Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Eduard de Kock, ʼn senior tolk by die Taalsentrum se Tolkdiens en aanbieder van die Kommunikasielab se Skep aanbiedings met selfvertroue-kortkursus.
“Ek is ʼn groot aanhanger van die tipiese nerd-kultuur: Dungeons and Dragons, rekenaarspeletjies en jou meer ingewikkelde bordspeletjies. As ek vandag baie geld sou wen, is die eerste item op my inkopielys ʼn klomp rekenaarkomponente sodat ek my eie masjien bymekaar kan sit.” By die Tolkdiens is hy ook tegnologiekoördineerder en betrokke by die portefeulje vir voortgesette professionele ontwikkeling. Verder doseer Eduard ook Wetenskap in Konteks – ʼn module vir BSc-studente in akademiese geletterdhede en rekenaarvaardighede. As stemkunstenaar vryskut hy ook as radio-omroeper.
Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Twee boeke: Magician deur Raymond E Feist, en Anansi Boys deur Neil Gaiman.
Hoekom het hierdie boeke jou só beïndruk?
Ek het Magician vroeg op hoërskool ontdek – ek het die boek in der waarheid net gekoop omdat dit ʼn interessante omslag het! Ek onthou nog die dag toe ek hom vir die eerste keer oopgeslaan het, en die eerste woorde, ‘The storm had broken’, lees net toe dit buite begin reën. Ek het toe verplig gevoel om die boek klaar te lees, wat ek sedertdien steeds gereeld doen. Ek moes op die ou end ʼn nuwe eksemplaar koop omdat die oue redelik voos begin lyk het. Dié boek sal aanklank vind by mense wat hou van stories soos Lord of the Rings, maar uit die perspektief van twee kinders wat in twee afsonderlike wêrelde groot geword het – wêrelde wat lelik koppe gestamp het.
Anansi Boys spook nog by my omdat dit my eerste blootstelling was aan die magiese realisme, waar al die ou gode en mitiese figure steeds op die aarde ronddwaal. ʼn Man kom agter dat hy die seun is van die spinnekopgod Anansi en dat hy ʼn broer het wat skynbaar al sy pa se kragte – wat hoofsaaklik te doen het met poetse bak – geërf het. Die boek het my oë oopgemaak om die magiese in die alledaagse raak te sien.
Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ongetwyfeld Neil Gaiman, om die bogenoemde redes. Ek geniet Chuck Palahniuk se manier van stories vertel ook vreeslik: dis insiggewend en interessant met net genoeg galgehumor om my belangstelling te prikkel. Verder is Chimamanda Ngozi Adichie en Tom Eaton twee outeurs wie se artikels en gedagtes dit nogal regkry om my dinge uit ʼn ander perspektief te laat benader.
Wat lees jy op die oomblik?Frank Herbert se Dune (die onlangse film het my uiteindelik oortuig dat ek hierdie hoeksteen van wetenskapfiksie moet ondersoek) en The Ascent of Rum Doodle deur WE Bowman wat ek as ʼn geskenk gekry het en vreeslik geniet.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Snaaks genoeg verkies ek ʼn regte boek wanneer as ek alleen na ʼn restaurant gaan. Ek voel asof mense my skeef aankyk as ek met ʼn tablet-ding daar gaan sit: “Net nog iemand wat vasgenael is aan ʼn skerm.” As ek egter lang afstande vlieg of per bus ry, wen my Kindle elke keer, omdat dit maklik in my sakke pas sonder om seer te kry. Dit het ook al gebeur dat ek my met my tydsberekening misgis het en ʼn boek te vinnig klaar lees – dan kan ek net nog een koop en hom onmiddellik aflaai!
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
ʼn Hele klomp. Natuurlik Magician en Anansi Boys. ʼn Ander klassieke een is Good Omens, deur Neil Gaiman en Terry Pratchett. Dit gebeur ook soms dat ʼn toneel uit ʼn boek skielik by my spook en dan kan ek nie die res van die storie onthou nie, dus lees ek maar die boek van voor af. Ek is altyd verbaas deur hoeveel ek nog kan onthou – en hoeveel meer ek vergeet het!
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Ek sou sê dis tussen David Wong – die hoofkarakter in ʼn reeks boeke wat deur Jason Pargin geskryf is (onder meer John Dies at the End en This Book is Full of Spiders: Seriously, Dude, Don’t Touch It) – wat sy bes doen om kop bo water te hou in ʼn wêreld wat vasberade is om hom te laat verdrink, en die literêre speurder Thursday Next uit Jasper Fforde se reeks boeke (The Eyre Affair, Lost in a Good Book en Something Rotten) wat werk vir ʼn taakspan wat boeke polisieer en seker maak dat die karakters hulle gedra.
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Die grootste les het ek seker by my twee gunstelingkarakters geleer: ja, die wêreld is rof, mal en soms belaglik, maar dis nie ʼn verskoning om tou op te gooi nie.”
Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Mense wat wonder oor die verreikende gevolge van regerings wat net aanhou om geld te laat druk, kan gerus When Money Destroys Nations lees, waar Philip Haslam en Russell Lamberti dié komplekse onderwerp op ʼn besonder lesersvriendelike manier benader.
Diegene wat voel hulle word omsingel deur fopnuus en bangmaakstories oor siektes en newe-effekte, kan gerus Bad Science deur Ben Goldacre lees. Ons is geneig om te dink daar is ʼn eenvoudige rede waarom wetenskaplike feite dikwels verdraai word, maar Goldacre verduidelik op ʼn elegante manier hoekom daar so gereeld (gebroke) telefoontjie gespeel word met wetenskaplike nuus.
Diegene wat sug en kop skud vir elke nuwe skande waarby die Suid-Afrikaanse regering betrokke is, oorweeg dit om Is it Me or is it Getting Hot in Here: Great Expectations and Boiling Frogs in South Africa deur Tom Eaton te lees. Hierdie werk het my laat besef hoe maklik ons die besondere gees in ons land uit die oog verloor omdat ons so besig is met krisisbestuur.