Welkom by die eerste artikel in ons #Dwaaljagters reeks
By die meeste van ons is skryfreëls van jongs af op skool ingedril. ‘Moet nooit ʼn sin met en of maar begin nie’ is waarskynlik een van hulle. Die formele reël lui: ʼn Mens begin nie ʼn sin met ʼn voegwoord nie.
Maar dit is nie altyd waar nie. Kinders leer hierdie reël waarskynlik om te keer dat hulle skryf: Ek het ʼn boetie. En ʼn sussie. En ʼn hond.
Dit is inderdaad beter om sinne wat met voegwoorde soos en of maar begin, liewer net in spesiale gevalle te gebruik, maar jy kán ʼn voegwoord op hierdie manier gebruik vir dramatiese effek. Die nuwe sin wat met die en of maar begin kan die leser se aandag dan op ʼn belangrike punt wat jy wil oordra, vestig.
Kom ons dink aan voorbeelde waar en en maar aan die begin van ʼn sin meer klem op die gedagte wat in die tweede sin uitgedruk word, gee. In hierdie gevalle sou ʼn komma veel minder uitdrukking teweeggebring het:
Dit lyk of hierdie benadering sal werk. Maar ons moet die probleem ook uit ʼn ander hoek beskou.
Met hierdie aanbieding kry jy ʼn dekodeerder en ʼn satellietskottel. En dis nie al nie. Jy kry ook ʼn maand se gratis intekening.
Of, vir dramatiese effek:
Sommige mense sê hierdie was die slegste vertoning nog. En wie is ons om te stry?
Die transformasie op hierdie vlak is heel indrukwekkend. Maar is dit genoeg?
Nou toe. Daar val nog ʼn boei!