Sê nou net statistiek het gesigte gehad?
Dit was die kernvraag agter die 100%-projek wat ʼn dekade gelede in Duitsland in die lewe geroep is. Die projek plaas die kollig op honderd mense afkomstig van ʼn spesifieke gebied. Hierdie groep mense moet dan vrae beantwoord om deel te neem aan ʼn informele sensus – en alles gebeur op die verhoog. Om ʼn werkwinkelproses met ʼn honderd individue te bestuur is alreeds ʼn uitdaging, maar toe die 100% Stellenbosch-projek die dorp in Februarie tref as Woordfeesproduksie (in die Universiteit se Eeufeesjaar), het ʼn verdere uitdaging sy kop uitgesteek: Die honderdtal mense, synde verteenwoordigers van die demografie van die gebied, het verskillende moedertale gehad. Dit was tyd om op die Taalsentrum se knoppie te druk.
100% Stellenbosch se rolverdeling het bestaan uit sprekers van Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse gebaretaal, en ʼn ieder en elk wou natuurlik gehoor en verstaan word. Die Taalsentrum se tolke het kommunikasie bemiddel deur alles wat gesê word in al drie die ander tale te tolk. Die tolke was dus ʼn integrale deel van die werkwinkels, en het seker gemaak dat almal die stories wat die akteurs vertel, verstaan. Tolking was ook vir die gehoor beskikbaar tydens die vertonings.
Dít wyk heeltemal af van die daaglikse bedrywighede van die Taalsentrum se tolkspan. Hulle tolk gewoonlik lesings in ʼn akademiese omgewing, terwyl hulle vir die 100% Stellenbosch-produksie die vrae wat op ʼn verhoogskerm verskyn het, vir die akteurs moes tolk, en dan weer die gehoor se vrae vir die akteurs moes tolk. Gedagtig daaraan dat die vertonings feitlik twee ure lank was, is daar baie hard gewerk.
Ons tolke is dit egter eens dat hulle hulself gate uit geniet het. Pluimpies kom almal toe – insluitende die organiseerders en die deelnemers – saam-saam het hulle ʼn 100% onvergeetlike produksie geskep!