Meryl Davidson het haar TEFL-kursus by die Engels-portefeulje aan die US se Taalsentrum voltooi en toe vir twee jaar in Suid-Korea gaan Engels gee. Haar TEFL-kwalifikasie stel haar in staat om Engels plaaslik sowel as internasionaal as ʼn vreemde taal te onderrig. Ons het aan Meryl ʼn paar vrae gevra oor die verrykende ervaring om oorsee te reis en te werk.
Wat het jou laat besluit om TEFL te kies?
Ek het dit besluit toe ek op ʼn plek in my lewe was waar ek nie ʼn permanente werk in Suid-Afrika kon kry nie, besig was om ouer te word, en vir myself moes kon sorg. Omdat ek boonop bitter graag wou reis, het ek sommer geweet dis die perfekte opsie vir my.
Watter deure het jou TEFL-kwalifikasie vir jou geopen?
Ek het twee jaar lank in Suid-Korea Engels gegee, en in daardie tydperk het ek kruis en dwars deur Suidoos-Asië gereis – iets waarop min mense hulle kan roem.
Ek het ʼn nuwe perspektief op die wêreld gekry en dit was inderdaad ʼn lewensveranderende ervaring. Sonder my TEFL-kwalifikasie sou ek dit beslis nie kon doen nie.”
Reis lê my baie na aan die hart en ek omring myself graag met verskillende kulture en tradisies. Ek het standhoudende vriendskappe gesluit en bande gesmee, en ek is steeds in aanraking met die meeste mense wat ek gedurende my tyd oorsee ontmoet het. Ek het dit ook geweldig geniet om my in die Asiese kultuur te verdiep en om dinge op dieselfde manier as die Asiërs te doen. Toe ek eers terug was in Suid-Afrika, was dit byvoorbeeld vir my baie moeilik om nié my skoene uit te trek voordat ek in my eie huis of ander mense se huise ingaan nie!
Op watter maniere het die TEFL-kursus jou vir die werk self voorberei?
Die TEFL-kursus wat ek by die US se Taalsentrum bygewoon het, was ʼn baie intensiewe program wat vier weke geduur het. In die loop van daardie vier weke is ons voorberei op elke enkele scenario wat moontlik kan afspeel in ʼn klaskamer waar Engels as ʼn vreemde taal onderrig word. Ofskoon niks ʼn mens werklik op die lewe in ʼn ander land kan voorberei totdat jy dit self ervaar nie, het die TEFL-kursus my beslis op baie maniere voorberei op wat my in die klaskamer te wagte kon wees.
Kan jy drie redes met ons deel waarom jy dink iemand dit gerus kan oorweeg om die TEFL-kursus by te woon en in die buiteland te gaan werk?
- Daar is nie nog so ʼn bevrydende gevoel as die gevoel wat ʼn mens ervaar wanneer jy op iets méér of iets anders besluit nie, as dit is wat jy werklik wil doen.
- Dit verander jou op ʼn manier wat jy jou glad nie sou kon indink nie. Jou manier van dink, jou perspektief en jou wêreldbeskouing verander. Alles wat jy gedink het jy weet, verdwyn.
- Jou onafhanklikheid is jou grootste bate. Daar is geen beter manier om onafhanklik te word as om die onbekende op jou eie aan te durf nie. Hou op om iemand te wees wat altyd net hoor van die wye wêreld daarbuite. Gaan kyk self!
Wil jy dalk ʼn TEFL-kursus bywoon?
Ons volgende voltydse kursus begin op 26 Junie en ons volgende deeltydse TEFL-kursus begin op 24 Julie, en daar is nog plek vir jou! Jy sal egter teen 16 Junie moet aansoek doen vir die voltydse kursus, en teen 14 Julie vir die deeltydse kursus.
Ons gaan later vanjaar ook weer kursusse aanbied.