Navorsing en die publikasie van bevindings is noodsaaklik vir ʼn akademiese instelling om sy reputasie en geloofwaardigheid uit te bou. Navorsing by die Taalsentrum laat ons ook toe om te peins oor wat ons doen, hoekom ons doen wat ons doen, en of ons werkswyse nog die beste manier is om dit te doen.
By die Taalsentrum hou tien personeellede hulself tans benewens hul dagtaak ook met navorsing in die vorm van nagraadse studie besig. Daar is sewe meestersgraadstudies aan die gang met onderwerpe wat strek van die ontwikkel van ʼn beheerskema vir werkseise vir opvoedkundige tolke; ʼn ondersoek na die gehalte van vertaalde Afrikaanse banktekste; metadiskoersmerkers in geskrewe tekste van veeltalige studente; leesspoedontwikkeling; tot taalgeïntegreerde leer; kurrikulumontwerp vir kliniese kommunikasie in Xhosa; en die gebruik van klikkertegnologie in ʼn Xhosa-kommunikasiekursus. Die drie doktorsgraadkandidate ondersoek onderskeidelik revisie as ʼn aspek van kwaliteitbestuur in ʼn akademiese vertaalkantoor; die produksienetwerk van ʼn getolkde universiteitslesing; en die ontwikkeling van tweedetaalskryfvaardighede in Afrikaans op universiteitsvlak.
Ook is drie personeellede in die afgelope jaar beloon vir voltooide navorsing. Madelé du Plessis het ʼn MPhil in Opvoedkunde behaal vir haar werk oor die evaluering van ʼn kliniese kommunikasiekursus in Xhosa aan ʼn gesondheidswetenskappe-fakulteit. Vernita Beukes het ʼn PhD behaal vir haar taakgebaseerde, rekenaargesteunde leer-en-onderrigprogram vir sosiale Afrikaans gemik op nie-Afrikaanssprekende internasionale studente. ʼn PhD is ook aan Kabelo Sebolai toegeken vir sy navorsingsbydrae oor die inkrementele geldigheid van drie akademiesegeletterdheidstoetse by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit vir tegnologie.
Navorsing verbreed horisonne sodat ons take op nuwe maniere kan aanpak en dit skep geleenthede om ons navorsingsinsigte met die buitewêreld te deel. Benewens die taalondersteuningswerk wat die Taalsentrum elke dag doen, word daar dus ook kennis op verskeie gebiede ontwikkel. E-pos gerus vir dr Rose Richards om in aanraking te kom met ʼn kenner op ʼn gebied waaroor ons hier berig het.