Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Juanli Theron, hoof van die Taalsentrum se Tolkdiens. Die Tolkdiens verskaf intydse opvoedkundige tolking tydens lesings, of aanlyn, as die lesing of tolking via MS Teams geskied. Tolking kan in Afrikaans, Engels of isiXhosa gedoen word, afhangend van die pedagogiese behoefte. Verder bied hulle ook konferensietolking aan.
Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Ek is seker ons sê dit almal, maar dis hopeloos te moeilik om een te kies! Die een boek wat ek wel gereeld wéér lees, en hierdie vakansie veral weer op die strand geniet het, is the sun and her flowers deur Rupi Kaur.
Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Ek het hierdie digbundel nou al ʼn paar keer van voor tot agter gelees en saam met Rupi op reis gegaan deur die temas van wilting, falling, rooting, rising en blooming – haar sprankelende metafore vir die lewe en die liefde. Ek voel telkens ligter wanneer ek anderkant uitkom. Dit doen my siel goed!
Ek geniet Rupi Kaur se digstyl – kort en bondig met kleurvolle metafore, en altyd direk op die punt af.”
Wie is jou gunstelingouteurs? Hoe só?
Ek het ʼn hele paar. Afgesien van die digkuns, is fantasie my gunsteling-genre. Ek geniet die werk van Terry Pratchett, Neil Gaiman, Erin Morgenstern, Terry Brooks en ander wat wêrelde kan skep en verbeeldingryke verhale kan vertel wat my wegvoer uit die doodgewoonheid van die alledaagse.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek is tans tussen boeke, wat ʼn baie vervelige plek is om te wees, maar ek is op soek na iets wat verfrissend nuut en boeiend is …
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek hou om verskillende redes van albei: Die gevoel van ʼn boek in my hande wanneer ek tydens ʼn vakansie tyd het om te ontspan EN die gerief daarvan om my boeke te alle tye en op alle plekke op my Kindle by my te hê. Ek sal maar eerder nie kies nie!
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Vivian Morris in Elizabeth Gilbert se City of Girls.
Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Ek sal fantasieboeke altyd aanbeveel, veral aan kreatiewe mense of mense met A-tipe persoonlikhede wat kan doen met die wegbreek en ontvlugting wat fantasie bied. As hulle saam met die karakters kan lag en ontspan, des te beter.