“Ek was nie bewus daarvan dat hierdie vorm van persoonlike vryheid bestaan nie, want ek het dit nog nie voorheen ervaar nie …”
Liselotte Voets, ’n Belgiese uitruilstudent van die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) wat die US verlede jaar besoek het as deel van haar meestersgraad in filosofie, het die Taalsentrum se Afrikaanskursus vir Nederlandssprekende studente gevolg terwyl sy in Suid-Afrika was.
Sy deel haar gedagtes hier in Afrikaans oor vryheid, ter viering van Vryheidsdag op 27 April.
In Februarie 2022 het my vyf en ’n halve maande uitruil in Stellenbosch begin. Die keuse vir Suid-Afrika was vir my baie voor die hand liggend: die kulture, die mense, die natuur, die geskiedenis, die berge en die klimaat het my baie aangetrek. Al hierdie dinge het natuurlik ’n baie groot en goeie indruk op my gelaat. Een van die indrukke wat ek egter self baie onderskat het, is die manier waarop ek nou na vryheid kyk. As ek op ’n intuïtiewe manier moet verduidelik hoe ek vryheid in Suid-Afrika ervaar het, moet ek in die eerste plek aan die landskap dink. Vir my verteenwoordig die uitgestrektheid van die land op ’n baie simboliese manier wat dit beteken om vry te wees in Suid-Afrika. Daar is nog soveel spasie om te vul. Die moontlikhede bly en lyk eindeloos. As jy dit met België vergelyk – waar ek van kom –, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat byna alles daar bebou is. Dit is regtig uitdagend om ’n stuk grond te vind wat nog ’n oop vlakte na die horison is; nie bedek met mure, huise, strate, dorpe en stede nie.
Dit voel of jy oral en heeltyd dopgehou word en jy kan nie regtig ontsnap of by die landskap inskakel nie.”
Nou dat ek terug is in België, vind ek dit nog moeiliker om te verduur en mis ek Suid-Afrika des te meer. In België het ons natuurlik meer (’n gevoel van) sekuriteit. Die prys wat ons hiervoor moet betaal, is ons persoonlike vryheid. Ek was egter nie bewus daarvan dat hierdie vorm van persoonlike vryheid bestaan nie, want ek het dit nog nie voorheen ervaar nie. Miskien is dit ook iets tipies Europees om vryheid soos ons dit ken as die enigste vorm van vryheid te beskou en geen ruimte vir ander interpretasies te laat nie. Maar dit is natuurlik ’n teenstrydigheid in terme. Ek moes geweet het dat ‘vryheid’ nie in één siening vasgevang kan word nie. Hierdie vorm van persoonlike vryheid het ek ook opgemerk by die Suid-Afrikaners self wat ek ontmoet het: hulle word nie geleef nie (hulle lewens word nie bereël en gereguleer nie), maar lééf self, verwelkom ander mense met ope arms en begin die dag met goeie moed. Die – absoluut nie te onderskat nie – prys van Suid-Afrika se enorme persoonlike vryheid is natuurlik dat baie aan hulleself oorgelaat word. Hulle moet self oorleef. Vanuit daardie perspektief het ek die indruk gekry dat sommige die Suid-Afrikaanse landskap meer as ’n soort leegheid beskou as ’n oop toekoms. Ek dink én hoop van harte dat dit nog kan verander.
Blog deur Liselotte Voets