Op Vrydag 21 Maart vier ons Menseregtedag in Suid-Afrika – ses dekades nadat die gebeure by Sharpeville op dieselfde dag in 1960 sou maak dat dié datum vir ewig deel word van demokratiese Suid-Afrika se erfenis.
Sedert die afskaffing van apartheidswetgewing en die demokratiese verkiesing van Nelson Mandela as Suid-Afrika se president in 1994, word Suid-Afrikaners met die herdenking van hierdie dag uitgenooi om na te dink oor sowel hulle eie regte as die van ander; om te dink oor die lang en moeilike stryd vir gelyke regte vir almal in Suid-Afrika, en om te onthou om aan te hou om gelyke menseregte vir almal – ongeag velkleur, gender, geloof, seksuele oriëntasie of nasionaliteit – ten alle tye te respekteer en te beskerm.
Taalregte
Ons Grondwet en Handves van Regte bevestig ons almal se reg op lewe, gelykheid en menslike waardigheid. Wat baie mense dalk nie besef óók in die Handves van Regte as fundamentele menseregte genoem word nie, is die reg tot taal, kultuur en gemeenskap, en die reg om aan kulturele en taalkundige gemeenskappe te behoort. Ons Grondwet maak spesifiek voorsiening vir die beskerming van taalregte. Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSALB) is juis gestig met die doel om die ontwikkeling en gebruik van alle tale in Suid-Afrika te bevorder, en om respek vir daardie tale aan te moedig.
Ons Grondwet maak spesifiek voorsiening vir die beskerming van taalregte.”
Taalkundige menseregte
Wêreldwyd word daar navorsing gedoen en besin oor individue en hele gemeenskappe se taalkundige menseregte, oftewel “linguistic human rights”. Taalkundige menseregte behels daardie regte wat die gebruik van en waardes wat taal betref verskans: van die reg om ’n taal van jou keuse te praat, die reg tot toegang tot vertaling of tolking wanneer jy nie ’n taal verstaan nie, tot die reg om enige taal van jou keuse aan te leer.
Al ons Suid-Afrikaanse tale is eintlik minderheidstale, of tale met beperkte verspreiding; nie een Suid-Afrikaanse taal word as moedertaal deur ’n meerderheid Suid-Afrikaners gepraat nie. Engels is egter die de facto lingua franca in Suid-Afrika. Gevolglik is dit sprekers van ander tale as Engels wat dikwels uitdagings ervaar met betrekking tot die beskerming van hul taalkundige regte. Dit is juis waarom dit so belangrik is om meertaligheid en ’n meertalige ingesteldheid te bevorder en te beskerm. Dit is soos ons Grondwet bepaal: Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons diversiteit. Dit is ons verantwoordelikheid as landsburgers, en as regering, om seker te maak dat ons daardie strewe gestand doen.
Taal vergestalt die regte van individue in die sin dat taal in die eerste plek nodig is om wetgewing op te teken. Verder maak taal hierdie wetgewing – en regte – toeganklik vir individue, mits dit in ’n taal gekommunikeer word wat ’n individu verstaan. Individue het ook die wetlike reg om in die hof in hul eie taal aangehoor te word. Verder bemagtig taal mense om protes aan te teken. Taal is daarom nie net die magtige draer van identiteit, kultuur en gemeenskap nie, maar ook van geregtigheid.
Taal is dus nou vervleg met menseregte. Taal kan ook gebruik word om uit te sluit, en daarom moet ons, wanneer ons vir taalkundige menseregte pleit, nie uit die oog verloor dat inklusiwiteit en aanvaarding die grondslag van ons taalbesluite moet wees nie.
Taal kan ook gebruik word om uit te sluit, en daarom moet ons, wanneer ons vir taalkundige menseregte pleit, nie uit die oog verloor dat inklusiwiteit en aanvaarding die grondslag van ons taalbesluite moet wees nie.”
Die reg om ’n taal te kies, en die reg om daardie taal te gebruik, is onlosmaaklik verbonde aan die beskerming van die mens se waardigheid, veiligheid en sosiale en kulturele identiteit. Of soos Steve Zeitlin dit in Folklife Magazine verwoord: “Language rights are human rights”.
– deur Andréa Müller en dr Kim Wallmach