Op 27 April vier Suid-Afrika Vryheidsdag ter herdenking van sowel die eerste demokratiese verkiesing in 1994 as die ingebruikneming van die nuwe (tussentydse) Grondwet, wat gelyke regte en burgerlike vryhede vir alle landsburgers waarborg.
Vandag, een en dertig jaar later, is baie Suid-Afrikaners te jonk om daardie eerste dag van vryheid te onthou, terwyl die herinnering daaraan vir ander vervaag het, of ʼn sekere mate van selftevredenheid ingesluip het. Ons huidige kommer oor die toestand van ons land en talle ander wêrelddele veroorsaak moontlik dat min van ons in ʼn feestelike luim verkeer; des te meer rede om die volgende vermaning deur Nelson Mandela ter harte te neem: “Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.” [Eie vertaling.]
Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.
Vryheidsdag roep ons op om hulde te bring aan die opofferings wat in die stryd teen apartheid gemaak is, en om te besin oor die vryhede wat deur daardie opofferings verwerf is. En elke jaar herinner dit ons daaraan dat ons saam met daardie vryhede die verantwoordelikheid gekry het om ons individuele en gesamentlike kragte in te span om die die beste moontlike gebruik daarvan te maak en ook om ander se vryhede te bevorder.
Die vorm en klank van vryheid
Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. Die regte om te stem, om te lewe sonder om vervolging te vrees en om aan die openbare lewe deel te neem, is fundamentele regte. Maar hierdie regte is onvolledig sonder vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid – die reg om in die taal van ʼn mens se keuse te praat, te dink, te skep en te kommunikeer. As jou stem nie gehoor word nie, kan jy nie deelneem nie. As jy nie kan verstaan nie, kan jy nie toegang tot regte verkry nie. Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet word dikwels geloof as een van die progressiefste grondwette ter wêreld. Die Handves van Regte waarborg vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid, erken twaalf amptelike tale, en heg spesifiek waarde aan kulturele en taalkundige diversiteit.
Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. […] Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit.
Vir talle Suid-Afrikaners, veral dié wie se moedertaal nie Afrikaans of Engels is nie, bly die reg om hulle ten volle in hulle huistaal uit te druk, egter meer van ʼn droom as die werklikheid. Engels oorheers in die akademie, regering, media en tegnologie, en is dus as’t ware die sleutel tot geleenthede. Engels is ook ʼn klassemerker: diegene wat vlot is in Engels verkry toegang tot werksgeleenthede, geregtigheid en aanlyn ruimtes; diegene wat Engels nie magtig is nie, bly agter. In hierdie proses word die waarde van Afrikatale verlaag en word hulle dikwels as erfenissimbole behandel, eerder as lewende gedagte- en kommunikasiestelsels. Só word kulturele trots weggekalwe en die oordrag van kennis tussen generasies aan bande gelê.
Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle?
Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle?

Meertaligheid moet vir almal geld
In ʼn Suid-Afrika wat in die ware sin van die woord meertalig is, sal geen taal uitgesluit wees en sal nie een enkele persoon agterbly nie. As daar geen hulpbron- of infrastruktuurtekorte was nie, en geen gaping tussen beleide en die uitvoering daarvan nie, sou die regering in alle tale dienste gelewer het en daar sou volle toegang tot digitale en ander media gewees het. Die regering sou belê het in vertaal- en tolkdienste en taaltegnologieë vir inheemse tale; en daar sou ondersteuning wees vir inhoudskepping in onderverteenwoordigde tale – veral op digitale platforms. Daar sou regsaanspreeklikheid wees wanneer grondwetlike taalregte geïgnoreer word. En daar sou moedertaalonderrig en meertalige pedagogieë op alle skoolvlakke wees.
Ons is nog nie heeltemal daar nie – maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.
Ons is nog nie heeltemal daar nie – maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.
Die Nal’ibali-leesveldtog versprei kinderverhale in al die Suid-Afrikaanse tale om vroeë lees en die vertel van stories tuis aan te moedig, en projekte soos PRAESA bevorder vroeë geletterdheid in Afrikatale en werk daaraan om die skoolstelsel van onder af boontoe te verander. Terselfdertyd bied transtaling ʼn potensieel transformasionele benadering tot leer en onderwys wat taalkundige diversiteit regverdig toegevoeg in die klaskamer inbring op ʼn manier wat meertalige leerders en die waardes en kennis wat hulle bring, bemagtig.
In hoër onderwys het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) ʼn taalbeleidsraamwerk (2020) gefinaliseer wat daarop gemik is om meertaligheid en die ontwikkeling van inheemse tale by Suid-Afrika se 26 openbare universiteite te bevorder, en in 2023 het die DHOO ongeveer R70 miljoen oor ʼn driejaartydperk bewillig om universiteite te help om hierdie mikpunte te bereik. Die Universiteit Stellenbosch (US) het die geld wat tot dusver ontvang is, gebruik om ʼn hupstoot te gee aan inisiatiewe om sosiale kohesie en insluiting deur middel van taal by die instansie te bevorder. Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is. Die skep van ʼn verwelkomende omgewing op die kampus en die bevordering van meertaligheid in die breë kampusgemeenskap is oorkoepelende doelwitte, en voorbeelde van meer praktiese inisiatiewe is die reeks Bou Gemeenskappe deur Meertaligheid-werkwinkels wat vir die studentegemeenskap en personeellede aangebied word, en Xhosa- en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)- kursusse wat gratis vir sowel studente as personeel aangebied word. Nog ʼn opwindende inisiatief by US is die ontwikkeling van Xhosa-terminologie.
Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is.
In die digitale ruimte bereik gemeenskapsuitgewers en -skeppers gehore, hulle vertel stories en bou kulturele kapitaal in aanlyn poetry slams, podsendings en TikTok-video’s in, onder meer, Xhosa, Setswana en Xitsonga, terwyl die Masakhane-inisiatief IT-spesialiste wat sprekers van Afrikatale is bymekaarbring om natuurlike taalverwerkingsinstrumente vir Afrikatale te ontwikkel, wat sal verseker dat hulle verteenwoordig word in KI, stemtegnologie en masjienvertaling.
Vryheid is ʼn doenwoord
Taalvryheid is nie selfverwesenlikend nie – dit is iets wat ons moet beliggaam, waarvolgens ons moet handel en wat ons moet verdedig om betekenis daaraan te gee. Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde. Wanneer ons insluiting eis – in die klaskamer, tegnologie, gesondheidsorg of die media – betoon ons eer aan almal se reg om gehoor te word. En wanneer ons oor taalgrense heen onderrig, skep en luister, bou ons aan ʼn vryer, meer gelyke gemeenskap.
Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde.
– deur Tania Botha, vertaal deur Ingrid Swanepoel