ʼn Mens se aktiewe woordeskat – die woorde wat jy gebruik – en die manier waarop jy kommunikeer, kan die omvang van jou invloed asook jou kans op sukses vergroot of verminder. Hier is tien maniere om meer woorde te leer en meer suksesvol in die lewe te wees.
Leer meer woorde in jou moedertaal:
1. Eet ʼn woordeboek. Goed, dis ʼn grappie, maar jy kan gerus maar ʼn woordeboek lees!
2. Gaan strategies te werk om jou woordeskat te vergroot en jou taalvaardigheid uit te brei. Dit sal nie vanself gebeur nie.
3. Gesels met ouer mense. Hulle beskik heel waarskynlik oor ʼn enorme aktiewe woordeskat. Leer by hulle.
4. Kyk na storiereekse en flieks en luister na podsendings. Let op na woorde wat jy nog nie gebruik nie en skryf hulle neer. Gaan slaan hulle na. Wees ʼn waaghals en begin daardie woorde inspan!
5. Benut die voorreg om te kan lees: die internet, koerante, tydskrifte en boeke. Dis die beste om te begin met onderwerpe waarvan jy hou, en dan is daar ook ʼn groter moontlikheid dat jy sal aanhou lees.
6. Wees nuuskierig en weetgierig oor woorde. Slaan dié na wat vir jou onbekend is en probeer hulle gebruik. Raai oor die verbuiging van woorde en kyk dan of jy reg is. Speel woordspeletjies.
7. Wees vol selfvertoue wanneer jy ʼn nuwe woord uittoets. Mense sal jou reghelp as jy foute maak, maar moenie ontmoedig word of geïntimideerd voel nie. Die volgende keer sal jou gebruik van daardie woord in die kol wees!
Leer meer woorde in ʼn ander taal:
8. Stel jouself bloot aan ʼn meertalige konteks. Verlustig jou in diversiteit!
9. Gesels met iemand sonder om enige Afrikaanse woorde te gebruik. Probeer om duidelik te kommunikeer.
10. Gebruik al jou hulpbronne: moedertaalsprekers, tegnologie, outydse flitskaarte, ons Taalleerhub, besprekingsgroepe, flieks met onderskrifte, en luisterboeke of podsendings wanneer jy pendel en selfs wanneer jy skottelgoed was. Vir optimale genot moet jy fokus op onderwerpe waarin jy belangstel.
– deur Ydalene Coetsee, vertaal deur Ingrid Swanepoel