Ons is een klik weg.
Só kan ons kragte met dosente saamsnoer vir ʼn selfs beter aanlyn leerervaring vir studente.
Taalversorging en vertaling: Gebruik die Taaldiens om enige lesingmateriaal te laat redigeer en vertaal – byvoorbeeld jou skyfies vir lesings, SUNLearn-inhoud, klasnotas of instruksies aan studente. Ons kan ook help met inligtingsontwerp: om die inligting in jou dokumente op die beste manier moontlik vir jou studente aan te bied, wat die verbetering van uitleg en leesbaarheid kan insluit. Ons vertaal na 15 tale, Xhosa ingesluit.
Marguerite van der Waal | 021 808 3096
Tolking: Hoewel ons nie aanlyn klasse intyds tolk nie, het ons Tolkdiens ʼn ervare span professionele tolke wat sal seker maak dat diegene wat ons dienste nodig het, aanlyn toegang het tot hul lesinginhoud deur vertaalde klankopnames van lesings, of te wel podsendings. Alle dosente van modules wat gedurende die tweede kwartaal tolking sou inkorporeer, kwalifiseer vir hierdie diens. Klankvertalings van opgeneemde lesings kan in Afrikaans of Engels gedoen word, afhangend van die taal van leer en onderrig, en soms in Xhosa. Klik gerus hier vir meer inligting. Ons kan ook video-onderskrifte vir dosente byvoeg: Videogrepe kan verwerk word om onderskrifte en/of vertaalde teks by te voeg om die video’s meertalig te maak.
Juanli Theron | 021 808 4183
Terminologie: Probeer die drietalige terminologieblad op ons webtuiste vir vakterme in Afrikaans, Engels en Xhosa – www1.sun.ac.za/languagecentre-terminologies
Skryfkonsultasies: Studente en personeel kan hul eie skryfwerk met ʼn opgeleide Skryflab-konsultant bespreek. Hulle kan ʼn afspraak op KENAKO maak vir ʼn aanlyn skryfkonsultasie via MS Teams (ʼn Teams-uitnodiging word gestuur nadat die afspraak gemaak is), of ons e-pos vir ʼn afspraak:
Anne-Mari Lackay | Vinelene Hartley | Rose Richards
Skryfwerksessies vir nagraadse studente: Nagraadse studente kan ʼn pasgemaakte aanlyn werksessie bywoon om hulle te help skryf aan hul navorsingsvoorstel, literatuuroorsig, tesis of artikel. As jy self met studies besig is, kan jy ook inskakel. Jy kan selfs ʼn skryfsteungroep deur die Skryflab stig. Kontak ons vir ʼn lys geskeduleerde werksessies wat einde April/begin Mei sal afskop.
Selene Delport | 021 808 4307
Leeskonsultasies en -werksessies: Hierdie aanlyn diens help studente om strategieser en op ʼn meer bedrewe manier te lees. Ons Leeslab bied ʼn program vir visuele en kognitiewe prosessering aan om studente se leesvermoë te optimeer. Kontak ons asseblief vir ʼn assessering as ʼn student ekstra leestyd vir ʼn eksamen nodig het.
Marisca Coetzee | 021 808 2811
Engels-kursusse
Shannon Bishop | 021 808 2167
- Aanlyn English for Academic Purposes-program (EAP): Personeel en studente wat hul akademiese Engels wil verbeter, kan inskryf vir hierdie program, wat ʼn keuse bied van twee EAP-modules, gelyklopend of afsonderlik: Reading & Writing en Speaking & Language. Die EAP word deur die Universiteit befonds en is veral gemik op verlengdegraadprogram(VGP)-studente, maar is ook beskikbaar vir ander US-studente en -personeel. Hierdie gemengdeleerkursus sal van die tweede semester af aangebied word.
- Aanlyn Intensive English-program (IEP): Studente wat hul funksionele taalvaardigheid in Engels wil verbeter, kan inskryf vir die IEP om hul lees-, skryf-, praat- en luistervaardighede te ontwikkel. Ons assesseer studente se vaardigheidsvlak aanlyn met ʼn geldige, erkende toets voordat ons hulle in die klas waarby hulle die meeste sal baat, plaas. Die onderrig is interaktief en pret, en die klasse is klein om die optimale aanleer van taalvaardighede te verseker. Kontak ons asseblief vir datums en pryse.
- Gemengdeleer-TEFL-kursus: Studente wat in die toekoms Engels as vreemde taal wil onderrig (TEFL), kan by ons inskryf vir ‘n kwalifikasie daarvoor. Kontak ons asseblief vir datums en pryse.
- Aanlyn voorbereidingskursus vir die IELTS-eksamen: Studente wat in die toekoms wil oorsee werk of studeer kan inskryf vir hierdie kursus om hulle te help om strategieë te ontwikkel vir dié eksamen, voorgeskryf deur die International English Language Testing System (IELTS). Kontak ons asseblief vir datums en pryse.
Afrikaans- en Xhosa-kursusse: Leer Afrikaans of Xhosa en smee só sterker bande met ander. Ons bied nou Afrikaans for Beginners-semesterkursusse aanlyn aan via SUNLearn (vir geregistreerde internasionale studente) en via SUNOnline (vir personeel en lede van die publiek). Ons Afrikaans for Dutch and Belgian students-kursus is nou ook aanlyn. Ons verkies klasse waar deelnemers persoonlike interaksie van aangesig tot aangesig kan hê, maar ons laat ons deur die aanvraag lei en sal ook ander aanlyn aanbiedings in die toekoms ontwikkel. Probeer die Taalleerhub om sosiale taalvaardighede aan te leer: daar is tandemleer met ’n maat, oorlewingsessies of groepsleer om van te kies.
Afrikaans-kursusse: Vernita Beukes
Xhosa-kursusse: Zandile Kondowe
Taalleerhub: Helga Sykstus
Algemene navrae: Jeanene Olivier | 021 808 2167
Akademiese Geletterdhede: Hierdie kredietdraende modules word in die fakulteite aangebied en is daarop gerig om studente vir strategiese kommunikasie toe te rus – in ʼn akademiese opset en in hul beroep. Modules fokus op professionele, besigheids- en wetenskapskommunikasie, skryfvaardighede en bedrewenheid in akademiese diskoers. Kursuskoördineerders ondersteun studente deurlopend deur SUNLearn en ander aanlyntoepassings om te verseker dat die betrokke akademiese uitkomste bereik word.
Jeanene Olivier | 021 808 2167
Transkribering: Ons ervare span transkribeerders kan klankopnames van enige soort verrigtinge toepaslik en akkuraat verwerk. Kry byvoorbeeld ʼn professionele transkripsie van jou navorsingsonderhoude sodat jy jou in die navorsing self kan ingrawe.
Tania Botha |021 808 4182