Category: Leeslab

Boekgeselsie met Selene D

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Selene Delport, koördineerder van skryfvaardighede-werksessies vir nagraadse studente by die Skryflab.

Selene het in 2006 as ʼn konsultant by die Skryflab aangesluit, en in 2009 het sy die skryfvaardighede-werksessies vir nagraadse studente begin aanbied. “Danksy my werk by die Skryflab is ek in die bevoorregte posisie dat ek al na verskeie lande kon reis, waaronder Kenia, Uganda, Tanzanië, Ghana, Eswatini en Lesotho. ʼn Stukkie van my hart het agtergebly in elke land wat ek besoek het.” Van haar werksplek sê sy: “Die Skryflab, as ʼn liminale en transformerende ruimte, het my sóveel geleer – veral hoe om studente te help om te navigeer tussen institusionele strukture wat soms baie beperkend en dempend kan wees, sonder om self ʼn medepligtige in daardie strukture te word.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Dis darem ʼn vreeslike vraag om aan ʼn leser te stel. 😅

Ek is nog altyd lief vir lees. ʼn Paar van my gunstelingkinderboeke is Matyn die Stermannetjie (Lochner de Kock), Huppelkind (WO Kühne), en Grobbelaartjie van Velskoendorp (Oscar Prozesky). Ek besit nog die meeste van my kinderboeke, wat al taamlik gehawend lyk van al die liefdevolle lees en herlees oor dekades heen.

Nou, as volwassene, is ek nog altyd lief vir kinderverhale. Ek herlees Alice in Wonderland (Lewis Carroll) en The Wind in the Willows (Kenneth Grahame) nog gereeld. En natuurlik is ek gek oor fantasie (JRR Tolkien, Terry Pratchett, Neil Gaiman) en fiksie vir jong volwassenes. Ek dink dat fantasie en fiksie vir jong volwassenes dikwels nie genoeg erkenning kry nie, veral wanneer dit die pennevrug van Afrika-skrywers is. Twee van my gunstelingskrywers in hierdie genre is Tochi Onyebuchi en Lily Herne.

Onyebuchi is ʼn Nigeriese skrywer wat Beasts Made of Night geskryf het. Dit handel oor die verhaal van Taj, wat ʼn ‘aki’ is – iemand uit die lae stand wat gehuur word om die sondes van die hoër stande te verorber sodat hulle sonder gewetenswroeging kan lewe. Beasts Made of Night is een van daardie boeke wat gesorg het dat ek ʼn rukkie moet wag voor ek die volgende boek kan aanpak. Onyebuchi se karakteruitbeelding van Taj maak dit vir lesers byna onmoontlik om nie op ʼn diep emosionele vlak by hom betrokke te raak nie. Ek wag angstig op die vervolg, Crown of Thunder.

Lily Herne is die skuilnaam van ʼn moeder-en-dogter-skryfpaar. Hulle het die Deadlands-saga geskryf, wat afspeel in ʼn post-apokaliptiese Suid-Afrika wat vervuil is van die zombies. Ek het die eerste drie boeke klaar gelees en ek is verbete op soek na die laaste boek in die reeks, Ash Remains. (As iemand weet waar ek ʼn eksemplaar kan koop of leen, laat weet my asseblief!)

Hoekom het hierdie boek so ʼn diep indruk op jou gemaak?
Al hierdie boeke, en talle ander, het ʼn blywende indruk op my gemaak. Die redes daarvoor verskil – party van hulle gee die leser ʼn kykie in die lewe van mense of karakters wat in die gewone verloop van die lewe nie platforms in kanonieke werke of openbare ruimtes sou kry nie; party van hulle verskaf leesgenot bloot omdat hulle so heerlik eienaardig is.

Een boek wat nogal ʼn indruk op my gemaak het, is Musrum. Dis verreweg die eienaardigste boek wat ek nog gelees het. Dis ʼn Britse publikasie, deur Erick Thacker, ʼn Metodiste-predikant, en Anthony Earnshaw, ʼn kunstenaar, kunsonderwyser en ateïs. Die boek het voortgevloei uit ʼn briefwisseling tussen dié twee. Dit bevat ʼn groot aantal tekeninge – sommiges met godsdienstige temas, ander met simmetriese patrone, en party selfs in die vorm van landkaarte. Die letterwerk en betekenis van MUSRUM verander gedurig. Die prent op die eerste bladsy gee ʼn mens ʼn idee van hoe wonderlik vreemd hierdie boek is. Ek is nog steeds nie seker of MUSRUM ʼn briljante meesterstuk of bloot genotvolle onsin is nie.”

