Vanjaar is dit tien jaar sedert Helga Sykstus, ’n dosent en koördineerder aan die US Taalsentrum met meer as 20 jaar ervaring, die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente geloods het. Hierdie kursus bied vir uitruilstudente van Nederland of België die kans om ’n dieper begrip en waardering van die Afrikaanse taal en kultuur te ontwikkel. Dit is daarom sóveel meer as net ’n taalkursus – dit is meer ’n 3D-ervaring van Afrikaans binne ’n Suid-Afrikaanse konteks: van die letterkunde, geskiedenis en politiek tot die kuns, musiek, resepte en valse vriende wat Afrikaans so divers, ryk, en lekker maak om te luister, lees en praat.
Ter viering van die tiende bestaansjaar van hierdie unieke kursus – wat elke jaar talle belangstellende studente uit die Lae Lande lok – gesels ons met Helga oor dié besondere aanbod.
Waarom het jy in 2015, vanjaar tien jaar gelede, besluit om hierdie baie spesifieke kursus op die been te bring? Hoe verskil hierdie kursus van die Taalsentrum se kursusse vir plaaslike en internasionale deelnemers uit ander lande as Nederland of België wat geen Afrikaans kan praat nie?
Die Afrikaanskursusse wat as deel van US Internasionaal, die Universiteit se internasionale kantoor, se globale onderrigprogram (GEP) vir buitelandse studente aangebied word, is al vir meer as twee dekades ’n instelling. Daar was dus voor 2015 reeds ’n kursus wat spesifiek gemik is op Nederlandssprekendes, maar die kursus het ’n meer literêre fokus gehad en vanweë die koste en tekort aan ’n aanbieder was daar seker so drie jaar wat ons die kursus moes stop. Ek en ’n oud-kollega, Karlien Cillie, het toe aan die begin van 2015 besluit dat ons graag weer die kursus op die been wil bring, maar met ’n ietwat ander kleur en geur. Albei van ons het as deel van ons studies in Nederland en België studeer en het dus nie net ’n kennis van die taal gehad nie, maar ook die voorreg gehad om iets van die kulture te kon beleef. Ons het gevoel dat om bloot ’n tradisionele taalkursus vir Nederlandssprekendes aan te bied, te beperkend is en dat ons soveel meer met ’n kursus kan bereik wat ook ’n sterk fokus op die kultuur het van die mense wat die taal praat. Die saadjie is geplant, ons voorstel is aanvaar en in Julie 2015 het ons ons eerste groep studente van Nederland en België gehad.
Wat is die grootste verskille tussen Nederlands en Afrikaans?
Die verskille wat ons in die kursus behandel, is hoofsaaklik verskille in die betekenis van woorde en konsepte asook grammatikale strukture soos voornaamwoorde, lidwoorde, werkwoorde en tye. Dit is vir my heerlik om vir studente te wys dat ten spyte daarvan dat Afrikaans op die oog af soveel ooreenstem met Nederlands, daar ontsettend baie verskille tussen die tale is en dat hulle deur die aanleer van hierdie woorde en konsepte nie net ’n “nuwe” taal aanleer nie, maar ook iets van die kultuur leer. Dit maak vir hulle ’n ander wêreld oop. Studente kry blootstelling aan leenwoorde uit ander tale, woorde soos “gogga”, “kierie”, “piesang”, “baklei”, “sambreel” en “kombers”, en dan fokus ons ook op die talle valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands soos “amper”, “boodskappe”, “mug”, “geit”, “kaal”, “motor”, “stoep”, “vies” en “vaak”. En dan is daar menigte woorde wat ons verskillend gebruik of wat glad nie in Nederlands voorkom nie, byvoorbeeld “besig”, “oplaai”, “vervelend”, “bobbejaan”, “spookasem” en “hoendervleis”. Die lysie is oneindig lank!
Tot watter mate (en hoe) word kultuur by hierdie kursus betrek? Hoe skakel dit met jou siening oor die rol van die taaldosent?
As ’n mens kies om vir ’n tydperk in ’n ander land te woon, glo ek, moet jy die moeite doen om minstens op ’n basiese vlak met plaaslike mense in hul taal te kan kommunikeer. Jy wil tog deel word van die gemeenskap, en een van die beste maniere om dit reg te kry is deur taal – nog te meer as jy Nederlandssprekend is en in ’n Afrikaanse gemeenskap woon. Dit gaan egter nie net oor kommunikasie nie. Deur die aanleer van die taal begin jy ook deel word van die kultuur, ’n kultuur wat veel, veel meer as braai en rugby en die groot vyf behels. Taal is ’n sleutel tot kultuur, veral in ’n land soos Suid-Afrika.

’n Besoek aan die Afrikaanse Taalmonument in Paarl.
Taal is ’n sleutel tot kultuur, veral in ’n land soos Suid-Afrika.

