Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.
Ons gesels vandeesmaand met Risha Lötter, ʼn opvoedkundige tolk wat ook haar eie podsending en blog het. Risha sê sy lees na willekeur, maar het ʼn groot voorliefde vir outydse Britse speurverhale, en dagdroom daaroor om eendag self ʼn speurverhaal te skryf om aan Agatha Christie hulde te bring.
Wat is die titel van jou gunstelingboek? (Dit kan ook ʼn boek wees wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het.)
Dit voel soos ʼn onbegonne taak om ʼn gunsteling te kies, maar die drie boeke wat in die onlangse verlede die diepste indruk op my gemaak het, is Barbara Kingsolver se The Poisonwood Bible, Chimamanda Ngozi Adichie se Purple Hibiscus, en The Ocean at the End of the Lane deur Neil Gaiman.
Hoekom is dié jou gunstelingboeke?
Interessant genoeg handel al drie hierdie boeke oor kinderjare – ʼn tydperk in ons lewens wat hom by uitnemendheid leen tot vertellings en hervertellings en wat vol nostalgie is. Die jong vertellers in elke boek, en die onskuld, maar tog ook wysheid, waarmee hulle die wêreld benader, het my verbeelding werklik aangegryp. Ek dink dat een van die belangrikste dinge wat ʼn goeie boek doen, is om ons weg te voer na ʼn wêreld wat anders, maar tog herkenbaar is, en op dié manier dan ʼn gevoel van deernis by ons wek. Dít alles het hierdie boeke op ʼn aangrypende manier vir my gedoen.
Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Dis weer onmoontlik om te kies! Maar die outeurs tot wie ek my op ʼn moeilike dag wend, is Agatha Christie en Terry Pratchett – vroeg 20ste-eeuse speurverhale en fiktiewe fantasiewêrelde is my eerste keuse vir ontvlugting.
Wat lees jy op die oomblik?
Niefiksie: Martha Beck se The way of integrity, wat tot dusver sowel snaaks as wys is. Fiksie: Once there were wolves, deur Charlotte McConaghy. Dis ʼn droewe en pragtige sielkundige riller wat in Skotland afspeel. Ek het onlangs ook Strange Fish deur Milton Schorr gelees; ʼn magies-realistiese hervertelling van die mite van die klein meermin, wat aan Suid-Afrika se Weskus afspeel. Dit was ʼn louter vreugde om so ʼn aangrypende sin van plek en geskiedenis in ʼn roman teë te kom en om die landskap en verwysings te herken.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek sal e-boeke lees as ek moet, maar ek lees baie eerder werklike boeke, veral omdat ek bladsye se hoekies omvou, gedeeltes onderstreep, en oor die algemeen graag met ʼn werklike boek omgaan. Na my mening móét boeke ietwat verweerd voorkom en lyk asof iemand hulle liefhet.
Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek is gedurig besig om Daniel Ladinsky se vertaling van Hafiz se digbundel, The subject tonight is love, te herlees. As ek aan elke mens in die wêreld een enkele boek kon gee, sou dit dié boek wees.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Granny Weatherwax in die Discworld-reeks. As ʼn heks, ʼn vroedvrou, ʼn wyse vrou en ʼn verbasend komplekse persoon, is sy basies alles wat ek wil wees wanneer ek eendag groot is.
Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Toe ek tien jaar oud was, het ek Philip Yancey se What’s so amazing about grace? vir die eerste keer gelees, en toe ek ʼn tiener was, het ek dit weer gelees. Die het my hele lewe verander. Yancey is van mening dat genade iets bitterlik ongewoon is – ʼn wegbreek van die natuurwette van oorsaak en gevolg; die finale opstand teen ʼn wêreld vol pyn en lyding. Ek sien nou orals genade: in ons daaglikse omgang met mekaar, en veral in die manier waarop die planeet Aarde ons steeds aan die lewe hou en versorg, ten spyte van ons gewetenlose plundering van haar hulpbronne.
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
A die boeke wat ek tot dusver genoem het! Ook Sula, deur Toni Morrison, Antjie Krog se hele oeuvre, en enige iets deur Mary Oliver. Wat niefiksie betref, sal ek Bessel van der Kolk se The body keeps the score sterk aanbeveel. Dis ʼn lywige teer en deeglik nagevorsde werk oor trauma, menslike geeskragtigheid, en hoe ons onsself kan genees.