Inleidingsblady, Musrum. 

Wie is jou gunstelingouteur of -outeurs? Hoe só?
Weereens is daar verskeie. Een van my gunstelingouteurs is Yvonne Vera. Haar digterlike prosa verwoord onuitspreeklike traumas: gewelddadige bevrydingsoorloë en hulle nadraai in Nehanda en The Stone Virgins; die verskriklike verlies van ʼn kind in Without a Name; en brutale geweld teen vroue in Under the Tongue en Butterfly Burning. Haar stories bring egter ook die veerkragtigheid wat mense aan die dag kan lê, na vore.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek is besig met ʼn lekker ligte boek – Fiona Snyckers se The Cat That Had a Clue. Dis die eerste boek in ʼn reeks genaamd The Cat’s Paw Cozy Mysteries. Dié stories is speurverhale in die trant van Agatha Christie, met heelparty katte wat daarin voorkom.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek hou van albei. Daar is niks beter as die gevoel en reuk van ʼn fisiese boek nie, maar dis nou maar een maal soveel geriefliker om in die bed ʼn Kindle-boek te lees.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Daar is baie: Gandalf in Tolkien se Lord of the Rings, Alice in Carroll se Alice in Wonderland, Grace in Atwood se Alias Grace, en Tiffany Aching in Pratchett se Discworld-romans. Ek dink ek hou soveel van hierdie karakters omdat hulle nooit regtig vaste identiteite het nie; hulle is deurlopend aan die ontwikkel en verander – soms op ʼn heldhaftige manier en soms op verontrustende maniere.

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou vorige antwoorde genoem het nie?
Die beste raad ooit kom uit Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy: “ʼn Handdoek … is van groot praktiese waarde”. [“A towel … has great practical value”.]

Maar alle grappies op ʼn stokkie. Sheldon B. Kopp se If You Meet the Buddha on the Road, Kill Him! The Pilgrimage of Psychotherapy Patients is ʼn lewensveranderende boek. Wat die meeste aanklank by my gevind het, is Kopp se beskrywing van situasie-etiek:

[us_hwrapper]

“Reëls sal begin om as tentatiewe riglyne te dien. Elke daad sal as ʼn persoonlike ervaring beoordeel moet word, in die lig van die eksistensiële betekenis daarvan, eerder as om dit te gaan vergelyk met ʼn reël wat iemand lank gelede en ver weg op ʼn kliptablet uitgekerf het.”

[“Rules will come to serve as tentative guidelines. Each act will have to be judged as a personal experience, in terms of its existential meaning, rather than by checking it out against a rule carved on a stone tablet long ago and far away.”]

[/us_hwrapper]

Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende of enige iemand anders aanbeveel?
My aanbeveling is om enige boeke te lees wat jy wil, maar om wyd te lees. Chimamanda Ngozi Adichie waarsku ons teen die “gevaar van die enkele storie”. As ons wyd lees, vrywaar dit ons teen die “onvoltooide” stories oor ander mense en ander plekke, dit help ons om ons “gelykwaardige mensheid” te herken en om “die een of ander soort paradys weer terug te kry”.

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Rose R

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Rose Richards, hoof van die Skryflab. Sy hou van boeke wat iets onverwags en uniek in hulle het.  Lees gerus verder om te hoor watter boeke by haar aanklank gevind het onlangs.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het.
Hierdie boek het onlangs ʼn indruk op my gemaak: The Five: The Untold Lives of Women Killed by Jack the Ripper deur Hallie Rubenhold.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Ek vind misdaad in die werklike lewe fassinerend, veral wat betref die patrone in afwykende gedrag en viktimologie. Ek is ook opgewonde oor nuwe rigtings in misdaadondersoek, en ek hou van die manier waarop ondersoeke van misdaadtonele dikwels ʼn sterk ooreenkoms toon met navorsingsmetodologie. Op die oomblik volg ek verskeie podsenders, vloggers en dokumentêre reekse oor hierdie onderwerp. Ek vind die huidige gebruik van genetiese familiekunde om uitsluitsel oor onafgehandelde sake te verkry, veral bevredigend. Min dinge is so genotvol as om ʼn foto van ʼn verbysterde bejaarde misdadiger te sien wat in hegtenis geneem is vir ʼn misdaad waarmee hy gedink het hy het dekades gelede weggekom. (Kyk na Michelle McNamara se I’ll be Gone in the Dark vir insae in die saak van die Golden State Killer wat ná vier dekades opgelos is.)

