Op 4 Oktober het Rose Richards, die hoof van die Universiteit Stellenbosch se Skryflab, ’n aanlyn kollokwium oor dekolonisering in Suid-Afrikaanse skryfsentrums bygewoon. Sy deel graag haar indrukke oor die kollokwium met ons.
As ’n skryfsentrumpraktisyn is dit vir my lekker om te sien hoe ander skryfsentrumpraktisyns regoor die land my mening deel oor die potensiaal wat skryfsentrums het om die onderwyslandskap te verander.
Die kollokwium wat ek bygewoon het, is aangebied deur die Durban Universiteit van Tegnologie, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en Mangosuthu Universiteit van Tegnologie. Dit was die eerste skryfsentrumgeleentheid wat universiteite van tegnologie aangebied het en ek was nuuskierig oor wat die aanbieders sou bespreek. Die onderwerp sou gewis lewendige besprekings ontlok en ek is nie teleurgestel nie.
Dekolonisering is vir baie mense ’n prikkelende onderwerp en juis om dié rede delf hulle nie regtig dieper in die ware betekenis nie. Dis nie ’n geval van ‘óf hierdie óf daarie’ nie, waar Europese waardes en tradisies ten gunste van dié van Afrika oorboord gegooi word nie. Dis ’n ‘albei… en’-voorstel wat in sosiale geregtigheid en demokratisering gewortel is. As jy goeie beskrywings wil sien van wat dekolonisering beteken en die potensiaal daarvan, oorweeg dit gerus om hierdie artikel van Prof Gift Mheta, een van die sprekers, te lees, asook hierdie een deur Savo Heleta (sien volledige besonderhede aan die einde van hierdie stuk).
Taal, afgeplatte rangordes en ubuntu is die temas wat in al die praatjies vervleg was. Om te studeer in ’n land wat verskeie tale het, is een van die uitdagings waarvoor baie Suid-Afrikaanse studente te staan kom. Om dié rede is skryfsentrumpraktisyns geneig om kodewisseling in te span en selfs tussen tale te wissel in oorleg met studente. Dit is een manier om bietjie van die mag aan studente terug te gee en ruimtes te skep waarin hulle hulself kan uitdruk.
Die die gebruik van portuurtutors en die etos van skryfsentrums om verwelkomend en nie-veroordelend te wees dra baie daartoe by om ’n meer demokratiese ruimte te skep waarin studente akademiese identiteite kan inoefen en sonder afkeuring of veroordeling foute kan maak. Ons gee nie vir studente ’n stem nie – hulle het reeds ’n stem, maar hulle moet hul stem ontwikkel en met maniere vorendag kom om gehoor te word.
Hierdie en ander benaderings tot skryfsentrums is deel van wat in Suid-Afrika as ubuntu bekendstaan. Baken Lefa, ’n navorser van wetenskaplike onderwys, beskryf ubuntu as die sielskrag wat uiting gee aan “deernis, wederkerigheid, waardigheid, eendrag en menslikheid om ’n gemeenskap met geregtigheid en onderlinge omgee te bou en te handhaaf”. Vir my kom daardie krag sterk na vore in skryfsentrums.
Wie was die sprekers?
Prof Mheta (Durban Universiteit van Tegnologie) het gepraat oor ‘Op pad na gedekoloniseerde skryfsentrumruimtes’. Prof Mheta is die hoof van die DUT-skryfsentrum. Sy navorsingsonderwerpe is wyd, met ’n fokus op korpusontwikkeling en instandhouding, rekenwoordeboekmakery en taaltegnologietoepassings vir die ontwikkeling van Afrikatale.
Me Puleng Sefalane-Nkohla (Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie) het gepraat oor ‘Wees en word: Dekolonisering van die skryfsentrumruimte. Hoe dekoloniseer ons studente se akademiese steun by KSUT?’ Me. Sefalane-Nkohla is die waarnemede departementshoof van die Studenteleer-eenheid by KSUT se Fundani Sentrum vir Hoër Onderwys en Ontwikkeling. Sy werk al vir 22 jaar lank in skryfsentrums en het ook ’n verbintenis van 20 jaar met die US se Skryflab. Sy spits haar toe op akademiese geletterdhede, en taal en tegnologie.
Die laaste spreker, mnr Ntuthuko Mhlongo (Mangosuthu Universiteit van Tegnologie), het die volgende onderwerp bespreek: ‘Beoordeling van die geleenthede en uitdagings vir skryfsentrums as ruimte vir transformasie en dekolonisering in die Suid-Afrikaanse universiteitskonteks’. Mnr. Mhlongo het sy skryfsentrumreis by die DUT begin. Hy werk aan ʼn doktorsgraad wat handel oor die uitdagings waarvoor die jeug in landelike gebiede in Suid-Afrika te staan kom. Sy belangstelling is in die ontwikkeling van die jeug vir die veranderende globale omgewing en sy belangstelling in skryfsentrums is een manier om dit te bereik.
– deur Rose Richards (vertaal deur Lientjie Potgieter)
Artikels waarna verwys is
Heleta, Savo. 2016. Decolonisation: academics must change what they teach, and how. The Conversation. https://theconversation.com/decolonisation-academics-must-change-what-they-teach-and-how-68080
Lefa, Baken. 2015. The African Philosophy of Ubuntu in South African Education. Studies in Philosophy and Education 1(1):15.
Mheta, Gift, Lungu, Bwalya Nyangu & Govender, Thaiurie. 2018. Decolonisation of the curriculum: A case study of the Durban University of Technology in South Africa. South African Journal of Education, 38(4), 1-7. https://dx.doi.org/10.15700/saje.v38n4a1635