“Wat is nuus?”
“Versigtig met die stemtoon.”
En “Moenie vergeet om jou hoendertjies te voer nie!”
Hierdie was maar ʼn paar van die uitdagings wat MFM-aanbieders moes trotseer terwyl hulle die Rocking the airwaves-kortkursus, aangebied deur die Kommunikasielab van die Taalsentrum, bygewoon het. MFM is die Universiteit Stellenbosch se radiostasie, met ʼn aantal lewendige persoonlikhede wat gretig was om hul radio-vaardighede te slyp.
In Augustus en September het die Taalsentrum se Eduard de Kock en Gillian Newton ʼn reeks interaktiewe lesings aangebied waarin hulle ʼn groep MFM-aanbieders en nuuslesers wéér laat dink het oor wat ʼn storie nuuswaardig maak, wat ʼn stem aantreklik maak en hoe om onder moeilike omstandighede steeds eties op te tree. Dr Mareli Pretorius van die Dramadepartement het met die kursusaanbieders saamgespan om konsepte soos spraak- en stemidentiteit met die groep te verken.
Die MFM’ers het dit gate uit geniet, die taai onderwerpe ten spyt. Hulle het Twitter ingespan om te wys wat hulle alles aanvang:
Die kursus was egter nie sonder ʼn element van spanning nie – die groep moes ʼn reuse- praktiese eksamen die hoof bied en alles wat hulle geleer het, gebruik om ʼn hele nuusbulletin wat geëvalueer sou word, aan te bied. Na ʼn moordende sessie van penne wat griffel, notas wat wapper, ʼn geskuif van papier en – uiteindelik – aardskuddende nuusbulletins, kan die Taalsentrum bevestig dat die MFM’ers die kortkursus met vlieënde vaandels geslaag het.
MFM-stasiebestuurder Veronique Smal het die Taalsentrum sedertdien geluk gewens met die pasgemaakte kursus en die manier waarop dit aangebied is. Sulke goeie terugvoer van ʼn radiostasie wat al vir etlike jare uitsonderlike talent oplewer is voorwaar ʼn groot pluimpie! Die Taalsentrum se Kommunikasielab fasiliteer algemene en pasgemaakte kortkursusse soos hierdie vir korporatiewe groepe en individue. As jy belangstel in leer-vermaak, e-pos vir Michelle Pieters by die Kommunikasielab.
‘n Gesprek oor etiek tydens een van die Rocking the airwaves-lesings.