Op Vrydag 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag vir die 25ste keer wêreldwyd gevier om bewustheid van taalkundige en kulturele diversiteit te bevorder en om meertaligheid aan te moedig. UNESCO het Internasionale Moedertaaldag in 1999 ingestel om die onontbeerlike rol van tale in die onderwys, kulturele bewaring en maatskaplike insluiting te beklemtoon, en aandag te vestig op die uitdagings wat bedreigde tale en meertalige gemeenskappe orals in die wêreld in die gesig staar.
Op 21 Februarie 1952 sterf vyf studente en word talle beseer tydens polisie-optrede by ʼn betoging in Bangladesj (destyds Oos-Pakistan) ter erkenning van Bengaals as ʼn amptelike taal. Vier jaar later word Bengaals inderdaad as amptelike taal amptelik erken.
Wat as ʼn nasionale beweging begin het, het gelei tot ʼn wêreldwye beweging ter bevordering van taalkundige regte. Internasionale Moedertaaldag dien tans as ʼn simbool van individue se reg om hul moedertaal aan te leer, te praat en te ontwikkel sonder om diskriminasie of onderdrukking te vrees.”
Dit gaan nie net oor die woorde nie
Tale is die draers van die tradisies, geskiedenis en identiteite van hulle sprekers. Wanneer ʼn taal verdwyn, is ʼn unieke manier waarop daar gedink is, stories vertel is en die wêreld verstaan is, vir altyd verlore. Die VN skat dat daar tans wêreldwyd ongeveer 8 300 tale bestaan, waarvan byna 40% as bedreig of ‘gedoem’ beskou word. Dit beteken dat geen kinders of jongmense daardie tale meer praat nie en dat net enkele bejaarde sprekers daarvan nog oorbly. Ongelukkig sluit dit die laaste van die vele Khoisan-tale in wat lank gelede in Suid-Afrika gepraat is. Nama is byvoorbeeld deur talle Khoisan-gemeenskappe in die Noord-Kaap gepraat, maar teen 2017 was daar minder as 2 000 Nama-sprekers oor – die meeste van hulle ouer as vyftig jaar; net drie bejaarde lede van die Khomani San het nog die N | uu-taal gepraat, en sover bekend was daar net twee sprekers oor van Kora, die taal van die Koranas.
Net soos dit in taal oor veel meer as kommunikasie gaan, gaan taalkundige verskeidenheid oor meer as die bewaring van woorde; dit gaan ook oor die bevordering van interkulturele dialoog en die versekering van regverdige toegang tot onderwys en geleenthede vir almal. Die tema van Internasionale Moedertaaldag 2025, “Tale maak saak!”, beklemtoon ook die dringende behoefte aan vooruitgang op die gebied van taalkundige verskeidenheid en insluiting as deel van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s). Globalisering, taalbeleide wat dominante tale verder bevoordeel en tegnologiese vordering bedreig taalkundige verskeidenheid dikwels en lei tot die marginalisering van niedominante tale. Tans word minder as 100 tale grootskaals in digitale kommunikasie en op aanlyn platforms gebruik, wat die sprekers van minderheidstale se toegang tot inligting en leergeleenthede beperk. Omdat kommunikasie van tegnologie afhanklik is, is dit noodsaaklik om te verseker dat alle tale, met inbegrip van inheemse en minderheidstale, in die onderwys, die openbare lewe, en digitale ruimtes verteenwoordig word.
Meertaligheid en meer
Meertaligheid verwys na die gelyktydige bestaan van meer as twee tale in ʼn bepaalde gebied, of na die vermoë om meer as twee tale te praat. Dit het ʼn gonswoord geword in gesprekke oor onderwys en maatskaplike insluiting. Navorsing toon dat 40% van die wêreldbevolking geen toegang het tot onderwys in ʼn taal wat hulle praat of verstaan nie, wat dit moeilik maak vir kinders om hulle volle potensiaal te bereik.
Deur moedertale met onderwys te integreer, kan gemeenskappe geletterdheid bevorder, leeruitkomste verbeter, en ʼn dieper verbintenis met hulle kulturele identiteit bevorder.”
Plurilinguïsme, ʼn term wat taamlik onlangs geskep is, beteken meer as bloot om meervoudige tale te ken. Dit beklemtoon die vermoë om oor tale heen te kommunikeer en te put uit ʼn uiteenlopende taalkundige en kulturele repertoire. Anders as die tradisionele uitgangspunt dat dit nodig is om individuele tale afsonderlik te bemeester, erken plurilinguïsme gedeeltelike vaardighede, waar individue verskillende tale gebruik, afhangend van konteks en behoefte. Hiervolgens is effektiewe kommunikasie, eerder as die vermoë om ʼn taal vlot of foutloos te praat, die uiteindelike doelwit van taalverwerwing.
Deur plurilinguale onderwys te bevorder en kinders van jongs af aan te moedig om meervoudige tale te leer, kan gemeenskappe individue toerus met die vaardighede om in ʼn geglobaliseerde wêreld te floreer terwyl hulle stewige bande met hul moedertaal behou. By die US maak plurilinguïsme deel uit van ʼn meertalige ingesteldheid – ʼn benadering wat beteken dat ʼn mens gewillig is om sprekers van ander tale tegemoet te kom deur aanvaarding en waardering vir dit wat hulle diversiteit tot die gesprek bydra.

Kom ons onthou wanneer ons Moedertaaldag 2025 vier dat taal meer as woorde is: dit is ook identiteit, erfenis en verbintenis. Of jy nou een of baie tale praat, elke poging om ʼn moedertaal te bewaar, te leer of te bevorder dra by tot ʼn meer insluitende en taalkundig ryke wêreld. Tale máák saak, en ons moet hulle beskerm.
– deur Tania Botha