Openbare redevoering is definitief ʼn vaardigheid wat ʼn mens kan bemeester! Op 8 Augustus het die Taalsentrum se Kommunikasielab en die Stellenbosch Toastmasters-klub hul kragte saamgesnoer om ʼn Toastmasters-demonstrasievergadering en -inligtingsessie in die Taalsentrum se seminaarlokaal te hou. Só kon enigeen eerstehands ervaar hoe die Toastmasters dinge doen: Voorbereide toesprake, evaluerings en onvoorbereide toesprake is in die gestruktureerede formaat van ʼn Toastmasters-byeenkoms aangebied.
Toastmasters Internasionaal is ʼn opvoedkundige organisasie sonder winsbejag wat mense vaardighede vir openbare redevoering en leierskap deur ʼn wêreldwye netwerk van klubs leer. Toastmasters gaan oor selfontwikkeling in ‘n veilige en positiewe omgewing teen jou eie pas. Die Klub se president, Zimbili Sibiya, verduidelik: “Ons ʼn warm en verwelkomende klomp en besoekers is welkom om net waar te neem – ons gaan jou nie skielik iets laat doen nie!” Daar was meer as 30 nuwe gesigte by die vergadering. E-pos die Stellenbosch Toastmasters-klub gerus vir meer inligting as jy die volgende Toastmasters-byeenkoms dalk wil bywoon.
Die Taalsentrum se Kommunikasielab is altyd op die uitkyk vir vennote – soos Toastmasters – om die keurige korporatiewekommunikasie-aanbod wat beskikbaar is, verder aan te vul. Kommunikasielab-kursusse is prakties en interaktief, en kan aangepas word om in spesifieke behoeftes te voorsien. Aanlynsessies vul voldagkontaksessies aan, wat ʼn ideale voorsprong en gerieflike opsie aan besige sakelui en kantooradministrateurs bied. ʼn Sertifikaat van Bevoegdheid word uitgereik wanneer ʼn kursus suksesvol voltooi is.
Die Kommunikasielab streef ook daarna om langtermynverhoudings met deelnemers te bou. “Uit die hoeveelheid deelnemers wat terugkom vir nog van ons kursusse, kan ons sien dat hierdie benadering werk. Ons het, om ʼn paar te noem, al mense van Mediclinic, ICLEI, NKC, die Rupert-stigting, Alphawave, die USB en Graham Beck Wyne gehad wat kursusse hierdie jaar bywoon,” vertel Michelle Pieters, die koördineerder van die Kommunikasielab.
“Dit is altyd ʼn inspirasie om te sien hoe iemand ontwikkel en die volgende stap neem om hul volle potensiaal te bereik. Een van ons onlangse sterre is Sello Sekele, ʼn jong en entoesiastiese ekonoom-in-opleiding van die Buro vir Ekonomiese Navorsing in Stellenbosch.” Sello het in Augustus die Kommunikasielab se kursus Skep aanbiedings met selfvertroue bygewoon, wat Eduard de Kock, ʼn radiopersoonlikheid, ervare seremoniemeester en tolk, aangebied het. “Hierdie praktiese en interaktiewe kursus het Sello gehelp om soveel selfvertroue en vaardighede om voor ʼn gehoor te praat op te doen dat hy sy kollegas se voete onder hulle uitgeslaan het ná die kursus – een van hulle het my geskakel om my daarvan te vertel!” sê Michelle. Welgedaan, Sello!
As jy jou professionele kommunikasievaardighede wil opskerp, e-pos vir Michelle om uit te vind hoe ons jou kan help.