Dit gons oor een van die US se Departement Algemene Taalwetenskap se jongste projekte: ʼn storie wat jong sprekers van verskeie tale – ook gebruikers van Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) – en hul ouers sáám kan geniet.
Die idee spruit uit die werk van twee Belgiese sibbe, Filip en Hilde Verhelst, wat self Doof is en ʼn kinderboek met die titel Gebarentaal Redt in 2013 vrygestel het. Die storieboek word gekombineer met ʼn tweetalige DVD wat in Nederlands en Nederlandse Gebaretaal vertel van Noah, ʼn Dowe leeutjie, wat saam met sy horende vriend Adam gaan duik, en hoe gebaretaal tot hul redding kom.
Die Departement Algemene Taalwetenskap het die vertaalregte vir die boek gekoop en gaan nou ʼn boek-en-DVD-stel in vyf Suid-Afrikaanse tale vrystel. Op die Suid-Afrikaanse weergawe van die DVD kan gesinne kies om Afrikaans, Engels, Xhosa of Zoeloe te luister terwyl hulle die SASL-storie kyk. Kykers kan ook die storie in die boek met dieselfde prente volg, met ʼn vereenvoudigde geskrewe weergawe van die storie wat op die DVD vertel word.
Prof Frenette Southwood, voorsitter van die Departement Algemene Taalwetenskap, sê hulle hoop om die eerste van drie sulke stories op Wêreldboekdag (23 April) vry te stel. Belangstellendes kan met die redakteur, Vanessa Reyneke, vir meer inligting skakel.
Die Taalsentrum het twee gebaretaaltolke wat vir Dowe studente in die Fakulteit Opvoedkunde en US-personeellede tolk. Skakel gerus met Vicki vir meer inligting oor SASL-tolking by die Universiteit.
![A story accessible to Deaf children and children who can hear](http://www0.sun.ac.za/languagecentre/wp-content/uploads/2019/04/SLS.jpg)