Spiderman het die spyker op die kop geslaan toe hy iets gesê het soos “baie mag bring baie verantwoordelikhede”. Dieselfde beginsel is op vryheid van toepassing, soos Eleanor Roosevelt tereg opgemerk het: “Saam met vryheid kom verantwoordelikheid.”
Terwyl ons in ʼn demokratiese, veeltalige Suid-Afrika woon, leer en floreer (en, wel, soms net oorleef), het ons ook die verantwoordelikheid om ook ʼn bietjie te stoei met die konsep van vryheid en die verantwoordelikhede wat hand aan hand gaan met ware vryheid, veral wanneer ons nadink oor wat Vryheidsdag, wat op 27 April gevier word, vir ons beteken.
Vryheid van uitdrukking
Volgens Article 19, ʼn internasionale dink-en-doen-organisasie wat gemoeid is met vryheid van uitdrukking, “maak vryheid van uitdrukking dialoogvoering moontlik, dit verhoog begrip, en dit verbreed die publiek se kennis”. Ons, as die Taalsentrum, stem saam. Die feit dat ons idees en inligting vryelik met mekaar kan deel, maak almal van ons slimmer en help ons gemeenskappe om te floreer.
As Suid-Afrikaners pluk ons vandag die vrugte van talle duur verworwe vryhede in ons land, waarvan ʼn baie belangrike een die vryheid is om in ons moedertaal of ʼn ander taal van ons keuse te kommunikeer. Boonop is daar ruimte vir baie stemme en baie menings – ruimte om gehoor te word.
Wat beteken vryheid vir ons by die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum?
Vir ons is vryheid veel meer as ʼn blote konsep – dis ʼn rigsnoer wat sowel ons interaksie met die wêreld om ons as ons benadering tot leer en onderrig bepaal. Dit begin met vryheid van uitdrukking – die fundamentele reg om ons gedagtes, emosies en idees in ʼn taal van ons keuse te verwoord. In die modules, slypskole en kortkursusse wat ons aanbied, streef ons daarna om ruimtes te skep waar die deelnemers vry en veilig voel om hulle sonder enige voorbehoude uit te druk, om vrae te vra, en om deel te neem aan betekenisvolle dialoogvoering met diegene om hulle. Ons probeer ook om sulke ruimtes orals op die kampus te skep met ons taal- en tolkdienste.
Kreatiwiteit
Vryheid behels ook die vrymoedigheid om kreatief te wees – om nuwe taalkundige velde te ondersoek, om met verskillende maniere van uitdrukking te eksperimenteer en om die grense van tradisionele taalkonvensies te verskuif. Ons moedig die mense met wie ons saamwerk – hetsy studente, deelnemers of kliënte – aan om vrye teuels aan hulle verbeelding te gee en die krag van taal in te span om hulle unieke perspektiewe en ervarings oor te dra, of dit nou in Xhosa, Afrikaans, Engels of SA Gebaretaal is.
Vryheid is nie net die afwesigheid van eksterne beperkings nie, maar is ook die aanwesigheid van omgewings wat ons toelaat om ons volle potensiaal te verwesenlik en uitdrukking daaraan te gee. Dit beteken dat ons inklusiewe omgewings moet skep waar diverse stemme en tale nie slegs gehoor en gesien word nie, maar hartlik verwelkom word. Dit kom neer op die kweek en aanmoediging van ʼn kultuur van verdraagsaamheid en wedersydse respek asook die bevordering van regverdige toegang tot geleenthede en hulpbronne – ook wat taal betref – basies ʼn meertalige ingesteldheid. By US en die Taalsentrum beteken dit byvoorbeeld om tydens lesings toegang tot tolkdienste te hê sowel as die geleentheid om die talle plaaslike en internasionale tale te hoor wat vryelik op ons kampusse en in ons gemeenskappe gepraat word.
’n Baie menslike behoefte
Die konsep van vryheid behels ook ons fundamentele menslike behoefte aan outonomie, waardigheid en selfuitlewing. Dit is ʼn dinamiese en ontwikkelende beginsel wat die kern van ons menswees vorm en wat vooruitgang, geregtigheid en die strewe na ʼn meer regverdige en gelyke wêreld – ʼn wêreld waar daar plek is vir alle stemme en waar alle stories vertel en waardeer kan word. Kortom: ʼn meertalige en multikulturele wêreld.
Sluit by ons by die Taalsentrum aan wanneer ons die transformerende krag van taal aangryp en leer by die outentieke stemme van diegene om ons op die kampus, in ons lesingsale en by ons aan huis – ook oor vryheid.
Voel die vryheid!
– deur Esther van der Vyver (vertaal deur Ingrid Swanepoel)