Vir vanjaar se viering van Internasionale Geletterdheidsdag aan die Universiteit Stellenbosch het die Taalsentrum se Leeslab op 11 September ’n boek-tsunami in die Neelsie (die Langenhoven-studentesentrum) bewerkstellig.
ʼn Groot aantal geskenkte boeke is in die Neelsie geplaas vir enigeen om van te neem. Vooraf is daar in elke boek ʼn Taalsentrum-plakker geplak wat sê dat die boek gratis en verniet is, dat enigiemand ʼn boek mag neem en dat hulle dit wanneer hulle daarmee klaar is, aan ʼn volgende persoon moet gee. Mense in die Neelsie wat van die boeke geneem het, meestal studente, was verstom. Hulle kon nie glo dat hulle enige boek van hulle keuse gratis kon neem nie. Hoewel die projek nie digitale geletterdheid – hierdie jaar se fokus – as sulks bevorder het nie, het boekgeletterdheid en die pay it forward-beginsel beslis hoogty gevier.
Almal by die Taalsentrum het gretig boeke geskenk vir die projek en ʼn allemintige nege swartsakke vol boeke is van Julie af bymekaar gemaak. Die idee het onstaan na aanleiding van die bekende aktrise Emma Watson se Book Fairy-projek, waar sy en ander ‘boekfeë’ boeke in openbare plekke los vir mense om dit te kry, te lees en aan ʼn volgende leser te gee.
Die Leeslab beplan om die boek-tsunami weer volgende jaar te loods, en ons begin nou al boeke daarvoor bymekaar te maak. Bring dus enige boeke wat jy wil skenk gedurende kantoorure na die Leeslab in Bosmanstraat 7, Stellenbosch, of e-pos vir Vernita Beukes, die projekleier.
‘Geletterdheid in ʼn digitale wêreld’ was vanjaar se tema vir Internasionale Geletterdheidsdag op 8 September. In haar boodskap oor hierdie dag sê Irina Bokova, UNESCO se Direkteur-Generaal, die volgende: “Hierdie jaar val die klem daarop om beter te verstaan watter soort geletterdheid in ʼn digitale wêreld vereis word om inklusiewer, gelyker en volhoubaarder samelewings te bou. Elkeen behoort die digitale era se voordele te kan inspan vir die handhawing van menseregte, om dialoog en die uitruil van gedagtes aan te wakker, en vir volhoubaarder ontwikkeling.”