Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Ons skop die jaar af met ‘n boekresensie-gesprek met Marisca Coetzee, ‘n akademiesegeletterdhededosent wat ook die Taalsentrum se Leeslab koördineer. Marisca is baie lief vir woorde, boeke en stories.
Jy het genoem dat jy onlangs ʼn uitstekende boek gelees het. Wil jy ons ʼn bietjie meer vertel?
Ek het onlangs ʼn kragtige en prikkelende boek raakgeloop: The girl with the louding voice, deur Abi Daré. Dis die verhaal van die 14 jaar oue Adunni, wat op ʼn plattelandse dorpie in Nigerië grootword.
Dwarsdeur haar jong lewe word Adunni gekonfronteer met oorweldigende uitdagings, maar ten spyte van struikelblokke wat onoorkomelik lyk, verloor sy nooit haar een groot droom uit die oog nie: om te kan skoolgaan en te leer en om haar stem te vind. En sy wil nie sommer enige stem hê nie. Sy wil ʼn harde stem, oftewel ʼn “louding voice” hê sodat sy vir haarself en ander meisies kan opkom; kan praat en gehóór word. Adunni will die bose kringloop verbreek waarin meisies wat in armoede gebore word, geen toekomsvooruitsigte het nie. Sy droom daarvan om haarself deur geleerdheid te bemagtig, en om ander meisies soos sy ook te bemagtig sodat hulle vir hulleself ʼn menswaardige lewe en toekoms kan opbou.
Al moes Adunni die hartverskeurendste ervarings ondergaan, vind sy op die ou einde haar stem, haar “louding voice”, danksy haar moed en vasberadenheid om haar doel te bereik, en ʼn bietjie hulp en aanmoediging van ʼn onverwagte vriend.
Hoekom het hierdie boek by jou aanklank gevind?
Adunni se storie het my op maniere getref wat ek glad nie voorsien het nie. My voorkeurgenre is moord- en raaiselverhale – stories wat onrealisties en selfs vergesog is. Adunni se storie is ʼn realistiese een en dit het my hartsnare geraak. Sy het dit reggekry om my by haar lewe en in haar wese in te trek. Ek het saam met haar gelag en kwaad geword, en ek het saam met haar gehuil. Ek het haar pyn, haar skaamte, haar vreugde en haar oorwinnings saam met haar beleef. Adunni het lewendig geword en dit reggekry om van ʼn fiktiewe karakter in ʼn mens van vlees en bloed te verander – een wat my oortuig het om te probeer om ʼn beter opvoeder te wees. Ek gesels met mense oor Adunni asof sy een van my studente is, en deel haar inspirerende verhaal met hulle. Ek wil die soort leerkrag wees wat die pad saam met ander Adunni’s loop.
Het jy dalk ʼn lewensles by Adunni geleer wat jy met ons wil deel?
Die lewe is nie regverdig nie, maar hierdie onregverdigheid mag ʼn mens nie weerhou daarvan om van ʼn beter toekoms te droom en te werk om die droom te verwesenlik nie, ten spyte van traumatiese ervarings langs die pad.
Adunni het dit ook by my tuisgebring dat ons nooit ons geloof in ons eie vermoëns mag verloor nie en wanneer niemand anders ons nie aanmoedig nie, moet ons dit self doen! Laastens het sy my geleer dat ʼn meisiekind, ʼn vrou, onstuitbaar is wanneer sy haar hart op iets gesit het. ʼn Vasberade vrou is ʼn mag waarmee daar rekening gehou moet word.
Wie anders, dink jy, sal hierdie boek ook geniet?
Ek is doodseker dat enige iemand wat passievol oor onderwys is en wat ʼn vurige teenstander van onregverdigheid teenoor kinders en vroue is, Adunni se verhaal sal geniet. As jy inspirasie nodig het en die verhaal wil lees van iemand wat nooit tou opgegooi het nie; iemand wat daarin geslaag het om haar stem te vind, moet jy Adunni ontmoet en haar pad saam met haar loop.
Vertel ons van jou leeslys?
Ek sal jou vertel wat in die Desembervakansie gebeur het: ek het in my gemakgenre teruggesak en die dae omgelees; die meeste van die tyd met ʼn moord- of raaiselverhaal in my hand. Ek het darem probeer om by ander genres ook uit te kom en danksy my oulike boekklub het ek Afrikaans sowel as Engels gelees. Hier is die titels op my vakansieleeslys, al het ek (nog) nie by almal uitgekom nie:
Little white lies – Philippa East
The bat – Jo Nesbo
Run away – Harlan Coben
The monk who sold his Ferrari – Robin Sharma
Misverstand – Marita van der Vyver
Split – Debbie Loots
Skuldig – Martin Sten
Die heelal op my tong – Anoeschka von Meck
Buys – Willem Anker