Dis weer die tyd van die jaar dat ons dagboeke propvol jaareindkuiers en -funksies is. As jy sommer by voorbaat ʼn aanval van sosialiseringsuitputting kry wanneer jy na jou kalender kyk, wil ons jou net herinner aan ʼn taamlik onlangse ontwrigter: Covid-19. Onthou jy hoe die pandemie ons lewens uit die bloute kom omvergooi het deurdat ons ver weg van mekaar moes bly en van die huis af moes werk? En onthou jy hoe eensaam en verlate dit ons laat voel het, en hoe afgesonderd?
Ons kuier miskien nie almal ewe graag nie, maar die grendeltyd het onteenseglik bewys dat ons van nature sosiale wesens is en dat wisselwerking met ander mense noodsaaklik is as ons wil hê dit moet regtig op persoonlike sowel as professionele vlak met ons goed gaan. Boonop het die pandemie vir baie van ons die manier waarop ons werk, en waar ons werk, wesenlik verander.
Vir diegene met buigsame of hibridiese werkreëlings kan dit verandering beteken in aspekte van die daaglikse samesyn wat deel uitmaak van ʼn konvensionele kantooromgewing – die terloopse geselsies wanneer ons mekaar toevallig raakloop, die teetye en gedeelde grappies, en die spanvergaderings – wat verhoudings organies laat ontwikkel en ʼn gevoel van kameraderie by personeel bevorder. Dit is hoekom ons geleenthede om saam met ons kollegas te kuier, so dikwels moontlik moet verwelkom en aangryp.
Wanneer ons tyd saam deurbring, ontspan ons nie net nie – ons bou ook verhoudings wat ʼn samehorigheidsgevoel kweek en ons laat voel ons is nie alleen in die ding nie. Ons by die Taalsentrum het weer onder die indruk hiervan gekom na afloop van ʼn onlangse spanuitstappie na die Bo-Kaap om Erfenisdag te vier. Talle kollegas het te kenne gegee dat hulle dit geweldig geniet het, en hulle waardering vir die uitstappie uitgespreek. Hulle het beklemtoon dat, afgesien van die opvoedkundige en kulturele waarde van die besoek, veral die ontspanne samesyn genotvol was, en dat dit lekker was om op te vang met kollegas vir wie hulle selde te siene kry.
Personeeluitstappies en -kuiers skep vir ons ’n geleentheid om weg te kom uit ons gewone werksomgewing en -dinamika, om vir ʼn slag van spertye te vergeet en mekaar se geselskap op ʼn neutrale plek te geniet. In hierdie informele omgewings kan ons die moontlik onuitgesproke hiërargiese hindernisse oorkom en mekaar as mense leer ken; nie bloot as medewerkers of as hoofde en ondergeskiktes nie. Dit verander alles. Skielik is dit makliker om oop gesprekke te voer, om by iemand om raad aan te klop of om saam te werk aan ʼn projek, omdat ons mekaar beter ken en meer vertrou.
Dit gaan dan nie net daaroor om die werk gedoen te kry nie, maar ook oor die wete dat ons, afgesien van ons werkspligte en -vergaderings, deel uitmaak van ʼn wedersyds ondersteunende groep mense wat lojaal is teenoor mekaar en mekaar beskerm. Dit maak ons meer veerkragtig en stel ons in staat om nuwe uitdagings die hoof te bied wanneer dit rof gaan.”
Gaan geniet die jaareindkuiers dus voluit, en bou genoeg goedvoelverhoudings om in 2025 van die werkplek veel meer te maak as ʼn plek om te werk – maak daarvan ʼn plek om te floreer!
– deur Tania Botha; vertaal deur Ingrid Swanepoel