Op Donderdagaand, 8 Februarie 2018, het die Taalsentrum ʼn harde kopie van die Festschrift waarmee hy vir sy professionele bydrae tot sy vakgebied vereer word, aan prof Leon de Stadler oorhandig. Die voorblad van die Festschrift is ʼn jaar vantevore al met sy afskeidsfunksie oorhandig, maar die inhoud daarvan het tot dusver vir hom ʼn verrassing gebly. Die US se Botaniese Tuin het gasheer gespeel vir ʼn intieme funksie waar hy saam met sy gesin, die outeurs wat bydraes vir die Festschrift gelewer het en ʼn paar ander spesiale gaste kon bestek neem van nog ʼn dimensie van sy lewe en die waardering wat mense in die vakgebied daarvoor het.
Die Festschrift se inleiding neem ʼn mens ver terug: “In 1972 begin Leon de Stadler se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch toe hy as eerstejaarstudent op die kampus aanmeld. Dié verbintenis sou vir meer as vier dekades ononderbroke voortduur – tot en met sy uittrede in Januarie 2017. As student, maar nog meer as dosent en veral as Direkteur van die Taalsentrum het Leon ’n wesenlike bydrae gelewer en ’n onuitwisbare nalatenskap daargestel. Hy het hom onderskei as dosent, navorser, akademiese bestuurder en gewaardeerde kollega. ’n Huldiging deur middel van ’n tydskrif kan nie werklik reg laat geskied aan sy bydrae of aan die rol wat hy gespeel het nie – die studente wat hy opgelei het, die kollegas wat hy geïnspireer het, die navorsing wat hy gepubliseer het en die werk wat hy gedoen het en wat nog voortleef en floreer, is die eintlike huldiging.
Tog wil kollegas in Suid-Afrika en elders met hierdie Festschrift-uitgawe erkenning gee aan dit wat Leon gedoen het en aan die ingrypende invloed wat hy op sy vakgebied, op sy studente, op sy kollegas en medewerkers, op sy departement, op die Taalsentrum en op die Universiteit gehad het. Dié invloed kan min mense hom nadoen.”
Die Festschrift word as volume 53 (2017) van die geakkrediteerde akademiese tydskrif Stellenbosch Papers in Linguistics Plus (SPiL Plus) uitgegee.
