Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Anne-Mari Lackay van die Skryflab. Anne-Mari werk sedert 2001 by die Skryflab, waar sy Skryflabkonsultasies koördineer en die skakel is tussen die Skryflab, studente, skryfkonsultante, dosente en ander personeel.
“Ek dink omdat ek self in moeilike omstandighede moes studeer en werk, maak dit wat ek ervaar het, my meer ontvanklik vir studente se behoeftes. Dit is vir my belangrik om hulle met empatie by te staan en dinge vir hulle makliker te probeer maak. Ek sal altyd vir die persoon aan die kortste ent – die underdog – opstaan en mense probeer inspireer en bemagtig om hulself te kan help om hul ideale te verwesenlik.”
Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Hoewel ek graag lees, het ek lanklaas vir ontspanning gelees. Een van die boeke wat ek wel sonder te veel onderbrekings kon lees was A Thousand Splendid Suns deur Khaled Hosseini. Dit is ʼn hartverskeurende verhaal – so eg en menslik, maar natuurlik ook ʼn werklikheid waarvan baie vroue in gebiede onder die beheer van die Taliban kan getuig. Die boek het my diep getref. Dit het kompleet vir my gevoel asof ek deel was van die vroue se stryd. Dit was veral vir my erg hoe hulle omstandighede onnodige wrywing tussen hulle veroorsaak het. Uiteindelik kon hulle tussen al die ongelooflike pyn en vernedering saamkom en ʼn uitweg vind.
Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Die boek was ʼn geskenk aan my dogter voordat sy ernstig siek geword het en dokters om haar lewe moes veg. Toe ek hierdie boek begin lees het, was dit ʼn soort ontvlugting. Die boek het my laat besef deur hoeveel moeilike omstandighede mense – veral vroue – al moes veg om te oorleef, en hoe hulle in die proses sterker anderkant uitkom. Wie is ek dan om nie hierdie geveg ook aan te pak en die beste te maak van wat my pad kruis nie? Ek kon saam met die karakters wat ek leer ken het, huil en lag oor klein oorwinnings.
Die boek speel af in Afghanistan en weerspieël die stryd van vroue in gebiede onder die beheer van die Taliban. Die skrywer beskryf die omgewing en gebeure ongelooflik goed, sodat ʼn mens dit as’t ware voor jou oë kan sien afspeel. Juis omdat ek ook kon reis na Istanbul het die boek vir my alles werklik kom maak. Dit het my opnuut dankbaar gelaat oor hoe ons hier in ons land (selfs met sy misdaad en korrupsie), in ons dorpe en huise leef.
Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek het nie ʼn spesifieke gunstelingouteur nie. Skrywers wat die wêreld vir my oopmaak, trek my aan.
Hosseini se boeke raak my omdat dit vir my ʼn ander wêreld oopgemaak het. Ek het ook sy boek The Kite Runner gelees en dit het my siel net so diep geraak soos A Thousand Splendid Suns. Ek verkies skrywers wat vir my nuwe ervarings kan bied, en ek lees graag verhale waarin waar mense wat te na gekom en verstoot word, kan oorwin en uit hulle moeilike omstandighede na ʼn bietjie sonlig kan ontsnap.
Nog ʼn skrywer van wie se skryfstyl ek hou, is John Grisham. In sy boek The Confession word ʼn jong swart voetbalster sonder voldoende bewyse skuldig bevind aan ʼn moord op ʼn jong meisie. Dit is ʼn hartverskeurende verhaal waarin vooropgestelde opvattings oor kleur ʼn rol speel en daartoe lei dat ʼn jong man jare lank onskuldig in die tronk moet wag vir die dag van sy doodsvonnis. Kort voordat die onskuldige man gehang sou word, kom die skuldige persoon na vore en erken skuld. Maar helaas – niemand wou die skuldige glo nie. Die onskuldige man is steeds gehang.
Verder hou ek van skrywers uit die sielkunde wat jou binne jouself laat kyk en help met selfondersoek. Ek hou van wenke oor hoe jy jouself kan bemagtig, soos dié wat Daniel Goleman gee in Emotional Intelligence. Hierdie boek kan ʼn mens tydsaam lees en daaruit leer.
Ek begin nou ook meer lees oor die lewens en geskiedenis van digters en skrywers soos Breyten Breytenbach, Diana Ferrus en Adam Small. Ek het die eerste twee skrywers self ontmoet – dit maak dit net meer spesiaal om dan verder oor hulle te lees. Hulle skryf oor apartheid, hul onderskeie lewensreise en komvandaan. Dit laat my ook besef dat ʼn mens se eie storie belangrik is en dat dit werd is om geskryf en gelees te word. Dr Diana Ferrus het sopas haar eredoktorsgraad in filosofie aan die Universiteit Stellenbosch ontvang.”
Wat lees jy op die oomblik?
Op die oomblik lees ek Brutal Legacy van Tracy Going, maar vorder stadig – ek sit dit neer wanneer dit hartseer raak. Dan lees ek ook Wrecker deur Noel O’Reilly – maar dit is nie werklik my soort boek nie. Dit is ʼn storie oor vreemde mense wat vreemde dinge doen, maar daar is tog interessante gebeure. Die mense se gebruike en manier van praat prikkel my om verder te lees. Ek is ook besig met die digbundels Donkerberg/Bloodwood deur Dominique Botha en Wonderlike Woorde en Dade deur Gameeda Henry (een van ons plaaslike digters in Pniël).