’n Toer deur die kleurvolle Bo-Kaap, waar verskeie variasies van Afrikaans gehoor kan word en Kaapse Maleise kos soos koesisters en bobotie koning kraai.
Watter temas en aktiwiteite betrek jy by hierdie kursus?
Behalwe vir die taalkomponent fokus ek op onderwerpe soos die oorsprong van Afrikaans, die gemeenskappe wat Afrikaans praat en die verskillende vorme van Afrikaans. Studente kry ook ’n oorsig oor Suid-Afrikaanse geskiedenis met verwysing na sekere belangrike momente in ons geskiedenis. Ons kyk na Afrikaanse musiek en hoe musiek as kulturele teks gebruik kan word. ’n Ander tema is ons verhouding met land en grond. Al hierdie temas word gebruik om ’n dieper verstaan van die Suid-Afrikaanse, maar dan meer spesifiek die komplekse en diverse Afrikaanse kultuur en identiteit, te kry. Behalwe vir hierdie kritiese besprekings gaan ons ook op ’n paar uitstappies. Ek neem studente vir begeleide toere na die Stellenbosch Village Museum, die Afrikaanse Taalmonument en die Distrik Ses Museum. En ek nooi altyd ’n staatmaker-gasspreker wat met die studente oor hul vakgebied of ervarings kom praat. Alles natuurlik in Afrikaans.
Al hierdie temas word gebruik om ’n dieper verstaan van die Suid-Afrikaanse, maar dan meer spesifiek die komplekse en diverse Afrikaanse kultuur en identiteit, te kry.
Die kursus plaas groot klem op identiteit. Hoekom? En hoe pak jy dit aan om aan jou studente te verduidelik wat as algemeen kenmerkend van die Afrikaanse kultuur beskou word?
Wel, elkeen van ons word in ’n sekere kultuur of kulture gebore, maar identiteit is dan iets wat deur verskeie faktore gevorm en beïnvloed word. En ek dink dit is problematies om net oor kultuur te praat sonder om identiteit te betrek. Dit is vir my belangrik dat studente ’n onderskeid kan tref tussen iets soos Afrikaanse kultuur (wat opsigself kompleks is), en hoe dit verskil van identiteit. Ek moedig studente aan om na te dink oor hulle eie identiteit en die faktore wat ’n rol speel in die vorming en moontlike verandering van identiteit.

Die 2023-groep besoek Vergelegen Wynlandgoed.
So, byvoorbeeld, vorm taal vir heelwat Suid-Afrikaners en veral Afrikaanssprekendes ’n groot deel van hul identiteit, terwyl dit nie noodwendig die geval vir die gemiddelde persoon van Nederland of België is nie. Die Belge wat Vlaams praat het egter gewoonlik weer ’n sterker verhouding met taal as iemand van Nederland. So ook speel herkoms, of waar jy groot geword het, ’n rol in die vorming van identiteit. Studente sê keer op keer dat die gesprekke oor kultuur en identiteit wat ons in die kursus voer, dikwels die eerste keer is dat daar van hulle verwag word om daaroor te besin.
Dit is vir my belangrik dat studente ’n onderskeid kan tref tussen iets soos Afrikaanse kultuur (wat opsigself kompleks is), en hoe dit verskil van identiteit. Ek moedig studente aan om na te dink oor hulle eie identiteit en die faktore wat ’n rol speel in die vorming en moontlike verandering van identiteit. […] Studente sê keer op keer dat die gesprekke oor kultuur en identiteit wat ons in die kursus voer, dikwels die eerste keer is dat daar van hulle verwag word om daaroor te besin.
Wat, volgens jou, is die belangrikste uitkomste van die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandse en Belgiese studente?
Om ’n begrip en waardering te ontwikkel vir die diverse en komplekse Afrikaanse kultuur in al haar vorme binne die breër konteks van Suid-Afrika.
Ervaar jy dat internasionale studente oor die afgelope tien jaar hierdie uitkomste kon bereik? Is daar ander insigte en ervarings wat jy al opgelet het studente wat hierdie kursus voltooi met hulle saamneem Nederland of België toe?
Ek dink die uitkomste word definitief bereik, ja!
’n Paar jaar gelede het Liselotte Voets, ’n Belgiese uitruilstudent van die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) wat die US besoek het as deel van haar meestersgraad in filosofie, ons Afrikaanskursus vir Nederlandssprekende studente gevolg terwyl sy in Suid-Afrika was. Sy het na die kursus haar gedagtes in Afrikaans oor vryheid in ’n Taalsentrum-blog gedeel, en dit het my hart warm gemaak dat sy ook een van my studente was.
Een van my ander studente het verlede jaar vir my die volgende geskryf, en dit vat so bietjie saam wat ek gereeld as terugvoer kry: “Baie dankie vir al die moeite en toewyding wat jy in ons Afrikaanse klasse insit. Ek het nie net soveel oor Suid-Afrika en sy kultuur geleer nie, maar ook baie oor myself. Die lesse en aktiwiteite het my gehelp om dinge op ’n nuwe manier in perspektief te sien en my wêreldbeskouing te verbreed. Ek waardeer die ruimte wat jy skep vir openhartige gesprekke en vir die geleenthede wat ons het gehad om die land en sy mense op so ’n unieke manier te ervaar. Met opregte waardering.”
Lees hier meer oor die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente aan die US.

Musikant Frazer Barry (regs) is een van die gereelde gaste wat Helga (middel) nooi om met die studente te gesels oor Afrikaanse musiek, kultuur en identiteit.
Maar wat as jy nie Nederlandssprekend is nie en steeds Afrikaans wil leer?
Daar is verskeie opsies. As jy ’n uitruilstudent is, kan jy ons Beginnerafrikaans vlak 1-kursus deur US Internasionaal neem. As jy ’n plaaslike US-student is, is ons Kampusafrikaanskursus net reg vir jou, en as jy onverbonde aan die Universiteit is, is Afrikaans 123 die aangewese kursus om te volg. As jy verkies om teen jou eie pas te leer, kan jy ook ons EdX-kursus om Afrikaans te begin aanleer, oorweeg. En as jy onseker is oor wat jou te doen staan, kan jy gerus vir Helga e-pos by hbuys@sun.ac.za.
Het jy geweet?
Jy kan ook Xhosa of Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) deur die Taalsentrum aanleer. Die kursusse is interaktief en baie pret.
Wil jy jou eie ding doen met ons aan jou sy?
Oorweeg ook gerus ons EdX-kursusse om Afrikaans, Xhosa of SASL onafhanklik en teen jou eie pas te begin leer.
– deur Andréa Müller en Helga Sykstus