Rubenhold se boek is ʼn noukeurig nagevorsde studie van vyf van die slagoffers van een van die bekendste reeksmoordenaars ter wêreld. Hierdie arm en feitlik ongeletterde vroue was randfigure in die samelewing en was tot en met Rubenhold se boek slegs as slagoffers bekend. Rubenhold het egter daarin geslaag om op die spoor van hul lewens te kom en haar soektog het selfs foto’s aan die lig gebring – nie van hulle erg vernielde oorskot nie, maar van hulle troues, van hulle saam met hulle kinders en saam met hulle ouers. Sy stel hulle aan die leser voor as werklike mense, en nie bloot as slagoffers nie. Sy staan nie stil by hulle dood nie en maak skaars melding van die monster wat hulle vermoor het. Op dié manier herstel sy hulle waardigheid en beeld hulle uit as taai, veerkragtig en vindingryk, ten spyte van hulle uitdagende omstandighede. Sy wys ook dat hulle verhale nie so eenvoudig is as wat daar soms te kenne gegee word nie en dat hulle in die finale ontleding soveel meer was as hulle omstandighede en hulle tragiese dood.

Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Ek het nie net een gunstelingouteur nie – dis te moeilik om te kies. Ek hou van boeke met iets onverwags of uniek in hulle, hetsy ʼn speelsheid of ʼn diepsinnigheid. Kleintyd was Tove Jansson een van my gunstelingouteurs. Ek was gek oor haar Moomintroll-reeks, wat nog meer bekoorlik gemaak is deur haar illustrasies van die wêreld van Moomintroll, sy familie en vriende. Sy het my weggevoer na ʼn vreemde wêreld met vreemde diere en plante waar ek op ʼn eienaardige manier heeltemal tuis gevoel het. (Groot was my verbasing toe ek jare later uitvind dat een van my beste maats hulle as angswekkend en verontrustend ervaar het.) Ek het hulle altyd baie geniet. In die Moomintroll-huis is almal gelyk, selfs al is jy baie groot of baie klein. Trouens, die kleinstes is gewoonlik die kwaaiste. Nie een van hulle is ʼn mens nie, al lyk party soos mense, en almal hiberneer in die winter. Sommige lede van die huishouding gaan op lang uitstappies, maar hulle keer altyd weer terug. Almal het avonture en daar is altyd die somer om na uit te sien.

Tove Jansson se Moomins. Photo: © Moomin Characters ™

Wat lees jy op die oomblik?
Ek het pas begin met The Ghost Map: A Street, a City, an Epidemic and the Hidden Power of Urban Networks deur Steven Johnson. Dit handel oor die cholera-epidemie van 1854 in Londen. Dié epidemie was ʼn draaipunt, nie slegs weens die hewigheid daarvan nie, maar ook oor hoe mense met verskillende vaardighede saamgewerk het om maniere te vind om dit te stuit.

 

Verkies jy dit om “regte” gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek lees albei. Kindle is baie gerieflik omdat ʼn mens hope boeke orals heen kan saamneem, maar fisiese boeke is meer tasbaar en visueel aantreklik, dus is dit is dit vir my makliker om hulle outeurs en titels te onthou. Ek hou daarvan om my boeke in my boekrakke te kan sien – dis soos om ou vriende te sien. Elkeen bevat ʼn stel herinneringe of verteenwoordig ʼn sekere punt in my lewe.

 

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Sherlock Holmes-stories
Lord of the Rings
Moomintroll-boeke
Jonathan Kellerman novels
Hulle spreek tot my op ʼn emosionele vlak en soms hou ek eenvoudig van die manier waarop die outeurs die verhaal vertel.

 

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Ek het nie net een nie. Sherlock Holmes, Gandalf, Little My.

