Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Jesse Beukes, ʼn intern in die Taalsentrum se Engels-portefeulje.
Jesse het ʼn graad aan die Universiteit van die Witwatersrand behaal, met Engelse letterkunde en sielkunde as hoofvakke – ʼn perfekte versnit van haar belangstellings, sê sy. “Van jongs af was boeke en lees ʼn onlosmaaklike deel van my lewe. Ek dink dis diep voorliefdes waarmee my ma definitief iets te doen het. Gedurende die Covid-19-pandemie het ek Stellenbosch toe getrek, waar ek nou voortgaan om my akademiese, professionele en persoonlike belangstellings uit te leef.”
Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
The Alchemist, ʼn roman deur die Brasiliaanse outeur Paulo Coelho, wat in 1988 vir die eerste keer verskyn het.
Hoekom het hierdie boek jou so beïndruk?
The Alchemist deur Paulo Coelho het ʼn blywende indruk op my gemaak en beklee ʼn spesiale plek in my hart. Deur die verhaal te vertel van Santiago, ʼn jong skaapwagter uit ʼn klein Andalusiese dorpie, leer die boek ons hoe belangrik dit is om ʼn mens se eie hart te volg, die huidige oomblik te koester en betekenis in jou eie legendes te vind.
Ek dra die lesse van The Alchemist, wat lesers (vir my ook) leer in welke mate dit ʼn mens bemagtig om op ʼn outentieke manier te lewe, vir ewig saam met my.”
Verder wil ek graag Oh, The Places You Will Go deur die grote dr Suess noem. Hierdie boek se boodskap is soortgelyk aan dié van The Alchemist, en inspireer en motiveer my al baie jare lank deur al die getye van my lewe heen.
Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek moet erken dat dit vir my bykans onmoontlik is om slegs een uit te sonder. As ek wel ʼn lys van my gunstelingouteurs moes saamstel, sou die naam Toni Morrison egter ongetwyfeld daarop verskyn. Ek het haar werk ontdek toe ek op universiteit was, en ek het gou besef waarom haar kragtige skryfwerk en onwrikbare verkenning van ras en identiteit vir haar ʼn plek tussen die letterkundige reuse verseker het.
Verder weier ek om die name van dr Suess en Roald Dahl uit die lys weg te laat! Hierdie twee skrywers het my wese en oortuigings help vorm sedert ek baie jonk was en my geïnspireer om dwarsdeur my lewe aan te hou lees. Hulle stories en karakters is vir soveel mense dwarsoor die wêreld baie spesiaal – hulle maak dit vir hulle lesers moontlik om die lewe te aanskou deur ʼn lens van woorde, kleure, dinge en plekke wat die grense van ons verbeelding verbysteek.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees tans The Midnight Library deur Matt Haig, wat in 2020 verskyn het. Hierdie boek het my aangegryp deur sy verbeeldingryke uitgangspunt en boeiende verhaal, en ek was simmer gou verdiep in die wel en weë van die hoofkarakter, Nora Seed. Haig se treffende verkenning van berou en tweede kanse veroorsaak dat ek met afwagting uitsien na die onthullings en lesse wat ek weet ek in elke hoofstuk te wagte kan wees.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek verkies fisiese boeke bó e-boeke omdat ek net so baie daarvan hou om om ʼn boek in my hande vas te hou. Ek is veral lief vir hardebandboeke omdat hulle so lank hou en omdat hulle ʼn tikkie sjarme en glans aan my leeservaring verleen. Ook is dit my droom om eendag ʼn groot biblioteek te hê, met rakke tjokkenblok vol boeke van die vloer af tot teen die plafon.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek herlees The Great Gatsby graag keer op keer, danksy F. Scott Fitzgerald se meesterlike vertelkuns. In hierdie boek verplaas hy die leser reguit na die Jazz-eeu, en deur sy komplekse karakters en verkenning van verskillende maatskaplike temas skep hy ʼn verhaal wat my sodanig boei dat ek dit graag telkens weer beleef.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Alhoewel Santiago, die jong skaapwagter in The Alchemist, baie ná aan my hart is, is die BFG (the Big Friendly Giant, oftewel die Groot Vriendelike Reus), geskep deur die vindingryke Roald Dahl, my heel gunsteling. Die BFG se onvergeetlike teenwoordigheid vloei voort uit ʼn spesiale kombinasie van vriendelikheid, dapperheid en kinderlike verwondering, wat vir my blywende standaarde in verskeie aspekte van my lewe daargestel het. Sy sagte geaardheid en verbintenis daartoe om die regte ding te doen, het die vermoë om lesers van alle ouderdomme te inspireer, en almal kan gerus sy storie lees – of selfs na die fliek kyk.
Het jy miskien ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter in ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Ek wil graag weer verwys na die twee boeke, The Alchemist en Oh, The Places You Will Go, wat ek in my eerste antwoord genoem het, deur ʼn sin uit elk van hulle aan te haal. Die vertalings is my eie:
And when you want something, all the universe conspires in helping you to achieve it.”
“En wanneer jy iets wil hê, span die ganse heelal saam om jou te help om dit te bereik.”
– Coelho in The Alchemist
You have brains in your head. You have feet in your shoes. You can steer yourself in any direction you choose.”
“Jy het ʼn brein in jou kop. Jy het voete in jou skoene. Jy kan enige rigting inslaan wat jy wil.”
– Dr Seuss in Oh, The Places You Will Go