Die Taalsentrumpersoneel het vanjaar nuwe weivelde ondersoek deur hul eerste Niemoedertaal-dag op 27 Oktober te hou: ʼn inisiatief wat deel vorm van die Sentrum se #mymeertaligheid-veldtog.
Kollegas is in vyf groepe opgedeel en elke groep het ʼn taal gekry om te verteenwoordig – Arabies, Nederlands, Sotho, Italiaans en Frans was aan die orde van die dag. ‘n Verteenwoordiger van elke groep het ‘n taal uit ‘n hoed getrek. In die hoed was ook ander inheemse- en wêreldtale.
Die vyf groepe het ʼn kort voorlesing oor ‘hul’ taal voorberei en ook op die dag gespog met allerhande eetgoed wat met die kultuur van die taal gepaard gaan.
Na pret, plesier en toetshappies het die beoordeellaars op die ou end Nederlands as die wenner aangewys (of dit nou was omdat daar bier by die Nederlandse stalletjie was, sal ons nooit weet nie!).
Ons sal jou op hoogte hou van ander opwindende inisiatiewe in ons #mymeertaligheid-veldtog. Dalk sluit jy by ons aan?