Die meeste van ons dink nie juis gedurende ons daaglikse doen en late aan taal as ʼn abstrakte begrip nie. Nogtans bepaal die taal wat ons in ons studies, by die werk en in ons persoonlike verhoudings gebruik ander mense se persepsies van wie ons is, hoe ons met mekaar omgaan en wat vir ons die belangrikste is.
Die manier waarop ons kommunikeer beïnvloed en verander die wêreld om ons en veroorsaak rimpelings wat wyd in ons lewens uitkring.
Nie almal van ons weet egter hoe om goed te kommunikeer nie, en ons vergeet dikwels dat kommunikasie nie bloot gaan oor wát ons sê nie, maar ook oor hoe dit ontvang word, en deur wie. Dit is omdat ons almal op verskillende maniere dink en dinge verstaan, en ons almal uit verskillende agtergronde kom en al verskillende dinge in die lewe ervaar het.
As ʼn mens dus beter wil kommunikeer, help dit nie om bloot jou woordeskat uit te brei of te sorg dat jy altyd die regte leestekens gebruik nie. Ons moet ook leer om die mense met wie ons die wêreld deel, te verstaan, om betekenisvolle verhoudings op te bou, om gemeensaamheid te bevorder en ʼn lewe te skep wat die moeite werd is.
Hier is drie verrassend eenvoudige maniere waarop taal kan help om jou lewe te verander:
1. Voldoening aan “POPIA”? Sê jou sê in min woorde en in eenvoudige taal.
ʼn Effektiewe boodskap moet pragtig aanmekaargesit wees en in eenvoudige taal geskryf wees. Soos die beroemde kontrabasspeler en jazz-musikant, Charlie Mingus, gesê het, “Dis maklik om eenvoud ingewikkeld te maak, maar om iets wat ingewikkeld is, eenvoudig te maak, wonderbaarlik eenvoudig – dít verg kreatiwiteit.” Die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) het op 1 Julie 2021 in Suid-Afrika in werking getree en het gelei tot ʼn vloedgolf haas onverstaanbare regstaal oor voldoening aan dié wet se vereistes, soos die volgende:
“Vanaf vandag,1 Julie 2021, tree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (“POPIA”) in werking […] Derhalwe word u by wyse hiervan in kennis gestel dat u daarop geregtig is om te weier om sodanige toestemming te verleen en dat u genoemde reg mag uitoefen deur hierdie groep te verlaat/ lidmaatskap op te sê deur op die skakel onder aan hierdie e-pos te klik.”
As jy regtig wil hê mense moet hóór wat jy sê, moet jy onverstaanbare jargon tot elke prys vermy en presies sê wat jy bedoel – niks minder en niks meer nie. Miskien wil jy hulle selfs vir hulle deelname bedank, soos in die voorbeeld hier onder:
“Soos jy dalk al weet, het die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPIA) op 1 Julie in Suid-Afrika in werking getree […] As jy wil aanhou om ons nuusbriewe te ontvang, kan jy ontspan. Jy moet heeltemal niks doen nie, en jy sal steeds van ons hoor.
As jy nie meer sulke kommunikasie van ons wil ontvang nie, klik asseblief op die TEKEN UIT-knoppie hieronder.
Dankie dat jy deel uitmaak van die gemeenskap waaraan ons bou.”
2. Gebruik ‘ons’ en ons s’n’, nie ‘ek’ en ‘jy’ nie: Bewerkstellig ʼn nouer verbintenis tussen mense eerder as om die afstand te vergroot.
Ons raak almal soms verstrik in ons eie woorde. Suksesvolle staatspresidente en HUB’s weet dat die beste manier om verskille tussen mense te oorbrug, is om ʼn eenvoudige storie te vertel oor mense met gedeelde waardes. Sprekers wat ‘ons’ en ons s’n’ gebruik eerder as ‘ek’ en ‘jy’ bring mense nader aan mekaar, soos president Nelson Mandela geweet het toe hy op 10 Mei 1994 sy intreerede aan die mense van Suid-Afrika en sy internasionale gaste gelewer het:
“Ons daaglikse handel en wandel as gewone Suid-Afrikaners moet ʼn ware Suid-Afrikaanse werklikheid skep wat die mensdom se geloof in geregtigheid versterk, hom weer laat glo dat alle mense inherent edel van inbors is, en ons almal se hoop op ʼn uitstekende lewe weer laat opvlam.
