Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Ons gesels hierdie maand met Marisca Coetzee, akademiesegeletterdhede-dosent en koördineerder van die Leeslab. Marisca is mal oor lees en is ʼn aktiewe voorstander daarvan om vir kinders van kleins af al voor te lees en sáám met hulle te lees.
Wat is die titel van jou gunstelingboek?
The Miracle Morning deur Hal Elrod het my diep beïndruk.
Hoekom is die boek onvergeetlik?
Vir my was dit lewensveranderend om The Miracle Morning te lees omdat dit gewoonteveranderend was. Ek was nog altyd baie skepties oor selfhelp- en selfverbeteringsboeke en ek het daardie rakke in boekwinkels vermy totdat ek toevallig op The Miracle Morning afgekom het. Hierdie boek het my geïnspireer om verantwoordbaar te wees en my lewe te verander. Deur Hal Elrond se “Life S.A.V.E.R.S” (stilte, bevestiging, visualisering, oefening, lees en skryf) toe te pas, het ek nou beheer oor die aspekte van my lewe wat wel beheerbaar is, en ek aanvaar dié wat ek nie kan verander nie. Ek is gelukkiger, gesonder, minder gespanne, en ek het genoeg energie om elke dag aan te pak. Dié boek was ʼn uitkoms in hierdie uitdagende jaar wat ons so onverhoeds betrap het.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Om ʼn gunstelingouteur te kies, is om soos vir ʼn ma te vra vir watter een van haar kinders sy die liefste is. Dis eenvoudig onmoontlik. Gunstelingouteurs verander soos die seisoene verander. Op die oomblik is herfs my gunstelingseisoen, en saam met herfs kom Camilla Läckberg en Deon Meyer.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees tans Prooi deur Deon Meyer en The Choice deur Edith Eger.
Verkies jy dit om “regte” gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Hoe kan jy dit nog vra? Ek is heeldag besig om vir my werk dokumente op elektroniese toestelle te lees; dus wil ek ʼn werklike boek in my hande hou wanneer ek vir my eie genot lees. Ek wil die blaaie tussen my vingers kan voel en die papier kan ruik.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
The Unbearable Lightness of Being is ʼn boek wat gerus maar weer en weer gelees kan word. Ek het dit tydens ʼn oorsese reis in my vroeë 20’s vir die eerste keer gelees. Wanneer ʼn mens ʼn boek in latere stadiums van jou lewe herlees, verskaf dit telkens ʼn heeltemal ander soort vreugde. Jy word bewus van meer dimensies en jy beskou die karakters met ander, meer volwasse, oë. Jou houding teenoor hulle verskil van die gesindheid waarmee jy hulle die eerste keer ontmoet het. Alle boeke wat groter as lewensgroot is, behoort minstens twee maal gelees word.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Op die oomblik is dit Bennie Griessel. Elke keer wanneer ek hom in ʼn Deon Meyer-boek teëkom, beset ek opnuut hoe broos die lewe is. Hy laat my besef hoe kosbaar familie is en dat ʼn mens niks as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Hy het my geleer om mense nie te oordeel as ek nog nie ʼn pad saam met hulle gestap het nie, en dat ongeslypte diamante bitter kosbaar is.
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
Sonder enige twyfel The Miracle Morning, The Unbearable Lightness of Being en Into the Wild.