Waarom sê ons ‘Maandag’ vir Maandag? Waar kom die name van die dae van die week in Xhosa, Engels en Afrikaans vandaan?
uMvulo (Die dag wat die week open)
In Afrikaans en Engels is die benamings van die dae van die week afkomstig van die Romeinse mitologie. So, Maandag is ’n leenvertaling van die Latynse ‘dies lunae’ wat ‘dag van Luna’ beteken, omdat hierdie dag aan die Romeinse godin van die maan, Luna, gewy is.
In Xhosa skakel die dae van die week met ʼn spesifieke betekenis. Die eerste dag van die week in Xhosa, ‘uMvulo’, is afgelei van die werkwoord ‘-vula’ wat ‘oopmaak’ beteken. Maandag is dus die dag wat die week open.
uLwesibini (Die tweede dag)
Xhosa-mense maak ook gebruik van die sewedagweek-siklus, en Dinsdag tot Vrydag lei hulle van telwoorde af. Die Xhosa-woord vir ‘twee’ is ‘-bini’ en dis hoekom ons in Xhosa ‘uLwesibini’ vir Dinsdag sê.
uLwesithathu (Die derde dag)
Vir die res van die dae voor die naweek kan ons eenvoudig die telwoordgedeelte van die woord verander om aan te dui watter dag dit is. Om die Xhosa-woord vir Woensdag te kry, neem ons die telwoord ‘-thathu’ wat ‘drie’ beteken, om ‘uLwesithathu’ te vorm.
uLwesine (Die vierde dag)
Donderdag is die vierde dag van die week. Vir hierdie dag gebruik ons in Xhosa die telwoord ‘-ne’ wat ‘vier’ beteken om ‘uLwesine’ – die Xhosa-woord vir Donderdag – te vorm.
uLwesihlanu (Die vyfde dag)
Vrydag is die laaste dag van die week wat in Xhosa van telwoorde afgelei is. Ons gebruik die telwoord ‘-hlanu’ wat in Xhosa ‘vyf’ beteken om uit te kom by ‘uLwesihlanu’ – die Xhosa-woord vir Vrydag.
uMgqibelo (Die dag wat die week klaarmaak)
Volgens die sewe-dag kalender is Sondag die einde van die week. Maar in Xhosa praat ons van Saterdag as die laaste dag van die week, of die dag wat die week klaarmaak of afsluit. In Xhosa gebruik ons dus die woord ‘uMgqibelo’ vir Saterdag, afkomstig van die werkwoord ‘-gqibela’ wat ‘klaarmaak’ of ‘afsluit’ beteken.
iCawa (Kerkdag)
Sondag is die dag waarop mense tradisioneel kerk toe gaan. Die Europese sendelinge wat hulself in die 1820’s tussen die Xhosa-mense gevestig het, het Christentradisies met hulle saamgebring, wat ook in die gemeenskappe opgeneem is. Daarom gebruik ons die Xhosa-woord vir kerk, ‘iCawa’, om in Xhosa na Sondag te verwys.
Veels geluk as jy tot op die punt gelees het – jou Xhosa-woordeskat is nou sewe woorde ryker!
This post is also available in: Afrikaans