Ons by die Taalsentrum weet dat die vermoë om met begrip te lees een van die waardevolste vaardighede is wat ʼn mens kan hê. Met die afgelope Mandela-dag het ons dus die geleentheid aangegryp om iets wat daadwerklik met lees te make het, te doen: ons het ‘n Amazing Reading Race-uitdaging vir die graad 8-leerlinge van een van ons hoërskole hier op Stellenbosch aangebied.
Die doel van ons Amazing Reading Race-uitdaging was om die graad 8’s van Luckhoff Hoërskool speel-speel te leer hoe belangrik dit is om met begrip te lees.
Vir ons resies het die onderwysers die leerders vooraf in spanne van vyf ingedeel. Elke span het eers ‘n Afrikaanse teks gekry wat hulle moes lees, waarna die span vrae daaroor moes beantwoord. Sodra hulle al die vrae reg beantwoord het, het hulle ‘n koevert ontvang met ‘n opdrag of uitdaging wat hulle moes uitvoer. Dit het ‘n opgewonde gesoek na spesifieke items afgegee, maar natuurlik moes hulle heel eerste die instruksies wat hulle gekry het, versigtig lees. Een opdrag was byvoorbeeld om spesifiek ‘n graad 10-rekeningkundehandboek te gaan soek. Dié wat ewe selfvoldaan met ‘n graad 11-handboek daar aangekom het, is teruggestuur om die regte boek te gaan kry! Nadat die eerste opdragte suksesvol uitgevoer is, het elke groep ‘n Engelse teks ontvang wat hulle weer moes lees en vrae oor moes beantwoord voordat hulle instruksies vir die laaste uitdaging kon kry.
Te oordeel aan die entoesiastiese deelname wil dit tog lyk of ons effens daartoe bygedra het om hierdie leerders ‘n bietjie anders te laat dink oor lees. Die wenspan is beloon met ‘n boekgeskenkbewys waarmee hulle iets by Van Schaik-boekhandel vir hulle klas kon koop.