Moedertaaldag: ʼn Dag opgedra aan die taal waarin ons heel eerste gedagtes verwoord is – dit is ʼn wêreld waarin ons kan glo. Ons verskil soveel van mekaar, maar dít is een ding wat ons almal in gemeen het.
Ons moedertaal word beskou as die taal wat ons as baba en kleuter die meeste gehoor het, en dit is gewoonlik die taal van die moederfiguur wat vir ons verantwoordelik was toe ons baie klein was. Dit is ook die taal waarin ons ons eerste woorde gesê het, en die taal wat, terwyl ons dit verwerf het, die bloudruk gevestig het vir al die ander tale wat ons later in ons lewe sou leer. Sommige mense kan selfs twee tale as moedertaal hê, veral as hulle uit meertalige huishoudings kom.
Moedertaaldag skep ʼn ruimte vir ons om te besin oor daardie einste grondslag van ons taal-repertoire – iets wat ook ʼn invloed uitoefen op die manier waarop ons omgaan met die wêreld om ons. Ja, dit handel oor ʼn baie diep emosionele verbintenis met ons eie taalinstink, maar dit gaan ook oor daar waarheen taal ons kan neem. Wanneer ons met ander mense omgaan, bring ons ons eie taal-repertoire saam. Ons moedertaal raak vervleg met die tale wat ons op ander plekke, soos ons werkplek, gebruik. ʼn Mens kan kies om hierdie meerdimensionaliteit te ontken en dele van jouself te onderdruk, maar erkenning van die rykheid van verskillende ervarings, uitdrukkingswyses en standpunte lei tot baie sterker en meer behendige individue en spanne wat beter met mekaar en met diegene vir wie hulle werk, kan kommunikeer.
Ter viering van hierdie unieke vermoë en gevoel van moontlikhede in elkeen van ons, het ʼn paar Taalsentrum-personeellede iets van hulle verbintenis met hul moedertaal met ons gedeel:
Die skakel met identiteit
“Ek hou daarvan om aan Xhosa te dink as my identiteit. Ek het my taal reeds in my kinderjare liefgehad, al het ek dit toe nog nie eintlik besef nie. Dis weerspieël in die opstelle wat ek op skool geskryf het en in die boeke wat ek ontleed het. Ek het selfs ʼn boek gehad waarin ek gedigte in Xhosa geskryf het. Ek onthou nog hoe my onderwyseres by ʼn kollega gespog het met ʼn boekontleding wat ek in graad 11 gedoen het. Ek reken dis dit alles wat my geïnspireer het om meer te wil weet en te leer van my taal, aangesien ek later op universiteit selfs Xhosa as een van my hoofvakke gekies het. Ek het dus aangehou om Xhosa te bestudeer danksy my liefde en passie vir dié taal, al was ek op daardie tydstip nie bewus daarvan dat daar heelparty ander werke afgesien van onderwys is wat iemand met ʼn taalkwalifikasie kan doen nie.”
– Asiphe Sogiba, Xhosa-tolk
Die vreugde om dit te kan deel
“Ek is trots Afrikaans. Ek het grootgeword met ‘n Weskus-pa wat woorde soos snoek, bokkoms en galjoen aan my bekendgestel het. Ek gebruik nou nog sy gunstelinguitdrukking as iemand iets goeds gedoen het: ‘Siesa Skipper!’
Ek is vandag ‘n dosent wat die voorreg het om vir internasionale studente Afrikaans te leer. Die entoesiasme waarmee hulle my moedertaal leer verstom my elke keer. Alles is vir hulle LEKKER! Dit is waar wat Nelson Mandela gesê het: ‘Praat met iemand in sy moedertaal en jy praat met sy hart.’ Ek beskou dit as my lewenstaak om mense se harte aan te raak deur hulle aan my moedertaal bekend te stel.”
– dr Vernita Beukes, Afrikaansdosent
ʼn Weerspieëling van die sprekers
“My moedertaal is Engels, en my vadertaal is ook Engels! Dit maak my ‘anders’ in my vaderland, Suid-Afrika, waar Engels die eerste taal is van slegs ongeveer vyf persent van die bevolking.
Ek is reeds van kleins af opgewonde oor en lief vir taal. Ek het my taalreis aanvanklik begin deur ekstra aandag te gee aan die ingewikkelde Engelse spelling en uitspraak, en het dit baie geniet om die kompleksiteit daarvan te probeer uitpluis. Toe ek begin het om Frans, Afrikaans en ʼn bietjie Zoeloe te leer, het Engels egter baie gou die riglyn geword wat ek gebruik het om uit te werk hoe tale van mekaar verskil.
Ek het stadigaan begin besef welke rykdom kennis van baie tale aan ʼn mens kan besorg; dat die Engelse manier om nie dadelik tot die punt te kom nie en om uiters hoflik te wees, sy oorsprong gehad het in die Frans wat tot ʼn eeu of wat gelede aan die Britse koninklike hof gepraat is en waarvan die spore te bespeur is in woorde soos ‘courtesy’ [hoflikheid], ‘liberty’ [vryheid of vrymoedigheid], ‘fraternity’ [broederlikheid, gilde en dies meer], ‘equality’ [gelykheid] en ‘university’ [universiteit], en talle ander woorde wat verband hou met beskawing, onderwys en die reg. Ek het geleer dat die op-die-man-af Keltiese aardsheid van woorde soos ‘quaff’ [met groot slukke drink], ‘drink’ en ‘sit’ deel uitmaak van Engels se Germaanse oorsprong en weerspieël word in die direktheid van Germaanse tale soos Afrikaans en Duits. Ook, tot my verbasing, het woorde van Zoeloe-oorsprong, soos ‘indaba’ [konferensie] en ‘donga’ [ʼn droë sloot wat deur gronderosie veroorsaak is], ‘babbelas’ [van die Zulu ibhabhalazi] en ‘bonsella’ [onverwagte geskenk] deel uitgemaak van die onderbou van my variëteit van Engels wat op die suidelike punt van die Afrika-vasteland gepraat word. My Engels wat ek in my geboorteplek, Johannesburg, geleer het, weerspieël ook die talle immigrantekulture wat destyds in hierdie myndorp kom nesskop het, waar om bó uit te kom, nog altyd baie belangrik is. Dus verryk Jiddisje woorde wat in Suid-Afrikaanse Engels gebruik word, soos ‘chutzpah’ [besonder baie selfvertroue], ‘schmuck’ [dom of veragtelike persoon], ‘kugel’ [ʼn welgestelde jong vrou wat nogal materialisties is], ‘bagel’ [ʼn soort ringvormige broodjie], ‘shabbat’ [Joodse sabbat], ‘platz’ [om oorstelp te wees deur emosie] en ‘meshugge’ [stapelgek] my woordeskat sommer baie, en hulle is soos skatte wat wag om ontdek te word.”
