Dis dringend! Dis van ’n welbekende instelling! Doen dit nou!
Dis heel waarskynlik ’n slenter…
As jy vir ’n groot maatskappy werk, het jy tien teen een e-posse van die IT-departement ontvang wat jou teen uitvissing‑aanvalle waarsku. Die rede vir sulke waarskuwings kan wees omdat iemand ’n skakel in ’n e-pos oopgemaak het wat probeer om gebruikersname, wagwoorde of bankbesonderhede te steel en die boosdoener het heel waarskynlik hierdie persoon se rekening gebruik om selfs meer uitvissing‑e-posse te versprei.
Verizon, ’n telekommunikasiemaatskappy in die VSA, het bevind dit neem meer as ’n halfuur (gemiddeld) vir ’n werknemer om ’n suspisieuse e-pos aan te meld. Om dié rede kon minstens een persoon binne ’n skrale dertig minute statisties reeds aan die aas gebyt het. En as jy eers aan die hoek is, sal jy inkatrol word en die gevolge daarvan dra.
Die goeie nuus is dat die sleutel om ’n kuberstrikroof-aanval te vermy dalk in taal lê.
Tydens die 12de Internasionale Konferensie oor Semantiese Rekenaarverwerking wat in 2018 deur die Instituut vir Elektriese en Elektroniese Ingenieurs (IEEE) aangebied is, het navorsers verduidelik hoe hulle deur die ontleding van die taalgebruik in uitvissing‑e-posse uitvissingpogings akkurater as kubersekuriteitsmaatskappy Netcraft se toonaangewende teenuitvissingsprogram kon identifiseer. Een van die vernaamste leidrade wat die navorsers geïdentifiseer het, was dat uitvissing‑e-posse amper altyd dringend geklink het, en opmerkings soos “Verander onmiddellik” of “Stuur binne die volgende 24 uur” bevat het. Nog ’n rooi vlag is die manier waarop die ontvanger aangespreek word – die generiese of onpersoonlike “Dear Client” of “Geagte/Beste kliënt” moet die gevaarklokkies laat lui! Iets anders wat jy jouself moet afvra, is: Is daar enige spelfoute? Spel‑ en tipografiese foute verklap dikwels dat die oorsprong van die e‑pos verdag is.
As linguistiek nie jou forte is nie, doen die volgende:
- Bevestig dat die e-pos‑ en webwerfadres in die e-pos bo verdenking is.
- Moenie op enige skakel in ’n e‑pos klik nie – tensy jy weet dat die afsender en skakel betroubaar is.
- Moenie op versoeke vir persoonlike of sensitiewe inligting reageer nie. Die eeue oue beginsel geld steeds – as iets te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik.
- Hou jou wagwoorde ten alle tye geheim, selfs al dink jy jy kan die bron wat jou wagwoorde vra, vertrou.
Ongelukkig is dit ’n kuberoerwoud daar buite. Wees ten alle tye waaksaam!