Dit is ons verskuldig aan onsself en aan die ander volke van die wêreld wat vandag so goed hier verteenwoordig is.
Aan my landgenote kan ek sê dat elkeen van ons sonder enige twyfel net so diep in die grond van ons wonderskone land gewortel is as Pretoria se bekende jakarandabome en die doringbome van die bosveld.”
Mandela was in staat om namens ‘ons’ te praat; mense wat heg verbind is aan die Suid-Afrikaanse bodem en gemeenskap van landsburgers, ondanks hulle uiteenlopendheid. Dit was ʼn meesterlike strategie en het die aandag gevestig op die natuurlike orde van dinge, versinnebeeld deur die grond – die vrugbare aarde – waarmee almal kon identifiseer.
3. Groet iemand in hulle taal, nie in joune nie. Kweek ʼn veeltalige ingesteldheid aan.
Wanneer ʼn mens iemand in hulle eie taal groet, wys dit dat hulle kultuur vir jou belangrik genoeg is dat jy iets daarvan te wete wil kom, en dit maak vir jou deure oop wat andersins dalk geslote sou gebly het.
Selfs ʼn eenvoudige groet weerspieël iets van iemand se kultuur en denkwyse. In sommige kulture word ʼn kopknik of ʼn glimlag byvoorbeeld as heeltemal voldoende beskou, maar die teendeel geld in Afrika-kulture. In Suid-Afrika word dit dikwels as onbeskof beskou om iemand wat jy in die straat raakloop, of terwyl jy toustaan, te groet bloot deur te glimlag of jou knop te knik. Selfs ʼn eenvoudige “Hallo” wat nie gevolg word deur “Hoe gaan dit?” nie, word as slegte maniere beskou. Dit slaan terug na die betekenisrykheid van tradisionele groetvorme wat ʼn vraag oor die welstand van die persoon en hulle familie, en selfs hulle voorvaders, insluit, soos hierdie groet in Zoeloe:
Sawubona. Ninjani? Dit beteken: Hallo (letterlik: Ons sien jou). Hoe gaan dit met jou?
Meertaligheid behels veel meer as ʼn gewilligheid om verskeie tale te leer en te gebruik. Dit is ook ʼn ingesteldheid. Dit rus ons toe om uit wyer en meer diverse ervarings te put, en om by ander mense betrokke te raak op ʼn manier wat tot hulle harte spreek; nie net tot hulle verstand nie.
Elkeen wat dit al gewaag het om ʼn nuwe taal aan te leer, kan daarvan getuig dat so ʼn leerervaring ʼn mens se hele lewe kan verander. Namate jou ervaring van ʼn taal in sy eie kulturele konteks uitbrei, sal jy vind dat die tale en kulture waarmee jy vertroud is nie in afsonderlike kompartemente van jou bewussyn bly nie, maar dat jy eerder ʼn kommunikerende, meervoudige taalvaardigheid opbou waartoe al jou kennis en ervaring van taal bydra, en waar die verskillende tale onderlinge verbintenisse vorm en met mekaar in wisselwerking tree.
Taal het, soos rimpelings in ʼn waterpoel, soms ʼn onverwagte en werklik wonderbaarlike effek wat wyd uitkring.
– deur Kim Wallmach
Dr Kim Wallmach is die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Sy bedank haar kollegas in die departemente Afrikaans en Nederlands, Kurrikulumstudie en Moderne Tale en by die Taalsentrum vir hulle insette oor die waarde van meeltaligheid.
uit∙kring ww. [kring uit, het uitgekring] (figuurlik)
soos in kringe al verder beweeg: Haar invloed is besig om wyd uit te kring; uitkringende kwaad. – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT6)
ef∙fek 1 s.nw. [~te] die manier waarop iemand, iets, ʼn handeling of gebeurtenis iemand/iets verander: Die pille het ʼn slegte effek op my gehad. ○ Veelkleurige liggies sorg vir ‘n feestelike effek in die aand. – HAT Afrikaanse skoolwoordeboek