laat weet asseblief hoe ons julle in hierdie moeilike tyd kan ondersteun.
– Sarah Jane van der Westhuizen, Globale Onderwyssentrum
***
My opregte medelye met die afsterwe van Pumlani. Die nuus was ’n totale skok. Laat ons altyd onthou met hoeveel geesdrif hy sy studente onderrig het.
– Me Kristin Rutgers, Menslike Hulpbronne
***
Dit is voorwaar hartseer en skokkende nuus. Ek sal sy vriendelike glimlag en positiewe lewensuitkyk mis. Met hom in die omgewing was daar hope pret. Ek sal altyd ons “afterparty” onthou toe ek hom eenkeer ná ’n jaareindgeleentheid genooi het om by my plek te oornag. Ons het tot laatnag gesels en die volgende oggend vroeg saam ontbyt geëet voor werk. Ek het twee van sy isiXhosa-kursusse bygewoon. Hy het dit professioneel, maar tog ook prettig en vermaaklik aangebied.
Rus in vrede, Pumlani, ons sal jou mis!
– Lize Kruger, Taalsentrumkollega
’n Onlangse herinnering
![](http://www0.sun.ac.za/languagecentre/wp-content/uploads/2021/01/Pumlani-and-Anita-Jonker-300x224-1.jpg)
Ek het gedurende die inperking met Pumlani in aanraking gebly, want ek het besef hoe sleg dit moes wees om soveel tyd alleen deur te bring. Hy was so opgewek en altyd positief. Dít was ’n onlangse boodskap wat ek aan hom gestuur het, met hierdie foto daarby aangeheg.
“Molo, mhlobo wam! Onthou jy die tyd toe ons mekaar nog kon drukkies gee sonder om bang te wees vir infeksie? Hoe gaan dit met jou?”
– Dr Anita Jonker, kollega van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Kort video: Pumlani in die klas
Huldigingswoord vir ’n dierbare vriend en kollega: Pumlani “Sihlobo sam” Sibula
’n Institusionele taalkenner, ’n toegewyde kollega en getroue vriend met wie ek besonder bevoorreg was om die afgelope agt jaar nou saam te werk, op interdepartementele vlak én meer onlangs in ons gedeelde Taalsentrumkantoor.
Pumlani was ’n deernisvolle, empatiese en nederige dienaar van mense en het omgegee oor wat saak maak in die lewe, die mense met wie hy saamgewerk en diegene wat hy onbaatsugtig gedien het. ’n Toegewyde, verstandige, hoflike en vriendelike man, wat almal Sihlobo sam (my vriend) genoem het.
Daar is ’n ou spreekwoord wat lui: “Om netjies aan te trek is ’n vorm van goeie maniere.” Hierdie gentleman was inderdaad altyd netjies uitgevat, en het daagliks goeie maniere uitgestraal deur sy keurige uitrustings en sy innemende glimlag, in sy werkplek en oral anders waar hy hom bevind het.
Hy het voluit geleef. Sy lewe was een waar die middele net so belangrik was soos die doel. Sy voorbeeld het jou laat voel jy wil ’n beter kollega, ’n beter suster, ’n beter vriend en ’n beter werknemer wees.
In sy loopbaan het hy diep spore getrap by Hoërskool Makupula en by die Universiteit Stellenbosch deur studente met goeie taalvaardighede toe te rus. By die Taalsentrum het hy terminologie- en meertalige woordelyste ontwikkel om dosente en studente ’n beter begrip van vakinhoud te help gee. Hy het ook help sorg dat die Afrikaanse en Engelse name van menige gebou, departement en fakulteit van die Universiteit Stellenbosch in isiXhosa vertaal word.
As ontwikkelaar en baanbreker van isiXhosa-letterkunde het hy taalgrense in die Wes-Kaap oorgesteek. Sy taalontwikkelingsnetwerk het gestrek van verskillende fakulteite by ons universiteit, tot gemeenskapstaalklubs op Stellenbosch, tot internasionale universiteite, Pansat, die Wes-Kaapse onderwysdepartement, die Nasionale Taaldiens, die Projek vir die Studie van Alternatiewe Onderwys in Suid-Afrika (PRAESA), die Skrywersgilde … die lys is nimmereindigend. Binne ’n skrale jaar saam met Pumlani by die Taalsentrum het hy my persoonlik geleer hoe om studente uit nie-Engelse huise enige vakinhoud beter te laat verstaan deur woordelyste van die vernaamste kursusterminologie vir hulle op te stel. In ons spesiale isiXhosa-kursus het hy ook sy weergalose ervaring met niemoedertaalstudente van oor die hele Universiteit gedeel.
Ek onthou hoe almal wat na ons kantoor toe gekom het – studente, kollegas en lynbestuurders – hom geloof het vir sy charisma en matelose vriendelikheid. Hieronder is voorbeelde van die sentimente van diegene wat hom geken het:
Dr Vuyo Mntuyedwa: “Ndikule ndawo ndikuyo nje ngubhuti Pumlani. Ndifundisa eyunivesithi namhlanje, kwaye kungenxa yokuqeqeshwa nguye.”
Dr Xolani Mavela: “Umzi wesiXhosa ngokubanzi ulahlekelwe. UPumlani sisithwalandwe, isikhuthali, ithandazwe, ithandamntu novulindlela kuphuhliso lwesiXhosa jikelele.”
Me Nosisa Beyile (kurrikulumadviseur): “Andikholelwa ukuba uMhegebe usishiyile. Kazi sakuncedwa ngubani na ekuhleleni iinkqubo zoncwadi lwesiXhosa siyiWCED?”
Leerders van Kayamandi: “Ukuba sasingalifumenanga ithuba lokufundiswa ngutitshala uSibula, ngesingekho kwezi ndawo sikuzo namhlanje.”
En is dít nie maar waaraan ’n man geken word nie: hoe hy leef, hoe hy teenoor ander optree, ongeag met watter teenspoed hy in die lewe te doen kry? Pumlani was ’n wonderlike man. Hy herinner my aan Anastasia Netri se definisie van ’n man: “’n Goeie man wil hê jy moet skitter. Hy wil hê jy moet jou fantastiese self wees.” En dís hoe ons almal Sihlobo sam sal onthou, want met sy geesdrif, sy glimlag en sy onfeilbare onderskraging wou hy almal na die sterre laat reik.
Mag jou siel in vrede rus, Sihlobo sam, en in glorie herrys. Hamba kakuhle ulale ngoxolo Mpondo, Mgebe, Mngxongo!
Jou vriendin en suster
– Dr Zandile Kondowe, Taalsentrumkollega