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek verkies ʼn gedrukte boek. My oë is beslis nie meer so goed soos wat dit was nie en elke dag sit ek voor ʼn rekenaar. Ek wil my boek kan voel, ruik, sien, blaai, neersit en optel.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek sou tog graag A Thousand Splendid Suns wou herlees – of dan dele daarvan – wanneer ek ʼn tydjie kry. Soms vergeet jy presies wat gebeur het of die tweede keer lees jy iets raak wat jy voorheen op ʼn ander manier geïnterpreteer het.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
As kind was my heel geliefste literêre karaktertjie Pippie Langkous – en dit sal ook vir altyd sy bly.”
Moenie vir my lag nie! Pippie is ʼn merkwaardige dogtertjie – presies soos wat ek wou wees op daardie stadium van my lewe in daardie klein dorpie waar ek groot geword het. ʼn Onafhanklike, sterk mensie wat die wêreld met mag en mening kon aanvat. Niemand kon haar beheer nie, sy was slim en onverskrokke en kon alles doen waarop sy haar hart gesit het. Selfs nie die belangrike polisie het mag oor haar gehad nie. Sy het in haarself geglo. Niemand was so sterk soos sy nie!
Matilda van Roald Dahl het ook ʼn blywende indruk by my gelaat: die dogtertjie wat uiters slim was en ontvlugting van haar vervelige omstandighede in boeke gesoek het. Sy ontdek dat sy bonatuurlike kragte het, wat sy dan gebruik om moeilike situasies te takel en op te los. Natuurlik sou ons almal bonatuurlike kragte wou hê om sommer alles reg te maak, almal op hulle plek te sit en moeilike situasies te oorkom.
Ek dink sulke karakters bou aan ʼn mens se persoonlikheid. Vandag hou ek steeds nie daarvan om in ʼn blik gedruk te word nie. Dan kom my Pippie-maniere of bonatuurlike kragte uit …
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
ʼn Mens leer soveel lewenslesse. Tracy Going se Brutal Legacy het my help besef dat moed en krag binne-in jouself lê; dat hoewel dinge soms onmoontlik en verlore lyk, ʼn mens soms diep moet delf vir daardie moed, maar dit wel altyd daar is.
Iets wat my ook geraak het, is toe Cathy Park Kelly – ek het haar persoonlik ontmoet – die betekenis van die titel van haar boek Boiling a Frog Slowly verduidelik het. Sy vergelyk haar pynlike lewenservaring met die reaksie van ʼn padda wat in ʼn pot met kookwater gegooi word. In daardie geval sal die padda dadelik uitspring, maar wanneer die water in die pot met die padda geleidelik warm gemaak word, meen sy die padda se vel sal aanpas by die hitte van die water totdat die padda uiteindelik doodbrand. So gebeur dit ook dat ʼn mens kan aanpas aan by die swaarste omstandighede – in haar geval, mishandeling en gendergeweld – maar sulke aanpassings is soms ʼn oorlewingstrategie wat ʼn mens sonder dat jy dit besef uiteindelik kan vernietig en kan laat uitbrand. Haar boek het my help begin verstaan hoekom vroue toelaat dat mans hulle mishandel en hoe hulle soms nie ʼn werkbare uitweg sien nie. Dieselfde beginsel geld vir ander lewensituasies waaraan ʼn mens maar gewoond raak en nie besef hoe dit jou meesleur nie.
As ek die gedigte lees van prof Adam Small en dr Diana Ferrus, kry ek insig in hulle lewensverhale. Adam Small het as talentvolle digter in die apartheidsjare ’n pynlike stryd gevoer teen die groot veronregting wat hy ervaar het oor die etiket ‘Kleurling’ wat die owerhede aan mense gehang het. Hy het eers erkenning vir sy werke gekry toe hy oorlede is. Dieselfde geld vir die gedigte van Breyten Breytenbach, wat sy eie stryd teen apartheid geveg het.
Uit Diana Ferrus (en ander digters) se werke leer ek, onder andere, dat dit is eers wanneer ʼn mens ouer is, dat jy verstaan hoekom sekere dinge gebeur het soos wat dit gebeur het. Dinge wat jou as kind gepla of seergemaak het, kry nou ʼn nuwe betekenis en jy kan dit in ʼn nuwe lig sien en verstaan. Jy begryp ook met deernis die handelinge van jou ouers en mense rondom jou. Dit laat my besef dat jou storie belangrik is en dat ander wat met dieselfde omstandighede gekonfronteer word, uit jou storie kan leer.”
Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Op die oomblik is daar op my boekrakkie ʼn paar boeke wat oor die mishandeling van vroue gaan. Dit mag moontlik nie boeke wees wat jy elke dag wil lees nie, want dit maak seer of soms wil mens nie al hierdie seer dinge weet nie. Vir my is dit ekstra hartseer om te dink dat dit jare geneem het vir hierdie skrywers om weg te kon stap van die mishandeling om nou hieroor te kon skryf. Ek dink daar is ook mans wat nog hierdie moed bymekaar moet skraap om dieselfde te doen.
My lysie is:
- Boiling a Frog Slowly deur Cathy Park Kelly
- Brutal Legacy deur Tracy Going
- A Thousand Splendid Suns deur Khaled Hosseini
- The Confession deur John Grisham
Die pandemie het vir my tyd gegee om meer gedigte te lees en self te begin skryf. Sommige is maklik om te verstaan, in ander moet jy weer die betekenis soek. Digters skryf oor die verlede, maar ook oor dinge wat nou gebeur. Dit is soms ʼn stryd om hierdie twee temas binne-in jouself versoen te kry.
Indien ons lesers meer wil weet oor die dorpie Pniël waar ek woon, lees gerus die bundel Voetspore (ʼn Pniëlse digbundel). Dis geskryf deur skrywers op die dorp en vertel meer van die lewe en gewoontes in Pniël.