Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Ons gesels hierdie maand met Mariann Maartens, ʼn opvoedkundige tolk by die Taalsentrum, en ook ʼn direksielid van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSALB). Mariann kry deesdae min tyd vir lees, maar sy voel baie entoesiasties oor wat sy wél gelees kry.
So, geen gunstelingboek en -skrywer nie?
Ek het glad nie ʼn gunstelingboek nie. Daar is nie ʼn manier wat ek myself in ʼn hoekie in ʼn benouende kamertjie kan inverf met net een boek van een skrywer nie. Ek sal dan die mure moet uitklim. Ek het beslis ook nie ʼn gunstelingouteur nie. Dit gaan meer om die rede vir die boek se bestaan, die inhoud, die openbarings, lewenslesse, insigte en die gevoel van vreugde of verdriet waarmee dit my laat.
Wat lees jy op die oomblik?
As ek maar net die tyd kan kry om almal wat wag te kan lees! Ek lees op die oomblik Hijackers on board van Cynthia Stimpel (dit vertel hoe een dapper fluitjieblaser op haar eentjie die SAA se kaping aangevat en aan die parlement se tesourie rapporteer het). En dan wag A woman makes a plan van Maye Musk (ʼn inspirerende memoir oor hoe Elon Musk se ma, as ʼn enkelma, ʼn amper onoorkomelike emosionele en finansiële stryd gestry het en as ʼn oorwinnaar geseëvier het) en Ryan Blumenthal se Autopsy (life in the trenches with a forensic pathologist in Africa).
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
ʼn Kindle kan MISKIEN werk op ʼn lang oorsese vlug, met die klem op miskien! Daar is niks so lekker as die geur van die blaaie van ʼn boek nie. Wat miskien naby aan daardie amper-onverstaanbare lekkerte kom, is die knik-val van jou boek in jou hand saam met jou toeval-oë op jou kopkussing in die poel van jou bedlig.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Boeke wat oud maar nog nie koud is nie, wink altyd vir nog ʼn leesherinnering: Catch 22 van Joseph Heller, My wicked wicked ways van Errol Flynn en al Spike Milligan se boeke. Wie kan sy “We don’t have a plan, so nothing can go wrong”-sêding of sy grafskrif “I told you I was ill” vergeet?
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Morticia Addams van die Addams-gesin.
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Morticia Addams breek ʼn lansie vir enige vrou wat haar eie hartstogtelike persoonlikheid het, en nie ʼn duit omgee wat enigiemand van haar, haar voorkeure of uitlatings dink nie (ek wens ek kon so wees!). Sy glo in haarself – so gemaak en so laat staan. Haar leuse is duidelik: aanvaar my soos ek is, of vat die pad.
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
Minstens Cynthia Stimpel se Hijackers on board. Ek het ongelukkig nog nie my weg gebaan deur die hele boek nie, maar ek het Cynthia se praatjie oor haar boek bygewoon (spog-spog … en ek het ʼn persoonlik-getekende boek wat ek op die oomblik lees :-D). Dit was ʼn openbaring om te hoor hoe hierdie vrou ʼn wilsbesluit geneem het om vrou-alleen op te staan teen die ‘SAA-Goliat’ toe sy besef het dat sy nie saamstem met hul etiek en bedryfsprosesse nie. Sy is verguis daaroor. Sy het haar werk verloor en haar reputasie het skade gely, maar haar integriteit en selfrespek het geseëvier. Ek haal my hoed af vir haar en hoop dat ek ʼn greintjie van wat sy het iewers in my persoonlikheid kan vind en dit van krag tot krag kan koester en uitleef.