– dr Kim Wallmach, Direkteur van die Taalsentrum
ʼn Gevoel van tuiskoms
“Afrikaans het ek by my ma geleer. Sy het ʼn stem soos ʼn klok gehad en sy het Afrikaans gepraat met die aardsheid en eerlikheid van die Sutherland-Karoo waar sy grootgeword het – NP van Wyk Louw-Afrikaans. Op ʼn onlangse gesinsvakansie in Swakopmund is ek getref deur ʼn andersheid en terselfdertyd ʼn gevoel van tuiskoms. Oral hoor jy Afrikaans: op straat, in ʼn gesprek tussen twee Herero-vroue in tradisionele drag; in die koffiewinkel by die Ovambo-barista: ‘Is mevrou al gehelp … wat gaan dit vandag wees?’ ʼn Vrou wat langs my staan en haar koffie bestel, begin spontaan gesels. Later sit sy langs my en wys foto’s van die Spitzkoppe. Sy vertel dat sy in Namibië grootgeword het, maar die grootste deel van haar volwasse lewe in die Republiek gewoon het. Sy het nou teruggekom en sou binnekort in Windhoek begin skoolgee. In haar woorde vind my eie ervaring weerklank. ‘Dit voel asof ek huis toe gekom het … ek kan hier asemhaal.’ Hierdie gewaarwording het vir my baie te doen gehad daarmee dat ek my taal oral kon hoor; spontaan en met vrymoedigheid gepraat, móói Afrikaans.
Op ʼn fietstoer deur die Tsauchab-rivier merk ek teenoor die Damara-toergids en my familie op hoe mooi die tamariskbome in die rivierloop is, waarop een van my kinders antwoord: ‘Hier is nie water nie, hoekom sê Mamma die rivier loop?’ Die toergids stop almal en klim van sy fiets af. Hy praat met die kinders: ‘Julle ma praat mooi Afrikaans. Dit is iets wat julle kinders nie moet verloor nie.’ Op my vraag oor sy taalagtergrond verduidelik hy dat daar in sy familie Damara en Engels en selfs ʼn bietjie Duits gepraat word. ‘Maar ons praat Afrikaans as ons lus is om Afrikaans te praat, as ons móói wil praat.’
Hierdie Damara-man was vir my een van die hoogtepunte van ons vakansie. Tussen ons was daar ʼn ontspannenheid, ʼn gevoel van vriendskap, van gemeensaamheid; van begrip en selfs van geluk. Terwyl ek dopgehou het hoe hy sy fiets lustig voor my in die stofpaadjie trap, het ek geweet: My mooi taal floreer, net soos die delikate, taai tamariske in die dorre rivierbedding van die Tsauchab.”
– dr Carmen Brewis, tolk en navorser
Die binne-taal
Ons het ook ʼn Afrikaanse gedig om te deel. Dit handel oor taal as ʼn mens se erfenis en hoe ʼn mens se taalmentors soos ouers en onderwysers ook ʼn diepgaande invloed uitoefen op dit wat jy as jou eie beskou.
My taal, my erfenis
Afrikaaps is nie my taal nie.
Sommige woorde kan ek nie verstaan nie.
My taal
het ek geleer van kindsbeen af
saam met die klingel en tongklap
van die aksent
wat my streek rojaal kweek.
Daar het ek begin verstaan
en geleer my ma en pa se taal.
Met my Afrikaanse onnie
wat berispend die spelreëls aanhaal,
nie tjent nie, maar kind,
nie tjy nie, maar jy.
Idiome sou ek goed onthou:
Iemand wat hard werk
is ʼn werkesel,
anders was dit die rottang vir jou.
My taal kom uit die boeke wat ek lees.
Tussen die blaaie
kon ek kies om iemand anders te wees.
Daar in die stilte van my drome
sonder die kletterende lawaai
in ʼn omgewing sonder energie belaai,
kry my taal sy lêplek
daar sonder die tjy en tjou,
daar lewe ek.
My kom-vandaan is eenvoudig,
tog is alles volop rondom en binne my.
Daar teen die Weskus het ek my asem gekry.
Daar is taal in my erfenis gebrei.
Nou kruip en klou
die wortels van my taal
diep en welig
sonder ophef of kabaal
lewe dit uit my pen
koester dit die erfenis wat ek ken.
– Anne-Mari Lackay, skryflabkonsultasiekoördineerder
By die Taalsentrum glo ons dat dit taal is wat ons saambring, en ons sal aanhou om verbintenisse tussen mense te bewerkstellig deur kommunikasie en begrip te verbeter.
Blog deur Susan Lotz en dr Dr Kim Wallmach; vertaal deur Ingrid Swanepoel