As ʼn toonaangewende universiteit in Afrika, glo die Universiteit Stellenbosch (US) dat meertaligheid saak maak. Ons glo dat meertaligheid oor meer gaan as bloot die vermoë om verskeie tale te gebruik. Dit gaan daaroor om aan mense ʼn stem te gee, ongeag die taal of tale wat hulle gebruik. Dit gaan daaroor dat die waarde van dit wat gesê word, erken word, of dit nou in Afrikaans, Engels, isiXhosa of Suid-Afrikaanse Gebaretaal gesê word. Dit spreek tot ons diversiteit as ʼn land – en maak dit vir ons moontlik om op maniere met mekaar te skakel wat andersins onmoontlik sou wees. Meertaligheid is derhalwe ook ʼn gesindheid.
By die US fokus ons nie slegs op institusionele meertaligheid nie, maar ook op individuele meertaligheid. Ons fokus dus nie slegs daarop om meertalige ruimtes by die Universiteit te vestig (byvoorbeeld deur te vertaal en te tolk) waar ʼn diverse groep eentalige mense saambestaan nie, maar ons moedig mense ook doelbewus aan om meer as een taal te gebruik, selfs al kan hulle net ʼn paar woorde in party van daardie tale verstaan en praat.
Individuele meertaligheid is ʼn bate wat ons graag wil ontwikkel weens die duidelike akademiese voordele wat dit op nasionale sowel as internasionale gebied inhou. Wanneer geleenthede vir individuele meertaligheid geskep word, word mense in staat gestel om hulle vermoë te ontwikkel om tale of taalvariëteite in verskillende vorme en op verskillende vaardigheidsvlakke te gebruik. As jy al probeer het om ʼn nuwe taal te leer, sal jy weet dat dié leerervaring jou hele lewe kan verander. Namate jou ervaring van ʼn taal in sy eie kulturele konteks uitbrei, sal jy vind dat die tale en kulture waarmee jy vertroud is nie in afsonderlike kompartemente van jou bewussyn bly nie, maar dat jy eerder ʼn kommunikerende, meervoudige taalvaardigheid opbou waartoe al jou kennis en ervaring van taal bydra, en waar die verskillende tale onderlinge verbintenisse vorm en met mekaar in wisselwerking tree.