 

Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?

[us_hwrapper]

Gewone mense wat alledaagse dinge doen, kan help om groot veranderings te weeg te bring (Lord of the Rings).

Logika is belangrik, maar word nie na waarde geag nie (Sherlock Holmes).

Weetgierigheid en passie kan ʼn mens red (Moomintroll).”

[/us_hwrapper]

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Ek het eens op ʼn tyd in ʼn boekwinkel gewerk. Boeke moet pas by die mense by wie jy hulle aanbeveel. Ek weet dat my smaak nogal idiosinkraties en dikwels makaber is, en daarom beveel ek nie sommer boeke aan nie. Ek het egter onlangs Susannah Clarke se Piranesi gelees. Dié boek is genotvol, verbeeldingryk en van begin tot einde heeltemal verrassend. Sy skryf oor towerkuns wat ons wêreld binnedring en die uitwerking daarvan.

Tags: , , , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,

Phakama vir akademiese geletterdheid

Dosente van die Taalsentrum, Chemie en Rekenaarvaardigheid het vanjaar ’n splinternuwe en opwindende samewerkingsprojek van stapel gestuur. Hulle het saamgespan om die Taalsentrum se akademiese geletterdheidsmodule, Wetenskapkommunikasievaardigheid 146, en modules in chemie en rekenaarvaardigheid vir studente in verlengdegraadprogramme in Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe en Ingenieurswese, ekstra dimensie te gee.

Studente in dié modules moes werk met die opdrag dat hulle deur ’n fiktiewe regeringskommissie aangewys is om deel te vorm van ’n wetenskaplike adviesspan wat ondersoek moes instel na en verslag moes doen oor ’n reeks relevante onderwerpe met ‘n chemie-onderbou. Die studente moes in groepe navorsing doen en ’n geskrewe argument vir of teen die betrokke onderwerp indien. Daarna moes die groepe hul navorsing op ’n kreatiewe manier beskikbaar maak aan die publiek deur vyfminuutvideo’s te skep waarin hulle hul argumente oordra.

Die uitkomste waarna gestreef is, is die toepassing van lees- en skryfvaardighede in die konteks van wetenskap in die samelewing oor die algemeen en spesifiek in Suid-Afrika, die ontwikkeling van die vermoë om gepaste bronne te kies en te gebruik om logiese argumente vir of teen ’n kwessie op te stel en uiteindelik om nuwe maniere te ondersoek om kennis op ’n kreatiewe manier aan ’n groter gehoor oor te dra.

Wat hierdie projek verder uniek gemaak het, is dat studente deurlopend deel van die besluitnemingsproses was. Aan die heel begin het studente deur ’n stemproses die geleentheid gehad om vir die projek ’n naam te gee. Die woord ‘phakama’, wat in Xhosa ‘opstaan’ of ‘opstyg’ beteken, is as naam gekies. Daarna kon studente hul eie onderwerpe om na te vors identifiseer, en uiteindelik het die studente self gestem vir die top-video. Onderwerpe het gestrek van kernkrag, genetiese modifikasie tot die byvoeging van fluoried in drinkwater. Die wenspan het laasgenoemde kwessie onder die loep geneem en het bestaan uit Temika Moodley, Jade Opperman, Alliance Sambo en Lukhanye Swapi. Klik gerus hier om na hul video te kyk.

Studente het die projek as innoverend en toepaslik ervaar. “Die Phakama-projek het vir my gewys dat akademie ook opwindend en pret kan wees,” was een student se terugvoer.

Tags: , ,

Want lees is ons léwe!

By die Taalsentrum is ons mal oor boeke, en die bevordering van geletterdheid lê ons baie na aan die hart. Ons vertel graag hoe ons hierdie jaar met boeke en lees in die breër gemeenskap gewoeker het.

Vanjaar het die Taalsentrum in samewerking met die Vriende van Afrikaans en die koshuis Academia in Julie weer twee boektrommels ter waarde van R15 000 aan twee skole in Stellenbosch oorhandig: hierdie keer was dit Laerskool Bruckner de Villiers en Laerskool AF Louw. Die boektrommels bevat leesboekies in Afrikaans, Engels en Xhosa, en kan as mobiele biblioteke dien vir skole wat nie oor ʼn biblioteek beskik nie. Met die oorhandiging het ons heerlik by die kinders gekuier, vir hulle voorgelees en ook basiese boekopvoeding met hulle gedoen. Ons harte het sommer warm geklop toe ons boonop ʼn handgemaakte dankie-sê-boekie met kaartjies van die kinders ontvang het.

Uit die boektrommelprojek het daar ook ʼn voorleesprojek ontstaan, wat die Taalsentrum in samewerking met Vriende van Afrikaans en Academia koördineer. Eenmaal per week gaan lees ons stories voor by 12 kleuterskole en die preprimêre klasse van die twee skole wat vanjaar boektrommels ontvang het om die kinders vir die boekbrigade oor te wen. Ons glo dat ons op hierdie manier ʼn belegging met onmeetbare dividende maak. Nog voorlesers is altyd welkom – e-pos gerus vir Vernita Beukes as jy ook op die rooster vir voorlees wil kom.

Op 7 September het die Taalsentrum weer almal op kampus met ʼn boektsunami in die Neelsie (die Langenhoven Studentesentrum) verras. Dié okkasie vind plaas om Internasionale Geletterdheidsdag te herdenk, wat vanjaar wêreldwyd op 8 September gevier is. Die boektsunami behels dat ons die boeke wat ons reg deur die jaar bymekaarmaak, op verskeie plekke in die Neelsie plaas om ʼn ‘boekegolf’ te veroorsaak. Enigiemand wat deur die Neelsie beweeg kon ‘induik’ en van die boeke vir hulle neem. Ons vra net dat hulle die boeke (natuurlik eers nadat hulle dit gelees het) aan iemand anders ook gee en só die geskenk van boeke en lees bevorder. Ons doen graag sommer goed aan ander omdat daar aan ons goed gedoen is. As jy enige boeke het om aan ons te skenk vir ons volgende boektsunami, kan jy vir Vernita Beukes e-pos.

Verder op die leesnoot: Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.

For the love of reading!

ʼn Ongelooflike Leesresies vir Hoërskool Kylemore

Die leerders van Hoërskool Kylemore het hierdie jaar ʼn Mandela-dag beleef wat hulle nog lank sal bybly. Saam met verskeie US-omgewings het die Taalsentrum op 25 Julie tyd by die skool deurgebring ter gedagtenis aan die nalatenskap van Nelson Mandela.

Op dié dag wou Faika Haroun en haar span Taalsentrum-kollegas die vreugde wat lees bring met die leerders deel. “Ons het ʼn leesresies bedink om die leerders uit te daag en te inspireer om met begrip te lees en opwindende pryse te wen.”

Die Taalsentrum se Ongelooflike Leesresies het vier aanmeldstasies gehad, en soos met enige resies, was die doel natuurlik om eerste klaar te maak. Leerders is in spanne van vyf opgedeel en het van een stasie na die volgende beweeg, waar hulle telkens tekste moes lees, bespreek en as ʼn span vrae daaroor moes beantwoord. Hulle kon net hul volgende opdrag kry as al hul antwoorde op die vorige opdrag korrek was.

Ná ‘n intense gelees, ‘n diep gedink en vinnige antwoorde, was Trishan se span die eerstes oor die wenstreep. Hayward se span was tweede, met Justine en haar span kort op hul hakke. Die pryse het gewissel van woordeboeke en boeke tot skryfbehoeftes en notaboekies. Vir ekstra pret was daar ook ʼn gelukkige trekking. Die resies het vir hierdie leerders die beginsel aktief beliggaam dat dié wat met die beste begrip lees, uiteindelik bo uitkom – akademies gesproke en in die lewe.

Die resies het ook die onderwysers beïndruk en geïnspireer, en sommige van hulle het gevra of hulle die konsep mag gebruik wanneer hulle klasgee. “Leerders het geleer om in spanne te werk en het besef dat dit belangrik is om in ál hulle vakke met begrip te lees.”

“Vir die leerders was die resies groot pret. Hulle het ook gesien dat lees erg opwindend kan wees. Hierdie inisiatief was so suksesvol dat ons gretig is om die resies ook na ander skole te neem,” sluit Faika af. E-pos haar as jy graag ʼn Ongelooflike Leesresies by jou skool wil hou.

Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.